74. Sit eers bietjie…

Dis goeie woorde om te hoor. ‘n Uitnodiging om te vertoef – kosbaar in vandag se wêreld. Daar is soveel liefde en omgee in hierdie ou paar woordjies. Sit – ek maak tyd vir jou. Sit – ek maak tee. Kom in en sit gerus. Jy is welkom, jy word onthaal, iemand het iets lekker vir jou. Vir ‘n genooide gas word daar beplan en voorberei tot op die uur wat die deurklokkie lui en jy word ingenooi om te sit.

Ons post-moderne mense is so self-versorgend. Ons eet en drink en word vermaak op ‘n individuele, net-my-smaak-en-keuse-geld – basis. Ons beheer ons gemeenskap en ons eie ruimte absoluut, soos dit vir ons gemaklik is. Ten spyte van kleiner leefruimtes in die stede, in vergelyking met afgesonderde plase van die vorige geslag, is soveel mense meer eensaam as enige plaasmense wat ek geken het. In primitiewe gemeenskappe was jag en oes spanpogings noodsaaklik vir oorlewing. Vandag jag en oes elkeeen op sy eie. Ons sluit die deur en verdwyn in ons eie privaatheid.

Tog is ons gemaak vir gemeenskap. Geluk word gemeet in terme van verhoudinge. Sonder God in ons alleenheid, kompenseer ons met werk en stokperdjies. Eensaamheid maak dood. Sielkundiges beklemtoon betekenisvolle konneksie met mense om jou. Die gedig van John Donne word dikwels aangehaal:

No man is an island,

Entire of itself,

Every man is a piece of the continent,

A part of the main.

Die besluit om jouself aan ‘n liefdevolle Vader oor te gee, is sekerlik die enkel belangrikste besluit vir ‘n vervulde lewe. Jesus nooi ons in gemeenskap in. Hy het die onsigbare koninkryk van God op aarde kom bevestig en verklaar Homself as die Weg daarin. Hy gee ‘n koninklike uitnodiging om by Hom te kom sit.

Kom in…sit ‘n bietjie.

In ‘n sittende posisie dra jy nie eers jou eie gewig nie. Die las op jou skouers lê langs jou, jy kan jou bene strek en ontspan. Dis die eerste posisie vir ‘n baba om onafhanklik in te neem, voor kruip, loop en hardloop. Dit is die natuurlike verloop van dinge. Jy is uitgenooi, daar is iets vir jou voorberei volgens die plan van die gasheer.

Wat ‘n plan is nie aangekondig in Genesis 3:15 vir die triomfantelike oorwinning oor sonde en nederlaag. Sedert daardie dag in die Tuin is die Plan in werking gestel, voorberei in fyn besonderhede oor die eeue tot daardie donker nag in Bethlehem en die donker dag op Golgotha. Jesus het ons geleer om Hom Vader te noem en vertel van die beste moontlike Pa vir Wie alles moontlik is in Sy almag en volmaakte liefde. Hardkoppige, godsdienstige meerwaardigheid het gemaak dat soveel Hom nie herken nie.

Hoor jy die uitnodiging? Of trap jy die godsdiensmeul redeloos en moedeloos? Hoor die uitnodiging – Lukas 14:17:

 En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed.

Kom in…sit ‘n bietjie.

Adam se eerste dag op aarde was God se rusdag. Adam het nie begin werk nie. Hy het gerus, saam met God. Die patroon het nog nooit verander nie.

Jy moet sit en nie dink wat jy moet doen nie. Jy moet weet wat is reeds gedoen.

“For Christianity begins not with a big DO, but with a big DONE.”

[Watchman Nee: Sit, Walk, Stand]

Blaai saam met my deur die eerste hoofstukke van Efesiërs.

“By comment consent, the Letter to the Ephesians ranks very high in the devotional and theological literature of the Christian Church. It has been called “the Queen of the Epistles” and rightly so. Ephesians clearly has a unique place in the Pauline correspondence”. [William Barclay. Professor of Biblical Criticism, University of Glasgow.]

“Of all Paul’s epistles, it is in Ephesians that we find the highest spiritual truths concerning the Christian life. The letter abounds with spiritual riches and yet at the same time, it is intensely practical.” [Watchman Nee: Sit, Walk, Stand.]

Die brief aan die Efesiërs is geskryf toe Paulus in die tronk was. Hy het tyd gehad en ‘n erflating van teologie in poetiese prosa geskryf. Efesiërs is in werklikheid ‘n uitbouing van Galasiërs. Beide briewe is deur Tichius afgelewer en 55 versies stem woord vir woord ooreen. Volgens die tradisie van antieke briewe is dit op papyrus geskryf, gerol, gebind met ‘n tou en geseël. Die brief het ‘n vaste vorm gevolg – ‘n groet, ‘n gebed en danksegging, spesiale inhoud en spesiale groete en dan ‘n persoonlike afskeidsgroet.

