189. Ten volle en ten diepste bedek met liefde.

[Johannes 21]

‘n Mens sou eerstehandse kennis van die Galilese vissermanne moes hê om hierdie storie te skryf.  Die vangs wat hier beskryf word, het dikwels op die meer plaasgevind.   Die manne met nette op die bote het staatgemaak op iemand op die wal wat effens hoër geplaas is om die skole visse te sien beweeg.  Hy het dan met handtekens of ‘n klok die bote gelei.  Jesus het daadie dag hierdie funksie vervul.

Mense herken Jesus as Hy homself aan hulle openbaar.  Miskien was die grys van dagbreek nog te donker om Hom duidelik te sien.  Liefde het egter deur die grysheid gedring en Johannes het gesien en gepraat.  Petrus het gesien en gehardloop.  Hy het net ‘n lendedoek gedra, soos alle vissermanne as hulle in die water en om die meer besig was.  Hy het sy bokleed aangetrek.  Om iemand te groet was ‘n heilige handeling en hy het homself aangetrek vir die geleentheid.

Hierdie hoofstuk is duidelik bygevoeg om die werklikheid van die opstanding te beklemtoon.  Baie sou sê dat Jesus se verskynings net visioene van die dissipels kon wees, selfs hallusinasies.  Die Evangelies benadruk dat Jesus na die opstanding ‘n persoon was.

Dit was onwaarskynlik dat ‘n hallusinasie daar op die strand ‘n vis sal braai om met sy vriende te deel.  Die graf was leeg en Jesus het die wonde in Sy hande en sy gehad om dit te bewys.  Jesus dring daarop aan dat hulle aan Hom raak om die werklikheid van die waarheid by hulle te laat insink.

Jesus het die dood oorwin.  Hy het seker gemaak dat hulle nie twyfel nie.

Johannes noem die getal visse vir ‘n rede. ‘n Vangs van 153 visse moes onder die vissers verdeel word.  Dit was ‘n besondere groot vangs, maar daar is simboliek in die getal.

Volgens die syfer-simboliek van die antieke wêreld het honderd die volheid van die kudde uitgebeeld (Matteus 18:12). Die goeie saad in vrugbare grond het honderdvoudig oes opgelewer.  Die getal vyftig het die orrblyfsel van die Jode aangedui en drie is vir die Drie-eenheid wat alles moontlik maak.

Die net is die kerk met geen uitsluiting en geen verwerping.  Dit is altyd groot genoeg vir almal.  Die kerk moet soos Jesus alle mense innooi.

Petrus het Jesus drie maal verloën.  Jesus gee aan hom die geleentheid om drie maal sy liefde vir Jesus te bevestig.  Jesus het sekerlik besef dat Petrus vol skuld en skande was.  Hy lei Petrus na die plek waar liefde die onderwerp is en nie die verwonding van nederlaag nie.

Met elke verklaring van liefde, het Petrus ‘n taak ontvang.  Sy verklarings moes hom toerus vir sy taak in die kerk.  Liefde is ‘n voorreg maar ook ‘n verantwoordelikheid.  Aan die einde van sy lewe het hy ook aan ‘n kruis gesterf.  Hy is onderstebo gekruisig omdat hy nie waardig gevoel het om dieselfde manier as Jesus te sterf nie.  Dit is merkwaardig dat die Romeine aan sy versoek voldoen het. Die durf en dapperheid van Petrus se teregstelling staan in sterk kontras met sy nederlaag in die binnehof van die Hoë Priester se huis.  Die aanraking van die vuur van die Heilige Gees op Pinskterdag het hom sodanig bekragtig om sy taak te vervul.

Petrus se rol in die vroeë kerk was gevestig. Hy was ‘n herder en het die volk van Jesus innig liefgehad.

Jesus vra: : Petus agapé jy My?  Petrus antwoord: Here ek phileo jou.

Agapé is die onvoorwaardelike, onbegryplike liefde van God vir die mens.

Dit word gedefinieer as onvoorwaardelike gewillige liefde wat kom uit ‘n besluit en nie ‘n gevoel, affiniteit of chemiese aangetrokkenheid nie.  Die woord omvat ‘n onomkeerbare goedgesindheid en ‘n allesomvattende welwillendheid.  Agapé soek altyd die hoogste goed vir ons medemens. Dit is ‘n woord wat amper eksklusief aan die Christelike letterkunde behoort.  Buite die Nuwe Testament is dit onbekend.  Dit is asof die woord in Grieks bestaan het om te wag totdat Jesus inhoud daaraan kon gee.

God het onvoorwaardelik lief.  Jesus aan die kruis het God se liefde in die mees ondeurgronde wyse ooit bewys.

Petrus het besef dat hy nie in staat is om so lief te hê nie.  Sy onsekerheid is in die woord phileo wat broederlike liefde beteken.

Die tweede keer vra Jesus: Petus agapé jy My?  Petrus antwoord: Here ek phileo jou.

Die derde maal vra Jesus: Petus agapé jy My?  Petrus antwoord: Here, jy weet alle dinge. Jy weet ek phileo jou.

