251. Die Kerk daar by die rots

Mens kan nou weer kerk toe gaan.  Indien daar nog beperkings op groot byeenkomste as gevolg van die virus is, is daar minstens lig in die tonnel dat dit binnekort opgehef sal word.  Dit voel normaal.  Ons is wreed uit normaliteit geruk en nou kan ons teruggaan na dit wat ons aan gewoond is.  In die begin van die virus gepraat, het ons dikwels die term “nuwe normaal” gehoor.  Ek wonder wat daarvan geword het.  Het ons bewus geraak van wat werklik waarde het in ons “ou lewe” en werk nou om dit te herstel, of het ons sodanig aangepas dat “nuut” nou al “normaal” is?

Groot ontwrigting gaan gewoonlik gepaard met groot aanpassing.  Mens dink en doen anders om die krisis te hanteer en dan ‘n mate van normaliteit terug te kry.  Dit is ‘n persoonlike proses, heeltemal uniek en beperk tot elke mens se eie besluite en gevolgtrekkings – bygesê, as jy vry is om jou eie besluite te maak tot die mate waartoe jou lewe daardeur bepaal kan word.  Ons leef in gemeenskap.  Ander se besluite het invloed op ons lewe en so ook ons keuses op ander.

Wat is die mees waardevolle ondervinding wat jy uit hierdie ongewone tydperk van virus-oorheersing kan uitsonder?  Sal jy die tydvak onthou aan mense wat jy verloor het?  Is daar kosbare lewensondervindings van jou weggehou deur inperking?  Wat is die gevolg van die verlies aan vryheid van bymekaarkom en rondreis vir jou in die besonder?  Dit is waardevol om dit iewers in ‘n joernaal op te teken, sodat mens sou kon terugverwys daarna in ‘n paar jaar.  Tyd verloop vinnig en dinge verander gou – soms so ingrypend dat mens verstom staan oor die pas van gebeure.

Sal jy weer kerk toe gaan?  Wat het jy ervaar sonder die gewoonte van Sondae se kerk in ‘n kerkgebou met kerkgewoontes en kerkrituele?  Is daar iets kosbaar wat daaruit voortgekom het?

Was daar dalk ander maniere waarop jy God kon ervaar?  Ek het dikwels  buite gekom en soos altyd is daar in die natuur derduisende manifestasies van God.  Hoe sing Coenie de Villiers:

In my kerk is daar geen dak nie

Geen relief of skildery nie

Geen kandelaar wat hoog moet hang nie

Almal kan hier toegang kry

Want my koepel is die hemel

Hoog genoeg vir al die sterre

Breed genoeg vir die planete… https://youtu.be/2XcuOfq_ayI

https://youtu.be/C2U7ffUM5Ec   Hillsong United:  So will I : 

Dit is hoe dit was in die begin.  Daardie pragtige Tuin was ‘n Gees-uitdrukking van die volmaakte verskyning van God aan die mens –   skoonheid, rus en vrede met voorsiening in alle behoeftes met genoeg.  Daar het God kom kuier in die aandwind vir gesprek.  Toe die mens in sonde val en sy naaktheid ontbloot is, het God weer gekom – in die aandwind soos gewoonlik.  Hy het die mens geroep, totdat Adam  geantwoord het.  Ten spyte van die sonde is die gesprek voortgesit.  Die beginsel geld vir alle eeue,.  Dit is God se karakter.  Sy Woord staan vas – vergaan nooit al sou hemel en aarde vergaan.  Hy praat – maak nie saak wat gebeur nie.  Sy stem weerklink in die grootste duisternis en rampe.  Hy is daar, gereed om te red en te herstel.  Die gevolge van sonde veroorsaak chaos in lewens van mense en in die natuur.  God is gereed om die uitroep om hulp van elke mens te antwoord met wonderwerke van uitkoms.

Duisende jare gelede, gedurende die Bronstydperk het God ‘n verbond met Abraham gesluit.  Hy het Abraham in ‘n diep slaap laat val en deur die ritueel van ‘n Bloedverbond gegaan.  In sy slaap het Abraham  gesien dat iemand in sy plek die verbond met God sluit – ‘n figuur van lig.  Hebreërs verduidelik vir ons dat God eintlik met homself ‘n verbond gesluit het, sodat die verbond vir alle eeue kan geld.  Die mens is nie in staat om sy kant van so ‘n ooreenkoms na te kom nie, aangesien ons sondige, feilbare wesens is en niks kan bring om God tevrede te stel nie.  In die vroegste tye het Jesus as die Lig van die wêreld reeds vir ons ingestaan, daar iewers op die vlaktes van Kanaän waar God met Abraham gepraat het.

Sy seun Isak, het ‘n tweeling, waarvan die een, Jakob, ‘n heel uitsonderlike karakter in die Bybel word.  Hy is letterlik die vader van ‘n hele nasie, met sy twaalf seuns.  Die storie van sy seuns, die een broer Josef en Jakob se dood in Egipte, is ‘n hele lange relaas daar in Genesis.  

