245. Oorweldig en omgestamp

[Paas 2021]

‘n Paar uur in ‘n tuin net buite ‘n ou stad het die wêreld verander.  Mans in aksie, woorde uitgespreek en ‘n meedoënlose ketting van gebeure wat die verloop van die geskiedenis en die berekening van tyd vir ewig sal bepaal.

Tyd-reis saam met my na ‘n paar volmaan-ure in die tuin van Getsemane, lank gelede toe die man Jesus en sy vriende daar instap vir ‘n stil tyd na die Paasete.  In my begeerte om elke Paas iets nuut te leer, begin ek toe lees in Johannes 18.  Ek het net ses versies ver gevorder…

Getsemane beteken olie-pars.  Dit is ‘n sterk simboliese beeld uit die Ou Testament en word dikwels as ’n metafoor gebruik.  Die olie-pars dien om die proses te beskryf waarin olyfolie uit die olywe onttrek word.  Dit word vergelyk met die goddelike, Heilige-Gees-in-aksie proses van transformasie wat in ons binneste plaasvind om die salwing van God oor ons lewe sigbaar te maak.

Mense wat die tuin van Getsemane besoek het, vertel my dat dit verrassend klein is.  Uit my navorsing lees ek dat die tuin ongeveer agt olyfbome gehad het, nie die uitgestrekte boord soos wat ek myself voorgestel het nie.  In die tyd van Jesus is dit redelik seker dat hulle die stad deur die Oospoort sou verlaat het en deur die vallei oor die Kidron spruit geloop het.

Die Kidron spruit was die oorloop van die dreineringstelsel van die Tempel.  Elke jaar op bestemde tyd wanneer die lammers by die Tempel keel afgesny is, is die bloed in die bakke van die priesters opgevang en dan teen die fondamente van die Tempel gesprinkel.  Die Kidron het rooi geword, voordat die water weer die bloedige gemors kon wegspoel.  Volgens ‘n Romeinse sensus in 4vC is 256 000 lammers geslag. 

Spasie in die stad was te beperk vir privaat tuine en buitendien het die priesters bepaal dat die grond van Jerusalem te heilig is om die bemesting van ‘n tuin toe te laat.  Die ryker inwoners het tuine buite die stad gehad.

Die soldate wat in die tuin ingekom het om Jesus in hegtenis te neem, verdien ‘n dieper kyk. Johannes skryf dat ‘n afdeling soldate saam met die wagte in diens van die priesterhoofde en die Fariseërs met lanterns, fakkels en wapens daar aangekom het.

Die afdeling soldate was Romeine.  Die woord wat gebruik word is waarmee hulle ‘n minimum van tweehonderd man sou aandui – eintlik het hulle die woord gebruik vir ‘n kompanjie van seshonderd man.

Hulle het sekerlik ‘n klein rewolusie verwag.  Die oormag was oorweldigend om ‘n  straat-prediker van Galilea en sy elf vriende te hanteer.  Die volmaan sou die nag verlig het, tog het hulle fakkels en lanterns gehad.  Hulle  het sekerlik gedink om hom te soek waar Hy wegkruip  in donker straatjies.  

Jesus tree vorentoe om hulle tegemoet te stap.  Hy vra die vraag na wie hulle soek.  As God vrae vra is dit nie om inligting te bekom nie – dit is om die gesprek te begin.  Hy het geweet hulle soek hom.  Hulle noem die naam waarmee Hy bekend was in die strate van Jerusalem – Jesus van Nasaret.

Hy antwoord en daar gebeur iets.

Hy sê die woorde: Dit is EK.

Johannes skryf:

Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.

Jesus het die woorde gebruik waarmee God homself voorstel aan Moses by die brandende bos eeue voor daardie nag. 

In daardie oomblik het Jesus die volheid van God oor die soldate ontketen en hulle kon nie staande bly nie.  

