110. Die vrou regeer die berge.

[Hoofstuk 17]

Ons hoor hard en duidelik van vroue in ons moderne gemeenskap. Dis ook reg so. As ek terugkyk in die geskiedenis kan ek die obsessie met gelykheid goed verstaan. Oor soveel eeue is vroue as tweederangse wesens behandel, mishandel en misbruik en dit het in die vroegste tye begin.

Hoewel die skeppingsverhaal God se hart in die verband met die mensdom deel, het dinge gou onder die invloed van heiden praktyke skeefgeloop. Eva is gemaak as die ander helfte van die mensdom.

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. (Genesis 1:27)

Die belofte van baie afstammelinge het na Abraham en sy vrou Sarah gekom. Toe hulle besluit om God se plan “aan te help”, is ‘n slawe vrou, Hagar, ingebring om kinders te baar, wat duidelik nooit deel van God se plan was nie. Hy het Sarah vereer met die kind van die belofte. Sarah was Abraham se vrou. Tog het God Ismael geseën, nadat Sarah sy ma verneder en weggejaag het en hom ‘n groot nasie gemaak, wat in vyandskap met sy broer leef volgens die profesie van Genesis 16:9-12.

God het altyd ‘n huwelik, sy instelling, geëer. Dit is duidelik uit die geslagsregister van Jesus waar Batseba se naam nie genoem word nie. Die geslagsregister noem Salomo, seun van Dawid by die vrou van Urija (Matteus 1:6).

Regdeur die Ou Testament is vroue as minderwaardig teenoor mans behandel, met bykans geen regte nie. Ten spyte daarvan is die Bybelse geskiedenis vol van sterk vroue in politieke sowel as geestelike leierskap. Dink maar aan Debora in die tyd van die Rigters en Hulda, die profetes in die tyd van die jong koning Josia. ‘n Nader kykie in Spreuke 31 skilder ‘n duidelike prent van ‘n aktiewe, loopbaangerigte vrou met ‘n man en kinders wat trots op haar is.

Jesus het die status van vroue verander. Hy het uiters liberaal vir Sy tyd opgetree. Die blote feit dat hy met die vrou by die put van Jakob in Samaria gepraat het, was ongehoord en het sekerlik aanleiding gegee tot ‘n reuse skinderveldtog teen Hom en regstreekse veroordeling van die kerkleierskap. In daardie tyd was daar ‘n groep wat genoem is die bloeiende Fariseërs. Hulle was so ingestel op die wet om nie eers na ‘n vrou in die openbaar te kyk nie, dat hulle in mure en pilare vasgeloop het.

Vroue het ‘n belangrike rol in die lewe van Jesus gespeel en ook in die vroeë kerk. Priscilla was een van die gerespekteerde leiers soos in Handelinge 19 beskryf word. Sommige kommentatore is van mening dat sy die skrywer van Hebreërs kon gewees het, en anoniem gebly het, juis as gevolg van die vooroordeel teen vroue in leierskap.

Vandag is die feministiese beweging in die Westerse wêreld aktief. Die aggressiewe stem van die aktiviste is hard besig om vroue te probeer verhef tot die sterkere van die twee geslagte en die man te reduseer tot ‘n patetiese figuur wat geen besluite kan neem sonder ‘n brullende vrou-baas. Kyk maar ‘n bietjie dieper na nuwe TV reekse en flieks. Gelukkig vir hulle, laat vryheid van spraak as demokratiese norm hulle toe om hulle stem te laat hoor. In die midde-Ooste en Afrika, waar vroue blatant en wreed onderduk word, skreeu die afwesigheid van feministiese aktiwisme ten hemele.

Ek wonder soms waarom die vroue-held uitgebeeld word as die rigiede, skellende, geweldadige man wat niemand van hou nie en nie die ware helde, die sterk, nederige man, waarvan die gemeenskap en geskiedenis vol is.

