Die nuwe jaar stap vinnig aan en die gewone roetine slurp mens op. Die uitdaging was duidelik – doen iets anders in 2016. Dis altyd goed om bietjie te dink hoe mens iets doen. Daarmee bedoel ek nie elke klein aksie van daaglikse lewe nie. Dink oor die fundamentele, die dinge wat jou definieer en jou lewenshouding bepaal. Ek dink dis een van die mees waardevolle oefeninge van die moderne lewe – gimnasium vir die brein – om visie te vorm en perspektief te verander.
Ek glo in my hart dat hierdie oefening nie werklik moontlik is sonder die hulp van die Heilige Gees nie. Ons is slegs wys tot die mate waartoe ons aan God oorgegee is. Hy belowe die insig in die dinge wat ons nie weet nie en openbaar die misterie van die lewe aan die wat vra. Jesus self het dit gesê in Markus 4:11:
Hy het vir hulle gesê: “Aan julle is die insig in die geheim van die koninkryk van God gegee; maar vir dié wat daarbuite is, bly alles net by gelykenisse,
Ek het geen twyfel dat die grootste tragedie van my lewe sal wees om geestelik verblind te lewe. My gunsteling gebed is altyd die uitroep van die blinde man: Here, dat ek kan sien.
God is gereed om geheime te openbaar. Hy sal die diep waarhede van die lewe aan ons openbaar sodat ons ‘n uitnemende lewe kan leef. Dit is die oorvloedige lewe wat Hy in Johannes 10:10 belowe, sodat ek nie dalk gedagtes dink wat tot niks lei nie en my verstand verduister is sodat ek geen deel het aan die lewe wat God skenk nie, omdat ek hardnekkig in my onkunde volhard. [Efesiërs 4:17,18]
Spreuke 7:4:
Sê vir die wysheid: “Jy is my suster,” maak die insig familie van jou.
Die eerste struikelblok om te oorkom, is tevredenheid met jou omstandighede soos dit nou is, positief of negatief. Vra die Here vir ‘n diep honger na meer van Hom. Miskien is jy op ‘n plek waar jy besef daar is dinge wat jou vreugde en vrede steel, maar jy vrees verandering en is paniekbevange oor die alternatiewe.
Dit is tyd om die altaar op sy fondament te plaas.
Esra 3:3:
Ten spyte van hulle vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land het hulle die altaar op sy oorspronklike plek opgerig en daarop brandoffers vir die Here gebring, soggens en saans.
Die reis van daardie eerste terugkerendes na Juda is stof vir ‘n dramatiese vertelling. Die vernietiging, verlatenheid en die omvang van die taak van herstel wat hulle ervaar het, moes oorweldigend gelyk het. Tog sê die Bybel niks daarvan nie. Die mense is belangrik en word in groot besonderhede bespreek. Die priester Jeshua en die prins Serubbabel herinner aan die ander Joshua wat ook sy mense uit die woestyn en slawerny na die beloofde land toe gelei het. Meer belangrik wys dit heen na die groter Joshua, Jesus, wat almal wat ooit in slawerny was, vry maak [Jesaja 61] en lei na die altaar van aanbidding in die Teenwoordigheid van Sy Vader deur die Heilige Gees. [Handelinge 15:16]
Jeshua was die kleinseun van Seraiah, die hoë priester wie se oë deur Nebukadneser uitgesny is met die val van Jerusalem. Sy seun, Jozadak, het hom opgevolg, hoewel daar geen offers in Babilon gebring kon word nie. Jeshua was aan die voorpunt van die terugkerende bannelinge, presies daar waar mens sou kon verwag die hoë priester moet wees. Sy naam beteken: Yahweh red!
Die prins, Serubbabel se naam beteken: gesaai in Babilon. Hy het aan ‘n sylyn van die koningshuis van Dawid behoort. Salomo se nasate het uitgesterf met die dood van die bose Sedekia [2 Konings 24 en 25]. Die nageslag van een van Dawid se ander seuns, Natan, het oorleef in die persoon van Salatiel, wat ook maar ‘n familielid was wat ingestaan het in die koninklike opvolging. [1 Kronieke 3:17] Hy het ook nie ‘n seun gehad nie. Seubbabel was sy broerskind [1 Kronieke 3:19]. Hy het die koningshuis van Dawid verteenwoordig en die regering oor die terugkerende bannelinge behartig. Hy is prominent in die profesië van Haggai en Sagaria wat in hierdie tyd as profete opgetree het.
Serubbabel word beskryf as ‘n sterk leier en saambindende faktor in die groot taak van herstel. Sy teenwoordigheid daar wys daarop dat die Here nie huiwer om ‘n leier op te rig en gereed te maak vir die taak, al is dit net ‘n verlangse verbintenis met die direkte lyn van die koningshuis. Dit is duidelik dat die Here in beheer was van die nageslag van Dawid en niks kon God se plan van spoor af stuur nie – nie die gebrek aan ‘n manlike opvolger nie of die dood van die laaste persoon in die direkte lyn nie. God kies die verlangse nefie wat Hy oprig om ‘n sterk leier te wees om die taak te voltooi.
Sagaria 4:7:
Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot ’n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!
