Die beginsel om die altaar op sy oorspronklike plek binne die ruïne van die Tempel op te stel, is in my hart grafeer.
Aanbidding by die altaar was ‘n kragtige besluit om vrees, vyandskap en onsekerheid te stuit. Eenheid rondom die voorskrifte van Moses wat hulle samehorige aanbidding verseker het, was hulle beskutting.
Dit was seker moeilik om die herstelwerk aan hulle huise en erwe net so te los, toe die priester hulle na die tempelruïne vir ‘n fees ontbied. Tog stel Esra 3:1 dit duidelik:
Toe die sewende maand aanbreek, was die Israeliete dus oral in die stede. Hulle het egter soos een man in Jerusalem bymekaargekom.
Die Fees van die Tabernakels (Loofhuttefees) word steeds ongeveer September gevier. [Levitikus 23 en Deuternonomium 16] Net soos van ouds is dit ‘n vrolike fees, ‘n tyd waarin die volk die uitkoms in die woestyn en al die genade dade van die Here moet onthou en vier. Die voorskrifte bepaal jolige, kommervrye feesdae waarin die goedheid, guns, genade en wonderwerke van God gedenk word deur almal teenwoordig – familie, gaste, predikante, bediendes en vreemdelinge. Die blote onthou van God se voorsiening sal ‘n verskil maak aan lewe na die fees – ‘n vars verwagting vir uitkoms. Die Fees het die fokus op die kernbeginsels van aanbidding herbeklemtoon. Deuternonomium 16:14:
Jy moet bly wees op hierdie fees, jy en jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, al die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees van jou omgewing.
Die Fees was prioriteit. ‘n Aanbiddingsfees was die eerste stap in die herstel van die volk, sonder die beperkinge van vyandige, heidense omstanders soos tydens die ballingskap. Hulle het sekerlik die vryheid van hulle eie land geniet. Wat ‘n fees moes dit nie gewees het nie! Ek kan my net voorstel hoe hulle met palmtakke en tamboeryne gedans het.
Die feesvieringe het die toekomsplanne se klem bepaal en gesorg dat die tempelherstel aan die gang kom. Esra 3:7:
Hulle het toe klipkappers en ander vakmanne gehuur en die Sidoniërs en Tiriërs met kos, drank en olie betaal om uit die Libanon sederhout met die see langs na Joppe toe te bring. Dit was in ooreenstemming met die vergunning van koning Kores van Persië.
Die Fees is gevier soos dit voorgeskryf is – as it is written. Die Woord van God was die ware fondament, die hoeksteen van aanbidding. Die oggend- en aandoffer is gebring volgens die voorskrifte van die Wet van Moses. Die Woord is die gids vir aanbidding. Volgens die Woord se voorskrifte is ons aanbidding ‘n lieflike geur wat voor die Troon opstyg, nie ‘n vleeslike gruwel soos die goue kalf nie.
Jesus het die eerste woorde van sy bediening vir ons die riglyne neergelê. Matteus 4:17:
Van toe af het Jesus begin preek en gesê: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
Matteus 9:13:
Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.”
Die besluit om die altaar op sy plek te stel is die immigrasie na die onsienlike koninkryk van God op aarde. Dit is ‘n eenvoudige besluit wat ons ganse bestaan op die altaar sit en ‘n splinternuwe, geesgebore lewe in ons skep. Dit is bekering wat ons vrymaking uit die slawerny van sonde vier. Ons lewe op die altaar bring ons in die vryheid van aanbidding in ons beloofde land. Ons vier die uitkomste van die verlede met ons dankbaarheid en prysgesange.
Gryp die tamboeryn Bodemklipvriend, al is die bouwerk nie klaar nie. Die oproep om fees te vier is nie beperk tot die suksesvolle afhandeling van die herstelwerk nie. Dit is gereelde herdenking van seën en uitkoms van die verlede, sodat dit waarmee jy nou besig is, deur die Here geseën word.
Jy voel dalk net soos die bannelinge, oorstuur en oorweldig met die taak voor jou. Dit is juis die tyd om die altaar reg te skuif, die offers te herstel en die boumateriaal vir die tempel te bestel. Kom ons praat Nuwe Testament-taal. As die sorge van die lewe jou so rondruk soos op ‘n stormsee, is dit tyd om na Jesus te roep, sodat Hy die storm stil maak. Dink weer aan jou wedergeboorte, ervaar in jou gees die koninkryk van God waarin jy saam met hom sit in die onsienlike as ‘n prins en skuif jou kroon reg op jou kop.
Nadat Jesus met Nikodemus praat oor wedergeboorte en die koninkryk van God, verduidelik Hy verder: Johannes 3: 5,6: The Message.
