243. Voete van klei

Dis daar – reg aan die einde van die laaste hoofstuk van die laaste boek van die Bybel.  ‘n Ernstige waarskuwing om ons hart van die misrabele teleurstelling in mense te bewaar.  Dit is amper weggesteek daar in die laaste verse van Openbaring, maar as ons hoor en dit verhef tot ‘n lewensvaardigheid, sal dit ons baie hartseer spaar in die stormsee van internet bediening.

Dit is ek, Johannes, wat dit alles gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek voor die voete van die engel wat dit alles vir my gewys het, op my knieë neergeval om hom te aanbid.

“Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ‘n mededienaar van jou en van jou medegelowiges, die profete en dié wat die woorde van hierdie boek ter harte neem. Aanbid God!” (Openbaring 22:8,9)

Sy  woorde is ‘n herhaling van Openbaring 19:10.

Ek was oorweldig met die besef van Johannes se nederigheid waarmee hy sy teregwysing van die engel vir ons opgeteken het.

Ons kan so oorweldig deur die boodskapper wees dat ons bewondering van Jesus vervaag.  Dit sal altyd moeilikheid voorspel.  God is jaloers en ons rus in sy jaloesie.  Dit is uitgekap in klip van die heel begin af. (Exodus 20:5)

Hy deel nie sy glorie nie.  Die boodskapper is ‘n mede-dienaar saam met ons in die Koninkryk.  Onthou die woorde van die lied: You have no rival, You have no equal… Yours is the Name above all names. (Beautiful Name van Hillsong)  Hulle sing maar net wat Jesaja gesing het, eeue gelede.

Ek doen dit sodat elkeen van die ooste af tot in die weste kan weet dat daar buiten My geen God is nie;

Ek is die Here, daar is geen ander nie.  (Jesaja 45:6)

Die boodskapper is die mede-dienaar.  Ons respekteer hulle en is dankbaar vir die toewyding en verantwoordelikheid wat elke opregte pastoor en profeet in die Kerk vandag neem om die blye Boodskap te verkondig.

Die Christen-wêreld is nou en dan geskok met prominente leiers wat faal en val, wanneer sonde ontbloot word en harte teleurgesteld en verwond word.  Ons moet die mense van die platform van ons harte se bewondering afhaal en Jesus op sy ereplek in ons aanbidding herstel.  Ons volg Jesus en Jesus gekruisig.

As een van julle sê: “Ek is vir Paulus,” en ‘n ander: “Ek is vir Apollos,” is julle dan nie nog wêrelds nie?

5Wat is Apollos dan? Wat is Paulus? Hulle is maar net dienaars deur wie julle tot geloof gekom het, en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het. 6

Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. 7Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.  

Ons is medewerkers in diens van God, en julle is die saailand van God.

Julle is ook die gebou van God. 10Volgens die genade wat God my gegee het, het ek soos ‘n goeie bouer die fondament gelê, en ‘n ander bou daarop. Maar hy moet mooi kyk hoe hy verder bou11want niemand kan ‘n ander fondament lê as wat reeds gelê is nie. Die fondament is Jesus Christus. (1 Korintiërs 3:4-7, 9-11))

Het jy gehoor?  Dit kan nie te lank terug wees toe die mees onlangse video oor een of ander voorspelling, samesweringsteorie, die wederkoms of wegraping, of ander toekomstige gebeure geplaas is nie.  Mens kan dit beswaarlik vermy wanneer vriende dit aanstuur en die skakel daar in jou hand beland met die byskrif: many times forwarded.  Dit kan dalk ‘n doemprofesie wees wat die groot verdrukking uitspel en sonder om dit te sien of hoor, kan jy jou die gepaste gerekte oë en getuite lippe met ‘n spokerige hooo-klank goed voorstel.  Laaskeer toe ons gesels het, het ons besluit om dapper die knoppie te druk, die uitvee-funksie te bemeester en met ‘n tikkie gesonde hoogmoed te besluit dat ek my siel nie so sal versondig nie.  

Kom ons gesels oor gebalanseerde keuses met betrekking tot nuusbronne en geestelike voeding met knoppies en skerms.  Die navigasie van die storm-oseaan op die internet is beslis ‘n moderne lewensvaardigheid en ‘n unieke geleentheid om daagliks, selfs uurliks op die Heilige Gees te steun vir leiding en onderskeiding.   

God belowe wysheid, sonder verwyt, op elke moontlike geleentheid wat jy dit nodig het – dus, gaan voort – vra.