Die rede vir die haastige herstel van die altaar was vrees – ‘n goeie rede om aksie te neem. Hulle vrese was nie ongegrond nie. Samaria en die sentrale distrik was vol bitter vyande, oorkant die Jordaan in die ooste, sowel as suid oor die plein van die Filistyne en Edom in die suide was wrede en gevestigde nasies wat die herstel van die volk van Israel met oorlog in hulle vingers dopgehou het. Hulle sou vinnig mobiliseer om die babatreetjies van nasiebou in die wiele te ry.
Wat was die eerste stap in die plan van aksie om hulle terugkeer te beskerm? Die altaar!
‘n Terugkeer na die fundamentele beginsels van hulle geloof was hulle veilige hawe en sterk toring. Daar is geen twyfel dat hulle geestelik en morele standaard veel te wense oorgelaat het. Haggai spreek dit aan in sy profesie oor hulle. Jare in ballingskap sonder die duidelike leiding van hulle leraars en priesters, het hulle selfvertroue in die aanbidding van God afgekraak, maar…
Hulle het teruggekeer na die waarheid van hulle voorouers. Die aanbidding van Yahweh volgens Sy voorskrifte was die beste skuiling teen hulle vyande.
Jerusalem as ruine met die altaar in plek was heel moontlik beter beskerm as sou al sy mure weer opgebou wees. Dit is die God wat ons dien.
Daar kan nie ‘n tempel sonder ‘n altaar wees nie, maar daar kan ‘n altaar sonder ‘n tempel wees. God ontmoet ons by die plek waar ons ons sonde bely en onsself voor Hom bring om met Sy bloed te was. Dit is die volgorde van aanbidding. Eerste die altaar. Die sondoffer is ons veilige hawe teen die aanvalle van die vyande. As ons ons sonde bely, stel ons die almag van ons Vader vry om in te tree en vir ons op te tree. Ons is veiliger met die altaar in plek as met versterkte mure en ‘n weermag soldate.
Terug na Esra 3:
Hulle het die altaar… op sy oorspronklike plek opgerig en daarop brandoffers vir die Here gebring, soggens en saans.
Ons hoogste outoriteit is die Woord van God. Kom ons bou ons altaar op die oorspronklike plek met die beginsels van Jesus se onsigbare koninkryk as die fondament.
Hy het gesê: Bekeer julle – neem die besluit en aanvaar dat Hy vir jou gesterf het en dat jy ‘n nuwe mens is. Laat jou doop – volgens Jesus se voorbeeld sodat God in Sy volheid aan jou openbaar kan word net soos by die doop van Jesus. Ontvang die belofte van die Heilige Gees, sodat jy die volle maat van Jesus se werk op aarde kragtig in jou lewe ervaar. Moenie teverede wees met min nie, moenie uitmis op die hele pakket van geregtigheid wat Jesus vir ons bedoel het. Lees weer Hebreërs 6 se eerste twee versies en bou die altaar op die eerste beginsels. Bring jou offer gereeld as deel van jou roetine.
Die belofte is gewaarborg: Nader tot God en Hy sal tot jou nader. [Jakobus 4:8]
Die altaar was die sentrale element in die geloofshelde van die Ou Testament se aanbidding van God van die vroegste tye. Die altaar is gebou vir dankbaarheid, wonderwerke en aanbidding.
Dit regverdig ‘n hele studie op sy eie.
Noag het die einde van die vloed gevier. [Genesis 8:20]
Abraham het verskeie altaars gebou om die belofte oor ‘n land te vier, sy bonatuurlike ontmoetings met God te herdenk asook die altaar waarop hy bereid was om sy eie seun te offer. [Genesis 22]
Isak het altaars gebou; Jakob het altaars gebou – by Bethel byvoorbeeld waar Hy God in ‘n droom ontmoet het.
Moses het ‘n altaar gebou en dit genoem: “Die Here gee my die oorwinning.” [Exodus 17:15] Hy het nog een aan die voet van die berg gebou waar hy met God “gesels” het. [Exodus 33 en 34]
Hy het die noukeurige voorskrifte ontvang vir die altaar wat in die tenttabernakel gebou is.
Dawid het dikwels oor die altaar gesing.
Psalm 118:27:
Die HERE is God, en Hy het vir ons lig gegee. Bind die feesoffer met toue, tot by die horings van die altaar.
Hier word die horings van die altaar genoem. In Konings lees ons van Adonia en Joab wat in vrees die horings van die altaar vasgehou het om hulle lewe te red. Die altaar was letterlik ‘n lewensredder en vlugplek.
1 Konings 1:50: Maar Adónia was bevrees vir Salomo en het opgestaan en heengegaan en die horings van die altaar vasgehou.
1 Konings 2:28: Toe die gerug by Joab kom — want Joab was aan die kant van Adónia, alhoewel hy nie aan die kant van Absalom was nie — het Joab gevlug na die tent van die HERE en die horings van die altaar vasgehou.
Die altaar is jou plek van aanbidding. Dit is jou lewensredder. Dit is die eerste noodsaaklike van ‘n lewe van oorwinning. Dit is ‘n groter prioriteit as kerkbywoning.
Die Here is gereed om diep geheime aan jou te openbaar – groot en magtige dinge wat jy nie weet nie.
Gaan sit in Sy teenwoordigheid, bely jou sonde in nederige verootmoediging en sien in jou geestesoog die altaar voor die Troon van God. Onthou waar jy sit – Efesiërs 2:6: en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus…
Daarom sal jy die goue altaar kan sien…
Openbaring 9:13:
…en die sesde engel het geblaas, en ek het ’n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is…