Petrus erken sy gebrekkige liefde in waarheid. Hy weet daar is geen waarde in voorgee nie.  Jesus ken sy hart.

Mens kan amper die rou hart tot hart kommunikasie ervaar.  Petrus is vergewe en herstel.  Sy verhouding met Jesus is vasgemessel in die woorde van liefde uit die mond van Jesus self. Jesus plaas die las van liefde vir die kerk op Petrus en op Pinksterdag word hy toegerus met wat nodig is om dit uit te leef in ‘n kragtige bediening.  Hy weet Petrus het op ‘n diep vlak verander.  Jesus weet hoe lief Petrus hom het.

In die volgende gedeelte (20:20-24) sê Johannes iets oor die woorde wat van hom gespreek is. Petrus is dadelik bekommerd oor sy mede-dissipels en Johannes was nog jonk.  Sommige kommentatore meen dat Johannes maar 15 of 16 jaar oud was toe hy Jesus ontmoet het.  Jesus maak Petrus gerus oor sy broers en verseker hom dat Hy sal sorg.

Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. (Johannes 10:28)

Johannes is die oggetuie van al hierdie dinge. Hy het in sy oudag daar in Efese alles opgeskryf.  Hy was die een wat na Maria gekyk het.

Die Christendom is geseël in ondervinding. ‘n Ontmoeting met Jesus is die fondament van ‘n Christelike lewe.

Jesus sê hier dat ons nie moet bekommer oor die taak wat aan iemand anders opgelê word nie.  Ons volg Hom en doen wat Hy van ons vra.  Jesus is die volmaakte Herder oor ons almal. Hy sal ons bediening bestuur. As ons soos iemand anders wil wees, wag daar teleurstelling en nederlaag.  Ons kan nie die hele kerk beheer nie.  Ons kan net doen wat die Heilige Gees aan ons kommunikeer om te doen.

Jesus is sonder beperking.  Sy opstanding is die werklikheid. Sy kerk is universeel.  Niemand ding mee binne die Koninkryk nie.  Petrus is die herder en Johannes die getuie.

Johannes dink aan die glans en glorie van Jesus en weet dat dit wat hy skryf net ‘n effense afskynsel van die werklikheid is. Die wêreld kan nooit werklik die volheid van Jesus begryp nie.

Wanneer jy dink jy weet, weet dat Hy soveel meer is.

Ons denke en boeke faal vreeslik as ons die oorweldigende onbeskryflike moet beskryf.

John ends with the innumerable triumphs, the inexhaustible power, and the limitless grace of Jesus Christ. [William Barclay]

 

 

 

Hiermee kom ons aan die einde van die studie van Johannes.

Ek dank die Here vir Sy kragtige woord en glo dat hierdie studie altyd ‘n inspirasie tot meer en meer sal wees.

 

Volgende keer – iets oor Kersfees.

183. ‘n Eensame man, ‘n donker nag.

[Johannes 18]

Alles wat in die donker plaasvind is anders. Daglig verander die atmosfeer, die aard en die aktiwiteite van mense. Daar is spesifieke dinge wat in die dag gedoen word. Mense werk en eet saam, maar dis anders as wat mens in die aand vir ‘n ete bymekaar kom. Die aand het ‘n luukse, uitgerekte gevoel waar daar op ‘n ander manier gekuier word. Dink maar aan die kleredrag wat verskil in die dag en aand. Aanddrag is nooit reg in die dag nie. Daar is aktiwiteite van die lig wat in die donker plaasvind. Feeste van liefde en lewe is vol goeie kos en drank om vreugdevolle gaste te bederf.

Daar is ook ander aktiwiteite wat in die donker plaasvind, meer vir die bedekking en beskerming van die donker. Kriminele aktiwiteite vind gewoonlik in die donker plaas. Die nag kan positief en negatief wees. Duisternis word gewoonlik met donker dade en verkeerde dinge assosieer. God word nie met duisternis verbind nie, maar ons weet God is oral, selfs in die donkerste duisternis waar ‘n mens net boosheid sou verwag.

Die volk het op ‘n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was.(Exodus 20:21)

Prys die Here Hy is oral. Hy sal ons nooit verlaat nie, selfs al is die nag meer boos en donker as ooit. Jesus het sy eie duistere nag ervaar, toe die arrestasie in die Tuin van Getsemané opeindig in die portaal van die hoë priester se huis met ‘n konfrontasie van verwronge regspleging.

Petrus se rol in hierdie metaforiese donker nag – onthou dat dit in werklikheid ‘n volmaannag moes gewees het, so naby aan die Paasfees – word in twee gedeeltes hier in Johannes 18 genoem. . (18:15-18 en 18:25-27)

Petrus het nie gevlug toe die ander dissipels weghardloop nie. Hy het, seker op ‘n veilige afstand, Jesus gevolg tot by Kajafas se huis, saam met ‘n ander dissipel wie se naam nie genoem word nie. Dit was ‘n besondere dapper ding om te doen.

Daar is baie bespiegeling oor die ander dissipel. Meeste kommentare stem saam dat dit Johannes is. Hoe kan ‘n gewone visserman bekend wees  met die hoë priester?

