190. Hoor… die gedruis van oorvloed.

[Kersfees 2018]

Ek wonder of ons deesdae enigiets werklik hoor.  Toe ek klein was het my pa my geleer dat dit slegte maniere is om nie vir iemand te kyk as hy met jou praat nie.  Dit was amper soos die ongeskiktheid van verwerping of belediging.  As ons aandag gee en ordentlik groet, by aankoms en vertrek en let op die woorde wat na ons kant toe gepraat word, gee ons waarde en aanvaarding aan die mense om ons.  Hierdie dae kyk iemand maklik op ‘n foon of tablet, of hou sommer aan televisie kyk as iemand met hulle praat.  Ons ore is verdeeld.  Waar is ons aandag en wat hoor ons?

Jesus het dikwels oor ore en gehoor gepraat. Sy gereelde vermaning: laat hom wat ore het, hoor, is by elke boodskap aan die kerke in Openbaring as opdrag herhaal, so dit geld ook vir die kerk vandag.  Hy het die ou profeet Jesaja (6:9,10) aangehaal in Matteus (13:14,15)

En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.

Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hooren met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

Hierdie woorde van Jesus pla my.  Hy skakel genesing aan gehoor.  Is dit nie ‘n goeie rede om in hierdie besige tyd voor Kersfees ‘n fyn verstelling aan ons geestelike gehoorbuise te maak nie?  In die geraas van geld en goeters mis ons dalk die ware boodskap van Kersfees – die genesing van jou lewe deur die baba in die stal.

Kersfees is belangrik.  Dit is ons fees, ons Christene, selfs binne die sekulêre skaking van die feestelike elemente van hierdie verjaardagfees van alle tye.  Ons is nooit slagoffers van die wêreld nie.  Ons gee die inhoud aan ons Fees en ons is in beheer.  Ons vier die Fees met die stem van die Heilige Gees in ons ore.

My opwinding met elke Kersfees en elke Paas word aangehits deur my besluit om die Here te vertrou met ‘n “nuwe” Woord uit Sy mond vir my.  Ek kan nie altyd alles dieselfde doen nie.  Ek wil met elke belangrike Christenfees, waarvan Kersfees, Paas en Pinkster uitstaan, iets nuut van Sy karakter leer, of iets nuut van die beginsels van die fees wat ek besig is om te vier – in ons geval nou Kersfees.

God is getrou en Hy stel nooit teleur nie. Ek skryf vir julle die Woord wat in my hart brand.

So ‘n paar weke gelede skakel ek die televisie aan op Daystar Canada, ‘n Christelike kanaal wat heeldag en heelnag geestelike programme aanbied.  Dit is toevallig die begin van ‘n program van iemand wie se naam ek herken van baie jare terug.  Hy is nie een van my gunstelinge nie, maar voor ek aanbeweeg, dink ek dit sal interessant wees om te hoor wat hy sêen waar sy bediening nou beweeg.  Dit is altyd vir my wonderbaar om te sien hoe bedienings oor jare en jare net sterker word, selfs al is dit nie heeltemal in my kraal nie. Ek sien myself saam met hulle almal eendag voor die Troon staan met die kosbare woorde van Paulus:

Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou

(2 Timoteus 4:7, OAB)

Soveel van my vriende het die geloof van hulle kinderdae verwerp en het in die lokval van post-modernisme die waarheid van die Evangelie en alles wat waarde het, verwerp.  Vir my is dit bo alles belangrik om te kan sê, wat ookal in my lewe gebeur, ek het die geloof behou.

Terug by die televisie.  Die prediker maak sy Bybel oop en lees uit een van my gunsteling hoofstukke oor die profeet Elia en die slagting van die Baäl priesters.  Terwyl ek so aan al my ongelowige vriende dink, dink ek aan die Baäl priesters van vandag – al die afgode en vals gode wat vandag nog hulle tempels in die harte van die Christene oprig.  Soos die woorde wat hy lees oor my spoel, praat die Heilige Gees met my en ek spits my ore.  Op daardie oomblik hoor ek wat die Here vir my sê.  God se woord is altyd kragtig! (Hebreërs 4:12)

Die storie het agtergrond en dit is nodig om darem te weet waaroor dit gaan om die impak van uitkoms te verstaan.  Ek vertel die storie van Elia en die Baälpriesters in ‘n neutedop.

