Vandag, hierdie dag is ons verjaardag – die wonderbare, vreugdevolle geboorte van die Kerk van Jesus Christus op die dag van Pinkster, die Joodse Fees van Weke, net tien dae na Jesus se Hemelvaart.
Toe die dag van die pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar.
Skielik was daar ‘n geluid uit die hemel soos van ‘n geweldige stormwind, en dit het die hele vertrek gevul waar hulle gesit het.
Hulle het iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op elkeen van hulle gekom het.
Almal is met die Heilige Gees vervul en hulle het in ander tale begin praat soos die Heilige Gees dit aan hulle gegee het om onder sy leiding te doen.
(Handelinge 2:1-4)
Die Heilige Gees is die Belofte van die Vader, die wonderbare gawe van God aan Jesus sodat Hy by ons almal kan wees na sy terugkeer na die onsienlike realm. Jesus het van Heilige Gees gesê:
Tog sê Ek vir julle die waarheid: Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.
En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het.
Die wêreld is skuldig aan sonde, want die wêreld glo nie in My nie;
die reg is aan my kant, want Ek gaan na die Vader toe, en julle sal My nie meer sien nie;
die oordeel het al gekom, want die owerste van hierdie wêreld is klaar veroordeel.
“Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie.
Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. (Johannes 16:7-13)
Ons het die waarheid, ons kan in waarheid gelei word, ons ken die Waarheid, die Man Jesus Christus – Hy is die Weg, die Waarheid en die Lewe. In die verwarring en chaos, die leuens en misleiding van ons wêreld vandag, het ons die pryslose pêrel.
Hoe sal ons ‘n lewe van uitnemendheid, nie net ‘n bestaan van oorlewing, maar ‘n hoë en heilige lewe in die luuksheid van vreesloosheid en die skoonheid van die natuur leef, sonder die goue bak met olie wat uit die olyfbome in die lampe vloei? (Sagaria 4). Die Heilige Gees voed die Kerk, die Kandelaar, soos die simboliek bevestig word in die eerste hoofstuk van Openbaring.
Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. (Psalm 118:24)
Dit is op hierdie dag (en al die dae wat die Heilige Gees ons in staat stel) wat ons met die berg praat en sê:
Toe sê hy vir my: “Hier is die boodskap van die Here aan Serubbabel: Nie met mag en krag sal jy slaag nie, maar deur my Gees, sê die Here die Almagtige.”
Selfs die grootste berg sal voor Serubbabel ‘n gelykte word. As Serubbabel die laaste klip van die tempel op sy plek sit, sal die mense roep: “Mooi, mooi!” (Sagaria 4:6,7)
En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom! (OAB)
Die laaste klip is die sluitsteen op die boog van die deur. Daarop staan genade. Genade is kragtig om berge (probleme) gelyk te maak. Die sluitsteen is bokant die deur wat vir ons oopgemaak word. (Openbaring 3:8)
Ons is die Kerk, die ware Kerk van Jesus, die onsigbare liggaam van gelowiges wat die krag van God in die wêreld is. Ons is draers van die Lig, nooit die lig self nie.
Dis net met die krag van die Heilige Gees dat ons in staat is om die Waarheid, Lig en Lewe aan ‘n desperate wêreld te bring.
Laat die Heilige Gees, die Asem van die Allerhoogste, wat oor die aarde gesweef het by die Skepping, ons opvul met ware lewe in alle waarheid. Dan sal ons in staat wees om sin te maak uit die onsin en dit wat edel is te onderskei van onedel, sodat ons lewe kan spreek as die mond van God. (Jeremia 15:19)