Voor Opec en die bekende beelde van die wêreld se reuse oliebore, het God duisende jare gelede ‘n onuitputlike oliekruik gebruik in die voorsiening van ‘n onbekende weduwee se desperate armoede.
In 2 Konings 4 is die verhaal van die weduwee se olie wat nie opraak nie, amper ‘n direkte bevestiging of selfs ‘n herhaling van die vorige hoofstuk se wonderwerk. So asof die middel of instrument verander, maar die voorsiening, uitkoms en oorwinning verander nie. Die gate is nou kruike.
Die eerste beginsel van hierdie wonderwerk is die voorsiening van die Here en die profeet se aandag by die mees basiese behoefte van die heel onbelangrikste lid van die gemeenskap. Ons God is groot, maar Hy gee om en voorsien vir die heel kleinste.
Die weduwee wat hier ter sprake is, is deur Josephus, seker die bekendste Joodse historikus, as die vrou van die profeet Obadja, geidentifiseer. Dis ‘n vrou wat bekend was met die ware God en wat sekerlik in die bediening van haar man gedeel het. Sy is bewus van die wonderwerkende God wat in haar behoeftes kan voorsien, maar haar situasie is so desperaat, dat sy in ‘n paniek na die Elisa toe uitroep. Vers 1 sê: She cried out. Sy maak ook staat op haar oorlede man se status as ‘n dienaar van God.
Omstandighede is die werklikheid wat jy sien en ervaar, wat jou onderdruk, wat hard praat, wat vrees skep. Dis ‘n feit. Die punt is wat doen jy in hierdie omstandighede. Sy roep uit na die profeet. Sy weet wat kom – sy sien die heel slegste draai van die situasie. Volgens die gebruik van die tyd is ‘n skuldenaar se kinders in slawerny verkoop. Die skuldeisers was streng en gewetenloos. Sy weet dis klaar met haar, haar lewe word bedreig. As haar seuns weg is, is sy niks en niemand en sal skaars vir haarself kan sorg.
Haar uitroep na die profeet bring nie ‘n kitsoplossing wat uit die hemel val nie. Elisa vra vir haar wat het sy. Haar verstand moet werk, sy moet dink aan dit wat sy oor het, wat in haar huis is en sy antwoord baie interessant. Niks….. behalwe. Haar antwoord is vol moedeloosheid en opgee. Sy sien die niks eerste en dan die agtervoegsel – behalwe ‘n kannetjie olie.
Uit hierdie onderbeklemtoonde nagedagte kom die oplossing.
Elisa het ‘n hele groot taak uitgespel. Sy moet kruike gaan leen by die bure. Nie een op ‘n slag nie – klomp gelyk. Leë kruike. Sy opdrag is duidelik: sorg dat jy nie te min leen nie.
Ek weet nie of hierdie opdrag voor haar seuns uitgespel is nie en hoe sy aan hulle of aan die bure in die dorpie verduidelik het, hoekom op aarde sy so baie kruike wil leen nie. Sy moes heel moontlik ‘n paar opmerkings hanteer, dalk ‘n groot geskinder en gespot. Sy sou haar moes afsluit van die vrae, kommentaar en geraas van die mense om haar – net soos Elisa met die musikant in die vorige hoofstuk. Dis moeilik as die Here nie met almal praat nie – net met jou. Net Maria het die boodskap van haar eie swangerskap gekry, toe is Josef deur sy droom oortuig – niemand anders in Nasaret het bonatuurlik gehoor nie. Kan jy jou voorstel watse geskinder en gepraat daar oor die geboorte van Jesus was. Ek wonder soms hoe hulle beide dit aan hulle eie ouers moes vertel, wat die skande van so ‘n situasie saam moes dra.
Die weduwee moes die werk in die privaatheid van haar eie huis doen. Die wonderwerk was nie vir die res van die gemeenskap se kommentaar nie. Sy het die wonderwerk wat sy voor gepleit het, in die privaatheid van haar gesin en huis ervaar. Daar kon sy vrylik die Here prys vir elke kruik wat vol word en die olie uit haar kannetjie wat net nie ophou nie.
Die hele vers 6 word gewy aan die dramatiese oomblik van die laaste kruik. Toe die seun sê dis die laaste kruik toe hou die olie op vloei. Dink enigeen vir een oomblik dat as daar nog ‘n kruik was dat die olie sou opgehou het, voor die laaste een vol was? Dit tref my so dat hierdie eenvoudige, baie bondige optekening soveel geloof in my wek dat ek glad nie twyfel dat die olie te gou so ophou vloei nie.
Die een prediker wat oor hierdie stuk hoor gepreek het, het hierdie laaste punt verduidelik deur te sê : Hy is oortuig dat as sy kon aanhou kruike voorsien, dit heel moontlik die begin van Widow and Sons Oil Incoporated sou wees. ‘n Groot, florerende oliemaatskappy wat die gemeenskap kon voorsien.
Die gevolg: Uitkoms en oorvloed. Haar skuld is betaal, haar toekoms is verseker. Wat meer kon sy vra.
Die olie wat hier ter sprake is, word as olyfolie geidentifiseer, wat ‘n verskeidenheid aanwendings gehad het. Dit is gebruik as medisyne, om te kook, om lampe te brand en seep te maak. Die olyfboom was inheems in die midde-Ooste, ‘n robuuste plant, die beste af in vol son en droeë grond – gepas vir die groei in ‘n geharde en rowwe omgewing, sonder oppiep en met min versorging.
Olie is dwarsdeur die Skrif ‘n simbool van die Heilige Gees. Dit is die hoofbestanddeel van ‘n sterk, geharde Christen. Nie eie pogings nie, meer oorgawe, deurdrenking met die Gees van God, ‘n afhanklikheid wat daagliks ervaar, bely en bevredig word. Dit gebeur deur meer kommunikasie en ‘n ervaring van die teenwoordigheid van God. Nie noodwendig formele gebed nie – die uitroep, die skietgebed, die kontak maak, is alles kragtig. Beoefen dit, word bewus van die alomteenwoordigheid van jou Vader.
Die olie moet die gate en kruike van geloof volmaak. Dan is daar oorvloed. Hierdie beginsel is so belangrik in die gebedsreis vir ‘n wonderwerk. Onthou – die proses wat mens deurgaan om die wonderwerk te ervaar is meestal die groter wonderwerk. Die geestelike krag wat uit die vertroue en geloof en die daaropvolgende geloofsaksie kom, is die eintlike wonderwerk, want dit verander jou. Die grawe van gate en kruike aandra is aktiwiteit – geloofsaksie. Nie ‘n jammerlike stilsit en klaende gewag op uitkoms nie.
Wetsgehoorsaamheid stel God nie tevrede nie – dit verander jou nie binne-in nie. Oorgawe verander jou, bring jou voor die voete van Jesus. Die verandering in jou binneste is die eintlike wonderwerk. Daardie oorvloed van olie in jou kruike van verwagting is die rykdom wat jou en jou omgewing verander – ten goede en blywend.
Dink bietjie na en hoor by die Heilige Gees wat jou gate en jou kruike is. Hoor by Hom wat is die geloofsaksie waat daaruit voortspruit.
Skryf dit op en leef dit uit. Die wonderwerk is aan die gang. Vra die Here om jou oë te salf sodat jy kan sien wat gebeur. “Sien” die heuwels wat voor jou uitgaan en die bome van die veld wat hande klap.
Tot volgende keer.