Kom ons vra die Here watter stemme ons in die dieptes van ons siel toelaat om te beïnvloed en op te bou.  Die Here sal jou lei sodat jy sonder ontsteltenis en vrees, ingelig bly en terselfdertyd ‘n robuuste, kragtige stryder in die Koninkryk kan wees.

Kyk saam met my na die amp van ‘n profeet.  Ek neem vrymoedigheid om die stelling te maak dat profesie een van die mees misbruikte gawes van die Heilige Gees is.  In dieselfde asem wil ek elkeen aanmoedig om nie daarvan weg te skram, net omdat dit soms so skeef aangewend kan word nie.  Dit is ‘n wonderbare en opbouende gawe tot die beskikking van die Kerk van Jesus.  Leer en luister – beoefen wysheid, sodat jy nie die seën misloop wat God vir ons in hierdie ontstuimige dae het nie.

In die definisie van die profeet [propheteia in Grieks] word verklaar dat ‘n boodskap van God uitgespreek word.  Die primêre funksie van ‘n profeet is nie die voorspelling van toekomstige gebeure nie, maar ‘n interpretering en uitleg van God se wil en plan.

‘n Profeet [Hebreeus = nabi’ en nebiyah = vroulik] is ‘n persoon wat op  ‘n besondere wyse die wil en raad van God soek en dit dan aan die mense oordra.  So ‘n profetiese woord moet altyd in lyn met die Skrif wees.

Vroue word ‘n hele paar keer in hierdie verband aangehaal:  Miriam, Deborah, Huldah, Noadiah (valse profetes) en Jesaja se vrou (‘n profetes in eie reg).  

Die profetiese bediening word genoem as deel van die vyfvoudige bediening in Efesiërs 4:11 vir die ontwikkeling en verryking van die Kerk van Jesus.

Ons kan nie bekostig dat so ‘n magtige instrument eenkant geskuif word as gevolg van die ongehoorsaamheid van ‘n paar nie.

En dit het vir ons die boodskap van die profete nog meer bevestig. Hierdie boodskap is soos ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn. Julle sal goed doen as julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte.

Dít veral moet julle weet: geen profesie in die Skrif kan op grond van eie insig reg uitgelê word nie, want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.  (2 Petrus 1:19-21)

Paulus is baie spesifiek in sy leer oor die gawes van die Heilige Gees.

Aan elkeen afsonderlik word ‘n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal.

Maar al hierdie dinge is die werk van een en dieselfde Gees, wat aan elkeen afsonderlik ‘n gawe uitdeel soos Hy wil.

Julle is die liggaam van Christus, en afsonderlik is elkeen ‘n lid daarvan. En in die kerk is daar mense aan wie God ‘n bepaalde taak gegee het. Ten eerste is daar apostels, ten tweede profete, ten derde leraars; verder is daar dié wat wonderdade kan doen, dan dié wat genadegawes ontvang het om mense gesond te maak, om hulp te verleen, om leiding te gee of om ongewone tale of klanke te gebruik. (1 Korintiërs 12:7,11,27-28)

In die Christelike wêreldbeskouing is vryheid belangrik.  Vryheid is lewe en waar ‘n kerk lewendig en aktief is, is daar risiko.  Mense is maar gevaarlike wesens – agterbaks, vol trots en eiewaan.  Boosheid sluip in om te manipuleer, te verwond en  te verwar.  Die Kerk is nou maar eenmaal vol eiesoortige karakters, tipes en persoonlikhede. 

Maar – ons kan eerder die risiko van vryheid verdra as die orde van die dood.  ‘n Begraafplaas is ordelik en tjoepstil …en morsdood.  Vryheid om te kies is fundamenteel in die Christelike geloof en die rede vir soveel misdaad en mis-interpretasies in die kerkgeskiedenis.

God is groot, genadig en magtig.  Hy slaan met ‘n krom stok ‘n reguit hou.  Ons hoef nie foutloos te leef om in die profetiese gawe te bedien nie.  Ons moet die reg beoefen, liefde bewys en nederig voor God wandel (Miga 6:8). 

Die opdragte oor profete is duidelik.

“Wanneer ‘n profeet of iemand wat drome uitlê by jou kom en vir jou vertel van ‘n teken of ‘n wonder, en die teken kom uit of die wonder vind plaas soos hy gesê het, en hy dan op grond daarvan vir jou sê: ‘Kom ons gaan dien ander gode al het jy hulle nie vroeër geken nie, al het ons hulle nie vroeër gedien nie,’ moet jy nie na hom luister nie. 

