Dit is einde November – alweer. Die jaar met die nommer 2021 is al besig met die aanloop tot die kleurryke klimaks van ons Christus-fees – soos gewoonlik. Dit het al begin – bome, balle, klokke, ligte, winkels en uitverkopings – groot geraas tot daardie dag.
Asof dit nie erg genoeg is dat 2021 einde se kant toe staan nie, is ek verstom oor die snelle verloop van die afgelope jare. Ek hou baie van ‘n ou Nederlandse lied wat Gé Korsten bekend gemaak het, jare gelede. Jannie Moolman sing dit deesdae. Ek was so bly toe ek dit hoor – ek luister gereeld. Die Lied van die Lewe – jare kom en jare gaan – ek voel myself so meegesleur.
Die lewe is eintlik glad nie ‘n dobberende bootjie op ‘n globale stormsee wat dit partykeer voel nie. Ons wat in die Koninkryk van God leef, is doelgerig op pad, by die geklank van die trompet, na die einddoel van die Here se Plan met die mensdom. Ons is medewerkers in die wonder van God se liefde (Filemon 1:24). Ons het ‘n opdrag om dit uit te leef. Die Woord is duidelik – die oes is groot en die arbeiders min (Lukas 10:2).
As ek in ons wêreld kyk en vir ‘n oomblik die hartverskeurende ellende rondom my aanskou, dan weet ek weer en weer dat net God en sy almagtige Plan van saligheid die antwoord vir die mensdom is. Die puinhoop van menslike planne besaai die geskiedenis met bloedige wrakke in die politieke, sosiale en ekonomiese realm. Vandag se relatiewe gesofistikeerde gemeenskappe van demokrasie en gevorderde beskawing verkrummel onder die aanslag van die strate se histerie wat alles sal doen om wanorde en verwarring te saal. Dit is die vyand. God se Plan bring orde, vrede en voorspoed vir almal op alle gebiede, sonder diskriminasie op grond van kleur en status.
Dit is binne hierdie ontstellende tydsgees (zeitgeist), wat ons die heerlike voorreg het, om ‘n antieke storie te lees en die God van daardie mense as ons liefdevolle Vader in ons eie tydgleuf van geskiedenis in te nooi.
Kom ons lees – Sondagskool 101 – Jona 1.
Die woord van die Here het tot Jona seun van Amittai gekom:
“Maak klaar, gaan na die groot stad Nineve toe en spreek hom aan, want Ek weet hoe sleg hy is.”
Maar Jona het klaargemaak om na Tarsis toe te vlug, weg van die Here af. Jona is af Joppe toe, en daar het hy ‘n skip gekry wat op vertrek was Tarsis toe. Hy het vir die reis betaal en aan boord gegaan om saam met die bemanning Tarsis toe te gaan, weg van die Here af.
Jona se geestelike persepsie was maar gebrekkig as hy gedink het hy kan van God af wegvlug. Eintlik wil hy van God se opdrag wegvlug en hy dink fisiese afstand sal hom red.
God se sorg vir die heiden-nasies is duidelik. Sy oorspronklike plan dat die Hebreërs sy liefde aan die res van die wêreld moet bewys, blyk duidelik uit die feit dat Hy ‘n Hebreeuse profeet oprig om bekering vir die magtige Assirië te gaan preek. Jona se reaksie is so tipies van die Verbondsvolk. Hy voel hom superieur oor die ander nasies wat nie deur God “gekies” is nie. Hy is bereid om ongehoorsaam te wees en die gevolge te dra. Die profeet is altyd vry om te weier om die opdrag van God uit te voer.
Waarom wil Jona nie gaan nie? Hy is nie bang vir Nineve nie, hy is nie bang dat hulle hom sal doodmaak nie – hy is bang vir sukses! Hy gun die Assiriërs nie die vrede en voorspoed wat hy in die ware God vind nie. Hulle is goddeloos, wreed, woes en ongelowig – laat hulle vergaan in hulle onkunde! As God vir hom ‘n uitwissings-opdrag gegee het, was hy dalk meer gewillig. In die wêreld is die dood van ‘n vyand die enigste oplossing – want, sê die Bybel, net God kan ‘n mens se hart verander. (Psalms 7:9; Jeremia 24:7; 1 Samuel 10:9)
Is Jona bereid om die gevolge van sy ongehoorsaamheid te aanvaar? Ongehoorsaamheid is tog nie sonder gevolge nie. God is God – sy Plan staan vas en die mens se ongehoorsaamheid bring verwoesting.
Tarsis is baie ver van Nineve – anderkant van die wêreld in Jona se kop. Hy kies ‘n seereis – die Jode was nie lief vir die see nie. Hy is desperaat om weg te kom van God se opdrag. Hy sou geweet het, hy kan nie van God af wegvlug nie.
Maar die Here het ‘n kwaai storm oor die see laat opkom. Daar was ‘n baie sterk wind op die see, en die skip wou uitmekaar breek.
