139. Wat van jou?

[Johannes 1]

Het jy al ooit jouself in die geskiedenis in verbeel? Waar sou jy geleef het in die dorpies van die Middeleeue, ‘n edelman in ‘n kasteel, ‘n ridder wat vir die hertog veg of dalk die hertog self? Dis redelik moeilik om as vrou te ambisieus oor die geskiedenis te dink, hoewel die geskiedenis vol sterk vroue was. Ek is beslis nie Joan of Arc nie! Vroue wat ek bewonder is selfs verder terug in die geskiedenis – Deborah in Rigters en Huldah in 2 Konings 22. Lees gerus.

Kom ons reis saam na die walle van die meer in Galilea waar almal gepraat het van ‘n man wat mense gesond maak, met die Fariseërs en Skrifgeleerdes argumenteer en na die armes uitreik. Kan jy jou die gepraat rondom die pleine en putte van die Judese dorpies voorstel? Miskien was jy ‘n suksesvolle besigheidsman in die visbedryf om die meer, waar jy die vars vis in sout ingelê het, om te verskaf aan die Romeinse goewerneurswoning in Caeserea of Herodes se paleis in Jerusalem.

Die afgelope Paastyd was ek in die kerk by ‘n preek oor Jesus se intog in Jerusalem op Palm Sondag. Op die skerm was ‘n pragtige foto uit een van die Jesus-flieks wat die gebeure uitbeeld. Terwyl ek na die mense om Jesus kyk, het ek skielik gewonder waar ek sou wees. Ek moet erken ek het ‘n lewendige verbeelding, maar ek het al verskeie kere ondervind dat die Heilige Gees beheer van my verbeelding neem om my geloofsbeelde te wys. Dit is onmoontlik vir my om te dink dat ek self in staat sou wees om dit uit te dink. Een van die mees kragtige geleenthede was toe ek van ‘n oorweldigende vrees verlos is, in die oomblik toe die Here vir my Sy voorsiening en beskerming wys.

Terwyl ek na die skerm staar, het ek vreeslik hartseer geword. Ek het myself nie daar voor met ‘n tak in die hand gesien nie. Ek kon net dink dat ek met my natuurlike supisieuse en huiwerige geaardheid, meer die agterhoede sou vorm en eers sien hoe hierdie ding uitspeel. In gebed wou ek die Here om verskoning vra dat ek so ongelowig sou wees in die werklikheid om Jesus. Ek het Maria Magdalena en Johannes se toewyding bewonder, wat ten spyte van groot risiko Jesus tot by die kruis gevolg het.

In daardie oomblik het die Heilige gees my van die teenoorgestelde gedagte oortuig. In my gees het ek Sy liefdevolle stem “gehoor” wat sê dat ek presies sou wees waar ek nou is. Ek was bewus van die wonderwerk van geloof, saligheid en geestelike insig in die misterie van God wat im my lewe die heel kosbaarste ding is.

Die stap om jou lewe aan Jesus te onderwerp, is ‘n koue rasionele besluit, gevolg deur die wonderwerk van wedergeboorte wanneer die Heilige Gees in jou innerlike wese woonplek opneem. Ek was vol vreugde oor die insig dat Jesus bonatuurlik in die lewens van mense openbaar word, toe net soos nou.

Vir my was dit ‘n oomblik van groot blydskap. Ek was sommer lus en skreeu Hosanna! Ek weet hoe lief ek Hom het en hoe kosbaar Sy woord vir my is, bo alles in hierdie wêreld. Deur die res van die diens het ek my eie intog in Jerusalem geniet, reg daar aan Jesus se sy.

Hoe het die mense geweet Hy is die Messias was hulle so lank verwag het? Dit is juis die tema van hierdie eerste hoofstukke van Johannes. Hy stel Jesus se saak soos ‘n advokaat in ‘n hof, met getuies en bewyse uit die ou geskrifte wat die titel Messias, onderskryf.