Agab is koning oor Israel, een van die twee koninkryke wat ontstaan het na die koningskap van Salomo.  Juda in die suide, wat gevorm het uit die twee stamme, Juda en Benjamin, het twintig konings gehad, waarvan net agt die Here gesoek het, voordat hulle in ballingskap deur die Babiloniërs weggevoer is. Israel in die noorde, wat gevorm het uit die tien stamme, het negentien konings gehad voordat hulle deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer is – almal goddeloos.  Daar was deurgaans profete in albei koninkryke aktief, wat die mense vermaan het om na God toe terug te keer.  In beide koninkryke was daar ‘n oorblyfsel van mense wat die Here gesoek het, selfs ten spyte van die goddelose praktyke van die leierskap.  God was getrou aan Sy oorblyfsel (remnant). (2 Konings 19:30,31)

Agab word so beskryf: Agab seun van Omri het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, meer as al sy voorgangers. (1 Konings 16:30)

Agab se vrou was ‘n Fenisiese prinses uit die pragpaleis op ‘n skiereiland in die stad Tire, een van die wonders van die antieke wêreld.  Sy was ‘n Baäl aanbidder en om haar tevrede te stel het Agab ‘n Baäl tempel in Samaria laat bou.  Die profete van God en die getroues uit die volk was woedend.  Elia veral, was ‘n gehate man in die paleis van Agab en Isebel.

As gevolg van Agab se sonde kom ‘n geweldige droogte oor die land en Elia word versorg by die spruitjie Krit en toe dit ook opdroog by een van die weduwees van Isebel se land (die huidige Lebanon) by Sarfat naby Sidon.  Terwyl Elia daar is, sterf die weduwee se seun.  Elia se gebed rig hom op, tot sy ma se groot vreugde!

Na drie jaar stuur God Elia terug na Israel om met Agab te praat.  Elia nooi die koning na die berg Karmel waar Elia ‘n geestelike oorlog met die Baäl priesters aanknoop om God te almag bo Baäl te bewys, sodat die harte van die mense oortuig word.  Die vertoning op die berg verloop net soos Elia dit beplan.  Twee altare word gebou – een vir God een vir Baäl. Diere word geslag vir beide, maar geen vuur word gemaak nie.  Die priesters moet vuur by Baäl kry en Elia sal vir God vuur vra.  Dit is verstommend dat die Baäl priesters instem tot die hele gedoente omdat hulle nie gewoond is aan wonderwerke nie. Miskien wou hulle self uitvind of hulle god kragtig is.  Die Baälpriesters bid en smeek, verwond hulleself, val in die stof en smeek – en niks gebeur nie.  Elia spot met hulle.

Toe dit sy beurt is, laat hy die altaar en die offerdier papnat maak, sodat daar geen twyfel oor ‘n vonkie vuur mag wees nie.  Elia kniel en bid tot God om die vuur aan te steek.  Die volgende paar verse uit 1 Konings 18 vertel die storie:

Teen die tyd van die aandoffer het die profeet Elia vorentoe gekom en gebid: “Here, God van Abraham, Isak en Israel, laat dit tog vandag bekend word dat U God is in Israel, en dat ek u dienaar is wat op u bevel al hierdie dinge doen.

 Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”

 Toe kom daar vuur van die Here af en dit verbrand die offer, die hout, die klippe en die grond. Dit het selfs die water in die sloot opgelek.

 Toe die hele volk dit sien, het hulle op hulle knieë geval en uitgeroep: “Die Here is God! Die Here is God!”

Daardie dag het Elia en die volk wat die Here aanroep 450 Baäl priesters doodgemaak.

Na hierdie geweldige oorwinning, sêElia aan Agab die volgende woorde:

“Gaan eet eers, want ek hoor al die gedruis van die reën.

Bodemklipvriende, dit is die woorde wat my hart aangegryp het.

Wat hoor jy?

Ek lees dit in my studie Bybel en sit sommer regop: ,

 “Go up, eat and drink; for there is the sound of abundanceof rain.”

Daar in die geraas van die slagting en die opgewonde geklets van die mense oor die wonderwerk van die dag, hoor Elia iets wat niemand anders hoor nie en HOOR die teken van iets waarvan daar GEEN bewys is nie.

Die koning gaan inderdaad weg om te eet, maar Elia en sy bediende klim die berg om te gaan bid. Daar is geen teken van reën nie.  Elia bid en dan stuur hy sy bediende om te gaan kyk of die reën kom – SEWE maal!!  God het vir hom gesêHy wil die reën oor die land laat kom, maar daar is geen teken daarvan nie.  Elia bid op grond van God se rhema-woord aan hom. Die sewende maal kom die bediende terug en sêdaar is ‘n wolkie so groot soos ‘n man se hand.  Dit is genoeg vir Elia.  Hy begin hardloop en sêvir Agab hy moet jaag met sy koets – die reën kom!

Wat hoor jy wanneer daar geen teken van uitkoms is nie? HOOR jy die oorvloed se gedruis?

Binne-in die klingel van die klokke en die kletter van kospotte, spits jou ore en HOOR die gedruis van oorvloed.

Oorvloed is een van die kenmerke van God se gawes. Hy seën oorvloedig, Hy beskerm en voorsien oorvloedig.  Sy manier is nie suinig nie.

HOOR die woord van die Here aan Samuel en bring jou behoefte en begeertes onder die geklank van oorvloed voor Hom.