Die matrose het bang geword, en elkeen het tot sy god om hulp geroep. Hulle het die vrag van die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak. Maar Jona was onder in die skip waarheen hy afgegaan het om te gaan slaap. Hy het vas geslaap.
Vir die mense saam met Paulus op ‘n skip in ‘n storm op die see, het sy teenwoordigheid redding gebring (Handelinge 28). Die mense saam met Jona is in die doodsgreep van dreigende vernietiging. Hy slaap in sy donker wegkruip-hoekie, seker sodat sy gewete hom nie pla nie.
Die matrose is heidene, maar diep bewus van groter magte aan die werk. In doodsbenoudheid is hulle bereid om enige god te aanbid. Dit is presies die Evangelie-oomblik wat rampe bewerkstellig. Mense wat desperaat is, is bereid om vooroordeel en trots oorboord te gooi.
…en die kaptein het na hom toe gegaan en vir hom gesê: “Wat is dit met jou dat jy lê en slaap? Staan op en bid tot jou god. Miskien sal hy aan ons dink en dan sal ons nie vergaan nie.”
Toe sê die manne vir mekaar: “Kom ons trek lootjies sodat ons kan uitvind oor wie hierdie ramp ons tref.”
Hulle het lootjies getrek en Jona is aangewys.
God is aktief in die situasie. Hy is genadig oor die mense van die skip. Hy bewerk die lootjies om reg te wys. Die matrose en ander passasiers doen alles om die skip te red. Dit het groot materiële verlies tot gevolg, want die vrag word afgegooi.
Jona kom uit met die waarheid en die hele atmosfeer op die skip verander. Hy het hulle almal in sy “mag” met die ware toedrag van sake.
Toe vra hulle hom: “Vertel ons tog waarom hierdie ramp ons tref. Wat werk jy? Waarvandaan kom jy? Uit watter land en van watter volk is jy?”
Jona het hulle geantwoord: “Ek is ‘n Hebreër. Ek dien die Here die God van die hemel wat die see en die vasteland gemaak het.”
Die manne het baie bang geword en vir Jona gesê: “Wat het jy nou aangevang?”
Hulle het te wete gekom dat hy van die Here af wegvlug: Jona het hulle dit self vertel.
Toe vra hulle hom: “Wat moet ons met jou maak dat die see weer rondom ons kan kalm word?”
Voor Jona sit die heidene met die vraag vir ‘n oplossing. Dit is so dikwels in ons mag om die onstuimigheid van die see met die waarheid te kalmeer. Wat is waarheid in hierdie woedende argumente rondom die plaag, die politiek en die stryd om oorlewing?
God se Woord is die waarheid – altyd. Ons moet die gesprek verhef tot die dinge waarop dit aankom. Die enigste manier om dit te doen, is met liefde. (Filippense 1:9,10). Prakties gesproke is dit om uit die argumente te bly en kalm oor die wonder van God in jou eie lewe te praat. Nederigheid en liefde sal ons deurdra, al is die debat vuurwarm en skerp. Hoe sal ons die vyand oorwin? Deur die Bloed van die Lam en die woord van ons getuienis (Openbaring 12:11).
Daar op die skip word die situasie nog moeiliker…
Die see het ondertussen al hoe onstuimiger geword.
Jona het hulle geantwoord: “Vat my en gooi my in die see, dan sal dit kalm word rondom julle, want ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed.
Jona gee die oplossing, maar die atmosfeer het so geskuif, dat die matrose eers probeer om die vasteland te bereik. Hulle het moed en durf – die waarheid is kragtig. Hulle gebed word gerig tot die God van Jona – die ware God. God sal sy doel bereik selfs in die ramp wat deur sy oordeel aangebring is. Dit is ons boodskap. Ons waarheid skuif die atmosfeer tot aanbidding aan die ware God. Waarheid belyn ons met God se Plan van saligheid vir almal.
Die manne het hard geroei om weer die vasteland te bereik, maar hulle kon nie, want die see het al hoe onstuimiger geword rondom hulle.
Toe bid hulle tot die Here en sê: “Ag, Here, moet ons tog nie laat vergaan oor hierdie man nie. Moenie dat ons iemand onskuldig doodmaak nie. U is die Here, U doen wat U wil.”
Hulle vat toe vir Jona en gooi hom in die see. Die storm op die see het toe bedaar.
Die manne het toe baie bang geword vir die Here en hulle het vir Hom ‘n offer gebring en geloftes afgelê.
Nou ja, Jona is die see in en die skip word gered – die siele van die skip – prys die Here. Die plek van die profeet, selfs in sy ongehoorsaamheid, word ‘n plek van bekering en redding. God is magtig om te red, ten spyte van ons gebreke.
Ons gaan voort in waarheid en liefde. Ons verander die atmosfeer van woede en desperate argumente, na aanbidding van die ware God.
Ons ken die einde van die storie van Jona – lees dit maar weer tot by die wurm in die boom…