22. Nagmaal vir Paas – die ete vir die Fees.

Al vier evangelies vertel die verhaal van Jesus en sy dissipels se laaste maaltyd voor die kruisiging. Dit is duidelik ‘n bevestiging van die belangrikheid van hierdie gebeure.

Die maaltyd vir die Paasfees word in Exodus 12: 1-14 ingestel. Dit was die eerste maand van die Hebreeuse jaar. Die fokuspunt van die maaltyd was ‘n jaaroud skaap of boklam, perfek, sonder skete, wat geslag en gebraai is. Die lam moes afgesonder en uitgesoek wees voor die slagting en op die voorgeskrewe dag teen skemer geslag word. Van die bloed van die lam is aan die deurposte gesmeer en daarna is die braaivleis saam met ongesuurde brode en bitter kruie geëet.

In vers 14 word dit voorgeskryf dat hierdie maaltyd in herinnering aan die uittog uit Egipte en die vryskelding van die dood van die eersgeborenes daardie nag vir die geslagte wat kom gevier moet word.

You shall keep it as a feast by an everlasting ordinance.

Die kruie was of peperwortel of perdeblom (Afrikaans vir dandelion) of witloof, (Afrikaans vir endive), wat saam met die brood geëet is. Dit is in hierdie bakkie bitter kruie wat Jesus en Judas saam die brood geweek het, toe die profesie van Jesus waar word oor wie die verraaier is. Hierdie kruie was die simbool van die lyding as slawe in Egipte. Die brood, ongesuurd, ‘n simbool van die suiwering wat gedurende die sewe dae Fees van die Ongesuurde Brode, wat die Paasmaaltyd voorafgegaan het, geëet is.  Dan was daar dikwels ook die mengsel van appels, neute en granate  wat hulle moes herinner aan die stene van klei wat hulle in Egipteland gemaak het, met kaneelstokkies wat daar in steek as simbool van die strooi wat gebruik is.

Dit was die elemente van die Paasmaaltyd.

Maar, in al die evangelies word die voorbereiding van die lam weggelaat, en ons kan aanvaar dat die laaste maaltyd van Jesus en sy dissipels bestaan het uit brood, wyn en kruie en die neutmengsel. Johannes beklemtoon die feit dat hierdie maaltyd voor die Paasfees plaasgevind het en dat Jesus gesterf het op die uur wat die lammers  by die tempel geslag is. Weer eens die perfekte uitvoering van die plan wat al so lank terug in die Tuin en die woestyn tabernakel aangekondig is.

Die atmosfeer van hierdie verhaal word deur Jesus self bepaal – voorbereid en berekend. Niks is ‘n verrassing nie. Hy kommunikeer voortdurend en alles wat hy sê is om hierdie groepie voor te berei op wat kom. Hy voorspel die verraad van Judas (Matt 26: 20-25), Hy voorspel Petrus se verloëning, Hy voorspel die verskriktheid van die dissipels na die kruisiging (Matt 26: 31-35):

Daar staan geskrywe: Ek sal die Herder doodmaak en die skape van sy kudde sal uitmekaar gejaag word.

Na die inhegtenisname van Jesus was Petrus een van die dapperes wat Johannes in die hof van die hoëpriester ingevolg het. Johannes was die seun van prominente en welvarende vishandelaars – sy pa het heel moontlik ‘n fabriek gehad wat vis in sout ingelê het en Johannes moes dit aflewer – daarom het die wagte by die hoëpriester se huis hom geken en toegelaat dat hy en Petrus nader aan die plek waar Jesus gekonfronteer is, kon kom. Hy het sy bes gedoen om naby Jesus te bly, daarom kon Jesus hom sien nadat hy drie maal ontken dat Hy Jesus ken.

Die maaltyd was ‘n kosbare tyd saam met Sy dissipels. Jesus tree op asof Hy lankal vir daardie oomblik voorberei het. Hy het Sy laaste opdragte gegee en weer gesê dat Hy gaan doodgemaak word. Hy het Sy opstanding voorspel en gesê Hy sal hulle vooruitgaan na Galilea. Hy het geweet dat die skok van die gebeure wat kom hulle daar in Jerusalem sal lamlê, dat hulle nie op die Sabbat mag reis nie en eers na die Paasfees terug na Galilea sou gaan.

In die verse wat vertel van die voorbereiding van hierdie maaltyd, sien ons dat niks onverwags plaasvind nie. Die dissipels moes ‘n naamlose vriend van Jesus uitken en hom vir die bokamer vra. Die teken om die man te herken, was dat hy ‘n pot water dra. ‘n Man wat ‘n waterpot dra sou uitstaan in enige menigte mense. ‘n Waterpot op die skouer was ‘n vrou se werk. Hy sou aan hulle ‘n bokamer beskikbaar stel. Die gewone huise in Jerusalem het 2 kamers gehad, ‘n grote onder en ‘n kleiner een bo-op wat met ‘n buitetrap bereikbaar was, wat as stoorkamer, gastekamer of gebedsplek gebruik is. Dit was ook nie buitengewoon dat ‘n rabbi met sy leerlinge daar in gesprek gesit het nie.