Hier in Openbaring 17 vind ons die wyfie-duiwel (soos my ouma sou sê) van ons ergste nagmerrie. Sy sit op ‘n helderrooi dier (17:3) wat die kleur van ‘n bordeel is. Dit gee die indruk dat sy self ‘n hoer is, wat met haar vroulike lis verly.

Sy sit op baie waters, wat die chaos en verwarring van die aardse volke aandui. Sy is aangetrek in koninklike kleure, aantreklik en magtig om te regeer. Sy is met juwele bedek, goud en pêrels, wat spreek van luuksheid en rykdom. Sy is so aantreklik dat selfs Johannes in verwondering staar (17:6).

Babilon is gebou op die walle van die Eufraatrivier en is die simbool van boosheid en sonde. Die nasies is dronk van haar beker van onsedelikheid, met die veronderstelling dat hulle in hulle beswyming net meer en meer wil hê. Geld, seks en mag regeer die wêreld in soveel manifestasies op soveel vlakke van die samelewing.

Sy regeer in die woestyn wat die moontlikheid van ‘n oes en voorsiening uitsluit en spreek van honger en dors. Haar naam het ‘n verborge betekenis. Sy word aanbid deur ‘n menigte wat nie eers besef hulle aanbid haar nie, en dit ook nooit sal erken nie. Sonde kom in soveel vorme en is dikwels geheim en uniek aan diegene wat daarin betrokke is.

Die mense is verblind deur boosheid (17:8) Dit is noodsaaklik om boosheid te identifiseer en te verwerp, anders kruip sonde stadig en slinks in ons lewe in. Die dier is nie altyd duidelik nie. Ons het die wysheid van die Heilige Gees nodig om te onderskei en sterk te staan. Die engel moes aan Johannes die geheimenis van die vrou se naam openbaar. Sonde lyk nie soos sonde nie.

Die goue beker word in Jeremia 51:7 genoem as ‘n simbool van mag.

Babel was ‘n goue beker in die hand van die Here, ‘n beker wat die hele wêreld dronk laat word het: die nasies het van sy wyn gedrink en daarvan mal geword.

Die engel openbaar aan Johannes haar naam. (17:5)

Op haar voorkop was haar naam geskrywe en dit het ‘n verborge betekenis. Die naam was: “Groot Babilon, die moeder van die sedeloses en van die losbandigheid op die aarde.”

Rome se prostitute het ‘n versiering op hulle voorkoppe gedra sodat hulle as prostitute herkenbaar sou wees. Vandag word seksslawe dikwels tatoëer met die naam van die slawedrywer. Selfs die vrou van Claudius, een van die keisers, het in die bordele van Rome gewerk. In hierdie aaklige sedelike verval is die Christendom gebore en het die mense bekeer tot sedelike waardes en reinheid in ‘n gemeenskap van konstante beskikbare kitsbevrediging van seksuele drange. Nuwe denke oor reinheid was voorwaar ‘n wonderwerk van die Kruis. Die sekulêre gemeenskap het nog niks verander nie. Vandag se gemeenskap is net so permissief en boos. Die kerk kan net staande bly in die krag van die Kruis.

Die naam van die vrou word as “verborge” beskryf. Die beskrywing is ‘n aanduiding dat haar naam simbolies is.

Die geheime krag van die wetteloosheid is al aan die werk… (2 Tessalonisense 2:7)

Sy is dronk van die bloed van die gelowiges. Die wrede vervolging van die kerk was die kenmerk van Rome en die konstante genadelose vervolging van die ware gelowiges is in die eeue daarna volgehou.

Die vrou sit op die dier met godslasterlike name en afgodery. Dit gebeur wanneer haar mag as saligheid gesien word. Soveel mense soek redding in geld, mag, seks en offer selfs hulle kinders daarvoor op.