1:32-34

Verder het Johannes getuig: “Ek het duidelik die Gees soos ‘n duif uit die hemel sien kom, en Hy het op Hom gebly. Ek het self ook nie geweet wie Hy is nie, maar God wat my gestuur het om met water te doop, het vir my gesê: ‘Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.’ Ek het dit self gesien en daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.”

Die geleentheid van Jesus se doop was vir Johannes die Doper ‘n diep en onderskeidende gebeure. Daar by die waters van die Jordaan het God Homself as ‘n drie-eenheid openbaar met ‘n stem uit die hemel, Jesus in die doopwater en die Heilige Gees in die vorm van ‘n duif wat op Hom afdaal. Dit was iets wat net die geestesoog met geïnspireerde insig kon sien.

Die doop (Grieks = baptizein, wat beteken om te onderdompel) van Jesus was ‘n kernbelangrike gebeurtenis.

Die duif was ‘n heilige dier. Dit is nie gejag nie en nie geëet nie. Die simbool van ‘n duif was iets baie bekend en geliefd. Die duif het aan Noag die olyftak gebring – ‘n simbool van God se voorsiening. (Matteus 3:16)

Dit was met Jesus se doop dat die Heilige Gees op Jesus kom rus het, op ‘n manier wat vir Johannes die Doper duidelik was.

Die Hebreeus vir Gees is ruach en dit beteken wind. Die Gees van God gee ons drie dinge:

  • KRAG: dit word in Handelinge 2 as ‘n geweldige stromwind beskryf.
  • LEWE: die bestaan van ‘n mens is deur die asem van God.
  • GOD: dit is die manier waarop ons hier op aarde ‘n verhewe, goddellike lewe kan lewe.

Die Gees het die profete geïnspireer. (Miga 3:8,Jesaja 59:21,Jesaja 61:1, Esegiël 36:26-7)

Die Gees bring God se waarheid, gee die mens insig om die waarheid te sien en die vermoë om die waarheid te leef en te verkondig. Vir die Jode was dit nie nuut nie.

Johannes gaan uit sy pad om te verklaar dat die Gees van God op Jesus bly. Dit is nie tydelik nie, dit is ewig. Net soos dit vir ons ‘n ewige inwoning is. Die Heilige Gees deurweek ons wese om die Woord te verstaan en ‘n gees-beheerde lewe te leef. Dit is waarlik God se vuur in ons binneste. ‘n Geesgebed is ‘n uitroep van die hart met geen gedagte aan teologie of liturgie nie, Dit is ‘n wonder-ontmoeting met God self in die privaatheid van die binnekamer soos Jesus self leer. (Matteus 6)

Die Gees van die Here sal op hom rus: die Gees wat wysheid en insig gee, die Gees wat raad en sterkte gee, die Gees wat kennis verleen en eerbied vir die Here. (Jesaja 11:2)

Dit was die belofte oor die Messias. Net so word ons die belofte deelagtig in ‘n Geeslewe.

1:35-39:

Die volgende dag het Johannes weer daar gestaan, met twee van sy volgelinge by hom. Toe Jesus verbyloop, het Johannes stip na Hom gekyk en gesê: “Dáár is die Lam van God!” Die twee het hom dit hoor sê en hulle het Jesus gevolg. Toe Jesus omkyk en sien dat hulle Hom volg, vra Hy vir hulle: “Wat soek julle?” en hulle het Hom geantwoord: “Rabbi” – dit beteken leermeester – “waar gaan U tuis?” Hy sê toe vir hulle: “Kom saam, dan sal julle sien.” Hulle het toe gegaan en gesien waar Hy tuis gaan. Dit was omtrent vieruur die middag, en hulle het die res van die dag by Hom gebly.

Johannes die Doper wys na Jesus as die groot leermeester, terwyl hy weet dat sy dissipels Jesus gaan volg. Hy het geen jaloesie gevoelens nie. Sy oog was op die visioen van die Messias, waarvoor hy die mense voorberei het.

Dit is ‘n ware dissipel – sy oog bly op die visie en die hoër roeping van die Koninkryk van God.

Wat is die visie vir jou lewe?

