73. Ja…waarlik! Alles wat jy vra.

Baie mense haak vas by antwoord op gebed. Twyfel en teleurstelling, verkeerde lering en die oorweldigende boosheid van die wêreld knyp ons denke in ongeloof vas. Ons bid sonder passie met die fatalistiese desperaatheid van: “Ag ja, nou kan mens maar net bid”. Al ons pogings het nou gefaal en as ons nou rêrig in die hoek is – goed – dan bid ons. As ek nou nie meer weet nie, miskien weet die Here.

Alles wat Jesus gedoen het, het Hy met Sy hele lewe op die lyn gedoen. Hy is gebore om te sterf. Hy het die argwaan van die wrede Romeinse ryk nie gevrees nie en die woede en ongeloof van sy eie mense in liefde, genade en vergifnis hanteer tot op die laaste bloedige, pynlike oomblik.

Bid jy met jou lewe op die lyn? Jesus, wat Sy lewe gegee het, belowe met vrymoedigheid vir jou:

Johannes 15:7,16:

As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

 …sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

Johannes14:13:

En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.

Hierdie wonderwoorde dek alles wat ek nodig het van behoefte tot begeerte met ‘n voorwaarde van oorgawe en toewyding – as julle in My bly en My woorde in julle…

Maklik! Wat dink jy? Ek dink: nie maklik nie.

Is jy gereed vir ‘n geestelike vraelys? Jy kan die toets skryf as jy belangstel. Net vier vragies, dan kan ons dieper kyk.

Hebreërs 6:1 – 3:

Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap. Ons wil nie opnuut die fondament lê deur te praat oor die bekering uit ‘n leefwyse wat tot die dood lei nie, of oor geloof in God, die leer van die doop en die handoplegging, die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie.

Dit is net die eerste dinge, nie eers volle inhoud van ons Jesus-lewe, wat hier in twee versies opgesom word. Ek is seker in die vraelys sal ons ‘n maklike “ja” kan antwoord – of twyfel jy dalk aan jou toewyding aan hierdie eerste dinge

Vraag 1: Het jy jou bekeer uit ‘n leefwyse wat tot die dood lei tot geloof in God?

Ons is almal volwasse en kan self besluit. Dit is die wonder van die Christendom – ‘n kragtige keuse wat die onsienlike wêreld beweeg. Daarom besluit ons om Jesus en Jesus gekruisig te aanvaar. Hierdie besluit het ‘n nuwe lewe tot gevolg. Dit is die fondament van geloof in God.

Wedergeboorte is ons glorieryke immigrasie na die onsienlike Koninkryk van God wat Jesus hier op aarde kom bevestig het. Niks minder as koninklike afkoms onderskei ons…

1 Petrus 2:9

Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Onthou – wedergeboorte is ‘n bewustelike besluit om jou hele lewe aan Jesus oor te gee en Sy kruisdood te aanvaar. Dit is die rasionele verklaring van geloof in God.

Johannes 3: 3:

Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

Vraag 2: Het jy jou laat doop?

Romeine 6: 3.4:

Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?

Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei.

Jesus se doop was so belangrik dat God Homself in Sy drie-eenheid openbaar het.

Jesus het Homself aan Johannes se doopsgeleentheid daar in die Jordaanrivier onderwerp en in nederigheid die voorbeeld vir ons gestel.

Matteus 3:6, 13-15:

Hulle het hulle sondes bely en hulle deur hom in die Jordaanrivier laat doop.

In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word.

Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?”

Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.” Daarna het Johannes ingestem.

 Die pragtige simboliek van die doop wat die begrafnis van die ou lewe met so ‘n konkrete ritueel bevestig, is kragtig en bevrydend. Die opstandingskrag van Jesus word vir ons vrygestel as ons gehoorsaam is aan die wil van God net soos Jesus.

Romeine 6:5:

Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.

Kan jy met jou hele lewe antwoord: Ek het op hierdie manier aan die wil van God voldoen?

Vraag 3: Bid jy vir ander met handoplegging?

Ons is nie meer onkundig oor die belangrikheid van aanraking nie. Moderne navorsing bevestig sonder twyfel die helende krag van aanraking, van ons eie liewe babas, kinders en selfs volwasse kinders, tot kinders en volwassenes wat trauma en verwerping ervaar het. Vat aan hulle, lê jou hande vir jou kinders op en seën hulle met alles wat goed is. Laat jou liefde en gebed deur jou aanraking vloei en gesond maak.

Lukas 4:40:

Met sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom toe gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak.

Handelinge 8:17:

Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

Bodemklipvriend, wanneer laas het jy vir iemand hande opgelê en gebid vir genesing of dat hy die Heilige Gees ontvang? Het jy dit al vir jou eie kinders gedoen? Beoefen dit!

Filippense 4:9:

Whatever you have learned or received or heard from me, or seen in me—put it into practice. And the God of peace will be with you.

Vraag 4: Wat dink jy van die dood en die ewige oordeel?

Een van my gunsteling skrywers, dr Paul Tournier, ‘n Switserse dokter en berader, skryf:

What is death, but one more intimate experience with God?

As ons reeds intieme ervarings met die Here gehad het, is die dood slegs nog een in ‘n reeks van vreugde-vierings met die ewige God. Jesus het die straf wat vir ons bedoel is, op Hom geneem. [Jesaja 53] Ons het niks om te vrees nie. Ons kan uitsien na die feesmaal wat vir ons berei is.

Handelinge 7:55.58:

Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.

 Toe het hulle hard geskreeu en hulle ore toegedruk. Soos een man het hulle op hom afgestorm, hom uit die stad uitgesleep en gestenig.

In Stephanus se donkerste uur van ‘n wrede dood het hy Jesus gesien. Jesus sit gewoonlik aan die regterhand van God. Sommige kommentatore gee die heerlike verklaring dat Stephanus Jesus staande gesien het om hom as die eerste martelaar van die Kerk van Christus in die hemel te verwelkom – prys die Here! Wat ‘n wonderdood.

Niemand weet werklik wat in die dood gebeur nie. Somtyds kry ons ‘n kykie in die misterie uit die vertellinge van mense wat “doodsondervindings” gehad het. Tog sal ons altyd hier in ons aardse bestaan hunker na meer sekerheid daaroor. Vir nou:

1 Korintiërs 13:12:

Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.

Wat dink ek van die dood?

Job 19:23-27:

Mag my woorde tog opgeskryf word, mag dit ingegraveer word op ‘n monument met ‘n ysterpen en lood, vir altyd in ‘n rots uitgekap.

Ek weet dat my Verlosser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!

Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie.

Ek smag daarna met my hele lewe.

Volgende keer:

As hierdie net die eerste dinge is, wat is die volle inhoud?


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s