Dit is soms moeilik om uit ’n groot verskeidenheid te kies. Die wye omvang van die onderwerp waarmee ons op hierdie groep mee besig is, is van so ’n aard dat miljoene mense die internet gebruik om ’n boodskap van ’n aard oor te dra, wat oorweeg, geweeg en beoordeel moet word. So is dit met internet bediening oor die algemeen. Dit is waardevol om ’n aanbeveling te kry.
Dit is al meer as dertig jaar dat ons gesin deur Jack Hayford uit ’n kerk in Suid-Kalifornië bedien word. Nadat die Bybel wat deur hom geredigeer is, sy plek in ons huis gevind het, het ons almal baie geleer – die Spirit-Filled Life Bible, met uitvoerige voetnote, woord-verduidelikings en opsommings. Deesdae kom sy kort epos elke oggend in my inboks, trouens die afgelope jare al. Dit is met groot respek en erkenning aan hom dat ek skryf oor dit wat sy boodskappie van 26 Desember 2021 in my vasgelê het. Dit is al dae lank dat die beginsels wat daarin uitgelig word, my bybly.
Die Herfs fees-seisoen van ou Israel het afgeskop met die Fees van Trompette. Dit was ’n een-dag fees om die stem van God te vier. Is dit nie wonderbaar om die trompet waarmee Jesus se koms aangekondig word, daagliks te hoor nie? Dit is hoe dit bedoel is. Die trompet is nie net hoorbaar by die wederkoms nie, maar elke keer as God “praat”. Die trompet is die simbool van sy stem. Die hele Psalm 29 beskryf die stem van God.
Ek besef natuurlik dat Christene soms die amper irriterende manier het om te sê: Toe praat die Here met my en sê… Nou wat – hoor jy ’n stem of donderslae en vloede? Tog sê God Hy is ’n God wat praat (Jesaja 52:6). Jesus sê dat ons alreeds skoon is deur die woorde wat Hy gesprek het (Johannes 15:3). Hy was die Kerk met die water van die Woord (Efesiërs 5:26).
Dit is hoe Hy meestal praat – deur sy Woord wat ons in ons hand en sak het, maar nie eksklusief nie. Hy praat altyd – in die skoonheid en ritme van die natuur, deur ander mense, in seëninge wat Hy uitstort, in drome en visioene – die moontlikhede is eindeloos as mens oorgegee en ingestel is om te luister. Hy praat in ons omstandighede – gebed is ’n dialoog. Maar tog – hoe hoor ek die stem wat sê: Hier is die pad, loop hierlangs (Jesaja 30:21)? Die antwoord is in die woorde van die wyse Spreuke-skrywer:
My seun, neem aan wat ek jou sê,
maak wat ek jou voorskryf jou eie,
hou jou ore oop vir die wysheid,
span jou in om te verstaan. (Spreuke 2:1-2)
My seun, hoor wat ek vir jou sê,
luister goed na my woorde!
Moet dit nie vergeet nie,
hou dit altyd in gedagte,
want dit beteken lewe vir dié wat daarna luister,
‘n volle lewe vir hom wat dit besit. (Spreuke 4:20-22)
My seun, slaan ag op die wysheid wat ek jou leer,
luister na my goeie raad.
Dan sal jy self ook met oorleg kan optree
en met die nodige kennis praat. (Spreuke 5:1-2)
Dit is ’n oop gemoed, ’n sensitiewe gees en ’n onderworpe verstand wat die inspraak van God hoor, wanneer Hy ons gedagtes vestig (Spreuke 16:3). Dit is nie ’n spookagtige trans of ’n mistiese ritueel van herhaling en smeking nie. Dit is nie ’n sinnelose, onsekere rondtasting in die duister nie. God sal nooit verwag dat jy jou denkvermoë en helder verstand afskakel om hom te hoor nie. Hy het ons denke gegee. Ons het ’n “sound mind” en selfbeheersing as een van die gawes van die Heilige Gees. (2 Timoteus 1:7; Galasiërs 5:22)
Ons het die Here se stem in ons lewe nodig. Ons het leiding nodig om die Nuwejaar aan te pak. Daarom het die stukkie oor die wyse manne se keuse so in my gemoed vasgesteek.
En omdat God hulle in ‘n droom gewaarsku het om nie na Herodes toe terug te gaan nie, het hulle met ‘n ander pad na hulle land toe teruggegaan. (Matteus 2:12)
Meeste vliegkaartjies het ’n terugvlug wat ingesluit is met die bespreking. Dis heeltemal aanvaarbaar om dieselfde pad terug te kies. Die wyse manne het egter anders besluit. Hulle terugkeer was langs ’n ander roete wat deur die Heilige Gees aan hulle uitgewys is. Dit het heel moontlik hulle die lewens en die lewe van die Jesus-kind en sy ouers gered.
Is daar vir jou ’n “ander” route in 2022? Is daar ’n moontlikheid dat jy dinge op ’n ander manier kan aanpak – die Heilige Gees-pad?
Dalk het jy die dagbreek wat God beveel weer nodig in jou lewe.
“Het jy, Job, in jou tyd die môre beveel om te kom?
Weet jy waar die daeraad vandaan kom,
die daeraad wat lig oor die hele aarde bring
sodat die goddeloses nie in die donker kan bly skuil nie? (Job 38:12,13)
Ons is kinders van die dag. Ons dwaal nie in duisternis van onsekerheid en vrees rond nie. Dit maak nie saak hoe mal die wêreld om ons word nie. Ons is burgers van die onsigbare Koninkryk. Hoor die Woord van die Here.
Julle is tog almal mense van die lig, mense van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. (1 Tessalonisense 5:5)
Gee aandag en kom na My toe, luister, en julle sal lewe. (Jesaja 55:3)
Die belofte van die verbond staan vas.
“Wanneer al hierdie dinge, die seën en die straf wat ek jou voorgehou het, oor jou kom en jy daar tussen al die nasies waarheen die Here jou God jou verdryf het, daaraan dink en jy terugkom na die Here jou God en Hom gehoorsaam en jy en jou kinders met hart en siel doen wat ek jou vandag beveel het, sal die Here jou God jou omstandighede verander. Hy sal jou jammer kry en jou weer bymekaarmaak van oral af waarheen Hy jou tussen die volke verstrooi het. Al is jy verdryf tot in die uithoeke van die aarde, die Here jou God sal jou daar gaan bymekaarmaak en van daar af gaan haal.
Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy aanpak en Hy sal jou kinders, die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land baie maak, sodat dit met jou goed sal gaan. Wanneer jy die Here jou God gehoorsaam en sy gebooie en voorskrifte nakom wat opgeteken is in hierdie wetboek, en wanneer jy met hart en siel terugkom na die Here jou God, sal Hy Hom weer oor jou verbly soos Hy Hom oor jou voorvaders verbly het en sal dit met jou goed gaan. (Deuteronomium 30:1-4, 9-10)
Geseënde Nuwejaar!