[Johannes 18]
Ons het gekom by die begin van die einde van die invloedrykste lewe in die ganse geskiedenis. Dit was die begin van die ondenkbare; ‘n kruisdood wat die mens van daardie tyd en daarna radikaal beïnvloed.
Aan die einde van die laaste maaltyd saam, het Jesus en sy dissipels die bovertrek verlaat en uit die stad gestap na die tuin van Getsemané. Die tuin was in die vallei van die Kedron-spruit geleë. In hierdie stroom het die bloed van die paaslammers gevloei wat by die Tempel geslag is.
Aan die voet van die Olyfberg was die klein tuintjie. Getsemané beteken oliepars. ‘n Aantal welgestelde burgers van Jerusalem het hier privaat tuine gehad. Jerusalem was dig bevolk en die seremoniële voorskrifte het grond en bemesting binne die stadsmure verbied.
Besoekers aan Jerusalem ervaar ‘n kleinerige tuintjie met omtrent agt olyfbome wat so oud lyk dat hulle stamme soos steen lyk. Dit is nie heetemal seker dat hierdie die oorpronklike bome van die tyd van Jesus is nie, maar hulle is minstens so oud soos die Islam-tyd in Jerusalem, maar die grond onder hulle, was die grond waar Jesus geloop het en gekniel het.
Dit is duidelik dat ‘n welvarende vriend van Jesus vir Hom ‘n sleutel van die tuin gegee het en Hy dit as ‘n stil wegkomkans kon gebruik. Hierdie nag het Hy dit nodig gehad. Judas het dit geweet en die arrestasie so beplan.
Johannes praat van ‘n afdeling soldate en Tempelwagte wat met fakkels en wapens na die tuin toe gekom het. Die Tempel het ‘n polisiediens gehad wat die orde gehandhaaf het en die Sanhedrin (die Joodse raad van 70) se opdragte uitgevoer het. Daar was ook ‘n band of cohort van Romeinse soldate betrokke. Die Griekse woord wat vertaal word met afdeling is speira. Dit het drie betekenisse.
In Rome was dit of 600 soldate of 1000 bystandswagte (240 van hulle op perde) of soms het dit verwys na 200 soldate.
As mens sou aanvaar dat die woord die minste moontlike hoeveelheid soldate beteken, was dit nogtans ‘n oormag om ‘n eenvoudige, rondloop-prediker van Galilea in hegtenis te neem. Dit is duidelik dat die owerhede ‘n mini-oorlog te wagte was en baie bang was vir die invloed van Jesus op die mense. Dink net hoe vredevol en kalm die arrestasie plaasgevind het. Jesus self was ten alle tye ten volle in beheer.
- Jesus was braaf. Hulle het met fakkels gekom asof hulle in donker hoeke sal moet soek. Dit was Paasfees en daarom volmaan, so dit was eintlik ‘n verligte nag. Jesus het nie weggekruip nie. Hy het Homself aangekondig en die self die proses begin.
- Jesus het die gesag gehad. Sy woorde het die mense laat omval. Sy Woord het nog steeds dieselfde uitwerking.
- Jesus het self gekies om te sterf. Hy het Homself oorgegee om gekruisig te word. Dit het Judas paniekerig gemaak, want hy het ‘n wonderwerk verwag en gehoop dat Jesus die Romeine konfronteer. [Bodemklippe 173]
- Jesus het Sy dissipels beskerm. Hy het Homself aangekondig om sy vriende te red.
- Hy was ten volle gehoorsaam- Hy het “die beker” gedrink.
Petrus het sy swaard getrek – hy wou veg. Hy was selfs bereid om daar en dan te sterf om sy Meester te verdedig, want hy moes die oormag voor hom sien. Petrus was een van die leidende figure van daardie nag. Meer oor hom later.
Eerstens, die owerhede.
