Dit was die hoogtepunt van hulle bestaan. Die prag en praal van die mees indrukwekkende gebou van die antieke tyd, het die glorie van Salomo se koningskap gekroon. Sy wysheid, wat hy so dramaties van die Here afgebid het, was ver buite die grense van sy koninkryk bekend. Hy het die lewenslange begeerte van sy vader Dawid uitgeleef en ‘n majestieuse gebou as tempel van aanbidding vir Yahweh, die God van sy hart, gebou.
Dawid se woorde in 1 Kronieke 29:1:
Koning Dawid het die hele vergadering soos volg toegespreek: “My seun Salomo, die één wat deur God gekies is, is jonk en sag, maar die werk is groot. Hierdie paleis is nie vir ‘n mens bedoel nie, maar vir God die Here.
Die tempel van samekoms sou met net die beste boumateriaal gebou word. Dawid lys self wat hy bydra in verwagting vir die begin van die bouwerk. In dieselfde hoofstuk in die volgende verse roep hy die volk op tot ‘n uitgieting van hulle beste, net soos hy:
Met alles in my vermoë het ek vir die huis van my God materiaal gereed gebring: goud vir die goudwerk, silwer vir die silwerwerk, brons vir die bronswerk, yster vir die ysterwerk, hout vir die houtwerk, oniks met die gesteentes om daarrondom in te lê, steentjies vir mosaïekwerk, allerlei edelstene en ‘n groot hoeveelheid marmer.
Omdat die huis van my God my na aan die hart lê, skenk ek ook nog my besit aan goud en silwer bo en behalwe alles wat ek reeds vir die heiligdom gereedgebring het:
honderd en drie ton goud, van Ofir se goud, en twee honderd en veertig ton gesuiwerde silwer om die mure van die vertrekke oor te trek en om die goud vir die goudwerk en die silwer vir die silwerwerk te voorsien, en vir al die werk wat deur die vakmanne gedoen moet word. Wie is nog gewillig om vandag sy hand oop te maak met ‘n gawe aan die Here?”
Ofir se goud was in die antieke wêreld as die beste kwaliteit en die suiwerste bekend. Maak ‘n voorstelling in jou geestesoog: mure wat met silwer oorgetrek is, soveel marmer, goud en edelstene, oniks en mosaiek – gebou met die voorneme dat daar niks soos dit bestaan nie en dat so ‘n projek nie gou herhaal sal word nie.
Die tempel van Salomo, soos in die Bybel beskryf, was nie ‘n kopie van die heidense tempels van Egipte en Phoenicië soos wat deur argeoloeë herkonstrueer is nie. Die grootse argitektoniese wonder van die tiende eeu voor Christus, was in soveel opsigte uniek en het bly staan vir 410 jaar.
Dit was die fisiese gebou. Die belangrikste egter, was die teenwoordigheid van die Here in die tempel. Dit is die kern, die hoeksteen, dit waarop dit werklik aankom.
2 Kronieke 7:1:
Toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel gekom en die brandoffers en ander diereoffers verteer, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tempel gevul.
So oorweldigend was die teenwoordigheid van die Here dat die priesters nie daar kon ingaan nie.
Dit is in die lig van hierdie glorie en uitnemendheid dat ons die taak van die terugkerende ballinge in Esra 7 moet beskou. Die taak is oorweldigend. Nebukadneser het dit sy besigheid gemaak om die Hebreërs te verneder en wou seker maak dat daar van die prag en praal van die tempel absoluut niks oorbly nie. Die diepe verootmoediging en aanbidding van die tempel van Salomo was lankal verkoud en vergete. Die volk het afgedwaal en die profete wat die terugkeer na ware aanbidding afgesmeek het, vermoor en verjaag. God se straf is in die persoon van Nebukadneser in vernietiging en vernedering uitgewoed.
Die verwoesting was so effektief dat argeologiese onsekerheid oor plek en voorkoms vandag nog voortduur. Die onsekerheid is egter nie van toepassing op die geestelike “argeologie” van die tempel nie.
