244. Oogskande – nuwe insig

Vensters van jou siel, insig in gedagtes, uitsig oor omstandighede, visie wat diep en ver kan strek, ‘n kyk wat kan red, verwyt en vergewe sowel as ‘n vuil kyk van woede is maar net ‘n paar dinge wat met oë vereenselwig word.  Oë is die orgaan wat sig moontlik maak; die liggaamsdeel wat alles om ons prosesseer en interpreteer.   Dit is sekerlik die belangrikste sensoriese orgaan wat daar is. 

In sy boek Blink, maak skrywer Malcolm Gladwell die punt dat ‘n mens in sy onderbewussyn in ‘n oogwink-oomblik ‘n besluit neem en tot sekere gevolgtrekkings kom wat verreikende gevolge kan hê.  Met een oogopslag kan mens visuele detail prosesseer wat aksie en woorde uitlok.

Oë is gewoonlik die eerste opvallende kenmerk van ‘n persoon wie mens die eerste maal ontmoet.  Dit bepaal die uitdrukking op ‘n gesig.  Oë kan ‘n aanduiding gee van intelligensie, waaksaamheid, morele oortuiging en waarheid.  In die Weste is ‘n seker en onbeskaamde blik in iemand anders se oë ‘n teken van eerlikheid.

In die Bybel is ‘n verwysing na die oog gewoonlik simbolies vir insig, begrip en in die geval van God self – alwetendheid, alomteenwoordigheid en volkome begrip en wysheid.  In die visie van Daniël (10:5,6) beskryf hy die man met wit klere en vuurvlamme vir oë.  Vuur is altyd die simbool van  die Heilige Gees.  Ons ken die storie van die tonge van vuur op Pinksterdag, die geboortedag van die Kerk van Jesus.  

In  Openbaring beskryf Johannes die vier lewende wesens rondom die troon van God wat bedek is met oë, van voor en agter.  Die lewende wesens wat lyk soos ‘n leeu, mens, os en arend dui op Jesus soos Hy beskryf word in die vier Evangelies – die leeu uit Juda stam, die mens in Markus as die hoogste geskape wese, die os in Lukas  as die offerdier vir sonde en die arend in Johannes – die besondere kenmerke van die arend wat ego in Exodus 19 en Jesaja 40.  Julle het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het, en hoe Ek julle soos op arendsvlerke veilig gedra en na My toe gebring het.  (Eksodus 19:4)

Stel jou voor hoe al hierdie lewende wesens vol oë lyk.  Johannes beskryf die onbeskryflike God in sy woonplek met die simboliese, allegoriese en metaforiese instrumente van taal – ons eie gewone woorde.  Hy beskryf God as alwetend met volmaakte insig in alle dinge.  Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. en aan Hom moet ons rekenskap gee. (Hebreërs 4:13)

In die elfde hoofstuk van die eerste boek van Samuel, lees ons ‘n storie wat nie so algemeen bekend is nie.  Saul is pas as koning gekroon maar het nog nie sy koningskap gevestig nie.  Die konsep van ‘n monargie is op daardie stadium vir die Israeliete vreemd al het hulle daarvoor gevra.  Samuel het Saul gesalf in opdrag van die Here.  Die tydperk van die rigters het die monargie in Israel voorafgegaan.

Die Ammoniete trek op teen die vestingstad Jabes in Gilead.  Die Ammoniete is geswore vyande van  Israel.  Soos die Moabiete is hulle afstammelinge van Lot, gebore uit die bloedskande van Lot se dogters.  Die Ammoniete het gemeen dat hulle land deur die Israeliete ingeneem is en het die Israeliete met eindelose aanvalle gepla.  Die rigter, Jefta, het hulle ‘n groot nederlaag toegedien. In hierdie tyd sien die Ammoniete dat Samuel oud word en Saul nog nie as koning gevestig is nie.  Die koning van die Ammon neem sy kans waar en beleër Jabes in Gilead.

Die Israeliete het nie moed om te veg nie, en kyk of ‘n onderhandeling met die vyand kan werk.  Geen probleem nie, meen die oorlogsugtige Nagas, op hierdie voorwaarde sal ek dit doen: ek steek elkeen van julle se regteroog uit tot skande van die hele Israel.

Dit is duidelik hy wou wraak neem vir die nederlaag teen Jefta.

Gelukkig, het die leiers van Jabes genoeg moed om sewe dae uitstel te vra, voordat hulle die volk aan die vernedering onderwerp.  Hulle stuur boodskappers oor die hele land uit om hulp te vra.  

Lees saam:

Die boodskappers het by Saul se stad Gibea gekom en ten aanhore van die volk die hele saak uiteengesit. En die hele volk het hard gehuil.

Toe kom Saul net agter die osse van die land af en hy vra: “Wat makeer die volk dat hulle so huil?”

Hulle het hom vertel wat die manne van Jabes gesê het.

Hier gebeur ‘n interessante ding.  Die hele volk hoor en weet van die dreigende tragedie en almal huil, maar in Saul gebeur ‘n wonderwerk.