Die Here sê toe vir Samuel: “Ek gaan ‘n ding in Israel doen wat elkeen wat daarvan hoor, se twee ore sal laat tuit.  (1 Samuel 3:11)

Hoor die oorvloed wat God belowe. Oorvloed is gewoonlik ontelbaar en onmeetbaar.  Het jy al die reëndruppels getel?  Kan iemand die oorvloed van die skepping op die aarde meet?  Ons wetenskaplikes is eeue en eeue besig om te tel en te benaam, net soos die opdrag aan Adam uitgegaan het.

Dink aan God se oorvloed.  Glo Sy oorvloed is aan jou belowe.  Gee aan Hom jou oorvloed hierdie Kersfees.

En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hêen volop kan bydra vir elke goeie werk. (2 Korintiërs 9:8)

 

 

God se oorvloed klink nie soos iets wat jy al gehoor het nie.

When the Lion had first begun singing, long ago when it was still quite dark, [Uncle Andrew] had realized that the noise was a song. And he had disliked the song very much. It made him think and feel things he did not want to think and feel. Then, when the sun rose and he saw that the singer was a lion (“only a lion,” as he said to himself) he tried his hardest to make believe that it wasn’t singing and never had been singing—only roaring as any lion might in a zoo in our own world. “Of course it can’t really have been singing,” he thought, “I must have imagined it. I’ve been letting my nerves get out of order. Who ever heard of a lion singing?” And the longer and more beautifully the Lion sang, the harder Uncle Andrew tried to make himself believe that he could hear nothing but roaring. Now the trouble about trying to make yourself stupider than you really are is that you very often succeed. Uncle Andrew did. He soon did hear nothing but roaring in Aslan’s song. Soon he couldn’t have heard anything else even if he had wanted to. And when at last the Lion spoke and said, “Narnia, awake,” he didn’t hear any words: he heard only a snarl. And when the Beasts spoke in answer, he heard only barkings, growlings, baying, and howlings.

 FromThe Magician’s Nephew

Compiled in A Year with Aslan

 The Magician’s Nephew. Copyright © 1955 by C. S. Lewis Pte., Ltd. Copyright renewed © 1983 by C. S. Lewis Pte. Ltd. All rights reserved. Used with permission of HarperCollins Publishers. A Year With Aslan: Daily Reflections from The Chronicles of Narnia. Copyright © 2010 by C. S. Lewis Pte. Ltd. Extracts taken from The Chronicles of Narnia. Copyright © C. S. Lewis Pte. Ltd. 1950-1956. All rights reserved. Used with permission of HarperCollins Publishers.

74. Sit eers bietjie…

Dis goeie woorde om te hoor. ‘n Uitnodiging om te vertoef – kosbaar in vandag se wêreld. Daar is soveel liefde en omgee in hierdie ou paar woordjies. Sit – ek maak tyd vir jou. Sit – ek maak tee. Kom in en sit gerus. Jy is welkom, jy word onthaal, iemand het iets lekker vir jou. Vir ‘n genooide gas word daar beplan en voorberei tot op die uur wat die deurklokkie lui en jy word ingenooi om te sit.

Ons post-moderne mense is so self-versorgend. Ons eet en drink en word vermaak op ‘n individuele, net-my-smaak-en-keuse-geld – basis. Ons beheer ons gemeenskap en ons eie ruimte absoluut, soos dit vir ons gemaklik is. Ten spyte van kleiner leefruimtes in die stede, in vergelyking met afgesonderde plase van die vorige geslag, is soveel mense meer eensaam as enige plaasmense wat ek geken het. In primitiewe gemeenskappe was jag en oes spanpogings noodsaaklik vir oorlewing. Vandag jag en oes elkeeen op sy eie. Ons sluit die deur en verdwyn in ons eie privaatheid.

Tog is ons gemaak vir gemeenskap. Geluk word gemeet in terme van verhoudinge. Sonder God in ons alleenheid, kompenseer ons met werk en stokperdjies. Eensaamheid maak dood. Sielkundiges beklemtoon betekenisvolle konneksie met mense om jou. Die gedig van John Donne word dikwels aangehaal:

No man is an island,

Entire of itself,

Every man is a piece of the continent,

A part of the main.

Die besluit om jouself aan ‘n liefdevolle Vader oor te gee, is sekerlik die enkel belangrikste besluit vir ‘n vervulde lewe. Jesus nooi ons in gemeenskap in. Hy het die onsigbare koninkryk van God op aarde kom bevestig en verklaar Homself as die Weg daarin. Hy gee ‘n koninklike uitnodiging om by Hom te kom sit.

Kom in…sit ‘n bietjie.

In ‘n sittende posisie dra jy nie eers jou eie gewig nie. Die las op jou skouers lê langs jou, jy kan jou bene strek en ontspan. Dis die eerste posisie vir ‘n baba om onafhanklik in te neem, voor kruip, loop en hardloop. Dit is die natuurlike verloop van dinge. Jy is uitgenooi, daar is iets vir jou voorberei volgens die plan van die gasheer.

