‘n Fasinerende storie vind ons in 2 Konings 3 – ‘n storie van verantwoordelikheid, krisis, uitkoms en geloof.
Dis hier tog belangrik om ‘n bietjie meer te weet van die karakters wat betrokke is. Na die regering van Salomo is die koninkryk van Israel verdeel. Op hierdie stadium van die geskiedenis is Koning Josafat die koning van Juda (die suidelike koninkryk), wat hoofsaaklik die stamme van Juda en Benjamin is. Hy regeer op hierdie stadium saam met sy seun Die noordelike koninkryk (wat al die ander stamme insluit) word deur Joram, die seun van Agab, regeer. Agab was die berugte, afvallige koning wat met Jesebel getroud was. Sy was ‘n Phoenisiese prinses uit die stad Tirus en het Baal-aanbidding in Israel ingebring. Dit was “haar” Baalpriesters wat op die berg Karmel die groot konfrontasie met Elia gehad het – vuur uit die hemel, reën na drie jaar, die priesterslagting en toe die marathon voor die perde uit. [ 1 Konings 18] Die derde koninklike is die koning van Edom – sy naam word nie genoem nie.
Laasgenoemde word deur Joram bygesleep, heel moontlik omdat die weermag van Josafat en Joram deur Edom wou optrek en ook om hulle getalle te versterk. Die koning van Edom speel die rol van ‘n stille toeskouer. Hy praat nooit, maar sy teenwoordigheid word genoem. Josafat dien die Here, Joram is die afvallige heerser – hy weet iets van die Here af, maar is nie in verhouding met die Here nie. Mens kan aanvaar dat die koning van Edom nie God geken het nie, anders sou die Bybel dit gesê het.
Die verhouding van die drie konings met die Here is bepalend in hulle reaksie op die krisis.
Goed – terug by die storie. Moab is al deur Omri, Agab se pa, oorwin en moes ‘n belasting aan Israel betaal. Met Agab se dood besluit die Moabiete, dis ‘n goeie tyd om te rebelleer en hou op om te betaal. Joram wil so gou moontlik die rebellie onderdruk en besluit om Moab in te val. Hy vra Josafat se hulp. Daar is geen aanduiding dat Josafat die Here se leiding gevra het nie: Hy belowe dadelik sy ondersteuning.
Net voor hulle by Moab kom, is daar krisis. Na 7 dae se reis is daar geen water nie. Alle aanduidings is dat die weermag beplan het om by ‘n rivier wou kamp en toe hulle daar kom, is die rivier droog.
Joram – die afvallige koning – vrees die straf van die Here en openbaar sy innerlike wroeging met sy eie sonde. Sy eerste woorde is : God wil hom verdelg. Sy reaksie kom uit onkunde en skuld.
Josafat – in sy krisis soek hy God se leiding en vra of daar nie ‘n profeet van die Here is om te raadpleeg nie. Die regte reaksie in die omstandighede.
Die koning van Edom is tjoepstil. Ek kan my net voorstel dat hy met groot oë die geskarrel van die ander twee dophou. Die Bybel sê dit nie – dis net sommer my verbeelding. Indien hy iets gesê is dit nie opgeteken nie.
Die bediendes berig dat Elisa daar iewers saam uitkamp. Waarom Elisa saamgekom het, weet ons nie. Ek kan aanvaar dat hy Woord gekry het, met ander woorde in opdrag van die Here self daar was. God is alwetend en het geweet dat daar rede sal wees om Elisa naby te hê.
Baie interessant hier is dat die Bybel ‘n klein detail noem wat baie beteken. Die konings het na Elisa gegaan. ‘n Mens sou verwag dat die konings Elisa laat haal deur ‘n bediende. Die krisis was groot genoeg dat die konings, eintlik “van hulle trone afklim” en in nederigheid Elisa opsoek.
Elisa is in ‘n swart bui. Sy eerste woorde is in woede aan die koning van Israel gerig. Hy ken die geskiedenis – die jammerlike afval van Israel onder Agab, Baalaanbidding en kry sy sê in. Hy sê vir Joram: Het ons nog iets vir mekaar te sê? Gaan na die (vals) profete van jou ma en pa. Joram sing sy ou deuntjie en gee God die skuld vir die krisis. Elisa gaan verder in sy tirade en vertel hom goed dat as dit nie vir Josafat was nie het hy hom wat Joram is nie eers aangekyk nie. [3:13 -14.]
Toe moet hy kalm word, want in die woede van sy onsteltenis, kan hy nie die stem van die Here onderskei nie. Hy vra vir ‘n musikant.
