179. ‘n Gesprek oor die toekoms.

[Johannes 16]

Enigiemand wat Bodemklippe lees weet dat ek gefasineerd is met tyd.  Die verlede, hede en toekoms word met groot moeite in taal uitgedruk – dink maar net oor Engels. Afrikaans is uniek in sy eenvoud om met hulpwerkwoorde ingewikkelde tydsaanduidings uit te druk. Ons het woorde nodig om ons storie van die verlede te vertel. Ons het wysheid nodig om ons storie in die hede gestalte te gee en ons het geen beheer oor die toekoms nie, selfs al het ons al die regte besluite geneem. Die lewe gebeur in die konstante en onstuitbare ritme van tyd. Soms voel dit stadig en lank wanneer pyn en ongemak heers en soms voel dit so vinnig en vlietend as vreugdevolle en goeie dinge gebeur. Tyd is onbuigbaar en wetenskaplik ferm deur die dae, jare en eeue van die geskiedenis.

In die Christelike tradisie het ek geleer dat die die toekoms aan God behoort en dat ek nie beheer daaroor het nie en ook nie uitsprake daaroor kan maak nie. Die toekoms is ‘n tydvak wat met groot respek aan God oorgelaat word.

Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.”

Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.(Jakobus 34:13,14)

Die respek vir die toekoms word soms uitgedruk in die Latynse woorde Deo Volenti (DV), wat in geskrewe en gesproke taal bygevoeg word. Dit beteken “soos die Here wil”. Eintlik behoort ons verlede en hede ook aan God en ons leef ons ganse lewe in die wil van God. Ons dien ‘n groot God wat buite tyd staan en in Sy oë is ons bestaan net ‘n damp wat verskyn en verdwyn.

Die toekoms is onseker. Ons beheer net hierdie oomblik. Dit is ons moment om die besluite te neem wat ons verlede onder die bloed van Jesus en ons toekoms bepaal. Ons toekoms is soos Eugene Petersen sê: a field of action for the promises of God. Sal dit nie wonderlik wees as al die onsekerheid oor die toekoms verdwyn en ons toekomssukses gewaarborg is nie? Dit is die goeie nuus van die Evangelie – dit is!

Hier in die laaste gedeeltes van Johannes 16 praat Jesus oor dinge wat kom. Hy berei Sy dissipels voor op die tyd na die kruisiging. In Joodse denke was daar twee tydvakke – die huidige en die toekoms.

Die huidige tyd was sleg en onder die oordeel van God.

Die toekoms was die goue eeu van God.

In die middel van hierdie twee tydvakke is: die dag van die Here – ‘n vreeslike dag waarin die huidige bestel heeltemal vernietig word en vervang word met ‘n wonderbestel waarin die Messias sal heers.

In die tydvak tussen die Ou en Nuwe Testamente het hierdie leer nuwe lewe gekry en profete en verskeie self-verklaarde Messiasse het dit verkondig. Die woorde van die ou profete is ingespan vir die doel.

Die dag van die Here het nou gekom, dit is ‘n wrede dag, ‘n dag van gramskap en gloeiende toorn, ‘n dag waarop die land verwoes en sy sondaars uitgeroei word. (Jesaja 13:9)

Blaas die ramshoring in Sion, roep hard op my heilige berg. Al die inwoners van die land sal bewe, want die dag van die Here kom, dit is naby: dié stikdonker dag, die dag van donker wolke waarop die groot  sterk nasie oor die berge uitsprei soos die lig van die dagbreek uitsprei. Só ‘n sterk nasie was daar nog nooit en sal daar nooit weer wees nie, selfs nie in die verste toekoms nie.(Joël 2:1,2)

Ons weet vandag die ramshoring het geblaas met die koms van die Messias en sal weer blaas by Sy tweede koms. Die sterk nasie is die kerk van Jesus, die onsigbare koninkryk op aarde, die Nuwe Jerusalem van Openbaring, soos wat daar nog nooit was nie.

In die Heilige Gees word geloof in Jesus die onderbou van die koninkryk van God.

Christelike vreugde is onafhanklik van omstandighede en veranderinge. Wêreldse vreugde is verkleef aan wêreldse dinge. Christen vreugde kom uit Jesus as bron en niks in hierdie wêreld kan dit wegneem nie. Ons vreugde kom uit die bron van die Heilige Gees en dit is volmaak in die teenwoordigheid van God waarin die Gees ons lei. Dit is vreugde sonder verwyte uit die verlede.