Wat ‘n plan is nie aangekondig in Genesis 3:15 vir die triomfantelike oorwinning oor sonde en nederlaag. Sedert daardie dag in die Tuin is die Plan in werking gestel, voorberei in fyn besonderhede oor die eeue tot daardie donker nag in Bethlehem en die donker dag op Golgotha. Jesus het ons geleer om Hom Vader te noem en vertel van die beste moontlike Pa vir Wie alles moontlik is in Sy almag en volmaakte liefde. Hardkoppige, godsdienstige meerwaardigheid het gemaak dat soveel Hom nie herken nie.

Hoor jy die uitnodiging? Of trap jy die godsdiensmeul redeloos en moedeloos? Hoor die uitnodiging – Lukas 14:17:

 En op die uur van die maaltyd het hy sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed.

Kom in…sit ‘n bietjie.

Adam se eerste dag op aarde was God se rusdag. Adam het nie begin werk nie. Hy het gerus, saam met God. Die patroon het nog nooit verander nie.

Jy moet sit en nie dink wat jy moet doen nie. Jy moet weet wat is reeds gedoen.

“For Christianity begins not with a big DO, but with a big DONE.”

[Watchman Nee: Sit, Walk, Stand]

Blaai saam met my deur die eerste hoofstukke van Efesiërs.

“By comment consent, the Letter to the Ephesians ranks very high in the devotional and theological literature of the Christian Church. It has been called “the Queen of the Epistles” and rightly so. Ephesians clearly has a unique place in the Pauline correspondence”. [William Barclay. Professor of Biblical Criticism, University of Glasgow.]

“Of all Paul’s epistles, it is in Ephesians that we find the highest spiritual truths concerning the Christian life. The letter abounds with spiritual riches and yet at the same time, it is intensely practical.” [Watchman Nee: Sit, Walk, Stand.]

Die brief aan die Efesiërs is geskryf toe Paulus in die tronk was. Hy het tyd gehad en ‘n erflating van teologie in poetiese prosa geskryf. Efesiërs is in werklikheid ‘n uitbouing van Galasiërs. Beide briewe is deur Tichius afgelewer en 55 versies stem woord vir woord ooreen. Volgens die tradisie van antieke briewe is dit op papyrus geskryf, gerol, gebind met ‘n tou en geseël. Die brief het ‘n vaste vorm gevolg – ‘n groet, ‘n gebed en danksegging, spesiale inhoud en spesiale groete en dan ‘n persoonlike afskeidsgroet.

Die briewe van Paulus aan die kerke was die skrywe van ‘n vriend aan ‘n vriend. Dit was nie akademies argumente of amptelike regsdokumente nie. Dit is soos een kant van ‘n gesprek. Mens kan maar net ‘n afleiding maak van die omstandighede waarop hy reageer. Paulus het geen idee gehad watter plek sy woorde in die universele geskiedenis van die kerk sou inneem nie.

Die sentrale tema van Galasiërs sowel as Efesiërs is die alles omvattende voorsiening in Christus. Die wanklanke van die heelal kan slegs in Christus hamonieer. Jesus is God se instrument van versoening en die kerk is Jesus se instrument van versoening. Onthou die kerk is die universele kerk van Christus – alle wedergeborenes – nie denominasies nie.

Die eerste keer dat ons die woord sit lees is in Efesiërs 2:6:

…en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus,

Die uitnodiging is nie net om te sit nie. Ons word genooi om saam met Hom in die hemele te sit.

Hoe kry ons dit reg? Verkeerde vraag. Niks wat ons doen kan dit meebring nie. Die vraag behoort eerder te wees: Hoe gebeur dit?

God doen dit in ‘n geestelike misterie wat ons in geloof aangryp en uitleef. Paulus stort sy hart uit en skryf lang sinne. Die sin begin eintlik in vers 4:

Maar God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee Hy ons liefgehad het…

God wek uit die dood op. God laat sit. Hy is soewerein en Hy besluit. Ons aanvaar. Ons glo. Ons leef saam met Jesus.

Krabbel bietjie terug na die eerste hoofstuk. Efesiërs 1:3:

 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus…

Hierdie seën is in die verlede tyd geskryf. Dit het reeds gebeur. Dis nie deur jou toedoen nie. Jy kan nie God se seën en jou posisie in die hemele saam met Jesus verdien nie. Jy sit in die onsienlike wêreld saam met Jesus, nou, vir hierdie lewe van jou. Hierdie seën is vir nou – nie na die dood eendag in die woonplek van God nie. Ons het nou God se seën nodig. Eendag by Hom is ons in elk geval geseën met Sy teenwoordigheid. Die belofte is vir nou.