Jesus said, “You’re not listening. Let me say it again. Unless a person submits to this original creation—the ‘wind-hovering-over-the-water’ creation, the invisible moving the visible, a baptism into a new life—it’s not possible to enter God’s kingdom. When you look at a baby, it’s just that: a body you can look at and touch. But the person who takes shape within is formed by something you can’t see and touch—the Spirit—and becomes a living spirit.
Dit is die alles-omvattende altaarondervinding. Die Gees van God wat skep in jou sodat jy word wat God beplan vir jou lewe. Soos Hy asem in Adam ingeblaas het, so het Hy sy asem, sy Gees in jou geblaas vir ‘n nuwe lewe. Jy sit in die onsienlike saam met Christus, jy loop jou loop deur die lewe op koninkrykswette en staan vas teen die vyand, triomfantelik en volmoed. [Bodemklippe 74,75 en 76]
Wat gebeur in hierdie onsienlike koninkryk van God op aarde as ons oor die drumpel tree? Ons is uitgenooi na ‘n fees. ‘n Vrolike herinnering aan voorsiening, uitkoms, wonderwerke en beskerming is ons opdrag. Moenie dat die vyand jou vreugde-fees steel nie. Nehemia 8:11:
Verder het hy vir hulle gesê: Gaan, eet lekker spys en drink soet dranke en stuur porsies aan hulle vir wie niks berei is nie; want hierdie dag is heilig aan onse HERE. Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE — dit is julle beskutting.
Herstel die fees in jou lewe. Hou ‘n dankfees vir vorige gebedsbeantwoording en al die wonderbare uitkoms waarin Hy so oorvloedig vir jou gesorg het. Begin met die Christen-kalender – dis nou 40 dae voor Paas, die heel belangrikste Christelike fees. Maak iets besonder van Pinkster en Kersfees, maar begin jou eie feeste, jou eie uitgemerkte dae van dankbaarheid en hou ‘n jolige partytjie.
Onthou Adam se eerste dag was die Sabbat – ‘n dag van rus saam met God oor sy wonderbare skepping. Wat is die aard van jou Sabbat? Is dit ‘n feesdag tot eer van die Here? Ek pleit maar weer vir ‘n geestelike dagboek waarin jou spesiale insigte en gebedsbeantwoording opgeteken word.
Jou besluit het reaksie in die hemel. As jy tot God nader, sal Hy tot jou nader. [Jakobus 4:8] Hy is ‘n beloner van die wat hom soek. [Hebreërs 11:6] Hy sal jou sonde vergewe. [Jesaja 1:18] Hy belowe vrug. 2 Korintiërs 9:10:
God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer.
Dit staan geskrywe uit die antieke tye. Deur al die eeue staan die Woord vas om altyd te slaag in wat God beplan. Psalm 138:2:
For You have magnified Your word above all Your name.
Hebreërs 6:13,14:
Toe God aan Abraham die belofte gemaak het, het Hy niemand groter as Hyself gehad by wie Hy dit met ‘n eed kon bevestig nie. Daarom het Hy dit met ‘n eed by Homself bevestig en gesê: “Ek sal jou beslis ryklik seën en jou ‘n baie groot nageslag gee.”
Ons is die saad van Abraham in Christus en daarom is die belofte op ons van toepassing. Is dit nie ‘n rede om fees te vier nie?
Galasiërs 3:16:
Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus.
Die altaar het in die voorhof by die ingang van die tempel gestaan. Dit was die toegang tot die Heilige en Allerheiligste. By die altaar word ons sonde vergewe, by die waskom word ons doop herdenk sodat ons waardig kon wees om in te gaan in die teenwoordigheid van ons Vader. Dit is ware aanbidding – in gees en waarheid. Ware aanbidding hang nie van ‘n gebou, ‘n gemeenskap of gemeente, ‘n liturgie of ritueel af nie. Dit is die verootmoediging van die hart om die Tuin-verhouding te herstel. In die woorde van Jesus: Johannes 4:23:
Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.
Die aard van ons offer op die altaar is vrywillig en daagliks volgens Esra 3:4.5. Die resultaat van hierdie toewyding is die mees kosbare beloning ooit. Exodus 29:42:
Julle nakomelinge moet altyd ‘n brandoffer vir My bring by die deur van die tent van ontmoeting. Dit is waar Ek julle sal ontmoet en met jou sal praat.
Dit is rede vir ‘n fees. Dit is die begeerte van ons hart. Sy woorde is kosbare juwele wat ons verander en versier.
Dit is die glorie-gesprek van alle eeue!