88. Hoe vorder jou muur?

Opinies is baie persoonlik. Dis ook reg so. Ons dink verskillend oor sake en ‘n groot persentasie van gesprek is om opinies uit te spreek en bewustelik of onbewustelik te toets teen ander. Soms wil ons juis die opinie van ‘n geleerde of prominente persoon hoor of lees. In ‘n groter of kleiner mate sou so ‘n opinie ons eie denke oor ‘n kwessie vorm of sterk beïnvloed. Hoe groter die chaos, hoe meer argumente word gevoer oor die moontlike oplossings.

Wêreldgebeure is chaoties. Dit kan niemand betwis nie. Meeste mense stem saam oor die oorweldigende vernietiging en ellende in wêreldnuus. Mens en dier ly onder boosheid op alle vlakke wat lewens bedreig, lewens versuur en verwond en selfs lewens neem. Ons veg eintlik almal teen boosheid. Elke dokter wat in elke hopsitaal van die wêreld wonde verbind en siekes behandel, veg vernietiging in die mens se liggaam. Elkeen van ons wat daagliks stof, modder en besoedeling om ons skoonmaak, veg teen die vullis wat ons en die natuur bedreig. Net so word ons siele met die afkraking van waardes en kultuur bedreig en bevuil. Die media, selfs onder die naam van die kunste, spot met amper alles wat waarde het, soos verhoudings met familie en vriende en die huwelik. Dit wat heilig (afgesonder vir ‘n spesifieke doel) is, word afgemaak as alledaags, van minder belang of ‘n bespotting.

Dit is duidelik dat die vyand ‘n agenda het, wat ons op alle vlakke aanval sodat vrees, moedeloosheid en frustrasie ons lamlê en keer dat ons ten volle leef. Jesus het gekom dat ons lewe in oorvloed kan hê en ‘n lewe van depressie en vrees is nie Sy plan nie. (Johannes 10:10) Dit moet duidelik wees. Hy belowe vrede en vreugde en dit is nie moontlik om in vals vrede of aangesitte vreugde te bestaan nie. Vrede en vreugde word in ons gees deur die Heilige Gees gebaar sodat dit ons gedagtewêreld beheers. In die mate waarin die vrede, “wat alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7) ons gemoed bepaal, het ons ‘n lewe van oorvloed.

Die deurlopende aanslag op ons gedagtes, word strategies in boosheid beplan sodat die besetting van ons gemoed, lei tot oorgawe aan negatiewe denkpatrone en vernedering. Die persepsie is, dat alles wat ons aan dink, ons eie gedagtes is, terwyl dit eintlik bose saad is wat in die vrugbare grond van vrees en verwonding gesaai word. Gedagtes word so geplant. Sodra hierdie gedagtes ontkiem en wortel skiet, gee dit aanleiding tot die oorheersing van vrees en angs. Bose saad moet duidelik onderskei word en onmiddellik verwerp en uitgewerp word. Dit is geestelike muur wat ons gedurig herstel teen die vyand wat daarop uit is om ons diepste wese te roof en ruïneer totdat dit soos Jerusalem van ouds in puin lê. Net soos die bannelinge sal ons die muur eers kan bou, as die altaar in plek is en die Tempel herstel is. Persoonlike aanbidding en gesonde lering maak ons sterk om soos Nehemia en sy spanne met die troffel in die hand en die swaard om die heup te bou – gereed vir onverwagte aanvalle.

Ek is verstom oor skaamtelose katterigheid en openlike beledigings in die openbare domain vandag, so asof goeie maniere en geweegde woorde met die afsterwe van ons grootouers oor boord gegooi is. Optredes tydens talentvertonings, entrepeneurs met besigheidsplanne en selfs kokke in kookprogramme word deur beoordelaars afgekraak soos wafferse speelgrond boelies. Selfs in die politiek is daar nie meer sprake van basiese ordentlikheid nie.