Jou bekering, doop, Bybelstudie, gebed, goeie werke van liefdadigheid en uitreik na die waarheid is nie om God tevrede te stel nie, maar om jou eie denke en lewe te verander. Dit is geestelike rituele om jou te leer, nie God te plesier nie. Jy aanbid Hom met ‘n lewe van gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid aan Hom verander jou. Ons onvoorwaardelike afhanklikheid aan God is al kwalifikasie vir die seën.

Efesiërs 2:8,9:

Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.

Ons verval so maklik in ‘n verdienste denkpatroon. Dit is ons Calvinistiese plig om te kry net as jy gewerk het.

Paulus praat skerp met die Galasiërs oor hierdie beginsel.

Galasiërs 3:1,2:

O, onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof?

 Die nuwe vertaling is net so sterk – sjoe:

Julle Galasiërs, is julle dan so sonder begrip? Wie het julle verstand benewel?

Ons het die Heilige Gees ontvang deur te glo – niks meer nie. Dit is ‘n geskenk. Die kruiswerk het alles met betrekking tot ons verlede, hede en toekoms gedek. Daar is ‘n oorvloed van geestelike seëninge wat jy verhinder met jou verdien-mentaliteit.

Ons ontvang wat vrylik gegee word. Dit word deur God gegee in ‘n goddellike aksie wat in vreugde en geloof aanvaar word. Dit is nie ‘n stryd nie. Dis ‘n feit.

2 Korintiërs 1:21:

God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder,

Ons het verligte oë nodig. [Efesiërs 1:18]

Kyk of jy met nuwe oë na die storie van die verlore seun kan kyk. Die uitdaging – verander jouself om in die posisie van ontvang te kom sodat jou lewe kan begin met ‘n diepe begrip van wat God reeds gedoen het. Ons lewe begin in die dood. Ons is saam met Jesus in sy dood begrawe. [Galasiërs 2:20 en Romeine 6:3,4]

Beide seuns in die storie is ver van die vreugde en welvaart van hulle pa. Die oudste, hoewel fisies in die huis, se oog is op sy eie werke, sy eie verdienste. Hy kan feesvier net wanneer hy wil, maar doen dit nie. Hy dink hy kan sy pa tevrede stel met sy harde werk. Hy ken nie sy pa nie, want hy weet nie dat die fees tot sy beskikking is nie. Die jongste spandeer alles en kom terug met ‘n geweldig skuldlas wat onmiddellik in die vreugde van tuiskoms deur sy pa met oorweldigende oorvloed uitgewis word. Hy word in ‘n posisie van ontvang geplaas met die uitbundigheid van feesvier met oorvloed. God is só ryk. Hy is gereed met die kleed, die ring, die nuwe skoene en die fees. Hy wil jou oorval met gasvryheid. Dis wie Hy is.

Verander jou denke Bodemklipvriend! Kom sit aan by die tafel.

Psalm 23:5

U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.

25. GEE – waar is jou hart ?

Calgary het in Junie 2013 ‘n ongekende natuurramp beleef. Mense wat hulle hele lewe hier woon, is almal eens dat hulle nog nooit so ‘n vloed beleef het nie. Die beelde op televisie was skrikwekkend en die geweld van twee woedende riviere en onophoudelike reën het veroorsaak dat baie mense al hul besittings verloor het.

Wat my veral sal bybly is die beelde en ondervinding van ‘n gemeenskap wat laer trek en help. By die skulings was daar soveel vrywilliges dat hulle mense moes wegwys en na ander gebiede ontplooi. Mense het eenvoudig hulle spens opgepak en aangery na mense wat met die klere aan hulle lyf uitgekom het. Niemand is dood nie en die beeldmateriaal van ‘n man wat met sy hond oor sy skouers gedrapeer in heup-diep water aanstap, is kostelik.  ‘n Brandweerman wat ‘n reddingsbaadjie vir ‘n groot swart hond aantrek en vir hom wys waarheen om te swem, terwyl die hond se baas op die wal tekere gaan om die hond se aandag te hou en die nat geskud van ‘n vreugdevolle re-unie, laat jou hardop lag. Maar op hierdie dag het ons gesin fees gevier dat ons letterlik hoog en droog met geen skade hoegenaamd, die verwoesting aanskou het. Alle eksamens van skole en universiteite is uit- of afgestel, sodat almal kon inspring en help.

Ek hoop sedert laas keer het julle al die seën van ‘n oop hart en hand ervaar. Hierdie woordbeginsels of koninkrykswette is nie ‘n saak wat met ‘n regter en jurie beslis word nie. Dit is iets wat tussen jou en die liefling van jou siel, Jesus, in liefdevolle gees-gesels geleer word. Tree vir tree in die voetspoor van die rabbi (leermeester) kom jy onder die bedekking van ‘n nuwe dinamiek wat slegs in jou eie gemoed gestalte kry. Die transformasie is diep en duidelik.

2 Korintiërs 9: 6 – 14.

Uit die wegspringblokke met die beginsel van saai en maai is jy sommer voor in die resies. Die Amplified praat van sowing sparingly and grudgingly vs generously . Die oes word ingebring met seën.

