[Openbaring 4]
Die woord “hemel” word op soveel maniere gebruik. Boeke en flieks het dikwels die woord in hulle titel of hemel die tema is of nie. In die volksmond is die hemel ‘n vae plek van volmaakte vrede, iewers in die heelal in die heel mooiste tuin met blomme, bome en water soos wat mens nie eers in jou beste verbeeldingsvlug kan optower nie. Al die prag en wonder is slegs vir Christene toeganklik en vir sommige Christene is die hemel slegs vir seker denominasies toeganklik!
Die eenvoudige definisie is die plek waar God woon en waar goeie mense heengaan na hulle dood; ‘n baie aangename plek. In ‘n voller definisie van die woord kom mens nader aan groter konsepte wat met die woord assosieer word. Die uitspansel wat oor die hele aarde ‘n koepel vorm; die woonplek van die Godheid en die regverdige afgestorwenes.
‘n Bietjie dieper krap in die woordeboek bring mens by die definisie wat ek baie bevredigend vind. Hemel is ‘n geestelike staat van ewige gemeenskap met God, ‘n denkpatroon waarin sonde afwesig is en harmonie met die goddellike manifesteer. As ek dit in kort mag opsom: hemel is waar God is en hel is waar God nie is nie.
Meeste mense dink die hemel is ‘n ver plek in hierdie oneindige heelal wat ons skaars verstaan waar al die prag en praal van Openbaring ervaar word. Ek dink dit ook en rek my verbeelding om net ‘n breukdeel daarvan in my gedagtes te skilder. Meer belangrik is dat ek weet die hemel is reg hier by my in die onsienlike, waar al die glorie en grootsheid in my hart en in die geestelike realm in onderwerping aan die Heillige Gees vir my ‘n werklikheid word, sodat ek in die gees kan “sien”.
Dink net vir ‘n oomblik waar Johannes fisies was toe hy majesteit en galnsryke glorie van die visioen ervaar het.
Romeinse tronke en strafkolonies soos Patmos, was maar meestal ‘n voorspel tot die dood. Johannes is soontoe verban onder heerskappy van die mal, wrede Dominitianus sonder hoop op terugkeer. Dominitianus se opvolger, Nerva, herroep meeste van die belaglike wetgewing van sy voorganger en Johannes word vrygelaat – ‘n wonderwerk. Daar op Patmos moes Johannes baie ver van die hemel af gevoel het, terwyl hy die onbeskryflike in sy gees ervaar het.
In die oomblik nadat hy die komplimente en korreksie aan die kerke aangehoor het, en miskien moedeloos was oor sy eie toestand en die praktiese kommunikasie met die kerk, so onbereikbaar van die eiland af, hoor hy ‘n roepstem soos ‘n trompet wat ‘n oop deur aan hom wys. Die deur is oop nie net na ‘n plek van wonderbare skoonheid nie, maar na die Troonkamer waar God is. In sy beskrywing gebruik hy elke beeld, simbool, metafoor, gelykenis, fabel en bygeloof wat in die antieke wêreld rondgegaan het en bekend sou wees. Vir hom is die belangrikste om dit wat hy sien te kommunikeer en in verstaanbare taal die oorweldigende grootsheid oor te dra.
Hoeveel maal in ons lewe word ons platgeslaan deur omstandighede en slegte nuus? Net soos Johannes het ons nodig om die stem te hoor wat ons hoër roep.
Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys… (Openbaring 4:1)
By die Here in Sy teenwoordigheid is die antwoord vir die boosheid en wreedheid wat ons afrem. ‘n Hemelse perpektief verhef ons uit verwarring in verwondering in. Dit rus ons toe met wysheid en krag sodat ons in aanbidding daardie ou lied kan sing: …and the things of this earth grow strangely dim, in the light of His glory and grace.
Drie deure word in hierdie eerste hoofstukke van Openbaring genoem:
- Die deur van geleentheid – Philadelphia (3:8)
- Die deur van die mens se hart – Laodicea (3:20)
- Die deur van openbaringskennis -( 4:1) om die kennis van God bekend te maak.
Die hemele is oop om die openbaring van God te ontsluit, om in die onsienlike in te sien.
Die hemel het oopgegaan en ek het gesigte gesien wat van God af kom. (Esegiël 1:1)
Jesus praat van die hemele in Matteus 18 en bedoel die onsienlike geestelike realm hier om ons. Daar is niks om te bind in Sy woonplek nie – dis reeds perfek en sondeloos, maar hier in die geestelike realm om ons is die demoniese aktief. Afstand is geen kwessie in die geestelike realm nie. God is nooit laat nie an al voel dit asof die belofte traag is, dit sal kom. (Habakkuk 2:2) Sy woord keer nooit ledig terug nie.
Die hemele is oop vir die Heilige Gees net soos by die doop van Jesus (Markus 1:10). Die hemele is oop om die glorie van God te openbaar soos aan Nataniël belowe is in Johannes 1:51.
God op die Troon word in elke hoofstuk van Openbaring genoem behalwe 2,8 en 9. Dit was ‘n algemene beeld in die Ou Testament. 1 Konings 22:19, Psalm 47:8, Jesaja 6:1 beskryf dit as ‘n simbool vir die majesteit van God. Die trompet is ‘n klank wat nie ignoreer kan word nie, en tradisioneel die oproep tot aksie of vergadering.
