250. Kyk met jou ore

Daar is soveel wat mens kan skryf oor wat jy sien.  Kyk op en kyk hoeveel woorde jy nodig het, om die detail van dit wat om jou aangaan te beskryf.  Kyk verder, buite, na die bome, plante, wolke, lug, berge en besef vir ‘n oomblik hoe heeltemal onmoontlik dit is om wat mens sien aan iemand wat blind gebore is te beskryf.  

Ek was ‘n jong tiener toe ‘n verlangse niggie kom kuier het.  Sy is blind gebore en het in Worcester skool gegaan by die bekende Skool vir Blindes.  Ek het my vergaap aan hoe onafhanklik sy is en hoe sy die eise van die alledaagse hanteer.  Dit was naby Kersfees en ons het met my sussie se kinders gery om die liggies in die stad te gaan kyk.  Ek het agter by haar in die kar gesit en sy het gevra dat ek moet beskryf wat ek sien.  Ek het in ‘n stortvloed van woorde vir haar die lig en lewe om ons vertel, maar in die proses gewonder of sy weet hoe lyk ‘n boom, ‘n lamppaal, ‘n teerpad wat blink van die reën, of kleur…hoe beskryf ek die sprokiesland van Kersfees in ou Johannesburg?  Sy was egter dood tevrede en vol verwondering.  Sy het gesien – met haar ore.  Sou ek ooit kon weet wat in haar gedagtes, haar verbeelding aangaan?  Wat presies was die beelde wat my woorde in haar kop gevorm het?  My woorde het haar persepsie geskep.

As ons die Bybel lees, is dit wat met ons gebeur.  Hoe meer ek studeer, hoe meer en duideliker word die prentjies in my kop.  Ons kyk met ‘n  geestesoog en ons verbeelding onder beheer van die Heilige Gees.  Paulus sê dat die oë van ons verstand verlig moet wees. (Efesiërs 1:18)

Ek moes dink aan Abraham in die patriargale era, 2100 – 1800 vC wat beskou word as die intermediêre Bronstydperk, die tyd tussen twee ander eras van hoogs ontwikkelde stedelike kultuur van die antieke tyd in die naby Midde-Ooste.  Hy is deur God geroep uit Ur in Chaldeë, die hoofstad van Mesopotamië op die hoogtepunt van die stad se ontwikkeling.  Argeoloë het gevind dat daar selfs binnenshuise rioolwerke in die stad was.  Ur se vestiging word nagevors tot 3800 vC en verwysings daarna in historiese geskrifte vind ons sedert 2600 vC.  Die stad se ligging is redelik akkuraat bepaal in suidelike Irak.

God roep Abraham (sy naam was Abram en het verander nadat hy in  verbondsverhouding met God getree het) uit ‘n gesofistikeerde stad na die land Kanaän wat onbewoon en vrugbaar, gereed vir bewerking aan hom gegee word.  Hy belowe aan hom die land sover as wat hy sien en ook  dat sy afstammelinge die aarde sal vul en vir die nasies ‘n seën wees.  God se woorde in Abraham se kop kry gestalte.  Hy moes kyk met sy ore en glo.

17Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God. (Romeine 10:17, OAB)

God se woord in ons ore is die geloof wat ons laat sien.

Vir eeue na die belofte van God aan Abraham, het baie nasies ‘n nomadiese bestaan gevoer, terwyl die afstammelinge van Abraham hulleself kon vestig in sterk landbou-gebaseerde gemeenskappe.  Dit was die seën van die land wat God aan hulle gegee het.  Abraham moes in die toekoms kyk en God se seën sien slegs op grond van die belofte, die Woord van God.  Die Israeliete kon gemeenskappe bou en stede vestig.  Abraham se droom was ‘n stad.

8Omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.

9Omdat hy geglo het, het hy in die beloofde land gaan woon, ‘n vreemdeling in ‘n vreemde land. In tente het hy daar gewoon, en so ook Isak en Jakob wat saam met hom erfgename van dieselfde belofte was, 

10want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.  (Hebreërs 11:8-10)

Uit die Bronstydperk kon Abraham die Nuwe Jerusalem sien, wat Johannes aan die einde van die eerste eeu na Jesus eers beskryf.

Sonde het egter ‘n vernietigende uitwerking op die land.  Nadat Josef se broers hom so geweldig verraai met wreedheid en jaloesie, beland hulle in ‘n hongersnood  wat gewoonlik volg na droogte en mislukte oeste.  Die hongersnood dwing hulle na Egipte, net om daar die skok-ontdekking te maak dat Josef leef en Egipte regeer.  Die huis van Jakob was nooit weer dieselfde na die leuens en verraad teenoor Josef en gevolglik ook teenoor Jakob nie.  Die tien broers se lewens het op ‘n diep vlak verander.  Dit lees mens in Genesis 38 en 49.  Die enigste ligpuntjie was die geboorte van Benjamin, maar sy ma, die geliefde Rachel, sterf met sy geboorte.

Sover terug as die Bronstydperk, kennis van antieke stede soos Ur, Sodom, Gemorra, die majestueuse bouwerk in die stede van Egipte, asook die begin van Babilon, help ons om prentjies te maak van ons Bybel-helde in hulle historiese konteks.  Die beskrywings van die Bybel fokus op hulle optrede en verhouding met God, nie soseer op die besonderhede van hulle omstandighede nie.  Die Bybel kan redelik vaag wees oor plekname wat genoem word.  Dit hou die argeoloë oor baie eeue besig.  Die feite wat ons rondom die Bybel uitvind, is egter net genoeg om ons gedagte-prentjies in te kleur en die storie se boodskap te versterk.

