‘n Godsdiensspook is gevaarlik. Timoteus waarsku daarteen. ‘n Gedaante van godsaligheid – in Totius-Afrikaans. Deurskynende, wolkagtige kerkaktiwiteite sonder substansie, sonder krag, sonder Jesus.
Godsdiensspoke wat in die beweging wat hulle die Christendom noem, deur die ander spoke in alle denominasies op die plein van neutraliteit en gemakzone-kerk voortgesleep word en saampraat oor die oorweldigende boosheid, misdaad sonder hoop op oplossing, natuurrampe en ‘n wêreld wat besig is om ‘n vullishoop van onverantwoordelike energie-gebruik en onbenullige moord op mens en dier te word. Waar is jou God van liefde, vra hulle een-dimensionele en oppervlakkige redenasie? Hoe kan enigiemand nog glo in ‘n liefdevolle Vader wat ‘n plan het vir hierdie bloedbad van huismoles in ons voorstede en internasionale politiek met geweldadige, ekstremistiese fanatici met swart vlae en moord op hulle lippe?
Die nugter, rasionele verantwoordeliheid van die intellek is die enigste uitweg, gaan hulle voort. Die boosheid en vernietiging om ons is ‘n feit, gemaklik om waar te neem in die konkrete werklikheid van die sigbare. Hoekom is ‘n abstrakte proses binne in die innerlike dimensies van die onsigbare, die bron van die kragtige wonderwerk wat ons wêreld eintlik nodig het?
Kragtelose Christene gee die Christendom ‘n slegte naam. Godsdiens sonder Jesus en Sy bewuste Teenwoordigheid en werking op ‘n diep vlak in ons harte in onderwerping aan Sy Heilige Gees, maak oorlog in die naam van die kerk, slag die wetenskaplikes wat nuwe teorieë verkondig en veroordeel die sondaar so skerp dat hy nie by saligheid en redding uitkom nie. Woorde sonder wysheid, sonder liefde, sonder krag word die kenmerk van ‘n kerk sonder die Heilige Gees.
Die wetenskap is God se Werk, die Bybel is God se Woord. Die twee kan nooit mekaar weerspreek nie en indien dit dalk so lyk, is dit slegs die mens se gebrek aan kennis om dit te versoen.
Want nou sien ons deur ‘n spieël in ‘n raaisel, maar eendag van aangesig tot aangesig. Nou ken ek ten dele, maar eendag sal ek ten volle ken, net soos ek ten volle geken is. [1 Korintiërs 13:12]
Ons teologie moet hierdie phenomeen in die volmaakte liefde van ons Vader hanteer. Kerk staan nie teenoor wetenskap nie. Kerk behoort die onderbou van wysheid en aanmoediging vir die wetenskap op alle vlakke verskaf.
Waar pas ons in? Ons is maar net die gewone mense wat wonder oor God en Sy heelal in ons poging om te verstaan en ‘n lewe van oorwinning op ‘n planeet te leef, wat met die feite tot ons beskikking ‘n onbelangrike plek in die groter prentjie inneem.
Dit is die uitdaging van dieper insig en begrip van die onbegryplike. Dit is die belofte van die Heilige Gees, die wonderwerk in ons binneste, die transformasie van ons siel sodat ons multi-dimensioneel kan leef en nie soos ‘n wurm wat op die grond sleep, sin probeer uitmaak van wat om ons gebeur nie.
In hierdie proses van sin maak uit die onbegryplikheid om ons, is die antieke woorde van profete uit die ou beskawings van 500 jaar vC, soos salf vir windmeul-gedagtes.
Esegiël 36: 26,27:
En Ek sal julle ‘n nuwe hart gee en ‘n nuwe gees in jul binneste gee…
En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.
‘n Persoon wat die rasionele besluit neem om sy lewe aan God te onderwerp, ervaar die voorbereidingswerk van die Heilige Gees. In wedergeboorte word die innerlike mens gevul met ‘n nuwe gees – ‘n herbore gees – ‘n nuwe baba-gees. Maar daar is meer.
Net in die volgende vers in Esegiël belowe God om Sy Gees in ons binneste te gee, sodat ons in Sy weë kan wandel. Dit is ver verwyderd van die menslike pogings om die wet te onderhou. Dit is die Gees van God self wat in ons werk om Sy insettinge te ken en te leef.
Die proses is twee-ledig. Ons gees word nuutgemaak in wedergeboorte en dan kom vul God se Gees ons binneste. Dit is soos die bouer van die huis wat anders is as die inwoner van die huis. Die bouer werk aan die huis om dit tot stand te bring, maar die eienaar van die huis leef binne, eet binne, bly binne.
God se Gees kom woon in ons net op uitnodiging. Iemand het eendag gepreek en die Heilige Gees beskryf as ‘n ware heer – a true gentleman. Hy kom in op uitnodiging en vertrek sonder protes as Hy nie meer welkom is nie.
‘n Nuwe gees is God se werk – die vervulling met die Heilige Gees is God self in my.
Ons is ‘n drie-eenheid net soos God. Met die klem op die uiterlike, konkrete en sigbare is ons vlees. Met die klem op die innerlike, abstrakte en onsigbare is ons gees. Die vlees sien een-dimensioneel slegs volgens dit wat met die sinne waargeneem kan word; die gees “sien” met insig en begrip dit wat in openbaringskennis deur waarheid (Jesus) interpreteer word.
Diepe insig is slegs in Jesus moontlik. Hy is waarheid en lewe. Deur Hom word die Woord aan ons duidelik en hoor ons God se stem. Die Heilige Gees kommunikeer volgens God se wil met God self. Dit is die enigste effektiewe kommunikasie met God.
Hierdie invulling met God self is die belofte van Pinkster. Dit is kragtige en effektiewe dissipelskap. Dit is waarna ons binneste verlang. Vra dit van die Here.
Hier is drie vertalings van 2 Timoteus 3:5:
…mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af.
They will act religious, but they will reject the power that could make them godly. Stay away from people like that!
For [although] they hold a form of piety (true religion), they deny and reject and are strangers to the power of it [their conduct belies the genuineness of their profession]. Avoid [all] such people [turn away from them].
‘n Sterk waarskuwing inderdaad. ‘n Waarskuwing teen kragtelose Christene, naam-Christene, kerk-Christene – daardie Christene wat die wonderwerkende, almagtige God reduseer tot ‘n goue kalf – ‘n vorm van godsdiens wat in hulle eie gemak-zone inpas.
Galasiërs 3:1
Is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel?
o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie?
Liewe Bodemklipvriend, dit is Pinkstertyd. Weet jy waaroor dit gaan? Dit is die jeuglike fees wat die hoogtepunt van die Opstanding en Hemelvaart vier. Dit is die tyd wat weer beklemtoon dat God die tweede deel van die belofte waar maak vir almal wat dit vra. Word vervul met God self. Die Gees van God in jou binneste waar jy op ‘n diep vlak kontak maak met die God is van wie ons saam met Moses verlede week gesing het:
O HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen? [Exodus 15:1]
Ons reis saam in die krag van die Opstanding en Hemelvaart en laat ons godsdiensspook-karakter ver agter…