Neem ‘n oomblik en vra die Heilige Gees om jou gedagtes te inspireer. Skryf dit neer. (Habakkuk 2:15)

Jesus draai om en praat met die volgelinge. Dit is Sy karakter – Hy nader tot ons, as ons die eerste stap gee. Hy maak deure oop. (Jesaja 45:1 en Openbaring 3:8)

Jesus wat omdraai is ‘n pragtige voorbeeld van God se initiatief. Hy kon ons tegemoet, net soos die pa in die storie van die verlore seun. Maak die prentjie van jou hemelse Vader wat jou in Sy arms opvang.

We seek God when He has already found us – Augustinus.

 Die kernvraag is natuurlik: Wat soek jy?

Jou begeerte moet uitgespreek word. Die mense wat Jesus volg kan dalk wettiese argumente soek, of nasionaliste wat ‘n geweldadige oplossing soek. Hulle was nederige mense wat hulle Messias gesoek het. Hulle het heel moontlik verward en onwaardig gevoel en ‘n diepe sielsleemte ervaar. Dit is die perfekte plek om te wees – donker lewens wat by die Lig uitkom om vir altyd te verander.

WAT SOEK JY?

Soek jy veiligheid en materiële voorspoed? Dis nie verkeerd nie. In die geestelike realm tel dit as lae ambisie. Dit is onbevredigend om God te soek net as ondersteuning vir jou eie doelstellings in die lewe. Dit is heeltemal anders as jy Hom soek om waarlik jou lewe in Sy te lig te beskou.

Die dissipels vra: Waar woon Jesus?

Hulle noem Hom rabbi, wat letterlik beteken: my groot meester. Dit was ‘n titel van respek vir ‘n wyse man. Johannes skryf aan die Grieke en gebruik die woord vir onderwyser.

Wat beteken hulle vraag?

Hulle wil nie die kort antwoord hê nie. Hulle wil sit en lank praat, baie vrae vra. Dit is nie net ‘n oppervlakkige nuuskierigheid nie. Hulle wil Hom ken.

Jesus antwoord: Kom saam en kyk.

Sy woorde was bekende woorde wat ‘n leermeester vir sy studente gesê het. Dit het beteken dat hulle saam ‘n pad van leer-ondervinding sal stap, verkieslik oor ‘n lang tydperk.

Johannes was sonder twyfel een van die dissipels waarvan hy skryf. Hy maak ‘n nota van die tyd – 4nm – net soos in ‘n dagboek. Hy dink terug aan daardie middag in Galilea toe sy lewe vir ewig verander het.

 

 

 

73. Ja…waarlik! Alles wat jy vra.

Baie mense haak vas by antwoord op gebed. Twyfel en teleurstelling, verkeerde lering en die oorweldigende boosheid van die wêreld knyp ons denke in ongeloof vas. Ons bid sonder passie met die fatalistiese desperaatheid van: “Ag ja, nou kan mens maar net bid”. Al ons pogings het nou gefaal en as ons nou rêrig in die hoek is – goed – dan bid ons. As ek nou nie meer weet nie, miskien weet die Here.

Alles wat Jesus gedoen het, het Hy met Sy hele lewe op die lyn gedoen. Hy is gebore om te sterf. Hy het die argwaan van die wrede Romeinse ryk nie gevrees nie en die woede en ongeloof van sy eie mense in liefde, genade en vergifnis hanteer tot op die laaste bloedige, pynlike oomblik.

Bid jy met jou lewe op die lyn? Jesus, wat Sy lewe gegee het, belowe met vrymoedigheid vir jou:

Johannes 15:7,16:

As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

 …sodat wat julle die Vader ook al in my Naam vra, Hy julle dit kan gee.

Johannes14:13:

En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word.

Hierdie wonderwoorde dek alles wat ek nodig het van behoefte tot begeerte met ‘n voorwaarde van oorgawe en toewyding – as julle in My bly en My woorde in julle…

Maklik! Wat dink jy? Ek dink: nie maklik nie.

Is jy gereed vir ‘n geestelike vraelys? Jy kan die toets skryf as jy belangstel. Net vier vragies, dan kan ons dieper kyk.