Jakob steel die eersgeborene se seën van sy paar-minute-ouer broer, Esau.  Esau is woedend en Jakob moet vlug.  Weer eens word God se Plan om die jonger broer te seën nie omvergewerp met die dwase, ondeurdagte optrede van die mense self nie.  (Genesis 25:23)

Jakob slaap op sy vlugpad met sy kop op ‘n klip en droom.  Hy sien ‘n leer van die aarde na die hemel en engele wat op die leer op- en afklim.  (Genesis 28:12)

God praat met Jakob in sy droom en maak ‘n wonder belofte.

Toe kom staan die Here by Jakob en sê: “Ek is die Here die God van jou voorvader Abraham, die God van Isak. Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee. 

Hulle sal so baie wees soos die stof van die aarde, en jy sal jou gebied na alle kante toe uitbrei, en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees. 

Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou na hierdie land toe terugbring. Ek sal jou nie in die steek laat nie. Ek sal doen wat Ek jou beloof het.”  (Genesis 28:13-15)

Hierdie belofte van God (soos al sy beloftes) is ‘n bevestiging van die Verbond wat Hy met Abraham gesluit het.  Elke woord van hierdie belofte aan Jakob is die hoofweg van Heiligheid (Jesaja 35:8) waarop ons rigting vind en lewenspad stap.  Dit is Waarheid wat in die kleinste besonderhede in die ganse Bybel bevestig word.

Die belofte aan Jakob is openbaringskennis wat sy hele toekoms waarborg en sy salige hoop vestig.  Daar op die klip is sy oomblik van waarheid.  God  spreek die woorde van diepe kennis en skeppingskrag oor Jakob se lewe.

Jakob besef wat gebeur.

Jakob het wakker geskrik en gesê: “Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie besef nie.”

Jakob het bang geword en gesê: “Hoe skrikwekkend is hierdie plek! Dit is niks anders nie as die huis van God; dit is die poort van die hemel.”  (Genesis 28:16,17)

Sy plek van openbaringskennis word die poort van die hemel.  Hy vereer die gesprek van God met die klip waarop hy geslaap het.  Hy gee die plek ‘n naam sodat hy sy ontmoeting met God nooit sal vergeet nie – ‘n denknaam vir die openbaring, ‘n baken van getuienis – Bet-El.  Hy belowe ‘n tempel, ‘n huis van God, sodat God sal woon in die woorde wat Hy tot Jakob gespreek het.  Die woonplek van God word gekenmerk deur die gee van ‘n tiende.  (Genesis 28:18-22)

Vir ons is die Tempel van die Woord van God die Kruis van Jesus, want Hy is die Woord wat van die begin af was (Johannes 1:1).  Jesus praat met Petrus oor die Rots waarop Hy sy Kerk sal bou.  Die Rots is die openbaring van wie Jesus is.  Dit is die woorde wat Petrus spreek in Matteus 16:16, wat nie uit homself kom nie, maar uit die hart van die Vader.  Die Rots van openbaringskennis is ons Kerk, ons Tempel wat gekenmerk word deur die belofte van God uit sy Woord en ‘n tiende wat spontaan gegee word omdat dit aan God behoort.  (Hebreërs 7:1; Maleagi 3:10).

Die diepe openbaring van Jesus, die Woord van God, is die Rots waarop ons kerk staan.  Dit is die poort van die hemel.  Jesus is die Deur, die Weg.  Daar is niemand wat ons toegang tot die hemel, die woonplek van God, kan gee nie.  Jesus voer ons saam in sy triomftog.  Ons is burgers van die onsigbare Koninkryk op aarde.

Waar is jou kerk?  Daar by die Rots van Openbaring is die ware kerk – die skuilplek van die Allerhoogste en die skaduwee van die Almagtige.

Dit is presies soos Jesus vir Natanael gesê het.  

Verder sê Jesus vir hom: “Dit verseker Ek julle: Julle sal die hemel oop sien en julle sal die engele van God sien op- en afklim na die Seun van die mens toe.” (Johannes 1:51)

Daar bevestig Jesus Jakob se “kerk” wat deur engel-aktiwiteit gekenmerk word.  Soos jy die woorde hoor, “sien” die engele om jou en God wat in jou lofprysing woon.  Maak jou kerk die rots van openbaringskennis.  Hoor die woorde van die Verbond met Abraham en weet dit is bevestig in die Kruis.  Al die beloftes van God is Ja en Amen in Jesus.  

Hy is die “ja” van God, die “ja” op al die beloftes van God. Daarom is dit ook deur Christus dat ons tot eer van God daarop “Amen” sê.  (2 Korintiërs 1:19,20)

Dit is die poort van die hemel.


Lewer kommentaar