Ons het verlede keer gepraat van verandering, die suiwering deur die Silwersmid, die Pottebakker. My gedagtes het my geneem na 2 Konings 3 en 4 wat kragtige getuienisse in die ou Testament is, uitkomste om te vier, geloofsoorwinnings – en ek wil nog graag daaroor praat, maar ek moet hierdie keer eers iets anders aanspreek. Terwyl ek bid oor hierdie voorbereiding neem die Here my na 2 Konings 2 – ‘n geskiedenis wat ek goed ken – maar ek weet al uit ondervinding om nie te aanvaar dat ek iets ken nie. Daar is altyd iets nuuts. Hierdie keer was dit juis die geval.
Die eerste beginsel wat die basis van enige persoon se lewe is, dat jy nie ‘n bodemklip word uit jou eie pogings nie. Eintlik gebeur niks uit jou eie pogings nie. Die mate waarin jy verander soos Romeine 12:2 beveel, is direk in verhouding met die graad van jou oorgawe – nie jou pogings nie.
Ek is die ware wynstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie. [Johannes 15: 5]
Dit is die moeite werd om hierdie woorde van Jesus te onthou. Veral in tye van vernedering, waneer jy voel jy faal geestelik, veral ook in tye van aanval, wanneer die duiwel jou herinner dat jy eintlik niks regkry nie. Gee oor, bely, spoel die kanale van kommunikasie uit met Sy bloed, wat jou sonde verwyder en jou waardig maak voor die Here.
Lees gerus 2 Konings 2 – die oorgawe van die bediening van Elia aan Elisa.
Ons ken mos die verhaal van die vuurwa-opvaart van Elia in die hemel. Elisa, wat al ‘n geruime tyd Elia op sy reise en aktiwiteite vergesel, moes agtergekom het dat Elia sy bediening beëindig en gereed maak vir iets. Elia sê vir hom om agter te bly in Gilgal, maar in die daaropvolgende verse sien mens hoe gedetermineerd Elisa is om Elia nie te verlaat nie. Elia se bediening is klaar aan Elisa oorhandig , reeds in 1 Konings 19:19. Elisa is natuurlik, heel menslik bewus van die moontlikheid dat ‘n persoon op sy sterfbed ‘n seën uitspreek en wil Elia se seën nie mis nie. As die profeteseuns – en dit beteken nie hulle was afstammelinge van die profete nie – net leerlinge van die profete, Elisa inlig oor Elia se vertrek, dan maak hy hulle stil.
Hierdie stilmaak is ‘n goeie beginsel. Elisa sluit die gepraat en geraas van ander mense uit in hierdie stille marathon van determinasie. Hy hou sy oog op Elia soos wat hulle by Bethal kom, verderaan by Jerigo en weer eens by die Jordaan wat gekloof het, toe die Israeliete daar deur trek by hulle inkoms in Kanaan. Deur alles maak hy die kommentaar stil, en wys Elia sy volharding om by te bly. So ervaar hy die laaste wonderwerk van Elia toe Elia met sy mantel die Jordaan kloof sodat hulle kan deurloop.
Elia weet Elisa wag vir ‘n seën en hy vra wat wil hy hê – net soos Jesus vir die blinde man gevra het. Jy sou dink Jesus sal weet hy is blind daarom is die aard van sy behoefte voor die hand liggend. Daar is iets wonderlik om jou spesifieke begeerte voor die Here uit te spreek. Dis ook ‘n goeie idée om maar altyd die begeerte van die blinde man in gebed uit te spreek – Here, dat ek kan sien. Jesus sê verder in Matteus 7:7 : vra, soek, klop met die belofte van ‘n goeie antwoord, tot jou voordeel – altyd. Lees maar tot by vers 12.
Wees oor niks besorg nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking, met danksegging aan God bekend – perfekte resep vir gebed. [Filipense 4: 6]
Lees die vers in die Amplified Bybel – smeking is nie wat ons dalk onder die Afrikaanse woord verstaan nie. Ons sou dink dit beteken: pleit, kerm of iets in daardie lyn. Die Amplified vertaal smeking met supplication en verduidelik die Griekse woord in konteks met specific requests.
Ek sou dit vertaal met geformuleerde begeerte – jou behoefte in jou eie woorde omgesit – ‘n hartsversugting wat uitgespreek word.