Hebreërs 6:1 – 3:

Laat ons nie stilstaan by die eerste dinge wat aangaande Christus verkondig word nie, maar verder gaan na die volle inhoud van die boodskap. Ons wil nie opnuut die fondament lê deur te praat oor die bekering uit ‘n leefwyse wat tot die dood lei nie, of oor geloof in God, die leer van die doop en die handoplegging, die opstanding van die dooies en die ewige oordeel nie.

Dit is net die eerste dinge, nie eers volle inhoud van ons Jesus-lewe, wat hier in twee versies opgesom word. Ek is seker in die vraelys sal ons ‘n maklike “ja” kan antwoord – of twyfel jy dalk aan jou toewyding aan hierdie eerste dinge

Vraag 1: Het jy jou bekeer uit ‘n leefwyse wat tot die dood lei tot geloof in God?

Ons is almal volwasse en kan self besluit. Dit is die wonder van die Christendom – ‘n kragtige keuse wat die onsienlike wêreld beweeg. Daarom besluit ons om Jesus en Jesus gekruisig te aanvaar. Hierdie besluit het ‘n nuwe lewe tot gevolg. Dit is die fondament van geloof in God.

Wedergeboorte is ons glorieryke immigrasie na die onsienlike Koninkryk van God wat Jesus hier op aarde kom bevestig het. Niks minder as koninklike afkoms onderskei ons…

1 Petrus 2:9

Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Onthou – wedergeboorte is ‘n bewustelike besluit om jou hele lewe aan Jesus oor te gee en Sy kruisdood te aanvaar. Dit is die rasionele verklaring van geloof in God.

Johannes 3: 3:

Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.”

Vraag 2: Het jy jou laat doop?

Romeine 6: 3.4:

Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie?

Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei.

Jesus se doop was so belangrik dat God Homself in Sy drie-eenheid openbaar het.

Jesus het Homself aan Johannes se doopsgeleentheid daar in die Jordaanrivier onderwerp en in nederigheid die voorbeeld vir ons gestel.

Matteus 3:6, 13-15:

Hulle het hulle sondes bely en hulle deur hom in die Jordaanrivier laat doop.

In daardie tyd het Jesus van Galilea af na Johannes toe by die Jordaan gekom om deur hom gedoop te word.

Maar Johannes het dit probeer verhinder deur te sê: “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?”

Jesus het hom geantwoord: “Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.” Daarna het Johannes ingestem.

 Die pragtige simboliek van die doop wat die begrafnis van die ou lewe met so ‘n konkrete ritueel bevestig, is kragtig en bevrydend. Die opstandingskrag van Jesus word vir ons vrygestel as ons gehoorsaam is aan die wil van God net soos Jesus.

Romeine 6:5:

Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees in sy opstanding.

Kan jy met jou hele lewe antwoord: Ek het op hierdie manier aan die wil van God voldoen?

Vraag 3: Bid jy vir ander met handoplegging?

Ons is nie meer onkundig oor die belangrikheid van aanraking nie. Moderne navorsing bevestig sonder twyfel die helende krag van aanraking, van ons eie liewe babas, kinders en selfs volwasse kinders, tot kinders en volwassenes wat trauma en verwerping ervaar het. Vat aan hulle, lê jou hande vir jou kinders op en seën hulle met alles wat goed is. Laat jou liefde en gebed deur jou aanraking vloei en gesond maak.

Lukas 4:40:

Met sononder het almal hulle siekes, wat aan allerhande kwale gely het, na Hom toe gebring. Hy het hulle een vir een die hande opgelê en hulle gesond gemaak.

Handelinge 8:17:

Die apostels het hulle die hande opgelê, en hulle het die Heilige Gees ontvang.

Bodemklipvriend, wanneer laas het jy vir iemand hande opgelê en gebid vir genesing of dat hy die Heilige Gees ontvang? Het jy dit al vir jou eie kinders gedoen? Beoefen dit!

Filippense 4:9:

Whatever you have learned or received or heard from me, or seen in me—put it into practice. And the God of peace will be with you.

