Ek vra maar net. Kyk of jy ‘n beeld in jou kop kan maak van ‘n skaap wat vlieg. Dit moenie ‘n tekenprent wees nie. Dis ernstig – ‘n blinkvet skaap wat baie rustig en heel tuis van bo af kyk met reuse vlerke wat die windstrome met gemak navigeer.
Een van die uitdagings van hierdie geskiedenis-in-wording-tydperk wat ons nou beleef, is onsekerheid. Ons kan nie voorspel wanneer dinge weer na normaal sal terugkeer nie. Sommige aspekte van ons lewe mag vir altyd verander. Indien wel, wat sal die nuwe normaal wees en sal ek daarvan hou? Ons het alreeds gesê dat iets so drasties soos hierdie wêreldwye geveg teen ‘n onsigbare vyand wat siek en doodmaak net een maal in ‘n paar geslagte gebeur.
‘n Mens is meer as ooit aan die genade van die regering waaronder jy jouself bevind oorgelaat. Die besluite wat hulle maak het ‘n impak op jou daaglikse lewe en beperk jou persoonlike vryheid. Dit is soms skrikwekkend hoeveel mag ‘n regering en die plaaslike owerhede kan uitoefen. Dit openbaar die wese van ‘n gesindheid teenoor die burgers, veral wanneer die waarskuwende “vinger” van outoriteit hier reg in jou gesig waai.
Dit is presies die regte oomblik om ons gedagtes op die ware regeerder van ons lewe te rig. Na alles is hierdie net ‘n oomblik in tyd vir God wat buite tyd staan waarvan ons aardbewoners die gevangenes is. Luister hoe Jesaja die majesteit van God besing.
Wie het die waters in die holte van sy hand afgemeet, met die breedte van sy hand die maat van die hemel bepaal, met ‘n maatemmer die grond van die aarde afgemeet, met ‘n skaal die berge en die heuwels geweeg?
Die nasies is vir Hom soos ‘n druppel aan ‘n emmer, soos ‘n stoffie op ‘n skaal. As Hy die eilande op ‘n skaal sit, is hulle soos stofdeeltjies. (Jesaja 40:12,15)
Ek hou daarvan om my gedagtes op hierdie woorde te fokus sodat ek, net soos hierdie eeu-oue mentor van my, Jesja, kan “sien”. Dink net – die geweldige aantal nasies en volke van hierdie wêreld is soos die stof op die skaal vir onse God.
Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend. (Psalms 19:1)
Die Bybel gebruik dikwels beelde om konsepte en visioene te beskryf. Visioene is gedagte-beelde en drome is beelde uit die onderbewussyn. Die vroeë kerk het stories op die mure geverf en prente in die vensters ingewerk sodat die ongeletterde arbeiders van die dag die Bybel kon verstaan. Vandag kan meeste mense lees – het ons dan nog prente nodig? Miskien is dit ‘n uitdaging om in prente te dink en beelde te vorm van die woorde wat mens lees of hoor.
Dink vir ‘n oomblik na aan die beelde wat Daniël gesien en beskryf het. Die Bybel gebruik dikwels diere om konsepte te kommunikeer. Daniël het vier woeste en wilde half-bekende diere met byvoegsels in sy profetiese visioen gesien wat die magtige en wrede ryke van die geskiedenis voor die koms van Jesus uitgebeeld het.
- Die eerste was ‘n leeu met arendsvlerke
- Die tweede ‘n beer met drie ribbes in sy bek
- Die derde ‘n luiperd met vier vlerke en vier koppe
- Die vierde ‘n wrede, onbeskryflike, verskriklike sterk gedierte
Dit was die vreesaanjaende beelde van bekende diere met byvoegsels waarvan ons min of meer ‘n prentjie in ons verbeelding kan opdink.
Die kerk van Jesus – nie georganiseerde godsdiens nie – die onsigbare liggaam van gelowiges wat die aangesig van God met hulle hele hart soek, smag na openbaringskennis. Ons wil nie sien soos al die ander mense om ons nie. Ons gehoorsaam die streng waarskuwing van Jesaja 8:12 – om nie te vrees wat hierdie mense om ons vrees nie en nie ‘n sameswering te noem wat hulle ‘n sameswering noem nie.
Staan op, kerk van God, en luister na die Woord van God. Maak gereed vir openbaring. Kom ons lees uit die boek met die naam wat deur die eeue weergalm.
Nadat God met Johannes oor die kerke praat in Openbaring 2 en 3, is dit seker ‘n moeilike profesie vir Johannes om in te neem. Maar hy gaan voort en skryf:
Hierna het ek, Johannes, in die hemel ‘n deur gesien wat oopgemaak is, en die stem, soos die geluid van ‘n trompet, wat ek die eerste keer met my hoor praat het, het gesê: “Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys wat hierna moet gebeur.” (Openbaring 4:1)
Met hierdie woorde gaan Johannes die troonkamer van God binne. Dit is die prag-wêreld van die onsigbare.
