230. Maar jy… wat van jou?

 

Die woorde van Jesus aan sy dissipels het dikwels tot gevolg gehad dat hulle anders sou wees as die gemeenskap waarin hulle gebore is.  Die Koninkryksbeginsels wat Hy kom vestig het, was grootliks onderskeibaar van die “kerk”-beginsels wat die gemeenskap beheers het.  Dit was duidelik dat die “kerk” (die Joodse godsdienstige leiers en die bedryf van die Tempel in Jerusalem) ‘n disfunksionele, liefdelose organisasie was, wat deur self-gesentreerde  en veroordelende leiers beheer is.  Hulle was vinnig om uit te sluit en stadig om te ondersteun.

Die mense van Palestina, soos wat hierdie vlambare, altyd-ontevrede en mespunt-van-opstand uithoek van die Romeinse Ryk genoem is, se mense was siek, verwese en verward.  Hulle geskiedenis sedert die regering van hulle grootste en rykste konings Dawid en Salomo, was ‘n lang, hartseer storie van gebrokenheid en sonde, profete wat hulle na God terugroep en profete-moorde van eiesinnige en goddelose leierskap – polities en kerklik.  Hulle het jammerlik gefaal om die hoë roeping van Yahweh uit te leef, om die waarheid en liefde van God vir die mensdom te demonstreer.  Teen die tyd wat Jesus gebore is, het hulle geleef in ‘n diepe verlange na lang verlore glorie en ‘n flikkering van hoop op ‘n Messias wat sou kom om hulle uit die tirannie en onderdrukking van die Romeine en die koue vereistes van die kerk te verlos.  Hulle het geleef sonder liefde, simpatie of aanmoediging.

Daar was nog nooit ‘n ryk soos die Romeinse Ryk in die ganse geskiedenis van die mensdom nie.  Die hoofstad van die indrukwekkende antieke ryk, Rome in vandag se Italië, het ontstaan in die agste eeu en was die sentrum van regering tot ongeveer 500nC.

Neem ‘n tree terug en visualiseer ‘n tydlyn.  Vir ongeveer ‘n duisend jaar het hierdie magtige monster van politiek, militêre oorrompeling en regspleging ‘n verstommende groot deel van die bekende wêreld regeer – 90 miljoen mense in streke van oor die agt miljoen vierkante kilometer.

Rome se beskawing het die basis gevorm van moderne taal, godsdiens, gemeenskap, tegnologie, regstelsels, politiek, regering, administrasie, oorlogvoering, kuns, letterkunde, argitektuur en ingenieurswese.  Die res publica wat ‘n regeringsvorm van gedeeltelike demokrasie ingestel het, was die inspirasie vir die moderne republiek.

Die Bybel noem skaars die Romeine, die keiser of die regeringsamptenare van die dag.  Hier en daar in Handelinge het Paulus met die owerhede te doen.  Jesus werk en praat in Palestina en noem die keiser een maal in verband met ‘n vraag oor die belasting – ‘n stelsel wat onregverdig en korrup was.  Hy word gebore op die hoogtepunt van die Ryk se geskiedenis.  Jesus wil nooit oorneem of self invloed uitoefen nie, Hy moedig nie die mense aan om in die politiek van die dag betrokke te raak nie.  Hy het geleer en genees tussen sy eie mense en die Christendom gevestig sonder dat Rome eers ‘n faktor is.  Hy sterf aan ‘n Romeinse kruis, nadat ‘n verwronge regsproses onreg in die hoogste graad pleeg.  Die Jode met die wet van Moses en die Romeine met ‘n gesofistikeerde regstelsel kon nie aan hierdie onpretensieuse rondloop-prediker geregtigheid laat geskied nie.

Hoewel die Romeinse reg as indrukwekkend en gevorderd gereken kan word, is die basiese beginsels van enige menseregte heeltemal afwesig – in vandag se terme: No lives matter.  As ‘n Romeinse burger, skuldig aan ‘n misdaad, kon jy darem die kruis vermy – onthoofding of die gifbeker was jou keuse.

Die boodskap aan ons in die moderne tyd waarin ons leef, is dat die regering, die gemeenskap en die boosheid wat heers die slegste na ons kant toe kan gooi – God sal sorg, beskerm en voorsien in alles met alles.  Hy sal die belasting voorsien in ‘n wonderwerk soos ‘n munt in ‘n vis se mond (Matteus 17:27) en jou aanmoedig om dit te betaal al voel dit onregverdig en korrup.  Gee aan die Keiser wat hom toekom (Matteus 22:21).  Die lewe in God is eenvoudig en vredevol sonder paniek oor strate wat brand, dwase publieke opinie, onverstaanbare politieke agendas en die verwoesting en vervolging van elke morele waarde was ’n verhewe lewe aanmoedig.

Een dag rondom die See van Galilea, sekerlik in die koelte met ‘n briesie uit die meer se kant, het Jesus ‘n gemaklike geselsie met sy dissipels aangeknoop.  Hy het dikwels alleen met hulle gepraat.  Hy het hulle opgelei en toegerus om die boodskap uit te dra.  Die gesprek was nie konfronterend nie.  Al sy woorde aan hulle was daarop gerig om nuwe insig en dieper openbaring van waarheid te stimuleer.

Jesus vra ‘n maklike vraag:

Wie sê die mense is ek? 