Ons gebruik hierdie woord seën deesdae sommer ligtelik sonder om elke keer te besef watter gewig die begrip dra.

Die Hebreeuse woorde is: barach – werkwoord om te seën en kom meer as 300 keer in die Bybel voor. Baruch beteken geseënde. Uitspraak eintlik – Barak. Dieselfde woord word algemeen in ander semitiese tale gebruik – meestal in verband met die seën van ‘n godheid. Ons God neem die inisiatief met seën.  Lees die priesterlike seën in Numeri 6: 23-27.

Seën is ‘n omvattende woord vir ‘n staat van geluk en voorspoed. Dit sluit alle aspekte van lewe in en is die teenoorgestelde van vloek. In Matt 5 verklaar die Amplified dit so: BLESSED – happy, to be envied and spiritually prosperous – with life-joy and satisfaction in God’s favour and salvation, regardless of their outward condition. With a happiness produced by the experience of God’s favour and especially conditioned by the revelation of His matchless grace.

Mondvol ne! Die tradisionele Joodse gebed sluit nog in – die opheffing van alle beperkinge op jou lewe – enigiets wat jou verhinder om in die volle potensiaal van God se plan vir jou in te stap.

Nou kan ek byvoeg – SELAH – soos die Psalmis sê : Pause and calmly think about that.

Dink noukeurig oor die volle impak van seën op jou finansiële sake dan kan die prentjie van die vensters van die hemel bietjie meer in fokus begin kom – onthou Maleagi 3:10 en daarna. God se seën spreek van  oorvloed en uitgieting – hoegenaamd nie suinig en terughoudend nie.

Die Message vertaling sê in 2 Korintiërs:

God can pour blessings in astonishing ways so that you are ready for anything and everything, more than just ready to do what needs to be done. As one psalmist puts it:         

He throws caution to the winds,

                  giving to the needy in reckless abandon.

                  His right-living, right-giving ways,

                  never run out, never wear out

This most generous God who gives seed to the farmer that becomes bread for your meals is more than extravagant with you. He gives you something you then can give away, which grows into full-formed lives, robust in God, wealthy in every way, so that you can be generous in every way, producing with us great praise to God.

My gevolgtrekking uit die Woord is dat dit wat jy gee, ‘n saak tussen jou en die Heilige Gees is, wie jou in volmaakte liefde sal lei om die regte ding te doen. Ek lees uit 2 Kor 9:7:

Let each one [give] as he has made up his own mind and purposed in his heart, not reluctantly or sorrowfully or under compulsion, for God loves (He takes pleasure in, prizes above other things, and is unwilling to abandon or to do without) a cheerful (joyous, prompt to do it) giver [whose heart is in his giving].

Elkeen weet hoe voel dit om iets van iemand te vra. Vir sommige mense vra jy maklik. Met ander mense byt jy in ‘n taai bitter toffie in en jou enigste oorweging is om vinnig daaruit te kom en iemand anders te soek. Sit jouself in God se posisie – is jy ‘n prompt-to-do-it – tipe gewer.

Spreuke 22: 9 praat van die bountiful eye wat geseën sal word.

Tiende-voorskrifte uit die Ou Testament is net die riglyn. Korintiërs is die riglyn vir die Gees-dispensasie. Stel jouself oop vir die stem van die Here oor jou geld en inkomste en begin stap op die avontuurpad van Goddellike voorsiening.

Wat sal gebeur? Jy sal uitvind wat die vensters van die hemel is. Jy sal weet hoe word die sprinkaan van jou land afgeweer, jy sal die peste vryspring, jy sal bokspring soos ‘n klein kalfie sonder bekommernis, seker van voorsiening, jy sal ervaar wat God belowe in Hebreërs 13:5, 6. Hierdie skrif moet ons lees in die Amplified met die hele vers 5 daarby, want hierdie wonderlike woorde is gesê met betrekking tot geld!!

Hebreërs 13:5 en 6 AMPLIFIED vertaling.

Let your character or moral disposition be free from love of money [including greed, lust, and craving for earthly possessions] and be satisfied with your present [circumstances and with what you have]; for He [God] Himself has said, I will not in any way fail you nor give you up nor leave you without support. [I will] not, [I will] not, [I will] not in any degree leave you helpless nor forsake nor let [you] down (relax My hold on you)! [Assuredly not!]

So we take comfort and are encouraged and confidently and boldly say, The Lord is my Helper; I will not be seized with alarm [I will not fear or dread or be terrified]. What can man do to me?

Hierdie beginsel word deur Jesus onderstreep in Matteus 6: 28 -34. Lees oor die lelies van die veld, kommervrye bestaan en die sleutelbeginsel van koninkryksprioriteit. Soek eers die koninkryk van God en al hierdie dinge sal vir julle begvoeg word.

