69. Waar is jou God?

Die post-moderne mens trek met ‘n grinnik sy neus op oor geloof in God. Hulle maak wye verklarings oor inkonsekwenthede in die Bybel en koester ‘n gemaklike bitterheid oor verwonding in die kerk en algemene teleurstelling in God. Indien die gesprek verder as ‘n sin of twee vorder, maak hulle ongetoetsde en oppervlakkige uitlatings oor wat God sou moes wees vanuit ‘n rasionele benadering tot onsienlike dinge. Die meeste Christene, soos ek ook, vermy argumente en het ook nie altyd antwoorde op so ‘n diskussie nie. Ek voel myself nie in staat om God se bestaan of optrede te bewys nie. Ek los dit vir die “professionele” apologete, wat die debat op akademiese en wetenskaplike vlak voer en vir wie ek die grootste respek het.

Meer as ooit is ek dankbaar vir die geloof wat ek saam met moedersmelk ingekry het. Slaaptydliedjies het geloof gebou en vertel van die liefde van ‘n wonderwerkende God: Omdat Hy leef het ek hoop vir môre, Net goedheid en guns sal my volg al die dae wat ek leef, My God can do anything, Got any problems you think are impossible ensovoorts. Stories van my grootouers en agter grootouers van wonderbare uitkoms in oorlog, finansies en verhoudings en goddellike genesing is met vreugde aan my oorgedra. Ek dank die Here daarvoor.

Oor die afgelope maande was daar in ons vriendekring twee persone wat erken het, dat hulle alles wat tradisionele geloof betref, verwerp het. Hulle vind die Bybel slegs ‘n fabrikasie van ou stories en gebeure wat geen toepassing het nie en geen indruk maak nie.

Ek het myself afgevra hoe dit moontlik is dat enigiemand so ‘n besluit sou kon neem. Ek is daagliks afhanklik van Jesus. Ek het Hom nodig in alles wat ek doen. Ek maak staat op Sy voorsiening, beskerming en seën. Ek smag na Sy stem oor dinge in my lewe en verlang na die antieke wysheid van die woorde in die Woord. Hoe is dit moontlik om so ‘n skat te verwerp?

My gevolgtrekking is dat mens nie iets kan verwerp wat mens nooit gehad het nie. Dit is nie ‘n verwerping nie, maar slegs ‘n erkenning van ‘n diep leemte wat nog nooit gevul is nie. Die Christendom kan maklik in kerklidmaatskap getel word, liefdadigheid is visueel en kerkbywoning kan enige mens sus in die gedagte dat mense aan die Here behoort as hulle fisies aan kerkaktiwiteite deelneem. Ware verhouding met God, kan egter nie getel of gesien word nie. Dit is moeilik om een mens te bestudeer en seker te maak dat die vrug van die Heilige Gees gesien en ervaar kan word. ‘n Boom word tog aan sy vrugte geken soos die Bybel sê. Wie kan egter die diep oordenkinge van die hart beoordeel?

1 Korintiërs 2:10:

But God has revealed them to us through His Spirit. For the Spirit searches all things, yes, the deep things of God.

 Vir almal wat wil hoor:

Die seën en genade van die werking van die Heilige Gees in elke mens om in goddellike wysheid en kennis te wandel, kan nooit oordryf word nie.

Hierdie diep verhouding met die Gees van die Here, is onvervangbaar en dit is die enigste manier wat die diep leemte in elke mens vervul word, sodat jy tot die gevolgtrekking kom dat daar absoluut niks bestaan wat die plek daarvan kan neem nie.

Handelinge 17:28

…want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons…

 Dit is die kernwaarheid van die goeie nuus van Jesus. God in ons – Immanuel – op ons uitnodiging in ons gees om te leef, te dink en te werk.

Johannes 15:5

Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.

En die wonderlike belofte om alles te kroon:

Vers 7:

As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.

Dit is voorwaar ons heerlike bestemming – in Christus. Sonder ‘n bewustelike innerlike ingesteldheid op die teenwoordigheid van die lewende Christus in ons, is ons kragtelose kerkgangers sonder enige hoop op transformasie of nuwe denke. Geestelike deurbraak bly ‘n vae hoop sonder vasberade, bewese, geloof.

Jesus gaan voort om die belangrikheid van gehoorsaamheid te beklemtoon as voorwaarde vir hierdie wonderbare inwoning van God self.

Johannes 15:9 -12:

Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My.

 As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.

 Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.

 Dit is my gebod, dat julle mekaar moet liefhê net soos Ek julle liefgehad het.

