258. Reuse en reus-propaganda

Die verhaal van Dawid en die vyf klippies is een van die mees dramatiese geloof-stories in die Bybel.  Selfs mense wat met die Bybel niks te doen wil hê nie, weet van Dawid en Goliat.  Miskien verstaan hulle nie eers die storie nie, maar hulle weet van die klein outjie en die reus.  

‘n Paar jaar na die salwing van Dawid as koning van Israel in ‘n privaat ontmoeting van  die profeet, Samuel, met hom en sy gesin, stuur Dawid se pa hom na die gevegsfront om vir sy broers voorraad te neem.  Daar betree Dawid die verhaal wat homself met duisende jare sal oorleef – hy ontmoet Goliat en verslaan hom in ‘n wonder-geloofsoortuiging wat die volk, die koning en sy familie verstom laat staan.  

Dawid se geloof in God is basies en baar.  Hy neem aan dat God dit wat aan hom behoort sal beskerm.  Sy oog en oor is nie op die vertoon en geraas van die reus se grootpratery, wat die Israeliese weermag al vir veertig dae aanhoor nie.  Hy is vars in sy denke en kinderlik in sy geloof.  Hy tree op sonder die geraas van reus-propaganda in sy ore.

Moderne reuse se arrogante vertonings met klinkende byklanke en grootse skouspel roer en raak ons op ‘n diep vlak sodat ons in die lokval trap – die skerp tande van… VREES – selfde ou storie oor en oor.

Toe die Israeliete die man sien, het hulle almal vir hom gevlug en hulle was baie bang.

“’n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie,” sê Dawid toe vir Saul. “Ek sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.” (1 Samuel 17:24, 32)

Uit ‘n menslike oogpunt het Goliat alles gehad om amper enigiemand te oorwin.  Hy was amper drie meter lank.  Sy “ridderklere” het omtrent vyf en dertig kilogram geweeg  Die spies wat hy rondgeswaai het was amper agt meter lank en die wapen-punt daarvan het sewe kilogram geweeg – ‘n formidabele vyand met ‘n pronkerige, arrogante, vloekende vertoon.

Sonder geloof was dit onmoontlik om die reus te oorwin.

Maak ‘n prentjie – die vallei van Ela met ‘n klein stroompie in die diepste deel.  Die jong Dawid (ongeveer 14-15  jaar oud) kniel om klippies op te tel.  Aan beide kante van die vallei is ‘n weermag opgestel.  Dit lyk soos ‘n mier wat huiwer om onder die verpletterende reus-voet in te stap.  Dawid is blootgestel, sonder enige “ridderklere”.  Dis lagwekkend om die minste te sê, maar daardie belaglike “naaktheid” laat hom toe om nader aan die reus te loop as wat enigiemand in volle oorlogsgewaad ooit sou kon.  Die reus het alreeds besluit dat hierdie geveg maklik in sy guns gaan swaai en daarom voel hy vol vertroue dat hy die oomblik van ek-het-jou-mos-gesê-oorwinning kan rek – die soet smaak van ‘n maklike geveg!

Die vallei van Ela is op hierdie stadium ‘n heksebrousel van haat en vervloeking, arrogansie en vrees wat oor weke al prut.  Dis plofbaar en dodelik.  Dawid kom met ‘n vars, onbesoedelde gemoed in die situasie.  Hy ignoreer die wapens en die gepraat.  Goliat is ‘n reus en hy maak heeltemal staat op sy “reusheid”.  Saul is nie ‘n klein outjie nie.  Onthou hy was langer as die ander Israeliete, maar ook hy is lamgelê deur reus-propaganda.  Saul behoort nie bang te gewees het nie.

Dawid het die vallei betree met ‘n wonderwerk-georiënteerde denkpatroon.  Hy het reeds sy leeu en beer verslaan om sy skape te beskerm.  Alleen in die veld het hy geleer om te bid, te aanbid en die stem van God te onderskei, wat uitkom bo die gebrul van die leeu en die grom van die beer.  Hy het die Here vertrou en sy eerste stap in reus-oorwinning was om te kniel.

Die Bybel sê dit nie, maar hy sou moes kniel om die klippies op te tel.  Maak die prentjie – op sy knieë het hy sy wapens bymekaar gekry.  Die reus kon hom maklik daar en dan doodmaak, maar sy arrogansie het dit verhoed.  Hoe sal hy wat Goliat is, nou so ‘n ou seuntjie op sy mees kwesbare oomblik aanval?  Goliat is groter as dit.  Laat die ou hondjie wat die Israeliete vir hom stuur, darem sy patetiese slingervel aanwend sodat dit darem lyk soos ‘n geveg.  Waarvoor kan Goliat nou bang wees?  Hy kyk sy vyande in die oog.  Hy is nie ‘n lafaard nie.

Dawid is onervare.  Om te kniel is nie wat mens op ‘n oorlogsveld en in ‘n geveg-situasie doen nie.  Dis teen-intuïtief.  Dis nie strategies of wys nie.  Kniel bring nie perspektief nie.