Watter dinge? Die klere van die lelies, dit wat jou die beste daaraan toe sal maak. Onthou 2 Korintiërs waar hy praat van extravagance.

Betekenis: flamboyant, abundant, beyond what is reasonable.

Ek het ‘n hele paar jaar gelede my ma gevra om haar finansiële getuienis op te skryf, sodat dit vir my kinders ‘n erflating van die bewys van God se voorsiening kan wees.  Uit die getuienis kan mens met sekerheid verklaar dat God dit wat jy gee vermeerder met die Skepper-Hand wat die sterrehemel in plek beveel het. Ontuitputlik, oorvloedig en skatryk.

Psalm 24 in die Ou Vertaling: Die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon; want Hy het dit gegrond op die seë en dit vasgestel op die strome.

My gebed is dat jy ‘n vol stoorhuis sal ervaar, met meer om te gee. Waar sal jou werklike rykdom wees? Die skatte wat jy bymekaarmaak in die hemel waar die mot en die roes nie verniel nie. Matteus 6: 19-21. Die skatte van die hemel wat niemand kan verniel nie is ‘n vrygewige hart en ‘n vryvloeiende kanaal wat ‘n honger wêreld voed.

Die vryheid waarmee jy leef in die versekering van volmaakte voorsiening is ‘n belangrike geestelike doelstelling. Die voorsiening van die Here is jou erfporsie. Dit word ook die erflating van jou kinders as hulle van jongs af hierdie beginsels leef.

Ken jy die plek van volmaakte GENOEG? Het jy die punt van vryheid van materiële goed bereik wat van jou ‘n blymoedige gewer maak, vry van bekommernis? Daar is geen ander plek waar jy goddellike vergenoegdheid kan ervaar soos gegrond in die beginsels van GEE, GEBED en VAS.

Die gevolg van ‘n lewe wat vry van gierigheid en obessesiewe opgaardery is: Dankbaarheid en ‘n lewe van dankie. Die gevolg van die goddellike GENOEG in ons lewe is ‘n lewe van – in die Message se woorde – abundant and bountiful thanksgiving to God.

Hef op julle hoofde o poorte, ja verhef julle ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan! Wie is tog die Erekoning? Die Here, sterk en geweldig, die Here, geweldig in die stryd. Die Here van die leërskare. [Psalm 24]

9. Die olie van uitkoms en oorvloed.

Voor Opec en die bekende beelde van die wêreld se reuse oliebore, het God duisende jare gelede ‘n onuitputlike oliekruik gebruik in die voorsiening van ‘n onbekende weduwee se desperate armoede.

In 2 Konings 4 is die verhaal van die weduwee se olie wat nie opraak nie, amper ‘n direkte bevestiging of selfs ‘n herhaling van die vorige hoofstuk se wonderwerk. So asof die middel of instrument verander, maar die voorsiening, uitkoms en oorwinning verander nie. Die gate is nou kruike.

Die eerste beginsel van hierdie wonderwerk is die voorsiening van die Here en die profeet se aandag by die mees basiese behoefte van die heel onbelangrikste lid van die gemeenskap. Ons God is groot, maar Hy gee om en voorsien vir die heel kleinste.

Die weduwee wat hier ter sprake is, is deur Josephus, seker die bekendste Joodse historikus, as die vrou van die profeet Obadja, geidentifiseer. Dis ‘n vrou wat bekend was met die ware God en wat  sekerlik in die bediening van haar man gedeel het. Sy is bewus van die wonderwerkende God wat in haar behoeftes kan voorsien, maar haar situasie is so desperaat, dat sy in ‘n paniek na die Elisa toe uitroep. Vers 1 sê:  She cried out. Sy maak ook staat op haar oorlede man se status as ‘n dienaar van God.

Omstandighede is die werklikheid wat jy sien en ervaar, wat jou onderdruk, wat hard praat, wat vrees skep. Dis ‘n feit. Die punt is wat doen jy in hierdie omstandighede. Sy roep uit na die profeet. Sy weet wat kom – sy sien die heel slegste draai van die situasie. Volgens die gebruik van die tyd is ‘n skuldenaar se kinders in slawerny verkoop. Die skuldeisers was streng en gewetenloos.  Sy weet dis klaar met haar, haar lewe word bedreig. As haar seuns weg is, is sy niks en niemand en sal skaars vir haarself kan sorg.

Haar uitroep na die profeet bring nie ‘n kitsoplossing wat uit die hemel val nie. Elisa vra vir haar wat het sy. Haar verstand moet werk, sy moet dink aan dit wat sy oor het, wat in haar huis is en sy antwoord baie interessant.  Niks….. behalwe. Haar antwoord is vol moedeloosheid en opgee. Sy sien die niks eerste en dan die agtervoegsel – behalwe ‘n kannetjie olie.

Uit hierdie onderbeklemtoonde nagedagte kom die oplossing.

