[Johannes 16]
Ek is seker dit het al met jou ook gebeur. Iemand sal sê, moenie bekommer nie, dis beter so. Jy sal diep sluk en sug in die ongeduld van onbegrip oor hoekom op aarde hierdie beter kan wees. Dit gebeur dalk meer met kinders wat aan onverstaanbare volwasse besluite onderwerp word, soms sonder verduideliking.
Ons is God se kinders en daar is tye wat ons nie verstaan nie. Mense sê oppervlakkige dinge om gebeure te verklaar soos: dit was geluk, omstandighede het net so uitgewerk, die sterre was belyn. Pyn en mislukking word toegeskryf aan “bad luck”, die noodlot of wrede oordele oor die persoon se eie vermoeëns om die lewe te hanteer.
Ek het al dikwels oor openbaringskennis geskryf. Dit is vir my een van die sentrale temas van my lewe en die doel van alles wat ek doen.
Die heel eerste maal wat ek die ondervinding gehad het dat God met my praat, was toe ek net 14 jaar oud was. Die eindeksamen van graad 9 was ‘n vol rooster en die eksamens was formeel en streng.
Ek was gespanne en moedeloos die aand voordat ek Wiskunde en Latyn moes skryf met net ‘n kort breek tussen die twee vraestelle. In daardie tyd het my ma die Bybel bestudeer met ‘n desperaatheid vir uitkoms uit al ons probleme. Daardie aand het ek my Bybel opgetel en besluit ek sal in die middel oopmaak sodat ek ‘n Psalm kan lees – enige Psalm om my kalm te kry. Die Bybel het oopgegaan in Jesaja – ek het nie eers geweet daar is so ‘n boek in die Bybel nie!
My oog het op hierdie woorde geval:
Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand. (Jesaja 41:10)
Stadig het die besef in my hart kom vestig dat God praat met my, ‘n arme gespanne skoolkind, direk in my omstandighede in. Ek was so oorstelp van vreugde en verligting. Ek kon studeer en lekker slaap. Vandag weet ek dat die Heilige Gees het die waarheid van die woord in my innerlike wese gekommunikeer. Ek was suksesvol in die eksamen maar ek kan nie die besonderhede onthou nie. Wat ek wel kan onthou is my ondervinding dat God my hartroep gehoor het en geantwoord het. Vandag, 44 jaar later kan ek dit as ‘n getuienis neerskryf en dit is helder in my gedagtes.
Dit is hier in Johannes 16 waar ek die lering van Jesus oor die Heilige Gees begin verstaan het. Hy het Sy dissipels vertel van die Heilige Gees wanneer Sy fisiese teenwoordigheid die aarde verlaat het.
In hulle hartseer verwarring na die kruisiging, het die dissipels onthou wat Jesus gesê het, dat dit beter is dat Hy weggaan want dan sal die Heilige Gees kom. In die vlees was Hy beperk tot tyd en plek. In die Gees was daar geen beperkinge nie. Hy is altyd by ons net soos Hy belowe het in Matteus 28:20.
Ons het die gawe van ononderbroke gemeenskap met God.
Jesus gee hier ‘n volmaakte opsomming van die werk van die Heilige Gees.
Die Heilige Gees oortuig ons. Die woord in Grieks is elegchein en dit is in die kruisondervraging van ‘n getuie in ‘n hof gebruik.
‘n Kruisondervraging vind plaas om ‘n persoon so te lei om sy skuld te beken en meer lig op die feite te werp. Menslike regsgeleerdes moet ‘n getuie met vrae lei om die waarheid te ontdek. Die getuienis kan sterk of swak wees.
Die Heilige Gees is die volmaakte advokaat. Hy weet reeds die kleinste besonderhede van ons innerlike, beter as wat ons self weet. Hy oortuig in volmaakte liefde om ons swakhede en mislukking te hulp te kom en herstel te bring.
1) Hy oortuig van sonde [amartias – om die doel te mis] met liefde sodat ons oortuiging ons by God bring om ons op te hef.
Sonde is nie altyd duidelik nie. Die Jode was oortuig dat hulle die regte ding doen deur Jesus ter dood te laat veroordeel. Later het Sy boodskap hulle harte geraak (Handelinge 2:37) en hulle kon hulle sonde bely. Slegs die Heilige Gees kan mense van sonde oortuig – nie ander mense nie.
2) Die Heilige Gees oortuig van geregtigheid [dikaiosunēs = die toestand wat vir God aanvaarbaar is, wat deur Hom goedgekeur word, integriteit, reinheid, korrektheid, dade en denke onderworpe aan die wil van God].
Net soos die Romeinse offisier by die kruis wat in ‘n oomblik die waarheid besef het, so oortuig die Heilige Gees ons in ‘n oomblik van die waarheid van Jesus in ons innerlike wese. Hoe is dit moontlik dat die kerk van Christus se fondament die dood van ‘n Joodse misdadiger so lank gelede is? Die geloof in die opstanding is die werk van die Heilige Gees.
3) Die Helige Gees stel ons in staat om met insig en begrip te oordeel [kriseos, krisis = onderskeiding om ‘n besluit te maak]. Ons omstandighede is kompliseerd en dinge is nie altyd duidelik nie. Ons het wysheid nodig om die regte besluite te neem.
By die kruis is boosheid vir alle tyd en ewigheid oorwin. Die onderskeiding om boosheid te herkenis ‘n werk van die Heilige Gees.
Alles saam is ons saligheid en vryheid in Jesus. Hy is ons Redder en die straf vir ons sonde was op Hom.
Wat is die waarheid? Die Heilige Gees is die gees van Waarheidwant Hy openbaar Jesus aan ons.
Openbaring is ‘n proses– dit is meer en dieper vir diegene wat die soek. Ons begin by basiese kennis en beweeg aan tot lewensveranderende openbaringskennis.
Alle openbaring het gevolge.
Geloof ondersoek openbaring.
Slegs in waarheid kan ons verstaan wie God is en die meer komplekse gedeeltes van die Ou Testament verstaan. Die heidene en vals gode wat uitgewis moes word, is vir ons die simboliek van boosheid en valsheid wat ons bind en waarvan ons in Jesus bevry word.
Openbaring is dinamies. God praat, God werk, God red en seën sonder onderbreking. Jesus leef en is die lewende waarheid.
Waarheid is ‘n gawe van God. Dit is nie ‘n mens se ontdekking nie. Ons leer dit stadig, maar dit is daar en die bron daarvan is God.
Openbaring van waarheidis die betekenis en interpretasie van wie Jesus werklik is. Jesus is onuitputlik. Ons kan Hom nooit ten volle verstaan nie. Hoe meer ons soos Hy word, hoe meer verstaan ons Hom.
Hy is die enigste persoon wat ooit gesêhet: Ek is waarheid. Al die mense wat aanspraak gemaak het dat hulle die Messias is, of selfs God is, het nog nooit hierdie moedige, alles-omvattende stelling gemaak nie. Jesus is bekend daarvoor in die verwysingsraamwerk van soveel mense oor so ‘n geweldige lang tyd.
Kan ons vir ‘n oomblik stil word en ons harte oopmaak sodat die Heilige Gees ons op ‘n diep vlak van die waarheid van Jesus kan oortuig?