Ons is nog nie klaar met feesvier nie! Ons weet nou dat die antieke Hebreeuse kalender in feeste ingedeel is om die goedheid en voorsiening van die Here te vier en nie te vergeet nie. In der waarheid – partytjies van vreugde om na uit te sien.
Stel jou voor die Vader wat dans. Lustig opspring en tiekie draai. Dis wat die Hebreeuse woorde beteken in Sefanja 3:17:
He will rejoice over you with joy; He will exult over you with singing.
Die Afrikaanse vertaling sê Hy jubel en juig oor jou.
Ons weet Jesus het hierdie feeste gevier – hier en daar in die Evangelies, word hierdie feit genoem. Matteus 26:18 toe Hy die dissipels stuur om die huis voor te berei vir die laaste Paasfees voor die kruisiging. In Lukas 2:41 gaan Hy saam met sy ouers na Jerusalem om die Paasfees te vier, soos dit die gewoonte was.
Jesus het ook dikwels van ander partytjies gepraat. Hy is dikwels na partytjies uitgenooi en mens kan jou net voorstel dat die skinderstories geloop het. Die kerkleiers het juis ‘n probleem gehad met die mense met wie Hy gemeng het, en het Hom openlik beskuldig dat Hy belastinggaarders en sondaars sy vriende noem. Heiligheid beteken tog juis afsondering vir ‘n spesifieke doel en daarom het die Jode van die tyd hulleself fisies en letterlik van enigiets wat hulle as onheilig beskou het, afgesonder.
Om hierdie praatjies hok te slaan, het die Jesus 3 stories in Lukas 15 vertel wat almal op ‘n partytjie – ‘n jolige fees met baie uitgenooides eindig. Dit sluit nie eers die storie (gelykenis) van die groot huweliksbanket in nie. Dit is in Matteus 22, waar Jesus Sy Koninkryk vergelyk met ‘n groot bruilofsfees met nuwe uitnodigings, waar die uitnodigings uitgestuur is op grond van die GENADE van God en die VERSOENING van Jesus aan die kruis.
Lukas 15 – Jesus vertel van die groot vreugdefees as die Herder sy verlore skaap opspoor. Hy nooi vriende en bure en sê: Kom juig saam. Die vrou wat haar muntstuk verloor, vier fees saam met vriende en bure as sy dit terugvind. In albei hierdie gevalle noem Jesus die vreugde in die hemel oor die sondaars se bekering. Insluitende feeste, nie uitsluiting soos die kerk van destyds en die kerk van nou? Hoe tuis voel die ware soekers, sondaars en verwerptes in ons kerke? Is ons al te heilig vir hulle of kan hulle maar die vrae vra en die twyfel uitspreek in ‘n veilige hawe van liefde en aanvaarding?
Dan kom Jesus met die storie van die verlore seun – so bekend – oppas vir oorbekendheid en so ‘n gemakzone in die storie dat jy niks nuut kan sien nie. In hierdie storie is welvaart geen probleem nie. Die seun kon sy deel kry en weggaan en die vader en oudste broer het aangegaan met die boerdery. Die seun se deel is uitgemors, sodat niks oorbly en hy keer in armoede en vernedering terug. Nogtans is daar ‘n vetgemaakte kalf (simbool van welvaart en gasvryheid), bediendes en genoeg om ‘n groot fees op kort kennisgewing te hou.
Die seun het daar by die varke geland en ‘n plan uitgedink om ‘n laer status in die veilige hawe wat hy geken het, te gaan uitonderhandel. Let daarop dat hy ‘n hele belydenis uitdink en toe hy dit aan sy pa oordra, net halfpad kom daarmee. Sy hele plan om sy terugkoms te verdien word kortgeknip met die opdragte aan die bediendes wat die totale herstel van die seun se plek in die huis aankondig.
Terwyl jy nog onder die indruk van jou sonde is, verseker die bloed van Jesus jou totale herstel uit die put van jou vernedering. Die fees word beskryf as ‘n jolige danspartytjie met musiek: vers 23 – 25 van Lukas 15. Die oudste broer se jaloesie, bitterheid en verbeelding (hy is die een wat opmerk dat sy broer seker sy geld op hoerery spandeer het, terwyl hy die wonderlike voorbeeld is wat nog glad nie saam met sy vriende fees gevier het nie) hou hom buite. Die pa, (hy het nooit gewonder waarheen die geld is nie, want hy het genoeg bronne) kom uit om die oudste broer se besware aan te hoor. Hy wil hom deel maak van die vreugde en herinterpreteer sy woorde in die lig van sy vaderhart. Die oudste broer moet inkom en saam feesvier oor dit wat hy nog altyd gehad het, en oor die broer wat dood was en nou weer lewe. Die pa wil sê: Ag los jou kleinlikheid. As jy wil vriende nooi en partytjie hou is dit nie ek wat jou keer nie. Kom juig saam, geniet jouself, deel in die oorvloed. Jou uitsluiting is JOU keuse – nie hoe ek dit bedoel het nie.
Wie is hierdie God wat jou aanmoedig tot blymoedige feesviering? Kom ons hoor uit Sy eie mond wie Hy is. As jy dit hoor, sal jy genoeg rede hê vir feesvier. In Exodus 33 pleit Moses vir die volk na die Goue Kalf episode. Laat my toe om net in kort die regte perspektief hier te gee.
