[Johannes 18]
Alles wat in die donker plaasvind is anders. Daglig verander die atmosfeer, die aard en die aktiwiteite van mense. Daar is spesifieke dinge wat in die dag gedoen word. Mense werk en eet saam, maar dis anders as wat mens in die aand vir ‘n ete bymekaar kom. Die aand het ‘n luukse, uitgerekte gevoel waar daar op ‘n ander manier gekuier word. Dink maar aan die kleredrag wat verskil in die dag en aand. Aanddrag is nooit reg in die dag nie. Daar is aktiwiteite van die lig wat in die donker plaasvind. Feeste van liefde en lewe is vol goeie kos en drank om vreugdevolle gaste te bederf.
Daar is ook ander aktiwiteite wat in die donker plaasvind, meer vir die bedekking en beskerming van die donker. Kriminele aktiwiteite vind gewoonlik in die donker plaas. Die nag kan positief en negatief wees. Duisternis word gewoonlik met donker dade en verkeerde dinge assosieer. God word nie met duisternis verbind nie, maar ons weet God is oral, selfs in die donkerste duisternis waar ‘n mens net boosheid sou verwag.
Die volk het op ‘n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was.(Exodus 20:21)
Prys die Here Hy is oral. Hy sal ons nooit verlaat nie, selfs al is die nag meer boos en donker as ooit. Jesus het sy eie duistere nag ervaar, toe die arrestasie in die Tuin van Getsemané opeindig in die portaal van die hoë priester se huis met ‘n konfrontasie van verwronge regspleging.
Petrus se rol in hierdie metaforiese donker nag – onthou dat dit in werklikheid ‘n volmaannag moes gewees het, so naby aan die Paasfees – word in twee gedeeltes hier in Johannes 18 genoem. . (18:15-18 en 18:25-27)
Petrus het nie gevlug toe die ander dissipels weghardloop nie. Hy het, seker op ‘n veilige afstand, Jesus gevolg tot by Kajafas se huis, saam met ‘n ander dissipel wie se naam nie genoem word nie. Dit was ‘n besondere dapper ding om te doen.
Daar is baie bespiegeling oor die ander dissipel. Meeste kommentare stem saam dat dit Johannes is. Hoe kan ‘n gewone visserman bekend wees met die hoë priester?
Johannes se pa het ‘n florerende visbedryf gehad, soveel so dat hy mense ingehuur het om te help (Markus 1:20). Een van die groot Galilese industrieeë was soutvis. Dit was onmoontlik om vars vis in die hitte te vervoer. Soutvis was deel van die stapeldieet van Palestina. Dit kon gewees het dat Johannes se pa een van die verskaffers van vis na die huis van die hoë priester was en dat Johannes self van die aflewerings hanteer het. Daarom was hy bekend met die personeel in die huis. So het hy en Petrus die nag binne die mure van die huis beland waarvandaan hulle op ‘n afstand die gebeure kon dophou.
Hier in die binnehof is Petrus drie maal gevra of hy Jesus ken. Dit is duidelik dat dit terloopse opmerkings op grond van sy aksent was en nie van soldate of enige gesagsfigure nie. Eenkeer het ‘n slawemeisie ‘n opmerking gemaak. Hy ontken dat hy Jesus ken – drie keer. (Lukas 22:55-60)
Volgens die reinheidsregulasies in Jerusalem was dit nie toeglaat om hoenders in die stad aan te hou nie, hoewel dit nie seker was of hierdie regulasie in hierdie tyd nagekom is nie. Die stad was dig bevolk en daar was nie plek vir tuine. Die Romeine het die stad bewaak en elke drie ure het die wag verander. Die nag is in vier skofte van drie ure elk verdeel. Drie uur in die oggend het die Romeinse trompet die verandering van die wagte aangekondig en dit was bekend as die haankraai. Almal het dit geken en Petrus het dit gehoor. Hy het onthou wat Jesus gesê het.
Petrus se verloëning van Jesus was al die onderwerp van soveel preke en kommentare. Petrus wou Jesus ondersteun en by Hom wees. Hy het sy swaard getrek teen ‘n oormag in die Tuin. Daar in die binnehof van die hoë priester was hy in ‘n situasie wat hom blootgestel het om sonder omhaal ook gearresteer te word. Hy het dalk gefaal in moed, maar hy was daar waar die ander nie eers naby was nie.
Petrus het Jesus liefgehad – sonder twyfel. Hy was daardie nag in daardie situasie as gevolg van sy liefde en lojaliteit.
Petrus is gered. Sy storie van verloëning en mislukking het bekend geraak en hom sekerlik baie vernederd laat voel. Maar Petrus het nie van sy familie in Jesus gevlug nie. Hy het teruggevlug na waar die ander agter geslote deure gesit en vrees het. Daar het hulle gewag totdat hulle die tyding van Sy opstanding gekry het.
Jesus was bewus van Petrus daar in die binnehof. ‘n Mens sou dink dat Jesus se kyk was ‘n “ek het jou mos gesê” – verwyt. Dit was onmoontlik dat dit so iets sou kon wees. Dit is nie Jesus se karakter nie. Jesus se oë het Petrus gered. Sy kyk was die Bron van God se liefde en het Petrus se siel vasgebind in die wonderliefde van Sy meester. Sy kyk het Sy liefde en vergifnis gekommunikeer in ‘n nag waarin Petrus bitter spyt en nederlaag moes hanteer.
Jesus het ons lief ten spyte van ons nederlaag en mislukking. Hy hou ons veilig in ons donkerste nag. Hy herstel ons vreugde. Hy vergewe ons sonde – altyd.
In ons donkerste nag kan ons opkyk in die oë van Jesus. Dit is die behoudenis vir ons siele.
Hier is ‘n belangrike aspek van hierdie nag wat vir my ‘n besondere les is. Jesus het Petrus gewaarsku dat dit sou gebeur. Dink ons nie dikwels ons sou beter gereageer het as die situasie nie so onverwags was nie? As ons net bietjie meer voorbereid in ‘n situasie kon ingaan, dan kon ons met wysheid en kalmte reageer.
Petrus het genoeg tyd gehad om “voor te berei”. Hy het dit afgemaak en gedink Sy lojaliteit en liefde vir Jesus sal hom deurdra. Die waarskuwing van Jesus het Petrus nie in staat gestel om sy nederlaag te ontduik nie. Hy het in die lokval getrap en in paniek en vrees gevlug.
Sing saam die ou lied:
Turn your eyes upon Jesus
Look full in His wonderful face
And the things of the earth will grow strangely dim
In the light of His glory and grace
Onthou ook dat Petrus presies geweet het wie Jesus eintlik is. Sy openbaringskennis wat die Vader aan hom in ‘n oomblik van diep insig duidelik gemaak het (Matteus 16:13-20), was sy behoud.
Die bonatuurlike openbaring van wie Jesus is en Sy liefde vir ons, is die onderbou van ons geloof en sal ons bewaar in ons donkerste oomblikke. Petrus se grootse lewe as apostel van Jesus wat die boodskap uitdra, op Pinksterdag drieduisend mense tot bekering preek en ‘n kragtige bediening van genesing en redding leef, reduseer hierdie nag se gebeure tot ‘n stap van vergifnis en herstel in sy verhouding met Jesus.
Volgende keer bespreek ons die dramatiese verhoor van Jesus in Johannes 18:28-40 en 19:1-16.