Ek kan nie eintlik sê dat dit my gunsteling storie is nie, want ek het so baie – gelyke gunstelinge wat ek nie kan gradeer nie. Sommige Bybelstories is so in my ingebrand dat hulle deel van my uitkyk op die lewe is, vir so lank as wat ek kan onthou. So kom ons kyk saam na een van hulle – weer. Lees saam met my in Exodus 32, maar wees bewus van die prag en praal van die woorde wat in die volgende hoofstukke voortvloei. Hou sommer aan lees.
Die nasie wat God met reekse wonderwerke uit slawerny uit Egipte gered en gelei het, kamp aan die voet van die berg Sinai. Moses is op die berg om met God te ontmoet en die mense raak rusteloos. Hulle het geen idee wat op die berg gebeur nie. God praat met hulle leier. Die mense moet wag en vertrou, maar hulle is ongeduldig.
God se werk is nie altyd in die tydsraam waarin ons dit wil hê nie. Dit is een van die sleutel kwessies van die normale Christelike lewe.
Die rook op die berg is simbolies van die misterie waarin God werk en wil. Dit is eenvoudig nie altyd so duidelik wat Hy doen en hoe dinge gaan uitwerk nie. Dit is uitsonderlik as ons die besonderhede oor aanwysers kry vir wat in die toekoms gaan gebeur. Hoe sou ons reageer as ons sou geweet het? Sou ons aan sy manier van dinge doen onderwerp het, of sou ons ewe arrogant sy gedagte wou verander? Miskien sou ons uitstel gevra het vir die plaag. Ons eerste oorweging is sekerlik ons eie gemak.
Maar Jesus het Hom teen hulle verweer: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” (Johannes 5:17)
Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.(Matteus 6:6)
God werk, God sien. Moenie ooit twyfel aan die antwoord op gebed of selfs of jou gebed gehoor is nie.
There is no such thing as unanswered prayer. [Andrew Murray: With Christ in the School of Prayer]
Op die berg is God besig om die fondament van die ‘n verhewe lewe volgens sy beginsels vas te lê. Hy gee aan Moses die Wet.
Terwyl dit gebeur is daar weerlig en donderslae – alles vreesaanjaend. God is nie ‘n mens dat ons hom kan verstaan nie.
Julle het toe nader gekom en aan die voet van die berg gaan staan. Die berg het gebrand, die vuur was tot in die hemel, en daar was ‘n rookwolk wat dit stikdonker gemaak het. (Deuteronomium 4:11)
Stikdonker is wanneer mens nie eers jou hand voor jou oë kan sien nie. Dis ‘n benoude gevoel met groot verwarring. Dit kan ook die toekoms beskryf. Die onbekende is duisternis.
So het die volk dan op ’n afstand bly staan. Maar Moses het nader gegaan na die wolkedonkerheid waar God was. (Exodus 20:21, OAB)
In die misterie van God se werk het die mense weggeskram van die leierskap van Moses. Die wolk van onbekendheid en onsekerheid was oor sy leierskap, hoewel hy die aangesig van God waarlik gesoek het.
Hier moet mens ook die komedie van die situasie raaksien. Die ongeduldige volk werk Aäron op om ‘n beeld vir hulle te maak. Dit is ‘n oorblyfsel van hulle tyd in Egipte, waar hulle daagliks oor vier eeue gesien het hoe die Egiptenare beesgode aanbid het. Nou wil hulle ook ‘n beeld hê, sodat die onbekende, onsienlike, vreesaanjaende God van Moses, vir hulle bekend, beheerbaar en sienlik sal wees. Dit is baie gevaarlik om God tot ‘n gemaklikheid te reduseer.
God se werk in my lewe is ook nie duidelik nie. Dit is soms buitengewoon. Dit is nie maklik of gemaklik om sy aangesig te soek en vas te byt in die wolk van misterie nie. Ons gemakzone is na alles so gemaklik.
Dit is waar ons ons op die oomblik bevind. Ek moet myself elke dag herinner dat God aan die werk is en dat ek in die wolkedonkerheid met geloof my weg tot by die voete van Jesus vind. Ons het geduld en volharding nodig om die goedheid van God te proe. (Psalms 34)
Doen alles sonder kla of teëpraat. (Filippense 2:14)
Ek het in die leringe van John Bevere sy opsomming van klagtes baie betekenisvol gevind. Die OAB (Ou Afrikaanse Bybel) gebruik die mooi ou woord: murmureer. Dit klink sommer soos ‘n gesanik. John Bevere sê as ek oor enigiets in my lewe kla dan sê ek eintlik vir God: Ek hou nie van jy in my lewe doen nie en as ek jy was (maw God was) sou ek dit anders gedoen het. Klink dit nie uiters verwaand nie? Dit was vir my skokkend verwaand.
Dit klink soos rebellie en rebellie is heksery.
Ek moes aanvaar dat God my lewe beheer en ek my omstandighede in geloof uit sy Hand ontvang sodat ek myself ten volle aan sy genade oorlaat. Dit is ‘n wonderlike plek om te wees.
