219. Nuusflits – vertel die storie

Dis die jaar 1634.  Die plaag woed deur Europa.  Hulle noem dit die Swart Dood.  Die infeksie veroorsaak vreeslik sere wat opswel en oopbreek.  Die mense is desperaat en vol vrees.  Die winter is kouer as gewoonlik… en lank.

Ek loop dinge vooruit. Ons almal ken die rooi raam op die televisieskerm.  ‘n Nuusflits impliseer een of ander nuwe feit, nuwe kennis, nuwe inligting.  Wel, in die afgelope dae het ek ‘n paar keer die storie van Oberammergau genoem en niemand het daarvan geweet nie.  Ons het die ou, ou storie vergeet.  Die storie word nie in die rooi raam op die televisie vertel nie.  Dit kom uit ‘n stowwerig geskiedenisboek.  Maar, ons leef in 2020 en ons het Google.  Ja toe, gaan “google” dit maar.  Ek sal dit vir jou spel – ‘n tipiese lang Duitse woord.  Jy sien, daar is die berge – die Ammergau Alpe.  Die dorpie hoër op is Oberammergau (ober= opper) en die dorpie laer af is Unterammergau (unter= onder).

Elke tien jaar, op die jaar wat met ‘n nul eindig, is daar ‘n baie bekende opelug drama.  Hulle noem dit die Passiespele.  Dit is die storie van Jesus, met akteurs wat almal in die dorpie woon.

Sit terug en ontspan. Ek sal vir jou die storie vertel. Vertel dit vir die kinders – helder en duidelik.  Hulle moet weet wat God kan doen.  Moenie dat ons vergeet nie.

Al die mense van sy leeftyd het gesterf, en die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie. (Rigters 2:10)

Vier eeue gelede was Europa ‘n versameling klein dorpies.  Reis was baie beperk.  Perde of perdewaens was eintlik die enigste vervoermiddel, lank voor treinspore  en treine gebou is.  Meeste mense is in ‘n dorpie gebore, het die landerye rondom bewerk en het weer daar gesterf sonder om ooit die behoefte te voel om na die volgende dorpie ‘n paar myl verder te reis nie.  Meeste sou moes loop.  Die lewe was moeilik.  Meeste mense het in die somer baie hard gewerk sodat hulle genoeg kon opgaar om vir die winter te sorg.  Die gemeenskap was op ‘n feudale sisteem gebaseer.  Die gewone burgers het vir ‘n ryk, betitelde landheer (‘n graaf of ‘n prins of iets dergliks) gewerk.  Sommige landhere was regverdig en goed en sommiges was wreed en gierig.  Dit was omtrent onmoontlik om te trek of onder ‘n ander landheer te gaan woon.  Waar jy gebore is, moes jy maar aanstryk en die beste daarvan maak.

Gedurende hierdie tyd, oor die tydperk van ongeveer vier eeue, was die winters baie koud en langer as gewoonlik.  Sommige historici beskryf dit as ‘n Mini-Ystydperk.  In die middel van die sewentiende eeu is plase en selfs dorpies in die Switsers Alpe vernietig as gevolg van aanrollende gletsers.

Om alles te kroon het daar in Sentraal-Europa een van die mees verwoestende oorloë in die geskiedenis vir dertig jaar lank gewoed.  Dit was ‘n godsdienstige oorlog tussen die Protestante en die Katolieke.  Die oorlog het meestal op die grondgebied van die ou Heilige Romeinse Ryk, later Duitsland, plaasgevind.  Daar is meer as agt miljoen mense in die oorlog dood. Die oorlewendes kon skaars byhou met begrafnisse.  Soms het daar velde vol lyke gebly lê wat eers verwyder is as daar nuwe landerye nodig was.

In hierdie donker toestand het ‘n siekte uitgebreek.