God woon in die lofsange van sy volk, sing die psalmis in Psalm 22:4:
Tog is U die Heilige wat woon onder die lofsange van Israel!
Daar is geen twyfel nie. Die kernbeginsel van die tempel staan vas: God vul die plek van samekoms met Sy teenwoordigheid. Dit is kosbaar bo alles en die hoogste doel van alles.
Die oorweldigende prag en praal van die tempel van Salomo, was juis ‘n rede vir die moedeloosheid van die terugkerende ballinge. Met al die goedgesindheid en geskenke van die Persiese heerser, was dit nie moontlik om die fisiese glorie van die tempel van Salomo te herstel nie. Persië was veel groter en magtiger as die Babelonië van Nebukadneser. Babelonië was maar net ‘n provinsie van Persië. Die waardevolle tempelelemente, wat deur Nebukadneser weggevoer is, was steeds in veilige bewaring. Een van die opdragte van die Persiese heerser, Artasasta, was om dit alles saam met Esra na Jerusalem terug te stuur, plus wat ookal nodig is uit die koninklke skatkis. [Esra 7:18-21] Ek vergaap my weer eens aan die noukeurige antieke administrasie!
Esra berei hom voor vir die reis na Jerusalem met al die kosbaarhede wat aan hom toevertrou word. So ‘n reis was vol gevare, veral van bendes rowers wat reisigers aangeval, uitgemoor en van alles beroof het. Esra se antwoord vir die gevare is ‘n vasdag en gebed vir beskerming. In sy eie woorde motiveer hy sy ernstige gebed om beskerming.
Ek was skaam om vir die koning soldate en ruiters te vra om ons teen vyande langs die pad te help. Ons het vir die koning gesê ons God sorg goed vir almal wat Hom dien en Hy straf almal swaar wat Hom verlaat. [Esra 8:22]
Deur sy gebed beskerm Esra sy eie getuienis! Hy kon nie by homself verby kom nie. Hy het dan teenoor die koning getuig van ‘n groot en gedugte God wat sorg en straf.
Volle vertroue op God bring hulle ongedeerd, sonder die beskerming van die soldate van die magtigste ryk op aarde, met al die skatte in Jerusalem aan – waarlik ‘n wonderwerk. Dit was nogal ‘n trek met onder andere 22 ton silwer, drie en ‘n half ton goud, 100 stukke silwerware en fyngepoleerde brons net so kosbaar soos goud. [8:31]
Ons het van die Ahawarivier af vertrek op die twaalfde van die eerste maand, op pad Jerusalem toe. Ons God het sy hand oor ons gehou en ons nie in die mag laat val van vyande en rowers langs die pad nie.
Bouwerk aan die tempel wat voor Esra se aankoms begin het, het drupsgewys opgehou. Die mense het na hulle eie bouwerk en eie boerderye teruggekeer. Esra arriveer vol moed en ten volle toegerus om ‘n nuwe inspuiting vir die herstelwerk te wees! Esra 7:28:
Ek was vol moed. Die Here my God het sy hand oor my gehou.
Wonderwerke kenmerk die lewensreis om die plek van samekoms te herstel. Individuele gebed, kragtige getuienisse, respek van en vir die owerhede en doelgerigte administrasie vorm die fondament van die herstelwerk aan die tempel.
Net so behoort hierdie elemente die pilare van die samekoms te wees. Dit is wat die kerk in essensie is.
Die kerk is ‘n gemeenskap van individue wat die Here in gees en waarheid aanbid, wat die kragtige werking van die Heilige Gees in die alledaagse lewe begeer en ervaar, wat op afgespreekte tye bymekaar kom om Sy teenwoordigheid te vier. Paulus beskryf ‘n christelike lewe wat al die elemente van ‘n goeie kerkdiens bevat.
Kolossense 3:16:
Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.