Elisa het ‘n hele groot taak uitgespel. Sy moet kruike gaan leen by die bure. Nie een op ‘n slag nie – klomp gelyk. Leë kruike. Sy opdrag is duidelik:  sorg dat jy nie te min leen nie.

Ek weet nie of hierdie opdrag voor haar seuns uitgespel is nie en hoe sy aan hulle of aan die bure in die dorpie verduidelik het, hoekom op aarde sy so baie kruike wil leen nie. Sy moes heel moontlik ‘n paar opmerkings hanteer, dalk ‘n groot geskinder en gespot. Sy sou haar moes afsluit van die vrae, kommentaar en geraas van die mense om haar – net soos Elisa met die musikant in die vorige hoofstuk.  Dis moeilik as die Here nie met almal praat nie – net met jou. Net Maria het die boodskap van haar eie swangerskap gekry, toe is Josef deur sy droom oortuig – niemand anders in Nasaret het bonatuurlik gehoor nie. Kan jy jou voorstel watse geskinder en gepraat daar oor die geboorte van Jesus was. Ek wonder soms hoe hulle beide dit aan hulle eie ouers moes vertel, wat die skande van so ‘n situasie saam moes dra.

Die weduwee moes die werk in die privaatheid van haar eie huis doen. Die wonderwerk was nie vir die res van die gemeenskap se kommentaar nie. Sy het die wonderwerk wat sy voor gepleit het, in die privaatheid van haar gesin en huis ervaar. Daar kon sy vrylik die Here prys vir elke kruik wat vol word en die olie uit haar kannetjie wat net nie ophou nie.

Die hele vers 6 word gewy aan die dramatiese oomblik van die laaste kruik. Toe die seun sê dis die laaste kruik toe hou die olie op vloei. Dink enigeen vir een oomblik dat as daar nog ‘n kruik was dat die olie sou opgehou het, voor die laaste een vol was? Dit tref my so dat hierdie eenvoudige, baie bondige optekening soveel geloof in my wek dat ek glad nie twyfel dat die olie te gou so ophou vloei nie.

Die een prediker wat oor hierdie stuk hoor gepreek het, het hierdie laaste punt verduidelik deur te sê : Hy is oortuig dat as sy kon aanhou kruike voorsien, dit heel moontlik die begin van Widow and Sons Oil Incoporated sou wees. ‘n Groot, florerende oliemaatskappy wat die gemeenskap kon voorsien.

Die gevolg: Uitkoms en oorvloed. Haar skuld is betaal, haar toekoms is verseker. Wat meer kon sy vra.

Die olie wat hier ter sprake is, word as olyfolie geidentifiseer, wat ‘n verskeidenheid aanwendings gehad het. Dit is gebruik as medisyne, om te kook, om lampe te brand en seep te maak. Die olyfboom was inheems in die midde-Ooste, ‘n robuuste plant, die beste af in vol son en droeë grond – gepas vir die groei in ‘n geharde en rowwe omgewing, sonder oppiep en met min versorging.

Olie is dwarsdeur die Skrif  ‘n simbool van die Heilige Gees. Dit is die hoofbestanddeel van ‘n sterk, geharde Christen. Nie eie pogings nie, meer oorgawe, deurdrenking met die Gees van God, ‘n afhanklikheid wat daagliks ervaar, bely en bevredig word. Dit gebeur deur meer kommunikasie en ‘n ervaring van die teenwoordigheid van God. Nie noodwendig formele gebed nie – die uitroep, die skietgebed, die kontak maak, is alles kragtig. Beoefen dit, word bewus van die alomteenwoordigheid van jou Vader.

Die olie moet die gate en kruike van geloof volmaak. Dan is daar oorvloed. Hierdie beginsel is so belangrik in die gebedsreis vir ‘n wonderwerk. Onthou – die proses wat mens deurgaan om die wonderwerk te ervaar is meestal die groter wonderwerk. Die geestelike krag wat uit die vertroue en geloof en die daaropvolgende geloofsaksie kom, is die eintlike wonderwerk, want dit verander jou. Die grawe van gate en kruike aandra is aktiwiteit – geloofsaksie. Nie ‘n jammerlike stilsit en klaende gewag op uitkoms nie.

Wetsgehoorsaamheid stel God nie tevrede nie – dit verander jou nie binne-in nie. Oorgawe verander jou, bring jou voor die voete van Jesus. Die verandering in jou binneste is die eintlike wonderwerk. Daardie oorvloed van olie in jou kruike van verwagting is die rykdom wat jou en jou omgewing verander – ten goede en blywend.

Dink bietjie na en hoor by die Heilige Gees wat jou gate en jou kruike is. Hoor by Hom wat is die geloofsaksie waat daaruit voortspruit.

Skryf dit op en leef dit uit. Die wonderwerk is aan die gang. Vra die Here om jou oë te salf sodat jy kan sien wat gebeur. “Sien” die heuwels wat voor jou uitgaan en die bome van die veld wat hande klap.

Tot volgende keer.