Dit is einde Maart 2020. As daar ooit ‘n tyd in my lewe was wat ek “voel” ek leef en beleef geskiedenis dan is dit nou. Dit is die tyd van die globale grendelstaat om die virus te beveg. Die wêreld het stil geword. Meeste mense het na hulle woonplekke teruggetrek en word daar in ‘n sekere sin “gevange” gehou. Diegene wat nie huise het nie, word geakkommodeer in skuilings van die gemeenskap en liefdadigheid. Die strate is leeg en stil en die besighede is toe. Polisie word bemagtig om buitengewone maatreëls af te dwing, soms met skrikwekkende brutaliteit. Mense is verstom en geskok, soms woedend en rebels. Moeilike keuses moet gemaak word.
Alles gebeur om die aanval van ‘n mikroskopiese partikel te beveg. Die virus is nie met die blote oog sigbaar nie en dus meer vreesaanjaend: ‘n infeksie-agent wat sonder waarskuwing of aansien des persoon aanval en doodmaak. Sou ons die dokters en wetenskaplikes geglo het, as daar nie mense doodgegaan het nie? Baie mense gaan dood en baie mense, volgens die algoritmes en statistieke gaan nog sterf. Dood is die bedreiging. Onsekerheid is die vrees.
Selfs erger as die dood is die vrees oor herstel – hoe sal alles weer aan die gang kom na die ongehoorde noodstop van die oorgrote meerderheid ekonomiese aktiwiteite. Werkloosheidsyfers skiet die hoogte in. Lang toue om werkloosheidsversekering te eis, is ontstellend om te sien en dit is net die onmiddellike effek. Wat van die langer termyn? Wat van al die gevolge wat niemand op hierdie stadium kan voorsien nie, net so onsigbaar en misterieus soos die virus self?
Baie lank gelede, regtig lank gelede – in die sewende eeu voor Jesus, het koning Salomo die Tempel was hy vir God gebou het, ingewy. Dit was ‘n manjifieke gebou, alombekend in die antieke wêreld en ‘n gebeurtenis wat die hoogtepunt van die Hebreeuse beskawing aandui. Sy pa, Dawid, wou graag die Tempel bou maar dit was sy ryk, wyse en baie suksesvolle seun, Salomo, wat die voorreg gehad het om so ‘n verhewe taak te voltooi. (1 Konings 5 en 6)
Die struktuur is opgerig volgens die streng voorskrifte van God. Aanbidding het al om die klok, elke uur van elke dag, aangehou, met ‘n groot verskeidenheid musikante en sangers.
Dit was ‘n grootse projek. Daar is geen onkoste gespaar nie. Die boumateriaal is uit al die uithoeke van die wêreld versamel en net die beste van alles is gebruik. Die kleinste detail is met die grootste sorg voltooi. By voltooiing was dit die mees uitstaande gebou in die hele wêreld op daardie stadium.
By die toewyding het Salomo ‘n kort toespraak gemaak en ‘n baie lang gebed gebid. Die gebed is merkwaardig as gevolg van die besondere detail, amper asof Salomo die swakhede van die volk wou erken en voorsiening maak vir die vergifnis van God oor toekomstige sondes. (2 Kronieke 6:12-42)
Onder andere het hy so gebid:
“Sou daar hongersnood in die land kom, sou daar pes uitbreek, brandkoring of roes, swerms sprinkane en voetgangers, sou dit gebeur dat die volk se vyande hom in sy stede hier in die land beleër, watter plaag of siekte hom ook al tref,
luister tog na elke gebed, elke smeking wat van enige mens of van u hele volk Israel mag kom soos elkeen sy plaag en sy smart te kenne gee en sy hande na hierdie tempel toe uitstrek;
luister tog uit die hemel, u woonplek, en vergeef en gee aan elkeen wat hy verdien soos U sy hart ken, want net U ken die mens se hart,
sodat hulle aan U gehoorsaam sal wees en u weg sal bewandel die hele tyd dat hulle in die land leef wat U aan ons voorvaders gegee het.(2 Kronieke 6:28-31)
Salomo bid vir ‘n waarborg van God dat Hy die gebed van die volk in noodtoestande sal antwoord. In die volgende hoofstuk gee God die waarborg dat Hy sal antwoord.
Net na die gebed is daar ‘n magtige manifestasie van God se teenwoordigheid in die Tempel, sodat die priesters nie kan ingaan nie.
Toe Salomo klaar gebid het, het daar vuur uit die hemel gekom en die brandoffers en ander diereoffers verteer, en die magtige teenwoordigheid van die Here het die tempel gevul.