Die buboniese plaag was die oorsaak van die Swart Dood wat in die veertiende eeu reeds deur Asië en Afrika gewoed het en ‘n gerekende vyftig miljoen mense uitgewis het.  Die woord bubonies kom van die Griekse woord wat lies beteken.  Dit is omdat die infeksie die limfkliere laat opswel en ongemaklike en pynlike swelling in die lies veroorsaak.  Vandag weet die medici dat die infeksie deur ‘n bakterie wat deur die vel ingaan veroorsaak is met griep-simptone soos koors, hoofpyn en erge braking.  Die opgeswelde limfkliere was soms so erg dat dit oopgebars het en septiese sere veroorsaak.  Daar was geen medisyne daarvoor nie.  Sommige mense het gevind dat ‘n geskilde ui bakterieë aantrek.  Meeste het ‘n stadige, pynlike dood gesterf.  Penisilien is eers in 1928 ontdek!

In hierdie tyd is omtrent 60% van Europa se bevolking uitgewis.  Die plaag het soveel arbeiders se dood veroorsaak dat lone gestyg het omdat arbeid in aanvraag was.  Dit het uiteindelik die hele ekonomiese bestel in Europa verander.

In 1633 het die inwoners van Oberammergau in die provinsie Bavaria in moderne Duitsland, ‘n heilige belofte aan God gedoen dat as hy hulle van die plaag beskerm, sal hulle elke tien jaar ‘n drama oor die lewe van Jesus tot die eer van God opvoer. Die getal dooies het op daardie stadium begin styg tot ongeveer 20 per maand.

Na die gelofte is daar nie weer een mens aan die Plaag dood nie en die wat siek was het gesond geword.

Die gelofte is vervul gedurende Pinkster 1634.  Die tema van die stuk is die “Lyding, Dood en Opstanding van Onse Here Jesus Christus”. Elke tien jaar, sedert daardie dag, word die Passiespele opgevoer – vir die afgelope vierhonderd jaar, met die uitsondering van 1940 as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog.

Slegs inwoners van Oberammergau word toegelaat om deel te neem.  Die akteurs is gewone mense wat so teen Januarie begin oefen tussen hulle gewone lewe se dinge.  Al die hoofrolle word vervul deur akteurs wat in Oberammergau gebore is of vir minstens twintig jaar daar gewoon het.

Die huidige wêreld “plaag” wat deur die Corona-virus veroorsaak word het meegebring dat hierdie jaar se Passiespele met twee jaar uitgestel word.  Die burgermeester van Oberammergau het aangekondig dat hulle in 2022 voortgaan.

Dit is die storie van Oberammergau.  Ek vertel nie hierdie storie sodat ons allerhande beloftes aan God moet maak nie.  Allermins!  Dit kan mens alleen doen as die Heilige Gees mens op ‘n baie besonder wyse daartoe lei. Dit is ook nie wat God verwag nie.

Ek vertel die storie om ons te herinner dat ons ken en vertrou ‘n God wat wonderwerke doen, wat in staat is om ons van hierdie plaag te red.  Ons en ons kinders moet die stories ken, die getuienisse van wonder-ingrype van ‘n goeie God wat meer gereed is om gebed te verhoor as wat ons bereid is om te bid.

Dit is wat ons moet doen.  2 Kronieke 7:13-15 The Message

If I ever shut off the supply of rain from the skies or order the locusts to eat the crops or send a plague on my people, and my people, my God-defined people,

 respond by humbling themselves, praying, seeking my presence,and turning their backs on their wicked lives,

 I’ll be there ready for you: I’ll listen from heaven, forgive their sins, and restore their land to health. From now on I’m alert day and night to the prayers offered at this place.

 Die opdrag is nie vir die wêreld nie.  Die opdrag word aan die kerk van Jesus, die onsigbare liggaam van gelowiges, gegee.  Ons is die God-defined people. Ons gebede, die gelowiges wat weet dat God geloof beloon (Hebreërs 11:6) sal God se Plan op aarde deurvoer.

Sy Plan is om te red en te genees.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s