Die hele wêreld om ons bestaan uit kontrakte. Formeel en informeel word ons lewe beheers deur ooreenkomste wat ons sluit. Selfs vriendskap is ‘n informele oreenkoms. Daarmee bedoel ek dat ons nie ‘n prokureur kry om skriftelik ‘n vriendskapskontrak op te stel nie, maar ons veronderstel sekere stilswyende voorwaardes vir die “ooreenkoms” om vriende te wees. Lojaliteit, liefde, ondersteuning in moeilike tye, algemene hulp en ‘n vriendelike oor vir blye en hartseer nuus is ‘n paar basiese veronderstellings vir ‘n goeie vriendskap.
Meer formeel is daar huwelikskontrakte, huis en motor koopkontrakte, huurkontrakte, versekering wat uitgeneem word, bankrekeninge, kredietkaarte en nog vele wat deel van ons alledaagse lewe uitmaak. Hoewel die kontrakte ons lewe ondersteun en die onderbou van ‘n normale moderne lewe vorm, dink ons nie elke dag aan elke aspek van die kontrakte nie. Weet jy presies wat staan in die fynskrif van jou kredietkaartvoorwaardes en dink jy daaraan elke maal as jy iets betaal? Dis net as dinge verkeerd loop dat die besonderhede van die kontrak in die kollig geplaas word en ons soms met ‘n skok moet uitvind waartoe ons ingestem het.
Daar is sekere vereistes wat teenwoordig moet wees om ‘n kontrak tot stand te bring. Een van die belangrikstes is wilsooreenstemming. Uit die aanvaarding en gebruik van die kredietkaarkaart en bankrekening, of die ondertekening van ander kontrakte, word my bedoeling bevestig en kan daar gesêword dat ek en die ander party saam “wil” dat daar ‘n regsgeldige kontrak tot stand kom.
As ons hierdie beginsel in die geestelike wêreld toepas, werk dit presies dieselfde. Ons het al dikwels in Bodemklippe die kragtige gevolge van ‘n eenvoudige, rasionele besluit bespreek. Wedergeboorte vind plaas as gevolg van ‘n besluit om aan God oor te gee en hom in beheer van jou lewe te plaas. Dit is ‘n rasionele wilsbesluit om jou lewe aan die beginsels van die Koninkryk van God te onderwerp. Die besluit het lewensveranderende gevolge. As jy die dag teken om ‘n motor te koop, verander jou lewe drasties. Jy hoef nie meer op ander vervoer staat te maak nie en jy het volle beheer oor jou kom en gaan. Net so is die besluit om in die Koninkryk van God te leef, ‘n kontrak wat jou hele kom en gaan verander. Jou besluite en optrede word deur Koninkryksbeginsels bepaal en onderskei jou radikaal van die wêreld om jou.
Dit is egter moontlik om nog steeds “kontrakte” te sluit met die gebrokenheid van die wêreld waarin ons leef, selfs al is ons “burgers” van die onsigbare Koninkryk van Jesus. Sulke “kontrakte” word soms op ons afgedwing omdat ons die wreedheid van gebrokenheid en verlies ervaar en ons siele verwond en stukkend opeindig. Ons sluit ‘n “kontrak” met ‘n gebroke hart, bitterheid, liefdeloosheid, verwerping, twyfel oor God en sy goedheid en ‘n lys ander hartverskeurende en soms onwillekeurige sielsaktiwiteite.
Vasgevang in die verwoesting van ons eie ooreenkomste met hartseer en gebrokenheid, is ons die prooi vir ‘n wrede vyand wat bloed ruik. Dit was jare gelede vir my ‘n groot skok om uit te vind dat die duiwel juis in ons hartseer en verwonding instorm met sy verwoede demone wat soos ‘n pak wilde honde in ‘n siel tekere gaan. Hier en daar word stukke emosie, denke en selfs eie wil brutaal en barbaars rondgeruk en in my gemoed spat die “bloed”.
Ons het laasweek gepraat van Jesus-verbande. Ons het gekyk na die pragtige vertroosting in Jesaja:
…te verbind die gebrokenes van hart… (61:1,OAB)
He has sent me to bind up and healthe brokenhearted (AMPC)
Die sleutel tot sielsverbande wat genees en vertroos is “ooreenkomste” met die Woord van God en sy karakter. Dit is die “toestemming” van jou siel wat ‘n kontrak sluit met die koninkryksbeginsels wat jou hart genees.
Net sodra jy genesing by die Here soek, is daar wilsooreenstemming met die hemel! Hoe wonderlik is dit!
Die proses begin in jou denke. Dit is waar jy die besluit neeem. Paulus skryf in Romeine 12:2 hierdie kragtige woorde:
En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed,sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is. (OAB)
Kom ons lees dit in die NAB:
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
In die AMPC (die klassieke uitgawe van die Amplified – kry dit op http://www.biblegateway.com) word die kern deel so uitgedruk:
but be transformed(changed) by the [entire] renewal of your mind [by its new ideals and its new attitude],
Ek hou veral van die verwysing na ‘n nuwe ideaal en ‘n nuwe houding – die wonderwerk van binne met uiterlike gevolge. Die Here belowe vernuwing soos nooit tevore en soos niemand anders – met ander woorde iets heeltemal uniek.
[Nuut kan beteken: neos – meer van dieselfde, kwantitatief soos ‘n nuwe potlood maar daar is baie van dieselfde soort of kainos – uniek, soos daar nog nooit was nie, kwalitatief, een van ‘n soort.]
Die heel belangrikste beginsel in hierdie gedeelte is die klem op God se werk. Hy het nog nooit van ons verwag om ‘n wonderwerk te doen nie. Dit is God se belofte en sy werk. Hy doen die werk in ons. Ons glo en gee oor. Dis al. Ons oorgee-proses is die wilsooreenstemming met die Woord. Dit is ons kontrak. Net soos enige kontrak, is dit goed om te weet wat daarin staan, veral die wonder-beloftes wat die gevolg van oorgee is.
Oorgee en die gevolglike verandering gee aan jou die vermoeë om sy wil te onderskei – soos dit hier staan: wat vir hom goed, aanneemlik en volmaak is. God se wil is jou genesing en ‘n vol lewe. Hy sal dit in jou werk. Hy waarborg sy goedheid en sy goeie gesindheid teenoor jou. Is daar ooit iets meer nodig as die Kruis van Jesus om sy gesindheid teenoor ons te bewys?
Lees dit weer. (The Passion Translation)
Stop imitating the ideals and opinions of the culture around you, but be inwardly transformed by the Holy Spirit through a total reformation of how you think.This will empower you to discern God’s will as you live a beautiful life, satisfying and perfect in his eyes.(TPT)
Stormgejaagde, ongetrooste, gryp jou genesing. Dis tyd vir jou wonderskone, wonderwerk-lewe.
Volgende keer kyk ons na die geloofsprentjie wat jou besluit behels.
Sien jouself in die arms van Jesus op die wit perd met die sagte sy van sy kleed wat om jou vou. Sy Naam staan op daardie kleed. Sy Naam is: die Woord van God. (Openbaring 19:13)
Onthou jy sit saam met hom in die hemel.
[Efesiërs 2:6. Bodemklippe 74]