10. Die eeu-oue gesprek

Dis met opset dat ek hierdie mini-reeks oor gebed, ‘n gesprek noem. Dit was die aard van die eerste kommunikasie tussen God en die mens – net nadat Hy die mens gemaak het.

As mens die woord, gebed, gebruik, dra dit soveel gewig of bagasie –positief en negatief – dat dit dalk net die insig wat nodig is vir ‘n nuwe dimensie, verdof.

Dink net vir ‘n oomblik – wat is die eerste gedagte wat by jou opkom as jy die woord gebed hoor. Opgewondenheid of skuldgevoel? Vreugde of huiwering? Is jy ongeraak, het jy lankal opgegee, of dink jy dadelik aan ‘n rits gebedsbeantwoording, wat jy entoesiasties kan oorvertel.

Op die dag wat God Adam maak begin Hy praat en Hy het nog nooit opgehou nie. Adam het soos ‘n prins sy eerste dag op aarde saam met God gerus. Dit was die onmiddellike heerlike gevolg van perfekte kommunikasie met God. Adam se eerste dag op aarde was ‘n rusdag: die sewende dag – God se dag, die Sabbat. Dit is ons eerste verwagting van kommunikasie met God – rus, vrede, in die Teenwoordigheid van God, daar in die pragtige perfekte tuin van Sy teenwoordigheid – die kanaal is oop.

Toe kom die sondeval en hier moet ons mooi oplet. Dieselfde dag kom God weer in die aandwind en soek Adam se geselskap op. Dink julle vir ‘n oomblik God het nie geweet wat daardie dag in die tuin gebeur het nie? Toe Hy vra: Adam, waar is jy? Dink jy Hy het nie presies geweet waar Adam is nie, presies hoe skaam hy is nie, presies waar hy wegkruip nie – nogtans kom Hy soos gewoonlik Adam opsoek vir die gesprek om voort te gaan.

Geen sonde is te groot om die gesprek te beeindig nie.

Hoekom vra God vrae? Nie om inligting te kry nie:

– om antwoorde uit te lok en die gesprek voort te sit. Adam moet verduidelik wat gebeur het – amper soos by ‘n sielkundige. Adam word genooi om die waarheid te erken en te formuleer.

Hierdie is superbelangrik – sonde keer nie gebed nie en moet onder geen omstandighede die gesprek onderbreek nie.

God soek die mens tot Hy hom kry en die gesprek gaan voort. Die sondeval word bespreek. Adam gee Eva die skuld, Eva gee die slang die skuld en God oordeel die slang. God weet presies en regverdig hoe en wie om te oordeel.  Hy oordeel nie die mens nie. Hy vervloek wel die aarde waar hy ‘n bestaan moet maak en die gevolge van die sonde tree in werking – naamlik ‘n bestaan op ‘n vervloekte aarde.

Die tuin is die simbool van die teenwoordigheid van God – dus sonde bring ‘n verwydering tussen God en die mens – maar in Genesis 3:21 doen God ‘n baie belangrike ding. Hy slag ‘n onskuldige dier en bedek die mens met vel. Die patroon van sondebedekking word vasgelê. Onskuldige bloed betaal sodat die sonde wat die mens in sy naaktheid ontbloot, bedek word.

Met die woestyntabernakel word hierdie beginsel as die heel belangrikste ritueel bevestig. Eenmaal per jaar gaan die Hoëpriester in die Allerheiligste deel van die Tabernakel en sprinkel die bloed op die genadetroon. Dit word gedoen op die groot versoendag, die Yom Kippur, wat vandag nog as vasdag gevier word. Die ark van God het in die Allerheiligste gestaan agter ‘n dik gordyn.

Dit wys heen na Jesus se bloed wat ons sonde bedek sodat ons weer die Teenwoordigheid van God kan ervaar. Met die kruisiging het die dik gordyn, die voorhangsel van bo na onder geskeur – van die hemel af is die beperkinge tot toegang na die Allerheiligste God opgehef. Deur die bloed van die kruis is die toestand van die Tuin van Eden herstel.

Dwarsdeur die Ou Testament is toegang tot die Teenwoordigheid van die Here die onderskeidende kenmerk van die werklike groot Godsmanne.