Spreek jou spesifieke gebed teenoor die Here uit en hoor hoe dit klink in jou binnekamer. Skryf dit op – selfs met ‘n datum. Spreek jou begeerte tot oorgawe neer, jou begeerte om ‘n honger en dors na geregtigheid te ervaar. Ek het die Here spesifiek gevra om my lief te maak vir Sy Woord en my oë oop te maak vir Sy boodskap, dit is nie sommer iets wat natuurlik gekom het, of iets waarmee ek nou toevallig geseën is nie.
Na aanleiding van Matteus 5 se seënuitspraak van Jesus oor die honger en dors na geregtigheid word ‘n vrymoedige (bold) uitspreek van spesifieke versoeke met moedige geloof en intense verwagting, geimpliseer. As dit in terme van honger en dors verduidelik word, is dit lewe-gewend, en het jy dit nodig om te oorleef.
Terug by 2 Konings – Elisa is gereed met sy bold versoek: Hy vra ‘n dubbelporsie.
Die dubbelporsie was tradisioneel die erfenis van die eersgeborene. Hy het gevra wat hy gedink het in elk geval syne sou wees, as hy gesien word as die eersgeborene van Elia se bediening. Hy het reeds geweet die aflosstokkie is oorhandig, maar hy spreek sy begeerte uit in die besef dat hy die Gees van Elia nodig het om die verstommende geloofsbediening van Elia voort te sit. In die daaropvolgende optekening blyk dit dat Elisa inderdaad dubbel soveel wonderwerke as Elia gedoen het.
Dis die hele punt. Niks is moontlik sonder die HeiligeGees nie.
In 1 Samuel 10:6 met die salwing van Saul as koning sê die Woord:
Then the Spirit of the Lord will come upon you, and you will prophesy with them and be turned into another man.
Belofte van verandering is net moontlik deur die HeiligeGees. Dis die enigste manier. Skuif jou eie pogings eenkant toe en gee oor. Die HeiligeGees is nie ‘n mistiese, onwerklike, onbereikbare begrip nie. Dis die Gees wat in jou werk net om hierdie Woord aan te hoor. Die HeiligeGees lei jou tot wedergeboorte. Wat is wedergeboorte – eenvoudig – jou besluit om jou lewe aan die Here oor te gee. Johannes 3: 5 – gebore uit water en gees. Elke mens wat wedergebore is, het die HeiligeGees in hom. Sonder die Heilige Gees is wedergeboorte nie moontlik nie.
[Johannes 16: 5 – 15 gaan spesifiek oor die belofte van Jesus oor die werking van HeiligeGees.]
Die doping in die HeiligeGees, spreke in tale en die aandoening van krag volgens Handelinge 1: 8 en Handelinge 2 is ‘n ander ondervinding. Indien jy nie die doping in die HeiligeGees ervaar het nie, beteken dit nie dat die Gees van God nie aktief in jou lewe werk en iets is waarop jy elke dag kan staat maak nie. Word weer bewus van die werking van God se Gees in jou lewe, veral as jy vra om verander te word. Maak staat op Sy gawes in 1 Korintiërs 12 en die vrug van Galasiërs 5:22. Dis al hoe ons van skerp kante ontslae raak.
Hoor wat sê die profete van Elisa, die oomblik toe hy Elia se mantel op die water slaan en die Jordaan kloof net soos wat dit met Elia gebeur het. Die GEES van Elia rus op Elisa. Dis deur daardie selfde Gees wat ons praat en leef.
Ons het nodig om te verander, dis ons avontuur reis saam met die Here, maar ons doen dit nie uit ons eie pogings nie – ons gee oor aan die HeiligeGees om ons te verander. Net so sal ons die Woord verstaan deur die werking van die HeiligeGees.
Toe open Hy hulle verstand om die Skrifte te verstaan. [Lukas 24: 45]
Jesus verduidelik Sy eie Woord aan jou hart. Net Hy kan die Brood breek. Die Emmausgangers het ‘n uur of 2 die heel beste teologie in die geskeidenis van die ganse kerk uit die mond van Jesus self geniet en nog nie Jesus herken nie. Eers toe Hy Homself aan hulle openbaar – toe SIEN hulle. Teologie alleen is nie genoeg nie, kennis alleen is nie genoeg nie – die HeiligeGees gee insig en betekenis.
Tot volgende keer.