[Johannes 18:28-40 en 19:1-16] Deel 1.
Soveel boeke is al oor daardie nag geskryf. Die Evangelies en geskrifte buite die Bybel is deurgesoek na feite om die gebeure rondom die aanloop tot die teregstelling van Jesus toe te lig. Daar is geen twyfel oor die historiese Jesus en die impak van Sy lewe en dood in die Palestina van daardie tyd nie.. Die verhoor was sulke flagrante verwronge geregtigheid dat baie Joodse geleerdes glad nie verstaan hoe so ‘n haastige, nagtelike verhoor kon plaasvind nie. Die verhoor van Jesus het die Sanhedrin, een van die oudste en mees respekteerde instellings in die Joods geskiedenis en regsprosedure, se reputasie blywend beskadig.
In die verloop van die nag was Jesus ses keer verhoor: drie maal voor Joodse owerhede en drie maal voor Romeinse siviele owerhede, Pilatus en Herodus. Pilatus het Jesus na Herodus gestuur omdat Hy as ‘n Galileër bekendgestaan het. Herodus het baie vrae gevra waarvan Jesus nie een geantwoord het nie. Herodus se reaksie was die spottende vernedering van Jesus, net om Hom weer na Pilatus terug te stuur. Pilatus het Hom onskuldig bevind in ‘n dramatiese publieke ritueel van simboliese handewas voor hy sy finale uitspraak lewer.
Die Jode het geen gesag gehad om iemand ter dood te veroordeel nie. Die Romeine moes oortuig word om die doodsvonnis uit te spreek. In die geval van die eerste martelaar in Handelinge 7, het die Joodse owerhede sake in hulle eie hande geneem en hom buite die stad gestenig soos van ouds, voor die Romeine op die toneel was. Joodse teregstelling was steniging. (Levitikus 24:16; Deuteronomium 17:7)
In Johannes 12:32 het Jesus so Sy eie dood voorspel:
En as Ek van die aarde af verhoog is, sal Ek almal na My toe trek.” Dit het Hy gesê en daarmee ook aangedui op watter manier Hy sou sterwe.
Kruisiging was ‘n Romeinse teregstellingsmetode. Die Jode het Pilatus gebruik vir hulle eie doel.
Hulle het hulleself totaal oorgegee aan hulle eie haat en die sinnelose histerie van die skare met geen oorweging vir regeverdigheid en genade.
Hulle het selfs die respek vir hulle eie rituele oorboord gegooi. Die Pasga het vereis dat elke Jood seremonieel rein moes wees. Net om in Pilatus se kwartiere in te gaan het hulle onrein gemaak. Hy was ‘n heiden in hulle oë.
Die huis van ‘n heiden het heel moontlik suurdeeg gehad in ‘n tyd waarin hulle die Fees van die Ongesuurde Brood gevier het. Vir die Jode was hierdie tyd van die jaar die mees heilig en dit is juis in hierdie tyd dat hulle die Messias kruisig.
Wat is ons godsdienstige denke en gebruike? Is dit dalk moontlik dat ons so besig raak met kerkaktiwiteite en die gemaklike lewe dat ons liefde, vergifnis en genade vergeet? Watter aspekte van ons kerklewe demonstreer die vergifnis en liefde van God sodat dit aantreklik vir ongelowiges is?
Die Joodse leiers het die aantygings teen Jesus verdraai en gemanipuleer. Wat hulle aanbetref was Hy godslasterlik (Matteus 26:65). Pilatus sou nie op grond van so ‘n aanklag die doodsvonnis uitspreek nie. Hy sou dit afskryf as ‘n godsdienstige geskil. Daarom het hulle dit polities gemaak met rebellie in die aanklag ingebou en gesêHy sêHy is ‘n koning.
Hulle moes so blatant hulle eie waardes verraai om ‘n doodsvonnis te verseker. Skielik het hulle bely hulle geen koning behalwe die Romeinse Keiser het nie. Samuel het toentertyd toe die volk so vir ‘n koning gesmeek het, gesêGod is hulle koning en dat hulle baie onder ‘n aardse koning gaan ly. Die geskiedenis het sy profetiese uitspraak oor en oor reg bewys. (1 Samuel 12:12).
Met die vestiging van Romeinse gesag en belasting in Palestina, was daar ‘n bloedige opstand. Die Jode het verklaar dat God hulle koning is en hulle sal aan Hom alleen die tradisionele tempelbelasting betaal. Nou skielik was die keiser hulle koning? Wat ‘n skaamtelose verraad was dit nie. Pilatus was sekerlik stomgeslaan.
Pilatus: Sy gedrag is vreemd, om die minste te sê. Hy moes sekerlike besef het dat die opgeblase aantygings van die Jode teen Jesus alles leuens was. Hy was diep beïndruk met Jesus. Hy wou Hom nie ter dood veroordeel nie – tog het hy!
Hy het elke moontlike kompromie probeer. Hy het geweier om die saak te hanteer en die voorstel gemaak om ‘n ander gevangene vir hulle vry te laat. Hy het Jesus laat martel. Tog het hy nie sy voet neergesit en die Jode hulle eie interne teologiese geskille laat oplos nie.