Noag:  God nooi Noag en sy gesin in die ark in. [Genesis 7]

Hierdie wonderlike detail was nooit duidelik totdat ek ander vertalings van die Bybel begin lees het. Die Afrikaans sê:  Gaan in die ark. Al die Engels vertalings sê:  Come into the ark. Kom maak meer sin as gaan. Afrikaans is egter nie verkeerd nie. Die Griekse woord wat daar gebruik word is ‘n woord wat kom en gaan kan beteken. Die gebruik moet in konteks afgelei word en dit hang van vertalers af. Dis ‘n rede om meer as een vertaling vir studie te gebruik.

Die ark is weer eens die simbool van die Teenwoordigheid. In die Teenwoordigheid is redding, uitkoms, voeding, versorging, skuiling vir solank as wat nodig is totdat die vloed sak.

Moses noem die Teenwoordigheid as die allerbelangrikste faktor by die ingang van die beloofde land. Kyk saam met my na Exodus 33  – die buitengewone gesprek na die ramp van die goue kalf.

Die bou van die goue kalf was Israel se poging om God te dien op hulle eie terme en patroon. Die kalf moes dien as ‘n teken van Sy teenwoordigheid – dis nou na die instelling en bou van die woestyntabernakel met die rituele daarrondom wat noukeurig volgens God se voorskrifte plaasgevind het.  Die goue kalf was nie ‘n wegbeweeg van die volk na afgode toe nie – dit was ‘n verheffing van hulle eie godsdienstige idees in teenstelling met die onderwerping aan God se metodes.

Moses is woedend en gooi die kliptafels stukkend. God sê hierdie skrikwekkende woorde in Exodus 33: 3 – my eie woorde – trek maar in die land wat Ek julle belowe het, want Ek trek nooit ‘n belofte terug nie, maar Ek gaan nie saam nie. Hierdie is skokkende nuus – vir Moses en diegene wat hulle onderwerp aan God se plan. Moses slaan sy tent buite die kamp op en elkeen wat God soek, gaan uit na die tabernakel van samekoms, soos Moses dit noem. Die wolkkolom sak oor die tent as die simbool van die Teenwoordigheid en God praat met Moses soos ‘n vriend van aangesig tot aangesig – Exodus 33 : 11.

Hierdie is groot krisis, groot sonde, goddellike woede – maar waar is God – net daar, in die middel, teenwoordig, beskikbaar en oop vir toenadering. Hierdie patroon het nog nooit verander nie!! Dis waar jy Hom kry in die krisis – tussen Sy mense.

Moses se skok met God se woede, bring hom by ‘n plek waar hy begin pleit vir die volk en God herinner dat dit Sy volk is.

Vers 15: Die pragtige woorde van Moses:

If Your Presence does not go with us, do not bring us up from here.

Liewer in die woestyn bly met die Here, as in die beloofde land in,  sonder die Here. Die droom, die 40-jaar uitsien word net daar prysgegee ten gunste van die Teenwoordigheid.

Dan gee Moses die rede: Hierdie is weer die sleutel tot enige godsdiensbeoefening:

For how then will it be known that Your people and I have found grace in Your sight, except You go with us? So we shall be separate, Your people and I from all the people who are upon the face of the earth.

Wat onderskei die Christen van die wêreld? Die Teenwoordigheid. Wanneer kry die Christen en die kerk ‘n slegte naam? Wanneer hulle goue kalwers bou en die Here op hulle eie manier dien, die wette maak, die oordeel fel, vir ander vertel wat is sonde en op grond daarvan verwerp en verwond of aanvaar – dis vlees, dis geraas, dis afskuwelik om te aanskou, met al die hartseer wat daarmee saamgaan.

Net om hierdie eerste gedagtes oor gebed af te sluit: God praat verder met Moses, Moses vra om Sy glorie te aanskou, God sê Hy kan in die skeur van die Rots kom staan en Sy rugkant sien, want geen mens kan God sien en lewe nie. Weer eens ‘n bevestiging van die groter as groot God in die oog van die mens. Is daar hoegenaamd ‘n beter plek om te wees as in die skeur van die Rots met God se Hand oor jou?

Die gevolg van hierdie gesprek: Moses het nou net God se woede ervaar. Wat kies God om vir hom te wys: Sy GOEDHEID. In die volmaakte liefde van God, binne-in die krisis, wys Hy vir Moses Sy karakter:

I will let all My goodness pass before you. [Vers 19]

Tot volgende keer.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s