Die bou van die goue kalf was nie ‘n poging om afgode te aanbid nie. Die volk het probeer om God te eer met die kalf. Dit is trouens met hulle beste goud en silwer gedoen. In Exodus 32:4 word dit duidelik uiteengesit: die volk sê: Hier is jou God wat jou uit Egipteland uitgelei het. Aaron kondig onmiddellik ‘n fees aan en onderskei nie die vleeslike poging tot aanbidding nie. Die partytjie word ‘n aanstoot voor die Here omdat dit die grote God in die bekende vorm van ‘n Egiptiese beesgod in forseer. Dis nie ‘n fout wat net deur die onkundige volk van ouds gemaak is nie. Ons loop dieselfde gevaar. Ons druk God in ons eie vorm van gemak in, sodat ons nie uit ons gemakzone geruk kan word en Hom op SY manier aanbid nie. Net ‘n nederige onderwerping aan Sy Woord, kan mens bewaar van jou eie Fariseerskap. ‘n Oop gemoed, ‘n sagte, leerbare gees (Engels: teachable spirit), gehoorsaamheid aan Sy opdragte, geopende oë, gesalfde ore – alles produkte van die Heilige Gees se oortuigingswerk en ‘n aflegging van vooroordeel en vooropgestelde idees.
God bly groter as wat jy Hom in jou wildste drome en verbeelding kan voorstel.
Exodus 34:6. Ek weet julle het hierdie al gehoor. Moses is op die berg Sinai en vra om God te sien. God laat hom Sy rugkant aanskou want geen mens kan God sien en leef nie. Uit hierdie hoogs uitsonderlike en bo-natuurlike ervaring kom Moses met ‘n blink gesig by die volk en hulle vra hom hoe LYK God. Hy noem een woord – HESED [uitgespreek = gessed].
And the Lord passed before him and said: The Lord, the Lord God, merciful and gracious, long-suffering, and abounding in goodness and truth, keeping mercy for thousands, forgiving iniquity and transgression and sin, by no means clearing the guilty, visiting the iniquity of the fathers upon the children and the children’s children to the third and the fourth generation.
Afrikaans: Ek die Here, die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou, Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte….en verder.
Al hierdie eienskappe van die Here kon met die een woord opgesom word. Die karakter van God was wat Moses gesien het. Het jy al gedink wat sien God as Hy na jou kyk? Tipies menslik kyk ons na die uiterlike, klere dalk eerste, dan gesigsuitdrukking en houding, dan eers ingesteldheid en geaardheid. Die Engelse vertaling gebruik die woord LOVING-KINDNESS om hesed te vertaal. Hierdie woord word 240 keer in die Ou Testament gebruik, veral in die Psalms, volgens my Bybelwoordeboek (Vines) een van die belangrikste woorde in Ou Testament teologie. Die Septuagint (die Griekse vertaling van die Ou Testament) gebruik mercy (eleos). In meer moderne vertalings word genade, guns, standhoudende liefde en net liefde ook gebruik. Duidelik ‘n begrip met ‘n wye betekenisnuanse. Ons soek die beskrywing vir ‘n Almagtige God – die moderne tale versamel woorde om die rykdom van HESED te interpreter.
Die gebruik van HESED in Exodus 34 kan die ganse verbondsgeskiedenis van Israel met die Here opsom. Dit is Sy mees sentrale karaktertrek. Daar word in die ou Hebreeus ook ‘n ewigheidselement daaraan gevoeg – geslagte en geslagte. Dis hierdie God, wat Homself in terme van Sy liefde, genade en guns (onverdiende goedgesindheid en ‘n gewilligheid om in volmaakte liefde vir jou te sorg ten spyte van jouself), verklaar, waaroor jy fees vier. Genoeg rede? Ek dink so.
Dink hierdie Paasfees weer goed na oor die paar versies wat die moordenaar aan die kruis langs Jesus se hele storie vertel. (Lukas 23:39-43) Hy ‘n slegte lewe gehad, ‘n aaklige dood, maar dit was nie sy einde nie. Ten spyte van alles, het hy die regte keuse gemaak en die fees bygewoon. En wat ‘n fees was dit nie – Kom ons lees in Openbaring 5 wat hierdie arme sondaar gesien het – die triomfantelike aankoms van die Lam – Jesus- in die hemel na sy opstanding. Dit is in alle tye die beste, grootste, wonderlikste fees om hoegenaamd by te wees.
Then one of the elders [of the heavenly Sanhedrin] said to me, Stop weeping! See, the Lion of the tribe of Judah, the Root of David, has won (has overcome and conquered)! He can open the scroll and break its seven seals!
And I heard every created thing in heaven and on earth and under the earth in Hades, the place of departed spirits and on the sea and all that is in it, crying out together, To Him Who is seated on the throne and to the Lamb be ascribed the blessing and the honor and the majesty, glory, splendor and the power, might and dominion forever and ever through the eternities of the eternities!
Dis die kern van ons Paasfees. Hierdie triomfantelike intog in die hemel na die opstanding word elke Paas gevier.