Die priesters kon nie in die huis van die Here ingaan nie, so het sy magtige teenwoordigheid sy huis gevul. (2 Kronieke 7:1,2)
Wat ‘n wonder-reaksie uit die hemel van God self op die gebed van Salomo. Die mense het hulle neergebuig, met hulle gesigte op die straat en die Here aanbid met die woorde: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.”
In die Engels is die aanbiddingslied so bewoord: His mercy endures forever. Dit is noodsaaklik om die beklemtoning van mercy raak te sien. Mercy is die eienskap van God wat ook met meegevoel vertaal sou kon word, maar eintlik het Afrikaans nie ‘n direkte vertaling van mercy nie. Dit beteken in essensie om die straf terug te hou. Genade (grace) is die onverdiende guns van God. Mercy is as Hy die straf wat ons eintlik verdien as gevolg van ons sonde, terughou.
Jesaja 55 praat van die sure mercies of David. Ons weet Dawid het gely onder sy baie oortredinge en sondes. God was hom genadig en het altyd vergewe. God se genade oor Dawid was bekend in die geskiedenis van Israel. Jesus het ons straf op hom geneem aan die Kruis. Net soos Jesaja dit stel:
Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom. (Jesaja 53:5)
Dit is met die sekerheid dat die straf teruggehou word, dat ons in gebed die Troon van God nader met ons sondebelydenis en behoeftes, met volle geloofsekerheid.
…laat ons tot God nader met ‘n opregte hart en met volle geloofsekerheid. Ons harte is immers gereinig van ‘n skuldige gewete, en ons liggame is gewas met skoon water. (Hebreërs 10:22) |
Die inwydingsfees het dae lank aangehou. Die teenwoordigheid van God word altyd met ‘n groot fees gevier. Dit is hoe Kronieke dit beskryf:
Salomo, en die hele Israel saam met hom wat gekom het uit die hele land, van Lebo-Hamat af tot by Egiptespruit, ‘n baie groot gemeente, het destyds sewe dae lank fees gehou.
Op die agste dag na die inwyding van die altaar wat sewe dae lank gevier is, het hulle ‘n feestelike byeenkoms gehou. Die huttefees daarna het ook sewe dae geduur.
Eers op die drie en twintigste van die sewende maand het Salomo die volk terug laat gaan huis toe, bly en gelukkig oor die goeie dinge wat die Here gedoen het aan Dawid, Salomo en sy volk Israel. (2 Kronieke 7:8-10)
Na die fees het God aan Salomo verskyn en die ewigdurende woorde gespreek wat ons vandag in ons noodstoestand aanhaal. Dit is die kragtige woorde van uitredding, gewaarborgde vergifnis en genesing.
Daarna verskyn die Here een nag aan Salomo en sê vir hom: “Ek het jou gebed verhoor en hierdie plek vir My gekies as die plek waar daar vir My offerandes gebring kan word.
As Ek die hemel gesluit hou sodat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land kaal te vreet, of as Ek pes onder my volk stuur,
en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.
Ek sal hierdie plek nou onder my sorg neem en ontvanklik wees vir elke gebed hiervandaan. (2 Kronieke 7:12-15)
Dit is ons uitroep. Die woorde van God is aan die kerk gerig, nie die wêreld nie. Dit is die kerk wat moet instaan vir die sondebelydenis. Dit is die kerk wat moet terugdraai van bose weë. Dit is die onsigbare liggaam van Jesus wat God se mense is. Dis ons – Christene – klein Christussies, soos wat die Grieke die volgelinge van Jesus genoem het.
Ons staan in die gaping. Ons roep saligheid oor die nasies uit.
Belangrikste van alles – ons het die waarborg van ‘n antwoord. Ons het die belofte van God.
Die Tempel in ons lewe is nie moeilik nie. Kom voor die Here, verneder jouself. Moenie dat jou persoonlike bekommernisse en aards begeertes of trots jou van hom weghou nie. Luister na die Heilige Gees in jou hart en bely die sonde wat voor jou kom.
Soek die Here se aangesig. Spandeer die tyd tydens die grendelstaat en lees die Bybel sodat die geskrewe woorde die gesproke woord van God word.
God sal ons aarde gesond maak. Ons sal bly en gelukkig wees oor die goeie dinge wat die Here gedoen het.
Hy het so gesê. Dit staan geskryf.
Sjoe !! Ongelooflike stuk, dankie my mooiste liefste vriendin xxx
Sent from my iPhone
> > > > > > >
>