Verlede keer het ons gepraat oor die Teenwoordigheid van God as die doel, die gevolg en die uiteinde van kommunikasie met God. Hierdie gedagte staan sentraal in die ganse Skrif. Dit is die kern van die verhaal van God en mens. Elke boek het ‘n relaas van ‘n individu se kommunikasie met God. Ons kyk saam na die Psalms en die woorde van Jesus in Matteus 6.
He who dwells in the secret place of the Most High shall abide under the shadow of the Almighty. Psalm 91:1
Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige.
Die woorde : secret place word deur Jesus herhaal in Matteus 6. Woorde soos skuilplek en skaduwee klink na rusplekke, veilige plekke. Dit is juis die konsepte wat met gebed geassossieer word.
But you, when you pray, go into your room and when you have shut your door, pray to your heavenly Father who is in the secret place; and your Father who sees in secret will reward you openly. Matteus 6
Die Afrikaanse vertaling praat van die verborgene (1933) en die 1983 vertaling – kamer of binnekamer.
Kom ons dink saam oor hierdie woorde in die konteks van die tyd en plek wat Jesus dit gesê het. Vir die Jode was daar niks belangriker as gebed nie. Die rabbi’s het, tereg, gesê: die familie wat bid, omring hulle huis met ‘n ystermuur. Geen godsdiens op aarde het meer waarde geheg aan gebed as die Jode in die tyd van Jesus op aarde nie.
In hierdie toewyding en oordrewe poging om God te plesier het baie wettisisme oor gebed ontwikkel. Mens kan dink dat die geestelike leiers eintlik die mense wou help om die regte ding te doen en so het voorgeskrewe gebede, met voorgeskrewe tye en later selfs voorgeskrewe plekke die gewoonte geword. Die SHEMA was ‘n gebed wat in die oggend en die aand herhaal moes word. Dit het bestaan uit drie Skrifte en die woord SHEMA beteken hoor – dus was dit ‘n lofuiting aan die Here sodat jyself eintlik moes hoor wie God is. ‘n Pragtige gebed… indien dit met die volle fokus op die Here gedoen word. Dit kon ook verval in ‘n sinnelose herhaling van die mooi woorde. Moenie te gou die ou Fariseers kritiseer nie – dink bietjie wanneer laas het jy die tafelgebed met mening en fokus gebid en of jy elke liewe keer waarlik die Here onthou by die basiese voorsiening van jou daaglikse behoeftes.
Daarbenewens was daar die Shemoneh ‘esreh: die 18 gebede. Dit moes drie maal per dag gebid word. Maak nie saak waar die persoon hom bevind het nie – hy moes bid. Dit het beteken dat hy selfs in die openbaar gebid het. Omdat almal geweet het hulle moet, het almal probeer om by die wet te hou, sommige met hulle hart daarin, sommige sommer vir die voorgee.
God was heilig, aangespreek in die taal van die Ou Testament – YAHWEH – wat eintlik net die konsonante van die Hebreeuse woord vir die Allerheiligste God is. Hy was so heilig dat Hy einltik glad nie aangespreek is nie. Sy naam was so hoog verhewe, dat Hy Sy naam, in menslike terme – mag ek sê – “verloor” het.
Hierdie voorgeskrewe, geformaliseerde gebede aan ‘n verhewe wese was deel van die daaglikse lewe van elke Jood in Israel.
Hier kom Jesus met ‘n rewolusie, ‘n hele nuwe konsep, ‘n paradigma-skuif so geweldig dat hulle Hom dadelik as ‘n oneerbiedige ketter uitgekryt het.
In die eerste plek – Hy vestig in die eerste dae van Sy bediening die feit dat die verhewe Almagtige God van die aartsvaders en profete is hulle Vader, meer nog hulle Pappa – familiêr, gewoon, alledaags, naby, warm, veilig, intiem, toeganklik! Dink net hoe vreemd die konsep moes wees. Verwerplik vreemd – dis wat baie gedoen het.
Hy vestig die gedagte dat God baie meer gereed is om gebed te antwoord as wat hulle in al hulle gebedsbeoefening, bereid is om te bid. Balsemwoorde op moeë siele. Mense wat hard probeer en leë onbevredigende gebedsbeoefening ervaar.
Kom ons terug na die woorde van Jesus oor die verborgene. Jesus en Johannes die Doper se bedienings het met dieselfde woorde begin: Bekeer julle want die Koninkryk van God het naby gekom.
Regdeur Jesus se bediening het die mense die begrip koninkryk verkeerde verstaan. Hulle het aards gedink. Jesus het ‘n geestelike, onsigbare konsep bedoel. Die koninkryk wat Hy kom vestig het hier op aarde was die hemele soos wat daar in Matteus 6 en18 van gepraat word. Die hemele is nie die HEMEL soos wat ons tradisioneel daaraan dink as die woonplek van God nie. Die hemele is die onsigbare wêreld hier om ons. As ons bid: Onse Vader wat in die hemel is – is dit nie die vêr plek in die heelal wat dalk in jou kop opkom nie. Dis die Vader wat hier by jou in die verborgene is – die hemele, die secret place – die teenwoordigheid. Jy kan Hom nie sien nie, maar Hy is net hier, BY jou. Die koninkryk van God is daarom ‘n heel persoonlike, individuele konsep.
Waar is jy as jy in die skaduwee van die Almagtige is? – in Sy Teenwoordigheid. Hier kom als bymekaar.
Verder – as Jesus vir ‘n Jood in die eerste eeu gesê het: gaan in jou kamer vir gebed, was dit ‘n bykans onmoontlike opdrag. Die huise was klein en geensins privaat nie. Vir die gewone, armoedige Jode het ‘n huis dikwels uit net twee vertrekke bestaan. Die gesin het in die hitte dikwels op die dak gaan slaap. Die huis was kombuis en woonplek en dan slaapplek. ‘n Privaat kamer agter ‘n toe deur was amper ongehoord. Maar in die ou King James vertaling gebruik Hy die woord closet – dit was ‘n klein stoorkamertjie agter ‘n deur wat kon sluit – amper so groot soos ‘n instapkas. Dus Jesus het bedoel – privaat.
Die privaatheid waarvan Hy praat is – as ek dit so kan stel – ‘n sielsprivaatheid. Dit was die plek – in die woorde van die Message-vertaling – a quiet secluded place so you won’t be tempted to role-play before God. Mens sou dink Hy wil nie hê ander mense moet jou sien nie – dit ook, maar die belngrikste is dat jy nie jouself deur ander mense sien terwyl jy bid, nie. DIS privaat. Jy kan jouself wees. Hierdie privaatheid is nie noodwendig gebonde aan jou instapkas nie. Dis daardie privaatkommuikasie met jou Here, op enige plek, enige tyd van die dag, informeel en onmiddellik.
Paulus sê vir die Tessalonisense: Bid sonder ophou! Message: Pray all the time. As Hy sê bid sonder ophou – dan sal die Here wat nie sluimer of slaap met jou kommunikeer sonder ophou. Onthou Hy belowe in Jesaja: He is the God who speaks.
Die gesprek gaan voort….