Dit is die kerk van Christus. Die aanbidding manifesteer in ‘n groot verskeidenheid denominasies wat elkeen met te min en soms met te veel ywer streef om die kerk van Handelinge te wees, om God se teenwoordigheid te ervaar en Sy woord te hoor en te leef. Denominasies wat die ywer om God se teenwoordigheid te ervaar verloor het, word afgestomp en veroordelend. Die enigste oplossing vir sulke oorgerustheid en selfvoldaanheid, is om die woorde van God aan Salomo weer in te drink.
1 Konings 6:12,13:
Jy bou nou die tempel. As jy volgens my voorskrifte leef en my bepalings uitvoer en jou aan al my gebooie hou en volgens hulle leef, sal Ek my beloftes wat Ek aan jou vader Dawid gemaak het, nakom teenoor jou.
Ek sal tussen die Israeliete woon, Ek sal my volk Israel nie verlaat nie.
Die teenwoordigheid van God in die kerk is die kenteken van ware kerk. Alles wat verkeerd is en pyn veroorsaak kom uit selfvoldane, selfregverdige en hoogmoedige leerstelling en ingesteldheid. Liefde oortuig van genade – niks anders nie. Geen leerstelling kan die beginsels van genade vervang nie.
Jakobus 2:13:
Die oordeel sal onbarmhartig wees oor dié wat nie barmhartigheid betoon nie. Maar barmhartigheid triomfeer oor die oordeel.
Mercy triumphs over judgment!
Die kerk van Psalm 23 waar die feestafel in die vallei van doodskaduwee berei word, terwyl vyande magteloos toekyk en goedheid en guns my volg sodat ek in die huis van die Here kan woon al die dae van my lewe; dit is die tempel van samekoms.
Die prag en praal van Salomo se tempel word in die persoon van die Heilige Gees vir ons herstel. Die ballinge moes tevrede wees met ‘n tempel wat van sy glorie ontneem is. Haggai 2:3:
Wie van julle het gesien hoe mooi die vorige tempel was? Hoe lyk dié een vir julle? Lyk hy nie na niks in vergelyking met die vorige nie?
In Haggai belowe die Here die bannelinge van ouds dat die latere tempel die glorie van die vroeëre ver sal oortref. Haggai 2:9:
Die roem van die tempel sal in die toekoms groter wees as in die verlede, sê die Here die Almagtige. Op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige.
Die tempel van die toekoms? Dis ons! Die kerk van Christus is die grootste van al die tempels wat gebou is.
Hebreërs 12:22-24:
Maar julle het wel gekom by Sionsberg en die stad van die lewende God, dit is die hemelse Jerusalem met sy miljoene engele, by die feestelike samekoms, die vergadering van die eersgeborenes wie se name in die hemel opgeteken is. Julle het gekom by God wat Regter oor almal is, en by die geeste van dié wat vrygespreek en wat nou volmaak is, by Jesus, die Middelaar van die nuwe verbond, en by die besprinkelingsbloed wat van iets beters getuig as die bloed van Abel.
Kyk na die beskrywing in Openbaring van die Nuwe Jerusalem – die kerk. Openbaring 21:2,3:
En ek het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel uit sien afkom. Die stad was gereed soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. Toe het ek ‘n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal by hulle wees as hulle God.
Dit is ons, die kerk van Jesus, die bruid wat versier word om Jesus se tweede koms te verwag. Wat ‘n wonderlike lewensverwagting!
Skep moed om die tempel te herstel sodat God by ons kan woon. Sy woonplek is by die mense in die plek van samekoms – die feestelike samekoms.
Hoe lyk ons? Kyk hoe mooi is jy, bruid van Jesus: Openbaring 21:11-21:
Die stad het die heerlikheid van God: sy glans is soos dié van die kosbaarste edelsteen, soos ‘n kristalhelder opaal…
Gryp jou Bybel en lees die woorde totdat jy besef woorde ontbreek…