Die Here jou God stel jou net op die proef om vas te stel of jy Hom liefhet met hart en siel. Jy moet getrou bly aan die Here jou God en Hom eer, jy moet sy gebooie gehoorsaam en na sy bevele luister, jy moet Hom dien en aanhang. 

Daardie profeet of droomuitlêer moet doodgemaak word, want hy het jou aangehits om in opstand te kom teen die Here jou God wat jou uit Egipte laat trek het en jou bevry het uit die plek van slawerny. Daardie man wil jou laat optree in stryd met die wil van die Here jou God wat Hy aan jou geopenbaar het. Jy moet hierdie soort kwaad tussen julle uitroei.(Deuternonomium 13:1-5)

God toets ons, nie vir sy kennis nie – Hy weet alles.  So ‘n toets wys vir ons self wat in ons eie hart aangaan.

Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?  (Jeremia 17:9)

Silwer word in ‘n smeltkroes gelouter en goud in ‘n oond, maar dit is die Here wat die gesindheid toets.  (Spreuke 17:3)

Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink. (Spreuke 27:19)

Klink dit drasties dat so ‘n profeet doodgemaak moet word?  Ek hoop so.  Dit dui op die erns van God se argwaan oor vals profesie in die  lig van wat Hy so vrylik vir ons beskikbaar maak.  Dit is sy Naam en reputasie wat ter sprake is.  Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam, (spore van geregtigheid om sy Naam ontwil, OAB) – onthou Psalm 23.

Ou Testamentiese profete het die ballingskap en vyandige aanvalle voorspel – God se plan en wil.  Dikwels is oorlog as die straf op sonde gereken.  Dit is wanneer sonde jou onder die beskermende bedekking van die bloed van Jesus uitlok, dat jy oop en bloot voor die wreedheid van satan uitgelewer staan.  So ‘n doemprofesie het altyd met die uitnodiging tot sonde-belydenis gepaard gegaan.  Die straf is altyd so lank as moontlik uitgestel.  Kyk maar weer na Metusalem, die mens wat die oudste geword het wat ooit op die aarde geleef het.  Sy lewe was gekoppel aan die Vloed waarin Noag gered is.  Toe Metusalem sterf toe kom die oordeel. (Judas 14,15)

Onthou altyd dat straf en oordeel kom om die weg te baan vir belydenis en herstel.

Ons moet die stemme rondom ons beoordeel.  Ons beoefen die godsaligheid wanneer ons die ware profeet kan onderskei.  Ons het wysheid nodig om die valse profeet te herken.

Hulle besoedel julle liefdesmaaltye met hulle skaamtelose uitspattighede en sorg net vir hulleself. Hulle is wolke wat geen reën bring nie en deur die wind verby gewaai word. Hulle is bome wat selfs laat in die seisoen nog geen vrugte het nie, wat ontwortel en morsdood is. 13Hulle is woeste golwe van die see; hulle laat hulle skande soos skuim opspat. Hulle is sterre wat uit hulle baan geslinger is. God hou vir hulle plek gereed in die duister dieptes, waar hulle ewig sal bly. (Judas 12,13)

In Openbaring 19 waar Johannes die waarskuwing om nie die boodskapper te  aanbid nie die eerste keer opteken, voeg hy die uiters belangrike voorskrif daarby – die inhoud van profesie.

Toe het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid.

“Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ‘n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het.” (Openbaring 19:10)

Ons word geroep om ons ore in te stel vir die waarheid, die man, Jesus wat gesê het: Ek is die Waarheid…  Die inhoud van profesie is Jesus en Jesus alleen.

 Die geraas om ons is nie tot ons voordeel nie.  Dit is ‘n bose lawaai wat jou swak maak.

Die visioene van jou profete was vals en misleidend: hulle het nie jou sondes blootgelê sodat jou ballingskap afgeweer kon word nie; die openbaringe wat hulle vir jou gegee het, was vals en het tot jou verwerping gelei.  (Klaagliedere 2:14)

These things add up. Every one of us needs to pray;
    when all hell breaks loose and the dam bursts
    we’ll be on high ground, untouched.

 God’s my island hideaway,
    keeps danger far from the shore,
    throws garlands of hosannas around my neck.

 Let me give you some good advice;
    I’m looking you in the eye
    and giving it to you straight:

God-defiers are always in trouble;
    God-affirmers find themselves loved
    every time they turn around.

 Celebrate God.
    Sing together—everyone!
    All you honest hearts, raise the roof!  
(Psalms 32, The Message)


Lewer kommentaar