Johannes se pa het ‘n florerende visbedryf gehad, soveel so dat hy mense ingehuur het om te help (Markus 1:20). Een van die groot Galilese industrieeë was soutvis. Dit was onmoontlik om vars vis in die hitte te vervoer. Soutvis was deel van die stapeldieet van Palestina. Dit kon gewees het dat Johannes se pa een van die verskaffers van vis na die huis van die hoë priester was en dat Johannes self van die aflewerings hanteer het. Daarom was hy bekend met die personeel in die huis. So het hy en Petrus die nag binne die mure van die huis beland waarvandaan hulle op ‘n afstand die gebeure kon dophou.

Hier in die binnehof is Petrus drie maal gevra of hy Jesus ken. Dit is duidelik dat dit terloopse opmerkings op grond van sy aksent was en nie van soldate of enige gesagsfigure nie. Eenkeer het ‘n slawemeisie ‘n opmerking gemaak. Hy ontken dat hy Jesus ken – drie keer. (Lukas 22:55-60)

Volgens die reinheidsregulasies in Jerusalem was dit nie toeglaat om hoenders in die stad aan te hou nie, hoewel dit nie seker was of hierdie regulasie in hierdie tyd nagekom is nie. Die stad was dig bevolk en daar was nie plek vir tuine. Die Romeine het die stad bewaak en elke drie ure het die wag verander. Die nag is in vier skofte van drie ure elk verdeel. Drie uur in die oggend het die Romeinse trompet die verandering van die wagte aangekondig en dit was bekend as die haankraai. Almal het dit geken en Petrus het dit gehoor. Hy het onthou wat Jesus gesê het.

Petrus se verloëning van Jesus was al die onderwerp van soveel preke en kommentare. Petrus wou Jesus ondersteun en by Hom wees. Hy het sy swaard getrek teen ‘n oormag in die Tuin. Daar in die binnehof van die hoë priester was hy in ‘n situasie wat hom blootgestel het om sonder omhaal ook gearresteer te word. Hy het dalk gefaal in moed, maar hy was daar waar die ander nie eers naby was nie.

Petrus het Jesus liefgehad – sonder twyfel. Hy was daardie nag in daardie situasie as gevolg van sy liefde en lojaliteit.

Petrus is gered. Sy storie van verloëning en mislukking het bekend geraak en hom sekerlik baie vernederd laat voel. Maar Petrus het nie van sy familie in Jesus gevlug nie. Hy het teruggevlug na waar die ander agter geslote deure gesit en vrees het. Daar het hulle gewag totdat hulle die tyding van Sy opstanding gekry het.

Jesus was bewus van Petrus daar in die binnehof. ‘n Mens sou dink dat Jesus se kyk was ‘n “ek het jou mos gesê” – verwyt. Dit was onmoontlik dat dit so iets sou kon wees. Dit is nie Jesus se karakter nie. Jesus se oë het Petrus gered. Sy kyk was die Bron van God se liefde en het Petrus se siel vasgebind in die wonderliefde van Sy meester. Sy kyk het Sy liefde en vergifnis gekommunikeer in ‘n nag waarin Petrus bitter spyt en nederlaag moes hanteer.

Jesus het ons lief ten spyte van ons nederlaag en mislukking. Hy hou ons veilig in ons donkerste nag. Hy herstel ons vreugde. Hy vergewe ons sonde – altyd.

In ons donkerste nag kan ons opkyk in die oë van Jesus. Dit is die behoudenis vir ons siele.

Hier is ‘n belangrike aspek van hierdie nag wat vir my ‘n besondere les is. Jesus het Petrus gewaarsku dat dit sou gebeur. Dink ons nie dikwels ons sou beter gereageer het as die situasie nie so onverwags was nie? As ons net bietjie meer voorbereid in ‘n situasie kon ingaan, dan kon ons met wysheid en kalmte reageer.

Petrus het genoeg tyd gehad om “voor te berei”. Hy het dit afgemaak en gedink Sy lojaliteit en liefde vir Jesus sal hom deurdra. Die waarskuwing van Jesus het Petrus nie in staat gestel om sy nederlaag te ontduik nie. Hy het in die lokval getrap en in paniek en vrees gevlug.

Sing saam die ou lied:

Turn your eyes upon Jesus

Look full in His wonderful face

And the things of the earth will grow strangely dim

In the light of His glory and grace

Onthou ook dat Petrus presies geweet het wie Jesus eintlik is. Sy openbaringskennis wat die Vader aan hom in ‘n oomblik van diep insig duidelik gemaak het (Matteus 16:13-20), was sy behoud.

Die bonatuurlike openbaring van wie Jesus is en Sy liefde vir ons, is die onderbou van ons geloof en sal ons bewaar in ons donkerste oomblikke. Petrus se grootse lewe as apostel van Jesus wat die boodskap uitdra, op Pinksterdag drieduisend mense tot bekering preek en ‘n kragtige bediening van genesing en redding leef, reduseer hierdie nag se gebeure tot ‘n stap van vergifnis en herstel in sy verhouding met Jesus.

 

Volgende keer bespreek ons die dramatiese verhoor van Jesus in Johannes 18:28-40 en 19:1-16.