Die vernietiging van die woorde uit ons mond, breek die muur van beskerming om ons af.

Bodemklipvriend, dood en lewe is in jou woorde.

Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra. (Spreuke 18:21, NAB)

Jakobus 3 skilder ‘n gruwelprent van die tong se mag en die boosheid daarin vervat. Die impak van hierdie beskrywing, behoort mens se hart en verstand tot stilstand te ruk, sodat al ons woorde noukeurig aan die Heilige Gees onderwerp word.

Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.

Besef dit weer, roep uit na die Heilige Gees om jou woorde te weeg sodat jy woorde van God praat.

As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God… (1 Petrus 4:11, OAB)

Sien in jou geestesoog die muur wat verkrummel deur jou eie negatiwiteit en geskinder. Gaan gerus na die webblad van die Bybelgenootskap (http://www.bybel.co.za) en tik die woord “tong” in die soekfunksie. Lees hoe indringend die Woord van God ons waarsku oor ons woorde.

Bou jy of breek jy af? Hoe praat jy?

Alles in die media poog om ons sensitiwiteit oor waardevolle en goeie sedes te verdof. Skinder is vermaaklik – daar is tydskrifte vol daarvan. Voel jy vrymoedig om kwaad te praat oor iemand wat jou aanstoot gee of te na kom? Deel jy in die tydverdryf om te lees oor politici wat hulle sleg gedra of bekendes wie se foute en vernedering met ‘n opgehewe maatlepel “schadenfreude” uitbasuin word? Hoe maklik kom oordeel en woordmoord oor jou lippe net omdat dit gemaklik verwyderd van jou is?

Praat jy soos iemand wat ryklik vergewe is?

Verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord. (Jesaja 58:9, OAB)

 Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg. (Jesaja 59:3, OAB)

Nehemia se antwoord op die aanslag van bespotting en vyandigheid was skietgebede en getuienisse.

Sanballat en Tobias maak ‘n bespotting van die projek en raak desperaat in hulle beledigende taal in Nehemia 4.

Nehemia se antwoord is nie die vrome gebedjie wat mens sou verwag van ‘n ” goeie” Christen nie. Hy bid al sy woede en wraak voor die Here uit! Net soos Dawid, is hy glad nie bang om “skerp” te bid nie. Sy woede stort hy voor God se aangesig in gebed uit – dis die regte manier! Lees die wraakgebed van Dawid in Psalm 109. Hoor die woorde van Nehemia en bring jou vyande voor die Here saam met hom.

Hoor, onse God, dat ons ’n veragting geword het; en bring hulle smaad op hulle hoof terug en gee hulle oor aan plundering in ’n land van gevangenskap. En dek hulle ongeregtigheid nie toe nie, en laat hulle sonde nie uitgedelg word voor u aangesig nie; want hulle het U geterg teenoor die bouers. (Nehemia 4:4,5 OAB)

Super belangrik – “hulle het U geterg”. Glo jy, jy behoort aan die Here? Enigiemand wat jou te na kom, raak aan die appel van Sy oog!

“Oh listen to us, dear God. We’re so despised: Boomerang their ridicule on their heads; have their enemies cart them off as war trophies to a land of no return; don’t forgive their iniquity, don’t wipe away their sin—they’ve insulted the builders!” (The Message)

Jou vyand sal ook hewig ontsteld wees – 4:7. Jou vyande sal ook beplan om aan te val en verwarring te saai – 4:8. Nehemia neem praktiese stappe om die gevaar af te weer. Hy stel wagte op wat waarsku dat die vyand kom. Hy deel die volk in volgens families, bewapen hulle en stel hulle op as vegters. (4:13)

Verder maak hy ‘n inspirerende, bemoedigende toespraak voor die hele volk, ook die ampsdraers en vooraanstaandes:

Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise.” (4:14)

Kosbaar! Dit is die regte reaksie teen die aanslag.

