Teen hierdie tyd van die jaar oorheers vakansie en Kers-byeenkomste die meeste beplanning. Werk is daar om afgehandel te word. Dinge kom tot ‘n punt. Minstens word verpligtinge op so ‘n plek gelaat om later weer opgeneem te word. Vakansie planne word gemaak en het dalk al tot uitvoer gekom. Sover moontlik hunker die mensdom na normaliteit rondom ons jaarlikse Jesus-fees. Ons wil graag by familie wees en dit is net die malligheid rondom paniekerige maatreëls en gekanselleerde vlugte wat ons weghou van dit waarna almal vir maande uitgesien het.
Soveel te meer kan ons hierdie Kerstyd met ‘n ongekende doelgerigtheid betree. Die woord intensionaliteit sou jare gelede as ‘n anglisisme gebrandmerk wees, maar dis tog ‘n woord uit Engels wat ‘n ingesteldheid beskryf sonder die negatiewe nuanse van opsetlikheid. Kersfees se vreugde, vrede, liefde en hoop is nie afhanklik van lande, mense en partytjies nie. Dit kom uit die Bron wie vir almal beskikbaar is, globaal, universeel, wêreldwyd en individueel – beskryf dit maar so omvattend as wat jy kan.
Dit is ons gewone mense wat die ware inhoud aan Kersfees gee. Dit is hoegenaamd nie afhanklik van die politieke leiers, openbare beleid, ekonomiese voorspoed of gebrek of sosiale status nie. Die grondbeginsels van die Kersverhaal is vir elke mens wat verlore en alleen voel, wat nie kon vlieg nie, wat niemand het om die feestyd mee te deel nie, wat nie geld het nie en wie geen geskenk van enigiemand kan verwag nie.
Jesus is genoeg om al die leë plekke te vul. Dit is dalk die rede waarom mense abnormaliteit ervaar. Is daar ‘n diep verlange of geestelike gebrek wat onbevredig is en nou met Kerstyd ‘n vars gebrokenheid ontbloot? As jy so iets voel, vra God om jou te wys wat Hy wil hê jy moet raaksien – buite of binne jouself – of dalk beide. Hy is die God van oorvloed. Hy is die Bron van vrede wat alle verstand (wat omstandighede bedink en daarin verdrink) te bowe gaan.
Alleen of ver van almal – dit is jou keuse hoe jy Kersfees vier – met intensionaliteit of meegesleur en oorgegee aan selfbejammering.
Staan op en neem ‘n besluit. Steek jou hande op, bokant jou kop, sodat jy die aanbidding en dank wat jy aan die Here bring, simbolies bo jou verstand, wat die bron van trots en rebellie is, ophef en dank die Here vir die seëninge wat jy ervaar. As jy daarmee sukkel, vra die Heilige Gees om jou verstand helder te maak sodat jy God se goedheid kan bedink.
Lees ‘n Psalm, sing ‘n lied en verander die atmosfeer van swaarmoedigheid met die klank van die waarheid en saligheid van alles waarvan Kersfees spreek. Dank God dat jy hom ken en dat Hy intensioneel met jou omgaan. Die Baba in Bethlehem is vir jou gebore. Loer daar by die stal in en glimlag vir daai pragtige pasgebore mensie.
Gaan haal die boom en lees van die Boom van die Lewe in Genesis en in Openbaring. Lees van die loot uit die stomp van Isai (Dawid se pa) en sien hoe Jesus se nuwe lewe in jou lewe uitspruit. (Jesaja 11) Hang goue balle aan die boom en kroon Jesus as die koning van jou lewe. Sit ‘n engeltjie iewers neer en dank hom dat Hy die engele aangaande jou bevel gee om jou op te pas. Gooi ‘n rooi tafeldoek oor jou tafel en dank hom vir die bloed wat Hy gestort het en dat Hy gekom het om die sonde van die wêreld weg te neem.
Het jy ‘n klein stal-toneeltjie (nativity scene) wat jy kan uitstal? Kyk na Maria en Josef en dink daaraan hoe hulle lewe in die eerste Kersfees vasgevang was. Hulle blote teenwoordigheid in kerke en prentjies op Kerskaartjies tweeduisend jaar nadat hulle geleef het, spreek van hulle gehoorsaamheid en onderworpenheid aan God se plan. Bid dat sy Plan jou lewe sal rig in dieselfde mate as wat die Meesterplan wat Jesus as mens aarde toe gebring het, Josef en Maria se lewens in ‘n totaal ander rigting gestuur het as wat hulle ooit sou kon opdink in hulle wildste drome.
Steek vier kerse aan – vyf as jy wil. Een vir hoop, een vir liefde, een vir vreugde en een vir vrede – die adventskerse. Soek ‘n Bybelvers oor elkeen van daardie onderwerpe en “hoor” wat God vir jou sê. Steek die vyfde een op met die gedagte aan die Opstanding – die vooruitsig van die volgende fees – Paasfees. Vier die opstanding uit die dood – soek ‘n Bybelvers daaroor. Mediteer oor die woorde wat jy lees. Laat die Woord jou afwas (Efesiërs 5:26) en laat die woorde van Jesus strome van Lewende Water uit jou binneste vloei (Johannes 7:38).
Kyk wat jy vir iemand anders kan doen. Maak iets met jou hande en die kreatiwiteit wat jy ontvang het. Maak iets mooi en gee dit weg. Laat iets groei, maak ‘n lekker dis van oorskiet, lees ‘n resep vir inspirasie en pas dit aan met wat jy in die spens het. Teken iets, verf iets, werk ‘n knopie aan ‘n ietsie vir versiering – vra die Here om jou kreatiwiteit te roer en skep iets uit niks. Ons het God se Gees, sy asem, sy Lewe in ons – God het so gesê. Bou jou Tabernakel.
“Besaleël, Oholiab en al die ander vakmanne vir wie die Here die vaardigheid en verstand gegee het om te weet hoe om al die werk aan die heiligdom uit te voer, moet die werk doen soos die Here beveel het.” (Exodus 36:1)
Jy is die sprankel in die tinsel van hierdie Fees. Wys dit op jou gesig in die supermark se ongeduldige gedrang. Laat jou kalmte en vreugde die padwoede in die verkeer kalmeer. Staan in die gaping van gebed vir die ou mensdom wat ‘n leë, betekenislose feestyd met dronkenskap en ander afgode vul.
Liefde wen – altyd! Prys die Here! Geseënde Kersfees Bodemklippe.