Vraag 4: Wat dink jy van die dood en die ewige oordeel?

Een van my gunsteling skrywers, dr Paul Tournier, ‘n Switserse dokter en berader, skryf:

What is death, but one more intimate experience with God?

As ons reeds intieme ervarings met die Here gehad het, is die dood slegs nog een in ‘n reeks van vreugde-vierings met die ewige God. Jesus het die straf wat vir ons bedoel is, op Hom geneem. [Jesaja 53] Ons het niks om te vrees nie. Ons kan uitsien na die feesmaal wat vir ons berei is.

Handelinge 7:55.58:

Maar Stefanus, vol van die Heilige Gees, het opgekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan.

 Toe het hulle hard geskreeu en hulle ore toegedruk. Soos een man het hulle op hom afgestorm, hom uit die stad uitgesleep en gestenig.

In Stephanus se donkerste uur van ‘n wrede dood het hy Jesus gesien. Jesus sit gewoonlik aan die regterhand van God. Sommige kommentatore gee die heerlike verklaring dat Stephanus Jesus staande gesien het om hom as die eerste martelaar van die Kerk van Christus in die hemel te verwelkom – prys die Here! Wat ‘n wonderdood.

Niemand weet werklik wat in die dood gebeur nie. Somtyds kry ons ‘n kykie in die misterie uit die vertellinge van mense wat “doodsondervindings” gehad het. Tog sal ons altyd hier in ons aardse bestaan hunker na meer sekerheid daaroor. Vir nou:

1 Korintiërs 13:12:

Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.

Wat dink ek van die dood?

Job 19:23-27:

Mag my woorde tog opgeskryf word, mag dit ingegraveer word op ‘n monument met ‘n ysterpen en lood, vir altyd in ‘n rots uitgekap.

Ek weet dat my Verlosser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!

Ek sal Hóm sien, met my eie oë sal ek Hom sien, Hom en niemand anders nie.

Ek smag daarna met my hele lewe.

Volgende keer:

As hierdie net die eerste dinge is, wat is die volle inhoud?

40. ‘n Geskenk vir jou – direk uit God se Hand.

Pinkster is ‘n heerlike Christenfees om te vier en krag uit te put. Daar is onder verskeie Christene ‘n begeerte om weer te assosieer met die Joodse feeste en ek dink dis doodreg want ons wortels is in die Ou Testament. Dit is egter belangrik om die volheid van Jesus se koms, wat die feeste soveel meer betekenis gegee het, te erken en te vier. ‘n Fees soos Pinkster (wat eintlik met die begin van die oestyd assosieer word) is propvol betekenis, veral na die gebeure van Pinksterdag in Handelinge 2.

In Kolosense 2:16 en 17 word hierdie feesvieringe van die Jode genoem.

Let no one judge you in food or in drink or regarding a festival or new moon or Sabbaths, which are a shadow of things to come, but the substance is of Christ.

Die inhoud van ons feeste is Christus en ons kan nooit die feeste vier sonder die “substansie” van die volle betekenis van Jesus se koms nie. Die kruisiging staan sentraal – altyd. En net in die mate waartoe Hy die middelpunt bly, kan ons saam met die Jode feesvier. Die Ou Testamentiese feeste was net ‘n skaduwee van hulle vervulling in Jesus en verder nog is ons feeste net ‘n skaduwee van wat ons in die Teenwoordigheid van God ervaar. Onthou dis vir die teenwoordige tyd. Die fees in jou hart, met ‘n bewuswording van God se teenwoordigheid en die openbaringskennis wat daaruit vloei, is die doel van feesvier.

Net vir agtergrond kyk ons na die Joodse Fees wat met Pinkster geassosieer word – ook genoem die Fees van die Weke. Die volk moes 7 weke tel van die uittog uit Egipte (die Paasfees) tot by hierdie fees wat die eerste bloeisels van die Oes vier. Dit was een van die drie (uit 7) feeste wat verpligtend was vir alle Joodse mans, saam met die Paasfees en die Fees van die Tabernakels (Loofhuttefees) . Laasgenoemde was die dankfees aan die einde van die oes.

