98. In die boekrol is alles opgeskryf.

[Openbaring 5]

Die wêreld het meer kits-inligting beskikbaar vandag as enige tyd in die geskiedenis. Google is ‘n werkwoord, letterlik die woord wat werk en hy werk hard. “Google dit”, sê mens as die flieknaam jou ontglip, as jy sinonieme nodig het, as jy die naam van die derde Britse koning na Cromwell soek. Wat ookal jy wil weet, het iemand neergeskryf en beskikbaar gemaak op die wolk van inligting wat ons aarde bedek,.

Ek wil dit waag om te sê dat Openbaring die “Google” is van alles wat werklik saak maak. Dit is die diep waarheid wat ons oorlewing en oorwinning hier op aarde verseker. Die woorde van die visioen is ‘n rykdom van inligting, oor die tweeduisend jaar gelede opgeteken, wat ons wêreld verklaar en ons toekoms waarborg. Dit is die mees unieke literatuur moontlik, dikteer deur die Outeur, Jesus en opgeteken deur die outeur, Johannes.

Ons lees Openbaring 5 en “sien” saam met Johannes Jesus se aankoms in die hemel na die kruisiging. In die regterhand van God, die simbool van gesag en mag, is die boekrol van die geskiedenis, op die voor- en agterkant vol geskryf. Dit is volledig en geseël– niks kan bygevoeg of weggeneem word nie.

In die Romeinse reg was net die laaste testament van ‘n persoon met sewe seëls geseël, een vir elke getuie. Al die getuies moes teenwoordig wees as die seëls gebreek word en die testament gelees word. Gewone dokumente het slegs een seël gehad. In hierdie geval het ons ‘n baie spesiale dokument: die boekrol waarin die ganse geskiedenis van die mensdom en God se saligheidsplan opgeskryf is, wat nou deur Jesus openbaar word as oorwinnaar oor die dood en hel. Die sewe seëls verteenwoordig al die gevolge van sonde en ongehoorsaamheid.

Geen lewende wese, in die hemel of op die aarde is waardig om God se plan in die volheid van die tyd uit te voer nie.

Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. (Efesiërs 1:9,10)

Dit is werklik die aarde se tragedie. Niemand is waardig nie. Johannes ervaar die diep teleurstelling en hartseer hieroor en huil. Die belofte van die Messias was dikwels ‘n bron van frustrasie. Verwagtinge is teleur gestel en vals Messiasse het die mense mislei. Die hoop op die belofte moes meerdere kere deur die profete aangespreek word om die geloof van die volk aan te moedig en verwagtinge te laat herleef.

Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie. (Amos 3:7)

Binne die visioen is daar ‘n plek van ontvangs. Buitestaanders sal niks kry nie. Hulle leef in onkunde en verwarring volgens Efesiërs 4:17-19:

In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard. Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

Is dit nie ‘n skrikwekkende en akkurate beskrywing vna die post-moderne mens wat ons geloof as feëverhale afskryf en spottend in gedagtes volhard wat tot niks lei nie. Dit is waarmee die kind van God te doen het op ‘n daaglikse basis in die geestelike realm. Hulle word gevangenes van hulle eie wêreldbeskouing, sonder ware kennis en sonder insig in omstandighede. Hierdie staat van onwaardigheid is die gevolge van ongehoorsaamheid en vir Johannes, soos vir ons, is dit oorweldigend, maar…

Daar is troos vir die desperate uitroep van onwaardigheid in die goddellike Plan. Een van die ouderlinge, met ander woorde, die kerk, het die kennis van Jesus en Hy is die oplossing vir alles. Jesus se eie woorde op aarde het so dikwels vertroos en genees. “ Moenie huil nie” het Hy vir verskeie mense gesê. Die kerk weet, in Sy teenwoordigheid word die trane afgedroog. Die ware kerk van Jesus is die veilige hawe waar troos en bemoediging geloof versterk en verwarring en verwonding genesing vind.

Menslike droefheid is die gevolg van gebrekkige kennis en visie. Ons ontbreek geduld, vertroue en volharding om te wag op die belofte van uitkoms en oorwinning. (Hebreërs 10:36) Jesus is waardig om die diep geheimenisse van God te openbaar. Hy neem die boekrol waarin ons toekoms verseker is en werk dit uit. Wees sterk en volmoed! Ons is in die hande van die Waardige een. Daar is geen beter plek moontlik nie.