Die briewe van Paulus aan die kerke was die skrywe van ‘n vriend aan ‘n vriend. Dit was nie akademies argumente of amptelike regsdokumente nie. Dit is soos een kant van ‘n gesprek. Mens kan maar net ‘n afleiding maak van die omstandighede waarop hy reageer. Paulus het geen idee gehad watter plek sy woorde in die universele geskiedenis van die kerk sou inneem nie.

Die sentrale tema van Galasiërs sowel as Efesiërs is die alles omvattende voorsiening in Christus. Die wanklanke van die heelal kan slegs in Christus hamonieer. Jesus is God se instrument van versoening en die kerk is Jesus se instrument van versoening. Onthou die kerk is die universele kerk van Christus – alle wedergeborenes – nie denominasies nie.

Die eerste keer dat ons die woord sit lees is in Efesiërs 2:6:

…en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,

Die uitnodiging is nie net om te sit nie. Ons word genooi om saam met Hom in die hemele te sit.

Hoe kry ons dit reg? Verkeerde vraag. Niks wat ons doen kan dit meebring nie. Die vraag behoort eerder te wees: Hoe gebeur dit?

God doen dit in ‘n geestelike misterie wat ons in geloof aangryp en uitleef. Paulus stort sy hart uit en skryf lang sinne. Die sin begin eintlik in vers 4:

Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het…

God wek uit die dood op. God laat sit. Hy is soewerein en Hy besluit. Ons aanvaar. Ons glo. Ons leef saam met Jesus.

Krabbel bietjie terug na die eerste hoofstuk. Efesiërs 1:3:

 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus…

Hierdie seën is in die verlede tyd geskryf. Dit het reeds gebeur. Dis nie deur jou toedoen nie. Jy kan nie God se seën en jou posisie in die hemele saam met Jesus verdien nie. Jy sit in die onsienlike wêreld saam met Jesus, nou, vir hierdie lewe van jou. Hierdie seën is vir nou – nie na die dood eendag in die woonplek van God nie. Ons het nou God se seën nodig. Eendag by Hom is ons in elk geval geseën met Sy teenwoordigheid. Die belofte is vir nou.

Jou bekering, doop, Bybelstudie, gebed, goeie werke van liefdadigheid en uitreik na die waarheid is nie om God tevrede te stel nie, maar om jou eie denke en lewe te verander. Dit is geestelike rituele om jou te leer, nie God te plesier nie. Jy aanbid Hom met ‘n lewe van gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid aan Hom verander jou. Ons onvoorwaardelike afhanklikheid aan God is al kwalifikasie vir die seën.

Efesiërs 2:8,9:

Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.

Ons verval so maklik in ‘n verdienste denkpatroon. Dit is ons Calvinistiese plig om te kry net as jy gewerk het.

Paulus praat skerp met die Galasiërs oor hierdie beginsel.

Galasiërs 3:1,2:

O, onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?

 Die nuwe vertaling is net so sterk – sjoe:

Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel?

Ons het die Heilige Gees ontvang deur te glo – niks meer nie. Dit is ‘n geskenk. Die kruiswerk het alles met betrekking tot ons verlede, hede en toekoms gedek. Daar is ‘n oorvloed van geestelike seëninge wat jy verhinder met jou verdien-mentaliteit.

Ons ontvang wat vrylik gegee word. Dit word deur God gegee in ‘n goddellike aksie wat in vreugde en geloof aanvaar word. Dit is nie ‘n stryd nie. Dis ‘n feit.

2 Korintiërs 1:21:

God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder,

Ons het verligte oë nodig. [Efesiërs 1:18]

Kyk of jy met nuwe oë na die storie van die verlore seun kan kyk. Die uitdaging – verander jouself om in die posisie van ontvang te kom sodat jou lewe kan begin met ‘n diepe begrip van wat God reeds gedoen het. Ons lewe begin in die dood. Ons is saam met Jesus in sy dood begrawe. [Galasiërs 2:20 en Romeine 6:3,4]

Beide seuns in die storie is ver van die vreugde en welvaart van hulle pa. Die oudste, hoewel fisies in die huis, se oog is op sy eie werke, sy eie verdienste. Hy kan feesvier net wanneer hy wil, maar doen dit nie. Hy dink hy kan sy pa tevrede stel met sy harde werk. Hy ken nie sy pa nie, want hy weet nie dat die fees tot sy beskikking is nie. Die jongste spandeer alles en kom terug met ‘n geweldig skuldlas wat onmiddellik in die vreugde van tuiskoms deur sy pa met oorweldigende oorvloed uitgewis word. Hy word in ‘n posisie van ontvang geplaas met die uitbundigheid van feesvier met oorvloed. God is só ryk. Hy is gereed met die kleed, die ring, die nuwe skoene en die fees. Hy wil jou oorval met gasvryheid. Dis wie Hy is.

Verander jou denke Bodemklipvriend! Kom sit aan by die tafel.

Psalm 23:5

U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s