Maklike antwoord gee die dissipels: sommige sê Elia, ander Moses, party Johannes die Doper of ander meen dat Jesus een of ander nuwe profeet is.

Skielik maak Jesus dit persoonlik.

 Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

Wel, natuurlik sal die voortvarende Petrus dit uitbasuin.

 “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

Hierdie inspirerende, Heilige Gees-woorde laat Jesus ‘n seën oor Petrus uitspreek wat oor eeue tot in ewigheid sal weergalm.

Dit is openbarings-woorde van Petrus. Dit is wat ons begeer. Ons wil sien en praat soos wat die Vader in die hemel aan ons openbaar.

Jesus verklaar dat Petrus se insig wat in sy woorde uitkom die rots is waarop die kerk gebou word. Dit is nie Petrus self nie, maar sy insig wat die rotsfondament van die kerk is. Die kerk van Jesus is nie op ‘n mens gebou nie.

 Die kerk is gebou op die openbaring van wie Jesus is.

Dit is die basis van die Christendom.  Die teenwoordigheid van God self in ons lewe en die lewe van sy Seun, die mens wat God self was, sal ons onderskei van almal om ons, ook die kerk Christene wat nominale godsdiens leef en die krag van wonderwerke en ‘n wedergebore lewe  verraai of ontken.

Dit is konfronterende woorde van Jesus: Maar jy… wat van jou?, wat soveel vir elke individu moet beteken.  Hy kon dit vir die skare sê, en dalk het Hy.  Johannes sê daar was soveel wat kon geskryf word, dat al die boeke in die wêreld nie alles sou kon vervat nie (Johannes 21:25).

In hierdie gedeelte is sy woorde so opgeskryf dat dit aan sy dissipels gerig is.  Te midde van politieke onrus, korrupte leiers en ‘n gebroke, liefdelose kerk, lok Jesus ‘n gesprek uit wat lei tot diep insig en ‘n nuwe perspektief.  Dit is nie die enigste keer wat Hy dit doen nie.

Nee, as jy iets vir die armes gee… (Matteus 6:3)

Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe… (Matteus 6:6)

Nee, as jy vas, versorg jou hare en was jou gesig…(Matteus 6:17)

Gee, bid en vas is drie kragbeginsels in ‘n Christelike lewe, waarsonder die normale Christen nie kan leef nie.  ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie. (Prediker 4:12)

Net soos meeste geestelike beginsels is jou persoonlike verhouding met God nie afhanklik van groepsaksie, korporatiewe samewerking of enige regeringshulp.  Jy het skaars ‘n kerk nodig.  Ons staan voor die Here alleen en sonder enige ondersteuning.  Hy is ons enigste ondersteuning.  Selfs al roep ons uit die woestyn van sonde en goddeloosheid, is dit sy Hand wat ons nader aan hom trek.  Hy belowe insig en openbaringskennis wat kan sin maak uit die chaos om ons.

Roep My aan ek ek sal jou groot en magtige dinge wys wat jy nie geweet het nie, sê God in Jeremia 33:3.  Fasinerend en lewensveranderend – die dinge van God.  Hy belowe beskerming en voorsiening in alle omstandighede (Filippense 4:6-8) en troos in enige vervolging of verdrukking (2 Korintiërs 4:8,9).

Niks is vir God te moeilik nie (Jeremia 32:17) en geen gemors te groot om skoonheid uit as voort te bring (Jesaja 61:1-3).  Hy verander die vloek in ‘n seën (Nehemia 13:2) en laat alle dinge ten goede meewerk (Romeine 8:28).

Jesus het nooit slawerny as ‘n instelling aangeval en veroordeel nie.  Slawerny staan lynreg in botsing met sy beginsels van liefde en respek. Hy het ook nie die arrogansie van die Romeinse Ryk, die korrupte belastingstelsel en al die ander euwels van die eerste eeu aangespreek nie.  Sy skerpste kritiek het Hy teen die “kerk” van sy tyd uitgespreek.  Die vals leerstellinge, vooroordeel, oordeel, onvergewensgesindheid, liefdeloosheid en biddeloosheid van die trotse kerkleiers het die volle impak van sy woede-woorde ontvang.  Hulle moes van beter geweet het.  Hulle moes die welkome hawe en veilige vesting vir die gebrokenheid en lyding van hulle gemeenskap gewees het.  In dit alles het hulle veroordeel en vernietig.  In ‘n onregverdige en wrede wêreld het Jesus uitgereik na die enkele mens wat hom vir uitkoms en genesing genader het, ook diegene wat in die brutale stelsel van slawerny vasgevang was.

Wat sou gebeur het as Hy die keiser in Rome gaan spreek het oor al die menseregte oortredinge van die magtige Romeinse Ryk?  Ons sou altyd ons oog op die leier gehad het, wat op politieke en ekonomiese vlak uitkoms kon bring.  Ons oog sou op sekulêre instellings en leiers gewees het.  Ons oog moet op God wees; ons lewe gerig op die hoë beginsels van heiligheid en volmaaktheid.  So sal die lewens van almal om ons ook verander.

Waar moet ons oog wees?  Ons oog sien in die onsienlike die deur wat oopstaan in die hemel.  Die stem van God sê: Kom op hierheen.  Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur… (Openbaring 4:1)


One thought on “230. Maar jy… wat van jou?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s