Hier sien Johannes vier lewende wesens – drie diere en een man. Ons weet dit is die karakter van Jesus wat uitgebeeld word soos dit in die vier Evangelies beklemtoon word.
Matteus het vir die Jode geskryf en Jesus as die Leeu van Juda beskryf. Markus het die menslikheid van Jesus beklemtoon. Lukas het Jesus as die offerdier, die bul voorgehou. Johannes het sy evangelie geskryf nadat hy die Openbaring gehad het. Hy het gesien soos die arend en Jesus se lewe geïnterpreteer met die insig van openbaringskennis.
Hierdie dier-beelde moes die veelvoudige en onbeskryflike grootheid van God weergee sodat ons iets kan verstaan van God wat mens geword het vir ons. Jesus is God wat tussen ons gewoon het.
Wat van ons? Is daar ‘n beeld vir ons? Die Bybel beskryf ons as God se skape. Een van die EK IS-stellings van Jesus wat Johannes in sy evangelie noem is: Ek is die goeie Herder.
Lank gelede op ons plaas het ons skape gehad. Skape het baie sorg nodig. Hulle moet een vir een ondersoek word. Ons het teen ‘n hele paar siektes geveg. En van hulle was Vrotpootjie. Dit was ‘n pynlike en aansteeklike siekte wat in elke individuele skaap behandel moes word. Die skaap se vier bene is onder hom uitgetrek en terwyl hy op sy rug lê, is sy voete skoongemaak, behandel en verbind.
Ons loop op die verrotte, bose grond van hierdie gebroke aarde. Nou en dan, soos nou, word ons voete onder ons uitgepluk. Ons het geen keuse in die saak nie. Ons word noukeurig inspekteer en behandel vir siektes…en ek wil byvoeg, met vlerke toegerus.
Terwyl ons op ons rug lê, voel dit asof alles wat ons as vanselfsprekend aanvaar het, weg is. Ons moet opkyk, in die oë van God wat ons versorg. Hy voeg iets by – die vlerke van ‘n arend. Kolossaal en sterk wat maak dat ‘n skaap kan vlieg. Dit is wat van ons verwag word. Juis wanneer ons moeg en belas is, moet ons vlieg.
Kom ons lees die poësie van Jesaja 40. Lees asseblief sommer die hele hoofstuk. Hier volg die eerste en die laaste vers van die hoofstuk.
Die uitkoms is hier! Die uitkoms is hier! Dit, sê julle God, moet julle vir my volk sê. (40:1)
…maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. (40:31)
Ons word opgeroep! Sien die oop deur in die hemel in. Dit lei na die teenwoordigheid van die Almagtige God. Laat Hy aan jou ‘n nuwe perspektief gee. Verhoog die vlak van jou verwagting van God. Sit die kanne uit. Dit was in ‘n tyd van droogte en werkloosheid wat die weduwee van 2 Konings 4 die kanne uitgesit het. Dit was nog steeds droogte en sy was steeds werkloos toe die olie gevloei het.
Dink aan die olie van voorsiening en vlieg. Ons is skape met arendsvlerke.
Ons sal hierdie virus oorwin. Ons sal die medikasie ontwikkel. Die Here sal alles tot ons voordeel laat uitwerk. Hy sal die omstandighede en die ongedierte van siekte onder ons voet plaas om te vertrap.
God wat vrede gee, sal die Satan spoedig onder julle voete verpletter. Die genade van ons Here Jesus is by julle! (Romeine 16:20)
Ons sal nuwe krag kry.
Hoe sal ons hierdie vyand van onsekerheid en vrees verslaan? In geduldige gehoorsaamheid. Met volharding.
Volharding is wat julle nodig het om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy beloof het.
Nog net “’n kort, kort tydjie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie.
En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie.”
Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.(Hebreërs 10:36-39)
Strong’s Konkordansie se definisie van volharding is kragtige woorde wat ek net so aanhaal.
Hupomone = hupo + mone:
The combination literally means to “remain under”. It describes the capacity to bear up under difficult circumstances, not with a passive complacency, but with a hopeful fortitude that actively resists weariness and defeat.
Ek hou van die woorde hoopvolle, kragtige durf wat aktief aftakeling en nederlaag beveg. Dit is geduld in geloof – nooit passief en moedeloos nie, maar versterk in hoop wat die toekoms by die horings gryp.
Volhard en verheug jou in die belofte van God.
Dankie! Dit was heerlik om “saam te kuier”!
Liefde tot later
Corné Maher Mobile +403 671 0346 Sent from my iPhone
>