Ons weet dat hy ‘n pion in die plan van God was en dat hy totaal onbewus van sy rol in die verloop van gebeure was. Dit is nodig om ‘n paar feite te beskou om sy optrede beter te verstaan.
In 4vC is Herodus die Grote oorlede. Hy was ‘n Jood wat oor Palestina met Romeinse toestemming regeer het. Hy het baie foute gehad, maar kon relatiewe vrede oor die gebied handhaaf, terwyl hy baie grootse en ambisieuse argitektoniese projekte voltooi het. Met Romeinse goedkeuring het hy sy ryk tussen sy drie seuns verdeel. Twee van hulle, Antipas en Philip, het goed en stil voortgegaan. Die jongste, Archelaus, was 18 jaar oud toe hy die troon oor Judea, Idumaea en Samarië, oorneem. Hy het so brutaal tirannies regeer, dat die Jode die Romeine versoek het om hom te verwyder en ‘n goewerneur oor hulle aan te stel.
In die Romeinse ryk was daar gebiede waar gestasioneerde troepe moes wees en ander wat stil en vredevol deur die senaat regeer is met ‘n groot mate van onafhanklikheid.
Palestina het troepe onder direkte beheer van die keiser nodig gehad. Groter provinsies soos Sirië het ‘n prokonsul gehad en kleiner provinsies is deur ‘n prokurator of goewerneur bestuur wat die militêre en regsbestuur hanteer het. Die prokurator het belasting ingesamel maar het geen gesag gehad om belastings te verhoog of vry te skeld nie. Hy was ‘n soort regter wat sake kon aanhoor en beslis en het een maal per jaar die verste uithoeke van die gebied besoek. Hy is ‘n salaris uit Rome betaal en is ten strengste verbied om enige geskenke of omkoopgeld te ontvang. Die bevolking kon hom by die keiser verkla.
Pilatus was die prokurator sedert 26nC en hy was in beheer tot 35nC. Daar was van hom verwag om met ‘n streng hand oor Palestina te regeer.
Pilatus het nie van die Jode gehou nie. Alle Romeinse soldate het ‘n standaard vlag gedra met die bors van die keiser of ‘n arend daarop. Die keiser was ‘n god vir die Romeine. Vorige goewerneurs het die bors van die keiser verwyder as hulle Jerusalem binnekom uit respek vir die Jode en hulle God. Pilatus het geweier en wou nie ingee vir die Jode se “bygelowe” nie.
‘n Groep Jode het hom terug na Caesarea gevolg en hom gesoebat om toe te gee. Hy het geweier, maar toegestem om hulle in ‘n amfiteater te ontmoet. Hy het hulle met soldate omring en gedreig om hulle te moor as hulle nie ophou kerm nie. Die Jode het almal neergekniel en hulle nekke ontbloot. Pilatus kon net nie sy dreigement deurvoer teen sulke ongewapende, onderdanige mense nie. Hy het toegegee. Dit het sy gesag verswak.
Jerusalem het water probleme gehad en Pilatus wou ‘n nuwe watertoevoerstelsel laat bou. Hy het nie geld gehad nie. Hy besluit toe om die oorvloedige tempelskatkis te gebruik. Hy het nie die geld gevat wat vir diere-offers of tempeldiens gebruik sou word nie; slegs die geld wat deur die priesters as onheilig verklaar is. Dit is Korban genoem. Die mense was woedend en het in die strate protes aangeteken. Pilatus het sy soldate in gewone klere onder die skare ingestuur en op ‘n sekere teken het hulle links en regs gemoor. Die insident het Pilatus in ‘n posisie geplaas dat hy by die keiser verkla kon word.
As Pilatus in Jerusalem besoek afgelê het, het hy in Herodus se paleis gewoon. Hy het skilde vir die paleis laat maak met die naam van die keiser Tiberius daarop. Die skilde was ter ere van die keiser, maar omdat die keiser as ‘n god gereken is, het die Jode daarop aangedring dat hy dit afhaal. Hy het geweier. Die Jode het hom by die keiser verkla en die keiser self het Pilatus beveel om die skilde af te haal. Tiberius was een van die keisers wat homself in diens van Rome gesien het, en nie een van die wat hulleself as ‘n god gesien het nie.
Al hierdie insidente illustreer die atmosfeer en ingesteldheid rondom Pilatus. Hy was baie bewus dat sy reputasie alreeds baie skade gely het en dat hy maklik weer deur die Jode by die keiser verkla kon word. Dit het hom in ‘n moeilike posisie geplaas. Hy kon nie hulle wense weier sonder die risiko van ‘n vernedering in Rome nie.
Hy het Jesus ter dood veroordeel om homself te red.
Besef mens altyd dat jou dade aan die ewigheid grens?
Mag God sy waardes en doelstellings in ons harte inbrand sodat ons besluite deur die Heilige Gees bepaal kan word en dat ons optrede die hart van Jesus aan hierdie wêreld openbaar.
Hello Ansophie – weereens dankie vir jou skrywe — baie interesante feite wat ek nie geweet het nie
Dis lekker om die atmosfeer van daai tyd te ervaar – dan verstaan n mens — hoekom mense sekere dinge gedoen het
Pilatus sowel as Judas Eskariot – was nogtans nodig gewees — om God se verlossings plan te volbring
Dankie — liefde groete !