67. Nuutgemaak – oorgeplant!

In die noordelike halfrond is lente in die lug. Die hele omgewing het ‘n groen skynsel van baba-blaartjies in heerlike verwagting op die verloop van warmer dae. Blomme dra vet knoppies, gereed om oop te gaan. Die vernuwing wat ‘n volgende seisoen bring is duidelik sigbaar. In die suidelike halfrond is winter oppad in die warmer kleure van rooi en bruin blare met ‘n verwagting van kaggels, bredie en mooi serpe. Selfs in die koue en op die kaal bome, is lente reeds ‘n verwagting. Kyk mooi en naby. Die sekerheid van die belofte van Genesis 8:22:

Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.

Hier in ons woud het ‘n natuurverskynsel afgespeel wat vir my ‘n belewenis is. In September verlede jaar toe die bome nog groen blare gehad het en herfs nog nie eers sigbaar was nie, het ons ‘n onverwagte sneeustorm gekry. Binne ‘n paar uur was alles wit en die sneeu het swaar op die groen blare bly lê. Die gewig het baie takke gebuig en ander laat breek. Een tak wat geknak het, hoër op in ‘n boom hier agter die huis, se blare het bruin geword maar nie afgeval nie. ‘n Hele winter later, hang die bruin blare nog steeds aan die geknakte tak. Dit is slegs ‘n lewende tak wat die blare afgooi en gereed kry vir die nuwe seisoen en nuwe blare. ‘n Dooie tak se dooie blare hang bruin en dood tussen die groen vernuwing rondom.

IMG_2142

Ons beleef die dae na die opstanding. Dae van verwagting. Hoe duidelik Jesus se woorde oor die kruis en Sy oorwinning oor die dood ooit aan Sy disspels was, dit was nie ingebrand in ervaring nie, totdat hulle die opgestane Jesus met hulle eie sinne beleef het. Die verwagting van ‘n nuwe seisoen in hulle lewens was met die ervaring van Jesus in persoon, ‘n brandende vuur in hulle harte. Skielik was enigiets moontlik. Hy leef!

Maar die oomblik van afskeid het gekom. Hy het gereed gemaak om weg te gaan. Hy het geweet Hy sal hulle nooit weer op dieselfde manier as daardie oomblik sien nie. Nuwe dinge het voorgelê.

Laaste woorde voor ingrypende verandering is super-belangrik. Hoor (weer en weer) wat Hy sê: Lukas 24: 36-53:

En terwyl hulle hieroor praat, staan Jesus self in hul midde en sê vir hulle: Vrede vir julle!

Toe het hulle verskrik en baie bang geword en gemeen dat hulle ‘n gees sien.

En Hy sê vir hulle: Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ‘n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.

En terwyl Hy dit sê, wys Hy hulle sy hande en sy voete.

En toe hulle van blydskap nog nie kon glo nie en hulle verwonder, sê Hy vir hulle: Het julle hier iets om te eet?

Daarop gee hulle Hom ‘n stuk gebraaide vis en ‘n stuk heuningkoek. En Hy het dit geneem en voor hulle oë geëet.

En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.

Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan.

En Hy sê vir hulle: So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge.

En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.

En Hy het hulle uitgelei tot by Betánië. En Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle geskei en is in die hemel opgeneem. En hulle het Hom aanbid en na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap. En hulle was gedurig in die tempel en het God geprys en gedank. Amen.

Hier is ‘n hele paar uitstaande oomblikke in hierdie kort beskrywing van sekerlik die hoogtepunt van daardie mense se ganse lewens. Jesus spreek hulle skrik en vrees aan. Hy weet dat Sy verheerlikte Teenwoordigheid vir hulle ‘n bonatuurlike en ingrypende ervaring is. Hy beklemtoon sy woorde aan hulle voor Sy dood en bring hulle onder die gesag en krag van die Skrifte. Sy woorde:

So is dit geskrywe ….. en julle is getuies hiervan.

Hy doen ‘n wonderwerk in hulle verstand. Hy open hulle verstand om die Skrifte te verstaan. Hy doen die wonderwerk omdat dit noodsaaklik is. Jesus het nie Sy wonderwerke op onnodige goed gedoen nie. ‘n Wonderwerk gebeur slegs in groot nood en behoefte. Om ‘n getuie te wees van hierdie gebeure vra ‘n wonderwerk, ‘n spesiale aanraking, a touch of glory, ‘n salwing van insig. Hy ontsluit die Heilige Gees krag binne in hulle om Sy woorde te begryp, te verwerk en te praat.