Van daardie dag af was een helfte van my manne aan die werk en het die ander helfte die spiese, skilde, pyle en boë en harnasse gereed gehou. Die gesagvoerders het plek ingeneem agter elke familiegroep Judeërs wat aan die muur gebou het. Dié wat boumateriaal moes aandra, het met een hand die werk gedoen en met die ander hand ‘n wapen vasgehou. Die bouers het elkeen sy swaard om die heupe vasgegord gehad. Die ramshoringblaser het naby my gebly. (4:17,18)

Dis hoe ons bou – gereed vir die aanval. Luister vir die ramshoring van God in gebed. Hy sal waarsku as die aanval kom en die geveg se oorwinning waarborg. Waar was die leier? Nehemia was self op wag met die ramshoringblaser naby hom. Hy het nie sy klere uitgetrek nie. Hy moes wakker en gereed wees.

Terug na die hede – die geestelike dispensasie.

Ons word beklee met Christus:

… want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. (Galasiërs 3:27 OAB)

Dit is ons wit klere van Openbaring 3:18. Jy kan nie waag om jou klere uit te trek nie. Jy is op wag ten volle gekleed en met die wapenrusting van Efesiërs 6. Naaktheid stel jou bloot en daar is nie tyd om aan te trek as die ramshoring blaas nie. Die dwase maagde was uitgesluit toe hulle eers olie moes koop. Maak jou nou vol olie van die Heilige Gees, sodat jy gereed is as die bruidegom kom – as die krisis uitbars. [Sien Bodemklippe 75]

Stel vir jouself die ramshoringblaser naby jou op. Die Woord van God en gebed sal jou versterk om die aanval af te weer. Een van die gawes van die Heilige Gees is onderskeiding van geeste – jy sal weet dis die grynslag van die vyand en sy skor stem van moedeloosheid en vrees in jou ore.

Die bouery aan die muur het goed gevorder self gedurende die bedreiging, terwyl hulle  wapens ook moes dra. So bou ons met ons Woordkennis en God se beloftes aan ons om ons gedagtes gegord, terwyl ons vir Hom luister in gebed. Daar waar Sy belofte in jou lewe staan, sal die vyand nie deurbreek nie.

I will also meditate on all Your work, and talk of Your deeds. (Psalm 77:12 NKJV)

Bou die muur met wonderwerke. Bou met die goud en edelstene van jou getuienisse en insigte in die Woord en nie met hout, hooi en stoppels wat maklik brand in die vuur van krisis nie. (1 Korintiërs 3:12, OAB)

Jou getuienisse sal jou muur wees en jou woorde en opinies bepaal.

8. Grawe die gate van geloof.

‘n Fasinerende storie vind ons in 2 Konings 3 – ‘n storie van verantwoordelikheid, krisis, uitkoms en geloof.

Dis hier tog belangrik om ‘n bietjie meer te weet van die karakters wat betrokke is. Na die regering van Salomo is die koninkryk van Israel verdeel. Op hierdie stadium van die geskiedenis is Koning Josafat die koning van Juda (die suidelike koninkryk), wat hoofsaaklik die stamme van Juda en Benjamin is. Hy regeer op hierdie stadium saam met sy seun  Die noordelike koninkryk (wat al die ander stamme insluit) word deur Joram, die seun van Agab, regeer. Agab was die berugte, afvallige koning wat met Jesebel getroud was. Sy was ‘n Phoenisiese prinses uit die stad Tirus en het Baal-aanbidding in Israel ingebring. Dit was “haar” Baalpriesters wat op die berg Karmel die groot konfrontasie met Elia gehad het – vuur uit die hemel, reën na drie jaar, die priesterslagting en toe die marathon voor die perde uit.  [ 1 Konings 18] Die derde koninklike is die koning van Edom – sy naam word nie genoem nie.