Pyn is vergete net soos na kindergeboorte (16:21,22).

Jesus belowe die volheid van kennis (16:23). Hier op aarde is daar altyd onbeantwoorde vrae en onopgelosde probleme, maar ons leef in geloof, nie op grond van wat ons sien nie. Volle kennis bring ‘n nuwe dimensie in ons verhouding met Jesus. Die deur van die onsienlike is oop deur Hom, daarom kan ons met insig en wysheid leef.

Die volheid van ons verhouding met God is slegs moontlik deur Jesus. Dit is in Sy naam wat ons vra en ontvang.

Jesus praat in paroimia (Grieks) wat beteken dat dit onduidelik vir die gewone luisteraar is. Daar is ‘n sluier oor, wat weggeneem moet word. Dit vereis meer ondersoek en meer oordenking om verstaan te word. Die woord word ook ten opsigte van die gelykenisse van Jesus gebruik.

Hy sê dat Hy die openlike waarheid met hulle praat. Hy sê reguit Hy is van God en Hy gaan terug na God. Dit is ‘n geweldige stelling. Die kruisdood was in hulle oë die dood van ‘n krimineel. Vir Jesus was dit die pad na God!

Die openbaring is dat in Jesus ons God direk kan nader. Jesus verander die houding van mense teenoor God. Hy is die openbaring van die hart van God. Hy stel God aan die mens voor as ‘n liefdevolle Vader en nie die woedende, verwoestende God wat die profete en karakters in die Ou Testament weerspieël het nie. Dit is vir hierdie openbaring dat Jesus sterf.

Jesus se werk is klaar. Hy kom uit die Vader en deur die Kruis gaan Hy terug. Sy dissipels is die geliefdes van God omdat hulle Jesus ken en liefhet.

Die dissipels gee alles aan Jesus oor (16:29-33). Hulle maak ‘n geloofsprong oor die dinge wat hulle nie verstaan nie. In verse 17-18 is hulle nog verwar en onseker. In vers 19 antwoord Jesus die vrae in hulle harte wat hulle nog nie uitgespreek het nie. Dit bring geloof. Hy toon aan hulle God se glorie en liefde en beantwoord hulle diepste twyfel. Jesus het volmaakte kennis van God sowel as die mens.

Jesus is realisties. Hy weet watter effek die kruisigingsdag op hulle gaan hê. Hy weet dis ‘n donker tyd van verwarring, verraad en teleurstelling. Hy weet hoe hulle gaan reageer en Hy het hulle lief ten spyte daarvan. Selfs met die volle kennis van hulle vernedering van verraad en vrees, vertrou Hy hulle met Sy boodskap en missie!

Is dit nie verstommend wonderbaar nie?

Hulle reaksie in pyn sal hulle nie van die oorwinning in hulle lewe beroof nie.

In hierdie unieke moment in die geskiedenis waar hierdie gesprek plaasvind, is vergifnis en vertroue saamgebind in ‘n onbreekbare geestesband.

Jesus vertrou hulle ten spyte van mislukking en die skuld wat daaruit voortspruit.

Hy het geweet Hy sal alleen aan die kruis hang. Sy oog was op God en nie op mense nie. Hy het geweet Sy vriende gaan Hom verlaat en Hy vergewe hulle in die toekoms in. Hy het hulle innig lief terwyl Hy hulle swakhede ken en vergewe.

Hy gee hulle vrede. Hy vertel hulle Hy weet van hulle toekomstige mislukking en dat dit geen verskil aan Sy liefde maak nie, sodat hulle nie in teleurstelling en vernedering vergaan nie. Dit is die wonder van goddellike simpatie met die mens.

Jesus weet jou sonde sal jou seermaak. Jou sonde doen niks aan Hom nie. Hy is veilig in Sy Vader. Hy wil dat ons sonde oorwin en dat sonde en mislukking ons nooit van Hom af weghou nie. Die duiwel sal aanval met skuld en skande, maar Jesus vergewe en herstel.

Die gawe van Jesus is moed en oorwinning.

Die dissipels word getuies van die belangrikste gebeure in die geskiedenis. Die wêreld op sy slegste kan Jesus nie oorwin nie.

Hoor jy die woord van God oor jou toekoms?

Jou mislukking, die lewe se tragedies en hartseer, die slegste van die slegste sal nie die finale oorwinning in Christus verander nie. Die lewe se slegste scenario bepaal nie jou toekoms nie.

Jy is ‘n kind van die Allerhoogste God!

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s