‘n Gekla sal jou voor die goue kalf op jou knieë kry wat al jou skatte inpalm. Aäron het met ‘n instrument die goud van die mense verwerk en die kalf gemaak. Hulle het offers gebring en gesê: Dit is die God wat ons uit Egipteland uitgelei het. Hoe kon hulle al die wonderwerke aan ‘n beeld van ‘n kalf toeskryf. Dit is hoe belaglik gemaklike godsdiens word!
Maar toe Moses, op God se aanbeveling, van die berg afkom, het hy ontplof van woede. Die fees rondom die kalf is geraas in God se ore. Hy hou van feeste en partytjies. Hy het sewe jaarlikse feeste voorgeskryf met die vreugde van gaste en uitbundigheid (Deuteronomium 16). Ware feeste is musiek in sy ore.
Skielik moet Aäron homself voor Moses regverdig. Hy vertel Moses hoe die volk hom gesoebat het vir ‘n beeld. Sy aandeel word afgeskaal in sy weergawe van die gebeure – komies!
Toe sê ek vir hulle: ‘Dié wat goud aan hulle het, moet dit afhaal en vir my gee.’ Ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie bulkalf het daaruit gekom.”(Exodus 32:24)
Wat is jou goue kalf? Skryf jy die wonderwerke in jou lewe aan toeval of eie slimmigheid toe?
Moses gooi in woede die kliptafels stukkend, slaan sy tent buite die kamp weg van die mense op, laat hulle die kalf se goud opmaal en dwing hulle om dit te drink sodat hulle siek word.
Sy gesprek met God as voorbidder vir die mense is kosbaar – woorde van goud, goud wat nie siek maak nie, maar ryk maak.
God sê: Julle is so ‘n moedswillige volk dat Ek nie sal saamtrek na hierdie land wat oorloop van melk en heuning nie, want dan verdelg Ek julle op pad daarheen.” (Exodus 33:3)
Dit is net asof God vandag sê: Ek sal doen wat jy vra. Ek sal die plaag wegneem. Ek sal vir jou die voorsiening wat Ek belowe het, aan jou gee sonder verwyt. Ek sal niks terughou nie. Ek sal al jou begeertes vervul, jou uit slawerny uit lei en vir jou voorsien in die land van melk en heuning – maar Ek gaan nie saam met jou nie. Jy verbeur My teenwoordigheid.
[Ek kan al hierdie dinge sê omdat die Woord verklaar dat God nooit sy beloftes terugtrek nie – Romeine 11:29]
Dink net vir ‘n oomblik wat jou antwoord sal wees. In die woestyn saam met God, of in oorvloed sonder hom.
Moses is in die middel – ‘n ware profeet. Hy ontmoet met God en bepleit die saak van die Israeliete. God praat met hom soos ‘n vriend (Exodus 33:11)
Hy gaan selfs so ver om God te herinner dat die volk God s’n is, nie Moses s’n nie.
Die woorde wat Moses bid is die kern van ons bestaan. Dit is die woorde wat die kerk van Jesus definieer:
Toe het Moses vir Hom gesê: “As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie van hier af laat wegtrek nie. Hoe sal die mense weet dat ek en u volk u goedgesindheid geniet as U nie saam met ons gaan nie? Dit is juis deurdat U met ons saamgaan dat ons, ek en u volk, anders is as al die ander volke op die aarde.” (Exodus 33:15,16)
Dit is wat ons anders maak. Dit is wat ons die krag gee om werklik kerk te wees – die Teenwoordigheid van God self. Ons sal eerder die wildernis verkies met hom as die beloofde land sonder hom.
God sê vir Moses: “Moet Ek self saamgaan en vir jou vrede gee?”
Vrede in die Skuilplek van die Allerhoogste en die Skaduwee van die Almagtige – dit is die hoogste goed wat daar is. Shalom en Eirene– die Hebreeus en Grieks vir vrede. Dit is volmaakte vergenoegdheid met geen gebrek en geen beperking. Dit is die waarborg van die einddoel van God se Plan.
Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat My toekom, gee Ek nie aan gesnede beelde nie.
Wat Ek vroeër aangekondig het, het plaasgevind. Ek kondig nuwe dinge aan. Voor dit begin gebeur, laat Ek julle al daarvan hoor. (Jesaja 42:8,9)
Soek sy aangesig in die stikdonker, in die wolk vir die aankondiging van nuwe dinge. Moenie bang wees om deur donker tye te volhard nie. Sitkdonkerte is heeltemal verblindend. Dit is wanneer jy jou hand nie voor jou oë kan sien nie. In die misterie met al die bangmaak-geluide soos die nuus en die doemprofete, is ons geheel en al op die leiding van die Heilige Gees aangewese. God is die Lig in die duisternis en Hy is daar. Moenie donker tye vrees nie.
God werk op ‘n individuele vlak – dit is nou die tyd om hom persoonlik en privaat in die misterie van jou eie siel te soek.
Onthou vreugde – moenie dat enigiets jou vreugde steel nie, selfs al voel dinge donker en onderdrukkend. God is die bron van vreugde.
Hy sal jou weer vreugde gee, jou van blydskap laat jubel.(Job 8:21)