Die hele klein weermag het op die grond neergeval.  Die dissipels moes verstom gestaan het.  Hoor wat sê  Paulus:

…en dan sal die wettelose self op die toneel verskyn. Maar wanneer die Here Jesus kom, sal Hy hom met die asem uit sy mond verdelg en deur die glans van sy verskyning vernietig. (2 Tessalonisense 2:8)

Die klein weermag wat daar voor hom gestaan het, kon met die asemteug van God verdelg word, maar die Plan moes in werking gestel word.  Jesus het hulle seker kans gegee om op te staan.

Elke Jood wat daar gestaan het, het die onuitspreeklike God-naam gehoor: YWHW = EK IS.

Hulle kom om hom met geweld in hegtenis te neem, maar die majesteit van sy teenwoordigheid oorweldig hulle en verlam al hulle bedoelinge.  Hulle is hulpeloos voor hom.  Hy gee homself oor in hulle hande volgens sy eie voorneme om die wil van sy Vader te doen.  Sy uur het gekom (Johannes17:1).  Hy gee sy lewe – niemand neem sy lewe nie.

Daarna sê Moses vir God: “Sê nou maar ek kom by die Israeliete en ek sê vir hulle: ‘Die God van julle voorvaders het my na julle toe gestuur,’ en hulle vra vir my: ‘Wat is sy Naam?’ wat moet ek dan vir hulle sê?”

14Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”  (Exodus 3:13,14)

Toe Jesus antwoord op sy naam met die woorde EK IS, het hulle God self hoor praat en kon hulle nie staande bly nie.  Voor die krag van die Naam wat die wêreld in sy bestaan ingespreek het, kan geen mens staande bly nie.

Dit is die Naam wat Jesus ons gegee het.  Bid in sy Naam en verander die wêreld.  

In daardie oomblik het Jesus hom oorgegee aan die wreedste marteling en dood wat die antieke wêreld kon opdink.  Hy het die satan, God se teenstander, uitgelok om die ergste geweldadigheid op hom uit te stort, sodat Jesus die geweld van die hel self  in homself kon absorbeer.  Deur dit te doen, het  Hy vir ons ‘n ander manier gegee – liefde.  

As die satan dit aan ‘n onskuldige mens kon doen, hoeveel te meer sal ons feilbare mense, vol sonde en ongeregtigheid, aan hom uitgelewer wees.   

Hy het elke mag en gesag ontwapen en hulle in die openbaar vertoon deur hulle as gevangenes in die triomftog van Christus mee te voer. (Kolossense 2:15)

God se manier is nie bloedvergieting  nie.  God is liefde.  Elke leier, koning, regering, pastoor, priester en pous wat die swaard opgetel het, selfs om die Evangelie te “beskerm” sal eendag voor God rekenskap gee.  

Liefde is die grootste en sterkste krag in die heelal. 

Na die wonder, toe die soldate opstaan, het hulle nadergekom om Jesus gevange te neem. Petrus het ‘n swaard uitgepluk en die hoë priester se slaaf, Malgus, se oor afgekap.  As die kerk geweld gebruik, word die mense se ore afgesny.  Slegs ‘n aanraking van Jesus self sal hulle ore genees.  Daar in die chaos van die oomblik, genees Jesus Malgus se oor.

Maar daar is nog ‘n belangrike gedagte in die drama van die tuin.  

Jesus het gebid.  Niks het gebeur voordat Hy klaar gebid het nie.  Hy het bloed gesweet en die besoek van die hemelse wese uit die realm wat Hy verlaat het om vir ons te kom sterf, ontvang – tot sy versterking.  

Die volle impak van die helse ure wat voorgelê het, is reeds oorwin in sy  gebed in die tuin daai nag.  

Sewe maal in die Evangelie van Johannes sê Jesus EK IS:

…die brood van die lewe (Johannes 6:22-59)
…die lig van die wêreld (Johannes 8:12-43)
…die deur en die goeie herder (Johannes 10:1-21)
…die opstanding en die lewe (Johannes 11:1-44)
…die weg, die waarheid en die lewe (Johannes 14:1-31)
…die ware wynstok (Johannes 15:1-27)

Die stryd word gewen in gebed in die Naam van hom voor wie niemand kan bly staan nie.


Lewer kommentaar