Jesus word voorgestel as die Leeu uit die stam van Juda, die afstammeling van Dawid. Dit is presies hoe Hy voorgestel word in die geslagsregister in Matteus 1, sodat elke Israeliet sal weet Hy is die Een wat hulle verwag het.

‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. (Jesaja 11:1)

Die Messias sal ‘n kombinasie van goedheid en krag wees. (Jeremia 23:5, Sagaria 3:8.)

In plaas van die leeu wat hy verwag, sien Johannes ‘n Lam, asof hy geslag is, maar duidelik lewend, want Hy staan tussen die vier lewende wesens. Dink net daaraan dat Jesus sy wonde ook in die hemel dra. Dit is die Plan van God in vervulling; dood met ‘n doel om die hele mensdom te red, sonder beperking of uitsluiting. Sy dood en lewe was altyd en sal altyd vir almal wees.

Die sewe horings simboliseer allesomvattende gesag, almag en eer. (Psalm 89:17,112:9, 148:14.) Sedert die woestyntabernakel plaas die priester die bloed van redding op die horings van die altaar.

Hy smeer ook van die bloed aan die horings van die wierookaltaar in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting. (Levitikus 4:7,18,25)

Die bloed is die krag van redding om los te koop uit sonde en die skuld te betaal wat ons nie kon bybring nie. In die tyd van die konings van Israel kon ‘n mens die horings van die altaar vasgryp om die doodstraf te ontwyk. (1 Konings 1:50 en 2:28)

Die sewe oë simboliseer volledige kennis, wysheid en insig. (Jesaja 11:2)

In Daniël 7:9 -14 beskryf Daniël die Oue van Dae in wie se teenwoordigheid die boeke oopgemaak word.

Die Lam is die fokuspunt van die toneel. Jesus word 29 keer in die Bybel die Lam van God genoem. Jesaja (53:7) en Jeremia (11:19) beskryf Hom as die lam wat na die slagting gelei word.

Aanbidding is die reaksie op hier majestieuse toneel wanneer alles wat asem het, die ouderlinge en ook ons gebede die Here aanbid. Wierook is die simbool van gebed. Ons gebede is voortdurend voor die troon in die wierookaltaar.

Die goue bakke van wierook is die gebede van die heiliges – dis ons.

Mag my gebed voor U wees soos ‘n wierookoffer, die uitstrek van my hande soos ‘n graanoffer in die aand. (Psalm 141:2)

‘n Nuwe lied word gesing. ‘n Lied wat nog nooit vantevore gesing is nie – nuut in kwaliteit. (Psalm 33:3, 40:3, 98:1, 144:9, 149:1, Jesaja 42:1-13)

Op hierdie punt is dit waardevol om onsself weer uit die beperkinge van aardse tyd uit te plaas. Hierdie grootse en majestieuse toneel speel af in die onsienlike, waar ons gebede, saam met die heiliges van alle tye voor die Troon van God, Jesus aanbid.

Ons is die konings en priesters wat nou regeer. Ons voorbidding, geestelike oorlogvoering en lewe van geregtigheid regeer oor die aarde, binne in die gebrokenheid. Ons getuienis is die oorwinning oor die bose. (Openbaring 12:11)

Hoor weer die woorde wat ons beskryf:

Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. (1 Petrus 2:9)

Die getalle in Openbaring is simbolies van oneindigheid en ontelbaarheid (5:11) Net die Here kan sulke berekeninge doen. Hy is El Shaddai – die God van oorvloed. Daar is altyd meer as genoeg.

Die hele skepping, op die aarde en onder die aarde, elke moontlike wese sal die Here prys. Elke knie sal buig en elke tong bely. (Filippense 2:10) Die skepping is ingestel om God te prys. Dit sien ons reeds in die onbevraagde ritme van die seisoene en getye, die saai- en oestye, die sterre en planete, die verloop van die natuur se voortplanting en vernuwing. Almal sing saam in die heelal-koor om elke kenmerk van God te aanbid en te besing. Sy karakter is ondeurgrondelik en altyd nuut, sodat daar altyd nuwe openbaring is om te aanbid. Die ganse geskiedenis beweeg na ‘n punt van erkenning van Jesus en wie Hy is. So sing ons AMEN – dit is waar.

Die harp was ‘n bekende instrument van die sangers en koorleiers van ouds. (Psalm 147:7)

Ons gebede is voor die Troon by God. Daar is geen ander middelaar nodig nie. Jesus is ons middelaar. Hy het die deur na God geopen. Ons kan ingaan deur die Bloed van die Lam. Prys die Here!

Ons sing saam:

U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.

 “Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.”

 “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.”


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s