Bodemklipvriend – waar is jou God? Binne-in jou.

Hoe sal mens dit weet? Jy sal getoets word aan jou liefde. Dis die bewys van God in jou.

Waaraan sal jy jouself onderskei van ongelowiges? Aan jou liefde – vir Jesus en vir jou naastes.

Wat is die gevolg, die bewys hiervan? Volkome blydskap soos dit uitgespel word in die Amplified vertaling van Judas 24:

Exceeding joy…unspeakable, ecstatic delight not dependent on any circumstances.

Die toets van liefde is geweldig en wyd. Dit is slegs moontlik in diepe afhanklikheid van die Heilige Gees. Dit is God in ons om te wil en te werk.

Fillipense 2:13:

…want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

…for it is God who works in you both to will and to do for His good pleasure.

 Dit is die werk van die Heilige Gees. God in ons.

Dit kan slegs gebeur op uitnodiging in ‘n lewe van gehoorsaamheid.

Lukas 5:46 – 48:

Why do you call me, ‘Lord, Lord,’ and do not do what I say.

 En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?

 Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en dit doen – Ek sal julle wys soos wie hy is.

 Hy is soos ‘n man wat ‘n huis bou, wat gegrawe en diep ingegaan en die fondament op die rots gelê het; en toe die vloedwater kom en die stroom teen daardie huis losbreek, kon hy dit nie beweeg nie, omdat sy fondament op die rots was.

 Dit was laatmiddag op die plaas vroeg in April 1972 toe my ma sê ons ry Johannesburg toe die volgende dag. Dinge was deurmekaar. My pa was reeds weg stad toe om sy ou beroep as elektriese ingenieur weer op te neem. Ek was 12 jaar oud. Oud genoeg om te weet ons geld is op en die skuldlas is groot. Die verband by die Landbank was R85 000. ‘n Nuwe Mercedes Benz het R5000 gekos.

Op een of ander stadium teen die bergpas af daar by Rankins Pas, het ek vir my ma gevra: Wat is die Heilige Gees?

Sy het later vertel dat sy dadelik gebid het. Sy was so vol sorge en spanning dat sy glad nie geweet het wat om te antwoord nie. Sy moes diep delf in die lering waarmee sy groot geword het vir duidelikheid oor die derde Persoon in die Godheid.

Oor middagete van Goeie Vrydag het ons in Johannesburg ingery. Ons motor was oud en stukkend en ons het die volgende aand met my oom se bakkie na die kampkonferensie gery om die diens by te woon. Die kamp te Maranatha Park was die groot jaarlikse Paas byeenkoms van ons kerk. Vir 10 dae lank het almal kerk toe gegaan en gekuier – vroegoggend tot laataand. Dis waar my ma gaan hulp soek het vir al ons probleme.

In die diens by Sonskynhoekie, die Sondagskoolbyeenkoms waarheen ek saam met niggie is, het hulle gebid vir kinders wat die doping met die Heilige Gees wou ervaar. Na my gesprek in die kar was ek baie ingenome daarmee en het ook uit my sitplek opgestaan om vorentoe te gaan vir hierdie nuwe avontuur. Ek het nie baie ver gekom nie. Die kinders het die paadjie vol gestaan. Ek het teen een van die pale geleun, toe een vandie helpers vir my vra of hy vir my kan bid. Hy het my aangemoedig om saam met hom die Here te loof vir alles waarvoor ek dankbaar is. Ek het saam met hom gebid en gehoor hoe ek in ‘n vreemde taal begin praat. Hy was vol vreugde en het die Here geloof vir Sy getrouheid.

Bodemklipvriend – ek weet hierdie ondervinding word nie in al die kerke verkondig nie. Ek weet ek het dit ervaar omdat ek dit so diep begeer het en ek praat daaroor omdat daardie ondervinding en die daaropvolgende beoefening van bid in tale vir my ‘n krag in my lewe was en is, wat ek vir almal bid en begeer.

Moet dit asseblief nie uit die staanspoor verwerp nie. Indien jy verward voel oor lering en dogma, neem jou Bybel en lees weer Handelinge 2 en 1 Korintiërs 12 en 14 met al die Skrifverwysings daarby. Vra die Here om vir jou duidelikheid daaroor te gee. Dis net by Jesus self wat ons oor Sy gees kan leer. Die belofte is vir ons en ons kinders volgens Handelinge 2:38 en 39.

Volgende keer: Die toets vir gehoorsaamheid – die sleutel tot kragtige deurbraak.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s