223. Geroep vir die gaping

Mure en poorte speel ‘n spesiale rol in die geskiedenis veral in antieke tye.  Toe die nomades van die vroeë tye iewers wou vestig het hulle huise begin bou, modderhutte aanvanklik en later meer permanente nedersettings.  Verdediging was een van die vroegste vraagstukke.  Mense het nader aan mekaar gewoon, lewensbronne gedeel en saam hulle blyplek met ‘n muur omring.  Mure het torings gehad vir die wagte en poorte om toegang te beheer.  Die simboliek van die wagters in die torings en ‘n stadsmuur is simbolies vir die veiligheid van ‘n stad in die Bybel. Verskeie antieke stede het baie indrukwekkende mure gehad.

‘n Beskadigde muur was die begin van die einde in ‘n geveg vir die verowering van ‘n stad. Dikwels is ‘n stormram gebruik om ‘n gat in die muur te breek of die houtpoort stukkend te kap.  As dit sou gebeur het die dapperste soldate in die gaping gaan staan om die vyand terug te hou.

In Esegiël verwyt God die onverdedigde gaping in die muur.

You have not gone up into the gaps to build a wall for the house of Israel to stand in battle on the day of the Lord. (Ezekiel 13:5, NKJV)

God praat met Esegiël oor die valse en onwyse profete wat uit hulle eie oortuigings profeteer.  Hulle is soos jakkalse tussen die puinhope. Hulle verkondig leuens as waarsêery. Hulle behoort die geestelike verdediging van die mense te versterk, maar in plaas daarvan om in die bres te tree vir die volk, gee hulle plek vir die vyand om die volk aan te val.  Dis nie net die gaping in die muur wat ‘n probleem is nie, dis die pleister aan die muur wat so swak is dat die muur geen beskerming sal bied nie.  Die swakhede word met wit verf toegesmeer – simbolies van bedrog en ongegronde prediking.

Jy moet sê: So sê die Here my God: Ellende wag vir dié wat toorbande om hulle gewrigte vaswerk en sluiers van allerlei lengtes aansit om mense in hulle mag te kry. Kan julle my volk in julle mag kry en julle eie lewens behou?  (Esegië 13:18).

Die waarskuwing teen bedrieglike prediking is in vers 11:

“Sê vir dié wat die muur afgewit het wat gaan val: Daar kom stortreëns, Ek laat haelstene val, stormwinde sal losbreek.

Stortreëns, hael en vloede is simbolies vir moeilike tye en geestelike toetse.

God se beskerming teen die vloedgolwe van moeilikheid word oral bevestig.

Dit is waarom elke gelowige in ‘n tyd van nood tot U bid; selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie. (Psalms 32:6)

Van oos tot wes sal die Naam en die mag van die Here geëer word. Wanneer die teëstander aanstorm soos ‘n rivier, jaag die Gees van die Here hom op loop.  (Jesaja 59:19)

Die Engelse bewoording van die tweede deel van hierdie vers is dalk meer bekend:

When the enemy comes in like a flood, the Spirit of the Lord will lift up a standard against him.

In die stad van ons lewe moet ons muur sterk staan teen die vloed van stryd en die stormram van die vyand.  Ons muur is geestelik.  Ons het Jesus en sy Naam wat Hy aan ons gegee het.

Die Naam van die Here is ‘n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling.  (Spreuke 18:10)

Dit is duidelik dat ons ‘n muur nodig het.  Ons muur is die vuur van God self wat Hy belowe.  Sy teenwoordigheid en glorie sal ons beskerming wees.  Jerusalem is die simbool van die kerk van Jesus.

Hy het vir dié engel gesê: “Hardloop en sê vir daardie jongman: Jerusalem gaan ‘n stad sonder mure word, so baie mense en diere gaan daar in hom wees.

Die Here sê: Ek sal ‘n muur van vuur rondom die stad wees, my magtige teenwoordigheid sal binne-in hom wees.” (Sagaria 2:4,5)

Toe Jerusalem sonder ‘n muur van beskerming was, het God belowe om self die muur van vuur om die stad te wees sodat die mense en hulle diere veilig kan wees.  Wat ‘n wonderbare belofte – juig daarin!

As ons die teenwoordigheid van die Here soek, sal ons altyd beskerm wees.  Dit is ons muur sonder gapings.

Maar God soek nog steeds iemand om in die gaping te staan namens die volk, die hele land, want die volk se muur is nie altyd heel en sterk nie.  Ons kan instaan vir die ongelowige.  Ons kan bid namens ons land.  Ons kan namens ons land sonde bely.   Ons kan bid vir wysheid.  God sal die stad spaar as gevolg van die gebede van die gelowiges.  Hy sou Sodom gespaar het…

Ek het iemand tussen hulle gesoek wat ‘n muur sou bou en vir die stad in die bres sou tree dat dit nie vernietig word nie, maar Ek het niemand gekry nie.  (Esegiël 22:30)

Ons hoor die roeping vir die gaping.  Dit is die roeping vir voorbidding om die kerk te beskerm en die gaping in die muur vol te staan.

Dit is duidelik in hierdie tyd van beproewing, terwyl die hele wêreld tot stilstand gedwing is en soveel vrees en onsekerheid heers.  God roep sy kerk op tot voorbidding om die geestelike oorlog te wen.  Trek die wapenrusting aan.  Gebed is die oorlogsveld en voorbidding die dapper stand in die gaping.

Ons soek die aangesig van God sodat die atmosfeer kan skuif van nederlaag na oorwinning en die muur van vuur om Jerusalem “gebou” word.

Ons is opgeroep om te bid.  Ons verklaar redding oor die nasies.

 

 

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s