12. Drie woorde.

Ons het in die afgelope twee gesprekke die beginsel gevestig dat ons met God kommunikeer op soveel meer maniere as tradisionele formele gebed. Weer is die beklemtoning van gesprek die sleutel. Jesus het soveel te sê gehad oor gebed. Matteus 6 is die binnekamer-beginsel en die pragtige Onse Vader – waarna ons terugkom.

Die laaste deel van Matteus 6 en die begin van Matteus 7 is die allerbelangrike hindernisse in gebed : onvergewensgesindheid, verkeerde oog en ingesteldheid op die aardse, bekommernis, die toekoms en oordeel– lees dit gerus aandagtig en laat die waarheid jou vry maak.

In Matteus 7:7 is die pragtige woorde: Bid en vir jou sal gegee word, soek en jy sal vind, klop en vir jou sal oopgemaak word. Lees aan tot by vers 11 om die omvang van hierdie kosbare koninkrykswet te begryp..

Hoekom sê Hy: bid, soek, klop. Afrikaans 1983 gebruik die woord – vra  in plaas van bid. Drie verskillende woorde met verskillende betekenisse en drie gewaarborgde antwoorde op elkeen afsonderlik.  In die drie woorde lê ‘n hele proses van gebedsgroei opgesluit.

Vra (bid) vir die gawes, dit wat jy nodig het, al jou behoeftes in die seker wete van diepe afhanklikheid en die verklaring dat jy jou rig tot die bron van al jou oplossings. Jy erken God is jou bron vir alles. Deur te vra onderwerp jy jou behoeftes en begeertes aan Sy voorsiening. Dit gaan oor jou en jou omstandighede.

Soek herinner my aan die Skrif in Jesaja 55 : 6 (1933) – Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy naby is. Hier verskuif die fokus na God en jou gebedsoog verander. Die klem is op die Here en Sy vermoë om te voorsien. Dis vordering  – van ‘n totale opgenomenheid met jou eie behoefte na ‘n visie van die grootheid van die Een met wie jy te doen het (Heb 4:13) . Soek as werkwoord veronderstel iets waarna jy soek. Jy soek nie jou behoefte nie – jy soek die Here van jou behoefte. Die Gewer van die gawe.

Klop herinner aan die Skrif in Openb 3:20: Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan, en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.

Tradisioneel dalk ‘n skrif wat altyd met die ongelowige in verband gebring word, maar eintlik so ‘n kragtige betekenis vir die gelowige bidder het.

Weer verskuif die fokus na intieme verhouding, meer as blote gesprek.  Dis ‘n hele nuwe vlak van kommunikasie. Dit gaan nie oor die gawes, of die Gewer alleen nie, maar ‘n diep, persoonlike verhouding met die Gewer van die gawes. Waar gebeur die lekkerste kuier en diep geselse? Ons weet mos – om lekker kos. Dink aan ‘n gebedslewe wat soos ‘n lekker ete met bevredigende diep kontak saamgaan. Die lekker kuier in die Teenwoordigheid van jou Vader – jou pa waar jy heeltemal jouself kan wees, dinge uitpraat en verligting kry vir al jou bekommernisse.

Hierdie drie woorde in die gebedsproses word al drie met ‘n eenvoudige antwoord gewaarborg. Jou behoeftes sal voorsien word – Ps 23:1 Die Here is my Herder, ek kom niks kort nie.

Hier is ‘n uitdaging.

Kan jy vandag, op hierdie oomblik, net vir ‘n oomblik stil wees en met oortuiging in jou siel verklaar – ek kom niks kort nie, wat ookal jou behoeftes en omstandighede mag wees. Is dit vir jou moontlik om jou oog op die regte dinge te hê, sodat jou vooropgesteldheid met jou onvolmaakte omstandighede sodanig vervaag dat jy kan verklaar voor die Groot Voorsiener, El Shaddai, the God of Plenty, dat jy tevrede is met wat Hy vir jou gee?

Hierdie is ‘n wonderlike besef. Paulus sê in Fillipense 4:11: …want ek het geleer om vergenoeg te wees met die omstandighede waarin ek is . Amplified: …for I have learned how to be content (satisfied to the point where I am not disturbed or disquieted ) in whatever state I am.

In vers 18 sê hy verder: Maar ek het alles ontvang en ek het oorvloed (amply supplied)

En die waarborg in vers 19: My God sal elke behoefte van julle vervul na Sy rykdom in heerlikheid deur Jesus Christus. Glo jy dit?

Weer die Amplified om te onderstreep: And my God will liberally supply (fill to the full) your every need according to His riches in glory in Christ Jesus.

As jou lewe oorgegee is aan die Here, sal jy nooit ooit tekort skiet in enige opsig hoegenaamd nie – sien jy met die verligte, gesalfde oë (Matt 13:16) die hoer weë en hoër gedagtes van die Here (lees maar weer Jesaja 55).

Glo jy werklik dat ALLE dinge ten goede meewerk (Rom 8:28) dat onse God hierdie vloek in ‘n seën kan verander (Nehemia 13:2) en dat Hy jou nooit sal verlaat nie (Heb 13:5 Amplified)? Dis die uitdaging in watter omstandighede ookal. As jy die Skrif ken sal jy werklik glo as Jesus sê: Vra en vir jou sal gegee word. Klaar – geseël met die Woord. Ps 138:2 sê: Hy plaas Sy Woord bo Sy Naam. For You have magnified You Word above all Your Name. Geweldige woorde. Verskriklik om te twyfel.

Jesus sê: Hy wat soek sal vind. Eenvoudig. Jak 4: 8: Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Eenvoudig, gewaarborg. Vind Hom in jou gebed. Jy nader nie ‘n onwillige, kwaai wese wat oortuig moet word om jou saak aan te hoor nie. Jy nader jou Vader wat klaar weet wat jy nodig het en gereed staan om die hemele opdrag te gee aangaande jou. Sien dit met jou geestesoog.

Klop en gaan in na die Vader se warm omhelsing van verwelkoming, die sterk toring, die veilige hawe, die triomftog, die feesmaal van versadiging en bevrediging. Hierdie is die gewaarborgde antwoord op jou gebed. Niks kan dit verhinder nie. Indien jy dalk aangeval word met onwaardigheid en jou eie sonde, dink aan die Tuin van Eden en herstel dadelik die gesprek. Die bloed maak jou vry en waardig.

GLO Jesus se woorde. Bid met vrymoedigheid. Roep Hom aan in die dag van benoudheid en Hy sal jou uithelp en jy moet Hom eer. Dan sal jy sê: Ek het die Here aangeroep en Hy het my uitgehelp, my gebed beantwoord. Dan sal jy nie sê; sjoe ons was lucky, of dit was toevallig, of – dit het darem goed uitgewerk nie. As iemand om jou dalk nog waag om jou oorwinning aan toeval toe te skryf, sal jy hom reghelp en sê: dit mag dalk toeval wees, maat hoe meer ek bid hoe meer toeval gebeur in my lewe. Lees weer Ps 91, veral vers 15.

Nou het jy gevorder – van ‘n kermende kleuter wat selfsugtig net daaraan dink om sy eie onmiddellike behoefte te vul, tot ‘n kalm, heilige wat weet, glo en vertrou, verseker is van uitkoms en oorwinning en dit alles geniet om die feestafel van oorvloed saam met die Here, in blinde vertroue op Sy plan en met helder, gesalfde oë wat met ‘n arend se perspektief sy eie lewe beskou.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s