Pinkster is op die 50e dag na die Paasfees gevier, ‘n tyd van vreugdevolle, partytjie-atmosfeer en die waai van die eerste gerwe van die oes.

Die Fees van die Weke word dikwels met die gawe van die wet in Exodus 19 geassosieer. Dit word soms in Joodse kringe die Fees van die Openbaring genoem. Die wet het die hart van God geopenbaar. Die wet is nie gegee om die mens se tekortkominge vas te vat nie. Dit was die maatstaf van ‘n verhewe lewe, ‘n gelukkige lewe want vir enigiemand wat die wet kon onderhou, was daar nie moeilikheid, vrees of bekommernis nie. Ons onvermoë om die wet te onderhou, het ons afhanklikheid van die inwerking van God se Gees onderstreep. Ons het al gesê: God is die God van jou verhouding met Hom. Hy bepaal, lei, red en onderhou. Daarom het Hy die Heilige Gees kom voorstel.

Om die volle prentjie van die Heilige Gees te kry, is dit nodig om Jesus se woorde en lering daaroor te ken. Gaan saam met my terug na Matteus 3 en die prentjie by die Jordaan toe Jesus gedoop is. (Moet asb nie dat kerkleerstellinge oor die doop nou jou prentjie verdof nie – hierdie is belangrik – ons kyk na die Skrif net soos dit geskryf staan).

God as ‘n drie-eenheid openbaar Homself by die geleentheid. Praat van ‘n defining moment dan is hierdie een van die uitstaandes in die geskiedenis van die mensdom. Kan julle sien hoekom die duiwel hierdie kragtige openbaring van God wil kleur met ‘n omstredenheid in kerkleerstelling?

Die doop van Johannes was ‘n bekeringsdoop en kan dus beskryf word as ‘n “sondaarsdoop”. Waarom moes Jesus dan gedoop word, as Hy soos ons weet, sonder sonde is. Vir die Jode was die doop heeltemal onnodig. Dit was net vir “nuwe” Jode (proseliete) wat uit die heidendom hulle tot die Joodse geloof bekeer het. In die tyd van Johannes se bediening het al hoe meer tradisionele Jode hulle aan die doop onderwerp in ‘n nuwe soeke na God en ‘n bewuswording van hulle sonde. Hierdie nasionale soekersbeweging het groter en groter geword en Jesus het Homself vereenselwig met die mense vir wie Hy gekom het.

Johannes het klem gelê op die Messias wat kom-boodskap en dit was die teken van Jesus om Homself te openbaar. HIerdie gebeure van Matteus 3 was die loodsing van Sy bediening op aarde. Toe Hy uit die doopwater opkom het die hemele oopgemaak en die Gees van God het op Hom neergedaal. Die Heilige Gees is nie ‘n duif nie, dit was net vir daardie visioen in die vorm van ‘n duif om dit iets konkreet te maak, sodat God in Sy drie-eenheid openbaar word. Dit is die wonderlike verwagting van God in Sy volle openbaring – Jesus, Heilige Gees en die goedkeurende stem van die Vader.

Die Heilige Gees wat op Jesus afdaal, het Hom toegerus vir die werk wat kom. Direk daarna is Hy wildernis toe en het Hy sy konfrontasie met die duiwel gehad. Boosheid en leuens kan nie sonder die inwerking van die Heilge Gees oorwin word nie. Die aanhalings van die Skrif deur die duiwel was so uit konteks dat dit slegs as leuens beskou kan word. Dis die Heilige Gees wat die Woord in jou lewendig en kragtig hou, sodat jy die leuens kan onderskei.

Dit sê Jesus direk in Johannes 6:63: NKJV (New King James Version)

It is the Spirit who gives life, the flesh profits nothing. The words I speak to you are spirit and they are life.