Nog ‘n klein, belangrike detail. Wat doen jy om jou siel te kalmeer? Hoeveel maal het ek nie met die sorge van die lewe in my kar geklim, die musiek aangesit en net die “regte” lied gehoor. Wat dink julle het die lierspeler gedoen vir Elisa? Hy het die Here aanbid – weer die regte reaksie in krisis. Aanbidding van die Almagtige God is die sleutel tot oorwinning. Net sodra jy in kalmte mediteer oor die grootheid van jou hemelse Vader, Sy Almag, Sy liefde vir jou, Sy karakter soos deur Moses beskryf in Exodus 34 – abounding in goodness and truth, DAN word jou probleem kleiner en kry jy gesalfde oë, God-perspektief oor die situasie.
Maak seker dat jy jou aanbiddingsmusiek wat aanmoedig en opbou, byderhand het.
Die opdrag van die Here is duidelik. Grawe die vallei vol slote, maak die dal vol gate.[1933 vertaling]. Make this dry brook bed full of trenches. Amplified (Die nuwe Afr vertaling laat dit heeltemal weg).
Elisa voorspel dat die gate vol water gaan wees. Daar sal nie wind of reën wees nie, maar oorgenoeg om die hele weermag en al hulle diere se dors te les.
Dan hierdie wonderlike woorde:
…and this is a simple matter in the sight of the Lord.
Ja, dit is nog te gering in die oë van die Here. Hy sal ook Moab in julle hand gee.
Wat ‘n heerlike versekering van ons liefdevolle God wat in ALLES voorsien. Hy sien die hele pad – nie net die een krisis van dors nie. Hy sien nog die geveg met Moab wat voorlê en gee die versekering van oorwinning. Om die hele weermag en hulle diere water te gee is sommer net die eerste paaiement van die wonderwerk. Die groot uitkoms lê voor.
Vir my is hierdie een van die kragtigste aanmoedigingsverhale van die Ou Testament en ek moet vinnig sê daar is baie.
In die volgende vers van die profesie word ‘n pad van vernietiging vir Moab uitgespel. ‘n Totale en verwoestende aanval wat diep skade aan die land rig. Dit is wat gebeur met jou vyande en diegene wat teen jou rebelleer. Jy as kind van God is verseker van ‘n afrekening van jou teenstaanders. Niemand kan teen jou seëvier as jy die Woord van God in jou hand en hart het nie, en in nederigheid van jou troon afklim en Sy WOORD soek.
Stel jou saak aan die Here, jou probleem, jou slagveld word in Sy hand geplaas en die oorlog se ganse aard verander.
Kyk verder:
Die volgende oggend, na die graanoffer, met ander woorde jou gewone aanbiddingstyd, die tyd wat jy offer aan die Here, het die water gekom – van Edom af. Edom, wat simbolies van die wêreld is, is in God se hand voorsiening.
Die riviervallei vol water dien toe verder om die Moabiete te verwar en vir hulle ‘n vals beeld van ‘n vallei vol bloed te skep. Hulle aanvaar toe sommer dat die drie konings mekaar aangeval het en storm daar in, net om baie sterk teenstand te kry en nederlaag te ly. Die drie konings gaan verder om die verwoesting aan te bring waarvan daar in die profesie gepraat is en die koning van Moab word so deperaat dat hy plan maak om deur die linies van Edom te breek. Toe dit nie slaag nie, gaan hy oor tot die ondenkbare en steek sy eie seun wat hom sou opvolg aan die brand by ‘n muur om sy god se guns te wen. Onthou ons Chistene is die enigste mense wat ‘n liefdevolle, goeie God dien. Ander gode is kwaai gode wie se guns met allerhande offers gewen moet word.
Die drie konings draai net daar om en gaan terug Israel toe. Die meeste kommentare stem saam dat hierdie daad vir almal so afstootlik was, dat hulle in weersin onttrek het. God sê dikwels dat kinderoffers soos in Jerigo en Amalek aan die orde van die dag was, vir Hom ‘n gruwel is. As ons mooi dink is kinders vandag nog net so die offers van die samelewingsafgode, in hongersnood as gevolg van politieke wandade, materialisme, in seksuele misbruik.
In opsomming:
Reaksie in die krisis – God se Woord en aanbidding met musiek.
Opdrag: Grawe gate – jy sal nie die reën sien nie, jou gate sal vol word. Dit is maar net ‘n klein dingetjie – Hy sal verder ook voorsien.
Verwag ‘n wonderwerk. Tot volgende keer.