ANNAS (18:12-14 and 19-24)
In beide die gedeeltes hierbo is Jesus voor Annas gebring. Net die Evangelie van Johannes stel dit so. Annas was die mag agter die troon van die hoëpriester. Hy self was hoëpriester van 6-15nC. Vier van sy seuns het as hoëpriester gedien en Kajafas was sy skoonseun.
Daar was ‘n tyd wat die amp van die hoëpriester lewenslank gehou is, maar dit klink asof hier ‘n rotasie-sisteem in werking was. Kajafas was daardie jaar hoëpriester. Die hoëpriester moes nou saam met die Romeine werk te midde van intrige, korrupsie en omkopery. Annas se familie was ryk en invloedryk. Hulle het geweet hoe om die pos te manipuleer.
Die geldwisselaars en handelaars in die Tempelvoorhof was in diens van die hoëpriester. Die hoë winsmarges het Annas ryk gemaak. Jesus was woedend hieroor. ‘n Mens kan jou voorstel wat Annas se reaksie op Jesus se Tempelwoede en sy toutjiesweep skoonmaakprosesse was. (Matteus 21:12, Markus 11:15, Johannes 2: 14,15) Die winkels daar in die voorhof van die Tempel het bekend gestaan as die basaars van Annas. Hy was berug.
Jesus is voor Annas gebring. Sy Tempel skoonmaak-episode het Annas direk geraak en Annas was die eerste een om Hom te konfronteer.
Die ondervraging voor Annas was ‘n bespotting van die regsproses. ‘n Doodsvonnis kan nie op grond van ‘n persoon se eie getuienis opgelê word nie. ‘n Aangeklaagde kan homself nie inkrimineer nie. Jesus sê vir Annas om die mense te vra wat Hy gedoen het en nie aan hom persoonlik die vrae te stel nie. Hy wou eintlik sê: hanteer die regsproses korrek.
Een van die offisiere het Jesus in die gesig geslaan. Hy wou die hoëpriester se status beskerm en het gedink Jesus se antwoord is nie respekvol nie. Hoe kan ‘n skrynwerker van Galilea vir die hoëpriester kom vertel hoe om die saak te hanteer. Jesus vra die soldaat of Hy enigiets verkeerd gedoen het.
Jesus het geweet dat daar nie sprake van ‘n regverdige verhoor sou wees nie. Hy is veroordeel voordat Hy verhoor is. Hy moes ge-elimineer word sodat hulle met hulle gemaklike lewens kon voortgaan. Wie het werklik omgegee of een misdadiger regverdig behandel word?
‘n Eenvoudige webnavraag gee baie inligting oor die Sanhedrin. Dit was die hoogste hof van die Jode met streng riglyne oor die funksionering daarvan. ‘n Verhoor soos hierdie moes nooit in die nag plaasgevind het nie. Die nagtelike verhoor was ‘n strategie van Annas en Kajafas om die ondersteuners van Jesus in die Sanhedrin, soos Nikodemus en Josef van Arimitea te uitoorlê.
Jesus is na Pilatus gestuur op grond van Sy eie woorde. Geen getuies kon gevind word nie. Die getuies wat deur die owerhede opgesteek is, kon nie saamstem nie. Die verhoor was flagrante diskriminasie teen Jesus.
So verloop die gesprek volgens Lukas. (22:67-71)
Hulle sê toe: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.”
Maar Hy antwoord hulle: “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie; en al sou Ek vir julle ‘n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie.
Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit.”
Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?” Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!”
Daarop sê hulle: “Waarvoor het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos uit sy eie mond gehoor!”
Daar by Pilatus het die Joodse leiers hom gevra om Jesus tot die dood te veroordeel omdat Hy gesê het Hy dat Hy die koning van die Jode en daarom ‘n bedreiging van Romeinse gesagstrukture is.
In al vier die Evangelies word Petrus se verloëning van Jesus daardie nag beskryf. Dit bespreek ons volgende keer.