Laasgenoemde word deur Joram bygesleep, heel moontlik omdat die weermag van Josafat en Joram deur Edom wou optrek en ook om hulle getalle te versterk. Die koning van Edom speel die rol van ‘n stille toeskouer. Hy praat nooit, maar sy teenwoordigheid word genoem. Josafat dien die Here, Joram is die afvallige heerser – hy weet iets van die Here af, maar is nie in verhouding met die Here nie. Mens kan aanvaar dat die koning van Edom nie God geken het nie, anders sou die Bybel dit gesê het.

Die verhouding van die drie konings met die Here is bepalend in hulle reaksie op die krisis.

Goed – terug by die storie. Moab is al deur Omri, Agab se pa, oorwin en moes ‘n belasting aan Israel betaal. Met Agab se dood besluit die Moabiete, dis ‘n goeie tyd om te rebelleer en hou op om te betaal. Joram wil so gou moontlik die rebellie onderdruk en besluit om Moab in te val. Hy vra Josafat se hulp. Daar is geen aanduiding dat Josafat die Here se leiding gevra het nie: Hy belowe dadelik sy ondersteuning.

Net voor hulle by Moab kom, is daar krisis. Na 7 dae se reis is daar geen water  nie. Alle aanduidings is dat die weermag beplan het om by ‘n rivier wou kamp en toe hulle daar kom, is die rivier droog.

Joram – die afvallige koning – vrees die straf van die Here en openbaar sy innerlike wroeging met sy eie sonde. Sy eerste woorde is :  God wil hom verdelg. Sy reaksie kom uit onkunde en skuld.

Josafat –  in sy krisis soek hy God se leiding en vra of daar nie ‘n profeet van die Here is om te raadpleeg nie. Die regte reaksie in die omstandighede.

Die koning van Edom is tjoepstil.  Ek kan my net voorstel dat hy met groot oë die geskarrel van die ander twee dophou. Die Bybel sê dit nie – dis net sommer my verbeelding. Indien hy iets gesê is dit nie opgeteken nie.

Die bediendes berig dat Elisa daar iewers saam uitkamp. Waarom Elisa saamgekom het, weet ons nie. Ek kan aanvaar dat hy Woord gekry het, met ander woorde in opdrag van die Here self daar was. God is alwetend en het geweet dat daar rede sal wees om Elisa naby te hê.

Baie interessant hier is dat die Bybel ‘n klein detail noem wat baie beteken. Die konings het na Elisa gegaan. ‘n Mens sou verwag dat die konings Elisa laat haal deur ‘n bediende. Die krisis was groot genoeg dat die konings, eintlik “van hulle trone afklim” en in nederigheid Elisa opsoek.

Elisa is in ‘n swart bui. Sy eerste woorde is in woede aan die koning van Israel gerig. Hy ken die geskiedenis – die jammerlike afval van Israel onder Agab, Baalaanbidding en kry sy sê in. Hy sê vir Joram: Het ons nog iets vir mekaar te sê?  Gaan na die (vals) profete van jou ma en pa. Joram sing sy ou deuntjie en gee God die skuld vir die krisis. Elisa gaan verder in sy tirade en vertel hom goed dat as dit nie vir Josafat was nie het hy hom wat Joram is nie eers aangekyk nie. [3:13 -14.]

Toe moet hy kalm word, want in die woede van sy onsteltenis, kan hy nie die stem van die Here onderskei nie. Hy vra vir ‘n musikant.

Nog ‘n klein, belangrike detail. Wat doen jy om jou siel te kalmeer? Hoeveel maal het ek nie met die sorge van die lewe in my kar geklim, die musiek aangesit en net die “regte” lied gehoor. Wat dink julle het die lierspeler gedoen vir Elisa?  Hy het die Here aanbid – weer die regte reaksie in krisis. Aanbidding van die Almagtige God is die sleutel tot oorwinning. Net sodra jy in kalmte mediteer oor die grootheid van jou hemelse Vader, Sy Almag, Sy liefde vir jou, Sy karakter soos deur Moses beskryf in Exodus 34 – abounding in goodness and truth, DAN word jou probleem kleiner en kry jy gesalfde oë, God-perspektief oor die situasie.