Gedurende die maaltyd is daar drie uitstaande oomblikke. Selfs in die skaduwee van die kruis, oorheers persoonlik ambisie en is daar ‘n stryery oor wie die grootste in die Koninkryk sal wees (Lukas 22: 24-30). Dit illustreer die feit dat voorafkennis nie altyd ‘n mens voorberei om reg te reageer nie. Die aankondiging van die verraad was ‘n oomblik waarin almal skielik aan hulleself getwyfel het en duidelik onbewus van Judas se planne was. Die derde een is die oomblik toe Jesus bid en die brood breek. Die woorde wat Hy toe gespreek het, was nie heeltemal nuut nie. Die dissipels het al voorheen gehoor dat hy praat van Sy liggaam wat geëet moet word en Sy bloed wat gedrink moet word.

Die lering van Jesus in Johannes 6 aan die Jode in die sinagoge in Kapernaum is die kern van die Nagmaal wat ons vandag vier.

In Johannes 6:52 – 56 verduidelik Jesus uitvoerig dat Hy die Brood van die Lewe is en dat Sy liggaam ware voedsel is en SY bloed ware drank. Hy verklaar dat iemand wat nie Sy liggaam eet nie en Sy bloed drink nie, nie waarlik deel aan hom het nie. Wie dit wel doen, het die ewige lewe. Dit was juis ‘n gesprek van Jesus wat baie mense afgeskrik het. Hier by hierdie besondere maaltyd herhaal Hy daardie gesprek in Kapernaum.

Die woorde van Jesus, word in 1 Korintiërs 11 deur Paulus ge-ego. Die eerste boek van Korintiërs is voor die Evangelies geskryf. Onthou Paulus het na sy bekering 3 jaar in Arabië deurgebring en onder die leiding en lering van die Heilige Gees sy bedieningsopdrag ontvang. Toe hy terugkom het hy in Jerusalem met die apostels kom praat en duidelik by hulle sy openbaringskennnis bevestig. Ek kan my net voorstel dat hy aan hulle lippe gehang het, hulle wat hierdie Jesus wat hy op so ‘n dramatiese wyse op die Damaskuspad leer ken het, in Sy menslike liggaam geken het.

Daarom kon hy met outoriteit die lering oor die nagmaal gee. Dit gaan weer eens oor jou hart. Dis nie ‘n leë ritueel nie. Allermins, wees gewaarsku! Hy verduidelik hoe ons, met oorleg en verootmoediging, waardig deelneem aan die brood en wyn. Die nie iets misties of vaag nie. Dit is die geloofsbesluit dat hierdie jou deelmaak van Jesus self en jou identifiseer as eensgesind in Sy lyding, en daarom ook die krag losmaak wat daar in Sy bloed, naam en woord is. Die nagmaal as geloofsmaaltyd het krag vir uitkoms en genesing. Ons glo en ons sal nie vergeet nie. Die blote eet is ‘n geloofsbelydenis en kan nooit ondeurdag plaasvind nie. Terwyl mens die brood eet en die beker in jou hand neem, bely jy aktief die volle voordeel van die kruis se reddingsdaad, vergifnis, krag, genesing, oorvloed en voorsiening.

Vers 28 van 1 Korintiërs 11 vra dat jy jouself moet ondersoek sodat jy nie ‘n oordeel oor jouself drink nie. Bely jou sonde en wees betrokke in jou gemoed. Die waarskuwing is nie iets om te vrees nie, maar om die leegheid van ‘n blote ritueel te verhoed.

Die nagmaal is dramatiese aksie, die doel is om te herinner aan Jesus wat nie dood is nie, maar opgestaan het om self met ons in verhouding te wees. Dis daarom nie net ‘n herinnering nie, maar in ‘n seker sin ‘n konfrontasie met die opgestane Jesus om in ‘n nuwe verhouding met Hom te staan. Hierdie verhouding hoef nie net in ‘n simboliese maaltyd gevier word nie, maar in ELKE maaltyd wat ons Sy voorsiening geniet. Hy is immers ons God, nie net by die nagmaaltafel nie, maar by elke tafel waar ons eet.

Onthou laastens, dit is ‘n Fees. Dis ingestel om jou redding uit sonde en die leegheid van die lewe te vier. Deuteronomium 16: WEES BLY! Dis ‘n opdrag. Tel die beker op en sê: HESED – God is goed. Ek juig oor Sy liefde, ek juig oor die KRUIS, ek juig oor die jaar wat voorlê en my toekoms.

Ons juig saam!


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s