Die dier het sewe koppe en tien horings. Dit dui op volkome mag hier op aarde. Die engel beskryf die dier soos volg:

Die dier wat jy gesien het, was eers en is nie nou nie…

want eers was hy en nou is hy nie en tog sal hy wees. (Openbaring 17:8)

 In die oorwinning van Jesus aan die kruis is die dier wat in die eeue voor Christus aktief was, verslaan of soos die engel sê: , was eers en is nie nou nie. Maar hoewel hy nie meer is nie, toon hy tekens van lewe en sal opstaan uit die helse put (onderaardse diepte) om die mense weer te verlei en sy verderf op aarde voort te sit. Sy herstel is egter ‘n mars van die dood. Sy uiteinde is volkome nederlaag sonder enige hoop op herstel. (17:8)

Die sewe berge soos genoem in 17:9 is die “berge” van die gemeenskap wat ons kultuur bepaal en word deur sommige skrywers so benoem: Godsdiens, Familie, die Media, die Kunste, Besigheid, Onderwys en Regering.

Vir ons, Bodemklipvriend, die kerk van die lewende God sal die berg sing en dans. Dis ons verlossing van die vrou.

Julle sal met blydskap uit Babel wegtrek en in vrede gelei word; die berge en die heuwels sal voor julle uit jubel en juig en al die bome in die veld sal hande klap. (Jesaja 55:12)

Die tien konings (17:12) kan Rome en die daaropvolgende magte wees. Sewe is die volkome getal vir die geweldadige vervolging van die kerk. Die een uur wat genoem word, kan dui op die burgeroorlog in Rome van Junie 68nC tot Desember 69nC.

Sonde is dikwels as stede gesimboliseer soos Nineveh in Nahum 3:4, Tirus in Jesaja 23:16-17 en selfs Jerusalem in Jesaja 1:21 en Esegiël 16:15. Hosea se hele lewe was ‘n metafoor van die ontrouheid van ‘n losbandige vrou as simbool van God se volk en Sy troue liefde om haar terug te wen. Hosea moes elke keer sy vrou weer van die straat af gaan haal en het selfs kindes by haar gehad.

Die woestyn is dikwels ‘n plek van profesie en visioen soos vir Moses, Elia, Johannes die Doper en Jesus. Dit veronderstel afstand van die stad en die sonde met stilte vir afsondering om die stem van God te hoor. Wanneer ons onsself in die woestyn bevind onder die heerskappy van die hoer, is dit daar waar God riviere en paaie in die wildernis maak. Ons voorsiening word uitgedek op die tafel in die vallei van doodskaduwee in die aangesig van ons vyande (Psalm 23).

Die dier se uiteinde is finale afrekening (17:11), Hy is aan die verloorkant, al lyk dit nie so nie. Ons hoop is op die Skepper en die verlossing wat Hy bewerkstellig.

Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. (Romeine 8:19)

 Die Lam sal oorwing en die wat aan die Lam behoort saam met Hom. Die kerk sal staan in die oorwinning deur die Kruis en die Kroon van Jesus (17:14)

Die hoer sal deur vuur vergaan. Dit is die straf vir die dogters van priesters wat aan seksuele sonde skuldig was (Levitikus 21:9). Haar eie dienaars sal teen haar draai. Daar is geen lojaliteit in boosheid nie.

Die bepalings en doelstellings van die Here is volkome oorwinning. God werk altyd tot voordeel van die mensdom. (Romeine 8:28 en Nehemia 13:2) Hierdie skrif is pilare van bemoediging om in swaar tye staande te bly.

Die laaste versies van hierdie hoofstuk (7:14-18) is eintlik ‘n opsomming van die boodskap van Openbaring.

God het hulle gedagtes so gerig dat wat hulle doen, volgens sy bedoeling is: hulle het een en dieselfde doel voor oë en hulle stel hulle koningskap tot die dier se beskikking totdat God sy woorde in vervulling laat gaan het. (Openbaring 17:17)


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s