Goliat spot met Dawid omdat hy kniel.  Hy weet nie wat Dawid weet nie.  Hy dink hy tel stokkies op (1 Samuel 17:43).  Sy beeld en sy vloeke hou hom besig.  Hy maak geraas in sy eie ore.  Klank styg op.  Ek dink nie  Dawid het eers mooi gehoor wat hy sê nie.

Saul is gespanne en bekommerd.  Dawid kon nie die koning se eie wapens dra nie.  Dit moes vir Dawid ‘n eer gewees het dat die koning sy eie wapenrusting vir hom aanbied.  Nou is Dawid onbeskerm en onvoorbereid.  Hy luister nie vir die kenners nie.  Hy het nie die werkswinkel bygewoon nie.  Hy veg met wat hy ken – persoonlik en baar – met geloof in sy hart en denke.

Dawid word nie in geloof  aangemoedig nie – in teendeel.  Die hele weermag van Israel was veronderstel om Goliat in geloof tegemoet te storm en nie in vrees lamgelê te word nie.  (Antieke oorloë se uitkoms is dikwels bepaal deur die  geveg van twee helde.)  Saul moes die sterk man aan Israel se kant gewees het.   Dawid is omring met vervloeking en vrees.

Dawid het net een moontlikheid voor hom.  God se hulp.  Hy stap in die vallei in sonder haas en kalm – hy kyk in die onsigbare en glo die onmoontlike.   

Dis presies soos ons voel – in die vallei tussen vrees en vervloeking.  Skreeuende stemme van veroordeling en belediging, politieke mislukking en ekonomies doemprofesie.  In dit alles sal jy jou Goliat verslaan.

Maar Dawid praat eers.  Die vervloeking word stil in die krag-woorde van getuienis en profesie.

Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met ‘n dolk en ‘n spies en ‘n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. 

Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld kan besef dat Israel ‘n God het. 

Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee.” (1 Samuel 17:45-47)

Die wonderwerk is uitgeroep.   God se soewereiniteit en gesag is verklaar.  Dawid se verbeelding is aktief.  Hy bou ‘n oorwinningsbeeld.  Hy “sien” die  vernedering van sy vyande en hulle onvrywillige erkenning van die ware God.

Dawid hardloop.

Hy hardloop na die reus toe.  Sy broers is skaam vir sy parmantige bravade.  Saul spring op om die kind se belaglike bravade te aanskou.

Goliat is verras.  Hierdie oomblik is absoluut uniek.  Nog nooit het so iets gebeur nie.  Hy kyk na Dawid in totale verstomming en Dawid swaai die slinger.  Hy het baie geoefen.  Sy adrenalien pomp.  

Dawid gooi een klippie met die mag van die hele hemel in sy hand. 

Goliat val en elke woord van Dawid se profesie is waar – in ‘n oomblik.  Gebed-verbeelding, ‘n reus wat val. 

Drieduisend jaar later staan ons in die vallei met vervloeking en vrees wat ons omring.  Ons klippies tel ons op uit die Fontein van Lewende Water, die stroom wat vloei uit die lewe wat Jesus ons gee.  Ons klippies die woorde van die Woord en die woord van ons getuienis. (Openbaring 12:11).

Hoor jy nog die Israeliete en die Filistyne se vrees en vervloeking? Ons voel ontuis in die wapenrusting van die kenners, die professionele raad van die sielkundige, dokters, beraders, selfs pastore.  Daardie dag het Dawid niemand gehad nie – net God.  Die koning het hom gefaal, sy broers het hom bespot, sy volk het hom versmaai.  God het hom verhef tot ‘n held vir alle tye.

Klim op ‘n hoë berg en roep hard, Sion,

jy wat die goeie tyding moet bring;

roep hard, Jerusalem,

jy wat die goeie tyding moet bring,

moenie bang wees nie.

Sê vir die stede van Juda:

“Julle God is hier!”

Die Here God kom,

Hy is die Magtige, Hy regeer.

Hy bring die volk saam wat Hy Syne gemaak het,

dié wat aan Hom behoort, is by Hom.

Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde:

die lammers maak Hy bymekaar in sy arms

en Hy dra hulle teen sy bors,

Hy sorg vir die lammerooie.  (Jesaja 40:9-11)

Wie van die gode is soos U, Here?

Wie is soos U, so hoog geëer en heilig?

In lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade!  (Exodus 15:11)

‘Here my God, U het begin om my u grootheid en u groot mag te laat ondervind. Watter god is daar, in die hemel of op die aarde, wat u magtige dade kan nadoen?   (Deuteronomium 3:24)

Moenie die stories afskeep nie.  Die Bybelstories is onuitputlik.  Hulle gee vir ons die lewensbeginsels happie vir happie.  Dis alles tot ons voordeel opgeskryf.

Stories ontwikkel verbeelding.  Ons verbeelding onder die beheer van God is ‘n kragtige instrument in ons lewenswandel en gebed.  Ons ontwikkel ‘n God-gefokusde denkpatroon in plaas van ‘n Goliat-gefokusde denkpatroon.  Ons kan nie toelaat dat ons denke besoedel word deur reus-praatjies nie.  


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s