Maak seker dat jy jou aanbiddingsmusiek wat aanmoedig en opbou, byderhand het.

Die opdrag van die Here is duidelik. Grawe die vallei vol slote, maak die dal vol gate.[1933 vertaling]. Make this dry brook bed full of trenches. Amplified (Die nuwe Afr vertaling laat dit heeltemal weg).

Elisa voorspel dat die gate vol water gaan wees. Daar sal nie wind of reën wees nie, maar oorgenoeg om die hele weermag en al hulle diere se dors te les.

Dan hierdie wonderlike woorde:

…and this is a simple matter in the sight of the Lord.

 Ja, dit is nog te gering in die oë van die Here. Hy sal ook Moab in julle hand gee.

 Wat ‘n heerlike versekering van ons liefdevolle God wat in ALLES voorsien. Hy sien die hele pad – nie net die een krisis van dors nie. Hy sien nog die geveg met Moab wat voorlê en gee die versekering van oorwinning. Om die hele weermag en hulle diere water te gee is sommer net die eerste paaiement van die wonderwerk. Die groot uitkoms lê voor.

 Vir my is hierdie een van die kragtigste aanmoedigingsverhale van die Ou Testament en ek moet vinnig sê daar is baie.

In die volgende vers van die profesie word ‘n pad van vernietiging vir Moab uitgespel. ‘n Totale en verwoestende aanval wat diep skade aan die land rig. Dit is wat gebeur met jou vyande en diegene wat teen jou rebelleer. Jy as kind van God is verseker van ‘n afrekening van jou teenstaanders. Niemand kan teen jou seëvier as jy die Woord van God in jou hand en hart het nie, en in nederigheid van jou troon afklim en Sy WOORD soek.

Stel jou saak aan die Here, jou probleem, jou slagveld word in Sy hand geplaas en die oorlog se ganse aard verander.

Kyk verder:

Die volgende oggend, na die graanoffer, met ander woorde jou gewone aanbiddingstyd, die tyd wat jy offer aan die Here, het die water gekom – van Edom af. Edom, wat simbolies van die wêreld is, is in God se hand voorsiening.

Die riviervallei vol water dien toe verder om die Moabiete te verwar en vir hulle ‘n vals beeld van ‘n vallei vol bloed te skep. Hulle aanvaar toe sommer dat die drie konings mekaar aangeval het en storm daar in, net om baie sterk teenstand te kry en nederlaag te ly. Die drie konings gaan verder om die verwoesting aan te bring waarvan daar in die profesie gepraat is en die koning van Moab word so deperaat dat hy plan maak om deur die linies van Edom te breek. Toe dit nie slaag nie, gaan hy oor tot die ondenkbare en steek sy eie seun wat hom sou opvolg aan die brand by ‘n muur om sy god se guns te wen. Onthou ons Chistene is die enigste mense wat ‘n liefdevolle, goeie God dien. Ander gode is kwaai gode wie se guns met allerhande offers gewen moet word.

Die drie konings draai net daar om en gaan terug Israel toe. Die meeste kommentare stem saam dat hierdie daad vir almal so afstootlik was, dat hulle in weersin onttrek het. God sê dikwels dat kinderoffers soos in Jerigo en Amalek aan die orde van die dag was, vir Hom ‘n gruwel is. As ons mooi dink is kinders vandag nog net so die offers van die samelewingsafgode, in hongersnood as gevolg van politieke wandade, materialisme, in seksuele misbruik.

In opsomming:

         Reaksie in die krisis – God se Woord en aanbidding met musiek.

         Opdrag: Grawe gate – jy sal nie die reën sien nie, jou gate sal vol word. Dit is maar net ‘n klein dingetjie – Hy sal verder ook voorsien.

 Verwag ‘n wonderwerk. Tot volgende keer.