Super-belangrike woorde! Lees gerus verder – ‘n moeilike byeenkoms. Baie dissipels verlaat Jesus omdat hy aanstoot gee met sy woorde oor Sy vlees wat geëet moet word en Sy bloed wat gedrink moet word. Die twaalf bly oor en in Sy moedelose laagtepunt vra Jesus of hulle nie ook maar wil weggaan nie. Hier kom die goue woorde van Petrus wat in my hart weerklink: (Nuwe Afrikaanse vertaling)

Here na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat ewige lewe gee. En ons glo vas en en ons weet dat U die heilige van God is. [Johannes 6:68]

[Herinner: definisie van heilig = afgesonder vir spesifieke doel en definisie vir ewig = nie net tydsgewig nie, ook goddellik, substansie, betroubaar, kan daarop staatmaak = die lewe wat God gee]

Hoekom kon Petrus sulke woorde van krag en waarheid spreek in ‘n atmosfeer van soveel kritiek en rebellie. Dit was die werking van die Heilige Gees.

Op ‘n ander geleentheid spreek Petrus sy oortuiging van geloof in Jesus as die Seun van God uit en Jesus sê direk:

Vlees en bloed het dit nie aan jou openbaar nie, maar My Vader wat in die hemele is. [Matteus 16:17]

Dis nie woorde uit onsself nie. Die Heilige Gees gee ons woorde om te spreek. Dit weet ons uit Jesus se eie lering in Johannes 16: 5 – 15.

Toe die dissipels bekommerd was oor wat hulle moet sê voor die gereg wanneer hulle as Christene vervolg word, was hulle verseker van die wysheid van die Heilige Gees.

Soms as die lewe druk, dan voel ek ek wil Jesus self hoor praat. Hoofstukke 14 – 17 in Johannes is wonderlik daarvoor. Dit voel asof Hy jou vasdruk en troos. Net soos daar by Sy dissipels, ken Hy die hartseer en spanning van die lewe.

Bewus van die hartseer wat Sy woorde van afskeid in Sy dissipels se harte veroorsaak, troos Hy hulle met die Heilige Gees. Hy gebruik woorde soos, waarheid, voordeel, helper, oortuiging.

Hierdie is die ewige lewe, die Goddellike lewe. Om waarheid te ken is om vry te wees van die leuen van die wêreld. Klein praktiese voorbeeld – dis baie moeite om te lieg, jy moet konsentreer om jou leuen in stand te hou, jy word ‘n gemartelde gevangene van jou eie storie. Die Heilige Gees oortuig jou van waarheid en die gevolglike vryheid is verligting en vreugde. So is dit ‘n vreugde om jou lewe met waarheid te deurdrenk. My man het altyd vir my seuntjies gesê na aanleiding van die gordel van waarheid in Efesiërs 6 se wapenrusting: Praat die waarheid anders val jou broek af! Jy sal in die skande kom met leuens.

Die waarheid is dat dit voordelig is dat ons Jesus nie kan sien nie, want nou het ons die Heilige Gees. Hy werk in ons, nader as ‘n fisiese mens, om ons te help en te oortuig van die liefde van ons Vader. Jesus sê verder in Johannes 14 : 26 dat die helper, die Heilige Gees ons sal herinner aan Sy woorde en ons leer.

Die Heilige Gees sal jou van sonde oortuig – in die volmaakte liefde van die Vader wat Sy seun gegee het, as offer vir jou sonde. Moenie toegee aan die duiwel se aanklagte van sonde wat skuld skep en jou lamlê nie.

Die Heilige Gees was Jesus se “persent” aan Sy dissipels (ons ingesluit) om hulle nooit alleen te laat nie. Sy woorde in Johannes 14:26:

But the Helper, the Holy Spitit, whom the Father will send in My name, He will teach you all things and bring to you remembrance all things that I said to you.

Die apostels is deurgaans gevul met die Heillige Gees in hulle bediening soos in Handelinge 13:52 vermeld word:

And the disciples were continually filled, throughout their souls, with joy and the Holy Spirit.

Die Heilige Gees is die belofte van die Vader. Exodus 34:14 (NLT – New Living Translation)

For He is a God who is passionate about his relationship with you.

 

Is dit nie pragtige antieke woorde van krag en vreugde nie?