Die bou van stede is ‘n lang en interessante tema in die Bybel.  Daar by Babel, na die Vloed, het die mense bymekaargekom om ‘n stad te bou, met trots en skoonheid.  Die eenheid van skeppingsdrang het God beweeg om die tale te verwar sodat daardie eenheid nie boosheid sou versterk nie.  Jare daarna het Abraham drie dae gereis om Isak te offer op ‘n berg net buite die stad Salem.  Dit was die eerste verwysing na ‘n stad wat later die naam Jerusalem gekry het en die heuwel waar die Engel van God Abraham se seun uit die dood gered het, was eeue later die heuwel met drie kruise waar God se seun gesterf het.  

Jerusalem – seker een van die bekendste stede in wêreldgeskiedenis.  Die ewige stad, die opgewekte stad, die stad van vernietiging, die stad van trane, die stad wat in die moderne tyd swik onder die las van vyandigheid en verdeeldheid.  Die naam wat altyd en oral in God se ore weerklink, want die stad is verhef tot geestes-status om vir altyd te bly voortbestaan.

Hoe sal die beskrywings van Jerusalem se geskiedenis oor die eeue in ons koppe prentjies maak?

Dit is juis wat die Bybel doen.  Selfs voor Jesus in die strate van Jerusalem gestap, genees en gepraat het, het die stad se luisterryke verlede rondom die Tempel van Salomo en die hoogtepunt van die Hebreeuse beskawing, stadig verdwyn.  Nebukadneser se wrede beleg vernietig die stad en sy mense, Nehemia en Esra kom terug en bou op, maar kan nie dit op die standaard van Salomo gedoen kry nie.  Weer word die Tempel wat die  hart van die stad Jerusalem is, in die tyd van die Hellenistiese tiran, Antiochus Epiphanes brutaal aangeval voordat die Makkabees-opstand die stad en Tempel terugwen om weer aan God te heilig.  Herodes bou ‘n Tempel om die mense tevrede te stel met byvoegsels vir die heidene en die vroue wat glad nie in die oorspronklike plan was nie.  Die priester en Tempel-owerhede bedryf Herodes se Tempel na eie belang totdat Jesus op ‘n gewaagde konfronterende wyse hulle bedrog ontbloot.  Jesus roep ‘n weeklaag oor Jerusalem uit.

37“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie! 

38Kyk, nou word julle stad as puinhoop aan julle oorgelaat. (Matteus 23:37,38)

Jesus sê in die volgende hoofstuk hierdie woorde:

34Dit verseker Ek julle: Nog in die leeftyd van hierdie geslag sal dit alles gebeur. (Matteus 24:34)

Net minder as veertig jaar (‘n geslag in Bybelse konteks) na die kruisiging vernietig die Romeinse keiser, Tiberius, se generaal Vespasianus, Jerusalem sodat net die een muur van die Tempel, die klaagmuur wat nou nog staan, oorbly.  Ek glo dat God vir eens en vir altyd die dier-offers gestaak het, omdat die volmaakte Lam van God gesterf het en geen dier meer sy onskuldige bloed as versoeningsoffer aan God moet gee nie.

Gebroke en verlate klou die Ou Stad aan sy klaagmuur en die Jode sien uit na die derde Tempel.  Die muur staan as simbool van die treurlied oor die vernietiging en onmenslike bloedvergieting van Israel en sy mense oor die wêreld.

Die Kruis en opstanding van Jesus verander die dispensasie van Ou Testament dier-offers na die aanvaarding van die Kruis as die wedergeboorte tot toegang in die Koninkryk van God. (Johannes 3)

Helder en duidelik is die uitdaging aan ons.  Kyk met jou ore.  Johannes sien die onsienlike op die eiland Patmos en beskryf die onbeskryflike – die Nuwe Jerusalem.  Sy woorde wat beskryf wat hy sien, omvat al die simboliek, metafoor en allegorie wat hy kan inspan om die bekende beelde van die Ou Testament te gebruik om die volmaaktheid van God se Plan aan ons te verduidelik. 

Die twaalf poorte is elkeen een pêrel – in aardse terme onmoontlik wat spreek van onbereikbare welvaart.  Die poorte  is die stamme van Israel, die Messiaanse gemeenskap waaruit Jesus gebore is.  Hy is die deur, die pêrelpoort, die Weg.  Die twaalf pilare is die apostels wat vir ons die evangelie uit die teenwoordigheid van Jesus formuleer en oor die wêreld versprei, met Paulus, die ware twaalfde apostel. as die een wat met sy ore Jesus ”sien”.  

Die fondamente is edelstene in die mees wonderbare kleure – die siele van mense.  In die stad is geen Tempel nie (Openbaring 21:22).  Die hele stad is die woonplek van God, die allerheiligste deel van die Tempel.  Die Nuwe Jerusalem is die Kerk van Jesus, die onsigbare koninkryk.  Dit is net uit die direkte teenwoordigheid van God dat die Kerk ‘n antwoord kan hê vir die boosheid en wreedheid van dit wat om ons gebeur.

Kyk met jou ore na elke belofte in die Bybel en sien in die gees met geloof  sodat dit jou tot geregtigheid gereken kan word, soos vir Abraham.  Ons is die Nuwe Jerusalem, God se stad.  Ons heers op aarde oor die boosheid – dit is ons plek en doel.  Moenie dat die vyand jou heerskappy steel en in jou ore nederlaag skel nie.  Let op wat jy hoor – laat dit die Woord wees.

Dan kyk jy met wat jy hoor en sien die stad waarvan God self die bouer is – dit is jy!


Lewer kommentaar