Saul moet sy koningskap vestig.  Hy is nog besig om te boer (hy kom agter die osse uit).  Die beleg van die vyand skep vir hom ‘n moontlikheid.  Die groot tragedie word sy deur van geleentheid.

Die Gees van God het kragtig in Saul gewerk toe hy dit hoor, en hy het woedend geword. Toe vat hy twee osse en kap hulle in stukke en stuur dit deur die hele gebied van Israel met boodskappers wat sê: “Hy wat nie agter Saul en Samuel optrek nie – so sal met sy beeste gemaak word.”

Ek dink nie mens lees dikwels van ‘n woede-wonderwerk nie.  Ons het al gekyk na Aristoteles se verduideliking van die eerbare eienskap: sagmoedigheid.  Hy het gesê om ‘n sagmoedige mens te wees is om die perfekte balans van woede te vind – tussen nooit kwaad word nie en altyd  kwaad word is die regte plek om presies te weet wanneer, hoe en hoekom om kwaad te word. 

Die Heilige Gees werk in Saul om in woede teen die onreg op te tree.  Hy spreek die aarselende besluiteloosheid wat die bedreiging oor die volk bring op ‘n baie konkrete, praktiese manier aan en ruk hulle uit die verlamming van vrees.  Die werking van die Heilige Gees is die krag om die ampte van koning en profeet te kombineer sodat die gevolg ‘n geweldige oorwinning meebring.  Saul en Samuel trek op teen die vyand.

‘n Geweldige skrik het die volk oorval en hulle het soos een man opgetrek. (1 Samuel 11:7)

Skielik in die krag wat uit ferm leierskap vloei, kom meer as driehonderd duisend man uit Israel en Juda bymekaar en verslaan en verjaag die Ammoniete sodat hulle mag heeltemal verbreek is.

Vir wie en wat is jy bang?  Vir die vyand wat jou oog gaan uitsteek of ervaar jy gesonde vrees vir die koning en profeet wat voorgaan en die geveg lei?  Die volk het gekies.  

Ek dink daar is gevare in vandag se lewe wat dreig om jou regteroog uit te steek, sodat jy nie meer in balans en volkome insig na die wêreld om jou  kan kyk nie.  Die vyand kom met ‘n groot weermag wat die stad beleër.  Die aanslag is kompleks en op ‘n wye front.   

Mens kan dit die imperialisme en kolonialisme van idees noem.  Dit annekseer die sosiale strukture en oorheers die openbare debat.  Die diktatorskap van aktivisme (links en regs – beide onaanvaarbaar) is ongeduldig en onverdraagsaam.  Alles wat goed en mooi is, word aangeval en verwring tot politieke doring-balle wat almal wat dit moet hanteer beseer en besoedel.

Weer moet ons ons oog bewaar.  

…en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.  (Hebreërs 12:1,2)

Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!”  (Matteus 6:22,23)

Ek moet sê die openbare debat deesdae laat my ook hard huil!  Ek kan eenvoudig nie ‘n gesonde, gebalanseerde lewe leef as ek elke dag dink wat my opinie oor die vraagstukke van die dag sou wees, en veral nie in die lig van skaamtelose opsweping in die media nie.  ‘n Mens kan jou nie  ophou met dinge waarvan die feite verlore gaan in die aktivisme van hedendaagse “straat-politiek”. 

Veg vir jou oog.  Neem die uitnodiging aan om deur die geopende deur van Openbaring 4:1 te stap sodat God jou kan wys wat gebeur en jy ‘n hemelse perspektief op alles om jou kan vorm.  Ons is nie die weeskinders van die wêreld nie en moet ook nie met so ‘n houding leef nie.  Ons ken die Waarheid.  Ons het ‘n hemelse, almagtige Vader wat ons bedek met sy vleuels van beskerming en voorsiening.

Lig op jou oog.  Kyk na Jesus – Hy is die Alpha: die begin en die bron en die Omega: die einde en die doel.  Ons word van alle kante ingesluit en ons uitkoms lê nie in aardse regerings nie.

Kyk reg sodat jou lig, jou spesiale, gesalfde insig die duisternis om jou kan verander.  Jy sal presies weet wat om te doen en te sê sodat die debat op ‘n ander vlak gevoer kan  word.  Wysheid is die belofte en die gawe.

Die  straat-politiek en dit wat jy moet hanteer is jou geleentheid om jou koningskap te vestig.  Dit is met insig in die dieper kwessie wat ‘n probleem  ‘n geleentheid maak, die struikelblok in ‘n vastrapplek verander en jou onvermoë die poort van God se voorsiening word.  Ons heil lê nie in  aards regerings nie.  Die politieke strukture is die klein stoffies op die skaal (Jesaja 40:15).

Toe sê Samuel vir die manskappe: “Kom ons gaan na Gilgal toe en bevestig daar opnuut die koningskap.”

Al die manskappe is toe na Gilgal toe, en daar in Gilgal het hulle voor die Here aangekondig dat Saul koning is. Hulle het daar maaltydoffers voor die Here gebring, en Saul en al die manskappe van Israel was baie bly.


Lewer kommentaar