Daar word geen poging aangewend om God te beskryf nie. Hy het geen menslike vorm nie. Hy word met lig beskryf soos in Psalm 104:2 en 1 Timoteus 6:15,16:
Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.
Die lig word reflekteer in die kosbare stene soos in Esegiël 28:13 genoem word. Dit herinner ook aan die stene in die borsplaat van die hoë priester in Exodus 28:17. Dit is die fondament van die Nuwe Jerusalem (Openbaring 21:19).
Jasper was deurskynend soos ‘n diamant, helder en vlekloos. Sardis is bloedrooi en spreek van woede en oordeel. Die smarag is groen en spreek van genade, die oorheersende kleur van die reënboog, simbolies van die verbondsbeloftes en getrouheid.
Ek het eenmaal ‘n getuienis gehoor van iemand wat in die hemel was in ‘n droom of visioen. Sy het vertel dat die kleure geur het. Hoeveel wonder is daar nog vir ons om te ontedek in ontelbare dimensies en gees-verskerpte sintuie?
Die 24 trone met die ouderlinge is die 12 stamme en die 12 apostels – die Jode en die kerk – gekleed en gekroon. Sommige kommnetators stel voor dat dit net die kerk is en die apostels word vermeigvuldig met die dubbele seën, so bekend deur die ganse Skrif.
Hulle wit klere is ‘n simbool van liggaamsbedekking wat in die Bloed van die Lam gewas is in die kleur van die hemel (wit). Goue krone verteenwoordig elke moontlike kosbare seën en oorwinning in Christus.
Donder en weerligstrale is altyd met die majesteit en grootsheid van die Teenwoordigheid van God assosieer. (Esegiël 1:13, Psalm 77:18, Job 37:4. Exodus 19:16)
Die sewe lampe is die sewe geeste van God. Sewe word genoem om die volheid en allesomvattende aard van die Heilige Gees te beklemtoon. Die syfers in Openbaring is simbolies. Vuurfakkels was altyd die simbool van die Heilige Gees. (Handelinge 2:3,4 en Lukas 3:16) Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur.
Die spieëlgladde see word beskryf as helder soos kristal. In antieke tye was dit heel ongewoon om helder glas te vervaardig. Glas was dikwels dof en net die beste kwaliteit glaswerke was helder. Helder glas was amper soos edelstene. Die kombinasie van die konsepte see (groot en ongetem) en kristal (helder, lig en kosbaar) beskryf die almag en ontoganklikheid van God in Sy heiligheid. ‘n Bewussyn van Sy heiligheid is noodsaaklik vir ons verhouding met Hom. (Exodus 24:10)
Your judgments are a great deep. (Psalm 36:6)
Die lewende wesens is vol oë, ‘n rykdom van insig en waaksaamheid. Hulle weet alles, niks is verborge of geheim nie.
Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. en aan Hom moet ons rekenskap gee. (Hebreërs 4:13)
Die vier lewende wesens word beskryf as gerubs. Hulle bekleë die hoogste rang in die hemel se gesagsorde. Hulle vlerke beskerm die Troon van Genade op die Verbondsark in die Tempel. Dis geen verrassing om hulle hier by die Troon te sien nie. Een van hulle hanteer die bakke met plae (15:7) en gee dit aan die engel.
Hulle is die simbole van majesteit en moed (die leeu), krag (die os), intellegensie (die mens) en spoed, krag en wysheid (die arend). Die ganse natuur en die mens kom saam om God te aanbid. (Psalm 102:22) Hulle bestaan is in aanbidding; hulle bestaan om te aanbid.
Sommige kommentators sien die simboliese klem in die vier Evangelies. In Matteus is die klem op Jesus as afstammeling uit die stam van Juda – die leeu. In Markus is die klem op Sy menslikheid – die man. In Lukas is die klem op die offer vir sonde – die os en Johannes beskryf Jesus soos geen ander as die oplossing vir elke kwessie in antwoord op die filosofie en intellegentsia van die tyd. Die arend kan reg in die son kyk sonder om sy oog te knip.
Aanbidding is ‘n gewaarwording van wie God is. Sy heiligheid, almag en ewigheid bring ‘n nuwe perspektief in ons aanbidding. Net sodra die ouderlinge opkyk van hulle aanbidding, sien hulle ‘n nuwe rede om weer te aanbid en in die proses alles wat waarde vir hulle het (goue krone) voor God neer te gooi in volle oorgawe.
Dit is slegs met die insig van die Heilige Gees dat jy weet wat jy voor God moet neergooi. Hy openbaar aan jou wat jou vashou en verhinder om ten volle te aanbid – aardse welvaart, ego en trots, ambisie, tradisie, bygeloof…
‘n Hemelse perspektief in ons lewe is die enigste waardevolle besitting. Dit verdiep ons insig, vernuwe ons denkpatrone en maak ons sterk.
Here, mag ek U in U majesteit en glorie aanskou, waar U in volle beheer van my lewe regeer, sodat u goedheid en genade in my gestalte kry.
Wat kan ‘n mens aan my doen?