Maar dis nie klaar nie. Is dit dan nie genoeg nie? As Jesus sê daar is nog iets nodig, dan kan ons nie daarmee stry nie. Sy woorde:

En kyk, Ek stuur die belofte van my Vader op julle. Maar julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte.

Krag om te getuig, krag om te praat, krag vir hierdie oorweldigende taak om Sy teenwoordigheid uit te dra. Dit is die belofte van die Vader – Jesus self in ons. Daarvoor moes hulle gaan wag. Hoekom?

Jesus is nie ‘n kaartmannetjie wat ons aantrek soos ‘n papierpop se rok nie. Hy is die lewegewende bron van alle waarheid en goedheid in alles, deur alles en tot alles. Sy Woord lewe en raak ontslae van al die dooie werke in ons lewe. As ons die kaartpop van wettisisme en vooroordeel verkondig is ons getuienis van alle krag ontneem. Dan bly die dooie werke aan ons hang soos verlede seisoen se dooie blare al lyk dit dalk asof jy nog aan die boom behoort. Jy is geknak en dood en moet opnuut inge-ent word. [Johannes 15:4,5]

Net so min as wat ‘n een dimensionele papierpoprok naaktheid kan bedek, so min krag het een dimensionele godsdiens. Jesus as persoon in al Sy volheid in ons deur die Heilige Gees is ons wit klere van glorie en prag.

Romeine 8:26,27:

En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.

Dit is daardie diep hartsug wat nie met woorde uitgedruk kan word nie.

En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.

Romeine 8:25-27:

But if we hope for what we do not see, with perseverance we wait eagerly for it. 26In the same way the Spirit also helps our weakness; for we do not know how to pray as we should, but the Spirit Himself intercedes for us with groanings too deep for words; 27and He who searches the hearts knows what the mind of the Spirit is, because He intercedes for the saints according to the will of God.

Henry Matthew Concise Commentary:

The Holy Spirit is the spring of all desires toward God, which are often more than words can utter. The Spirit who searches the hearts, can perceive the mind and will of the spirit, the renewed mind, and advocates his cause. The Spirit makes intercession to God, and the enemy prevails not.

Hierdie beskrywing van die werking van die Heilige Gees is die sleutel tot die begrip van die transformasie wat in die disspels plaasgevind het. Hulle het geskrik vir Jesus in Sy opgestane heerlikeid, verstom gestaan voor die bonatuurlike. In Handelinge 2 met die uitstorting van die Heilige Gees het dieselfde vernederde Petrus 3000 mense tot bekering gepreek en aan hulle die weg van saligheid uitgespel – ‘n nuwe manier – sonder besnydenis, sonder Joodse etniese groepering, sonder die Tempel, sonder die bloed van diere. Petrus se woorde in Handelinge 2:37,38 en 41:

Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?

En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.

Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drie duisend siele toegebring.

Ek was nog nooit by ‘n doopdiens vir 3000 mense nie. Wat ‘n ervaring van transformasie.

In die volgende hoofstuk praat Petrus woorde wat die bonatuurlike, wonderwerkende kragtige bediening deur die Heilige Gees bevestig.

Handelinge 3: 1-10:

Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!

Bodemklipvriend, jy behoort aan ‘n Almagtige God wat wonderwerke doen. Roep saam met Moses in Exodus 15:11:

O HERE, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?

Who is like You, O Lord, among the gods? Who is like You, glorious in holiness, awesome in splendor, doing wonders?

Waar is jy op hierdie oomblik? Bekend met die bonatuurlike, wonderwerkende God of verval in twyfel, onsekerheid en moedeloosheid?

Kyk weer mooi na Handelinge 2:39:

…want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is…

Dis jy, dis vir jou. Juig saam! Die krag wat daardie dag van Petrus ‘n magtige prediker gemaak het, kan jou lewe verander. Gryp die Woord vas en skud af die ou dooie blare van vooroordeel, leringe van mense en kerke en dooie werke. Vra die Here vir dieselfde aandoening van krag met al die gawes van die Heilige Gees wat 1 Korintiërs 12 en Romeine 12 van praat. Dit word aan jou gegee volgens die behoefte. Jesus het belowe ons gaan groter werke doen. [Johannes 14:12]

Ek is seker almal stem saam dat ons in hierdie wêreld, in hierdie tyd, in alle omstandighede die volheid van die belofte van die Heilige Gees nodig het.

Mooi bly tot volgende keer.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s