178. Openbaring van waarheid.

[Johannes 16]

Ek is seker dit het al met jou ook gebeur. Iemand sal sê, moenie bekommer nie, dis beter so. Jy sal diep sluk en sug in die ongeduld van onbegrip oor hoekom op aarde hierdie beter kan wees. Dit gebeur dalk meer met kinders wat aan onverstaanbare volwasse besluite onderwerp word, soms sonder verduideliking.

Ons is God se kinders en daar is tye wat ons nie verstaan nie. Mense sê oppervlakkige dinge om gebeure te verklaar soos: dit was geluk, omstandighede het net so uitgewerk, die sterre was belyn. Pyn en mislukking word toegeskryf aan “bad luck”, die noodlot of wrede oordele oor die persoon se eie vermoeëns om die lewe te hanteer.

Ek het al dikwels oor openbaringskennis geskryf. Dit is vir my een van die sentrale temas van my lewe en die doel van alles wat ek doen.

Die heel eerste maal wat ek die ondervinding gehad het dat God met my praat, was toe ek net 14 jaar oud was. Die eindeksamen van graad 9 was ‘n vol rooster en die eksamens was formeel en streng.

Ek was gespanne en moedeloos die aand voordat ek Wiskunde en Latyn moes skryf met net ‘n kort breek tussen die twee vraestelle. In daardie tyd het my ma die Bybel bestudeer met ‘n desperaatheid vir uitkoms uit al ons probleme. Daardie aand het ek my Bybel opgetel en besluit ek sal in die middel oopmaak sodat ek ‘n Psalm kan lees –  enige Psalm om my kalm te kry. Die Bybel het oopgegaan in Jesaja – ek het nie eers geweet daar is so ‘n boek in die Bybel nie!

My oog het op hierdie woorde geval:

Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand. (Jesaja 41:10)

Stadig het die besef in my hart kom vestig dat God praat met my, ‘n arme gespanne skoolkind, direk in my omstandighede in. Ek was so oorstelp van vreugde en verligting. Ek kon studeer en lekker slaap. Vandag weet ek dat die Heilige Gees het die waarheid van die woord in my innerlike wese gekommunikeer. Ek was suksesvol in die eksamen maar ek kan nie die besonderhede onthou nie. Wat ek wel kan onthou is my ondervinding dat God my hartroep gehoor het en geantwoord het. Vandag, 44 jaar later kan ek dit as ‘n getuienis neerskryf en dit is helder in my gedagtes.

Dit is hier in Johannes 16 waar ek die lering van Jesus oor die Heilige Gees begin verstaan het. Hy het Sy dissipels vertel van die Heilige Gees wanneer Sy fisiese  teenwoordigheid die aarde verlaat het.

In hulle hartseer verwarring na die kruisiging, het die dissipels onthou wat Jesus gesê het, dat dit beter is dat Hy weggaan want dan sal die Heilige Gees kom. In die vlees was Hy beperk tot tyd en plek. In die Gees was daar geen beperkinge nie. Hy is altyd by ons net soos Hy belowe het in Matteus 28:20.

Ons het die gawe van ononderbroke gemeenskap met God.

Jesus gee hier ‘n volmaakte opsomming van die werk van die Heilige Gees.

Die Heilige Gees oortuig ons. Die woord in Grieks is elegchein en dit is in die kruisondervraging van ‘n getuie in ‘n hof gebruik.

‘n Kruisondervraging vind plaas om ‘n persoon so te lei om sy skuld te beken en meer lig op die feite te werp. Menslike regsgeleerdes moet ‘n getuie met vrae lei om die waarheid te ontdek. Die getuienis kan sterk of swak wees.

Die Heilige Gees is die volmaakte advokaat. Hy weet reeds die kleinste besonderhede van ons innerlike, beter as wat ons self weet. Hy oortuig in volmaakte liefde om ons swakhede en mislukking te hulp te kom en herstel te bring.

1) Hy oortuig van sonde [amartias – om die doel te mis] met liefde sodat ons oortuiging ons by God bring om ons op te hef.

Sonde is nie altyd duidelik nie. Die Jode was oortuig dat hulle die regte ding doen deur Jesus ter dood te laat veroordeel. Later het Sy boodskap hulle harte geraak (Handelinge 2:37) en hulle kon hulle sonde bely. Slegs die Heilige Gees kan mense van sonde oortuig – nie ander mense nie.

2) Die Heilige Gees oortuig van geregtigheid [dikaiosunēs =  die toestand wat vir God aanvaarbaar is, wat deur Hom goedgekeur word, integriteit, reinheid, korrektheid, dade en denke onderworpe aan die wil van God].

Net soos die Romeinse offisier by die kruis wat in ‘n oomblik die waarheid besef het, so oortuig die Heilige Gees ons in ‘n oomblik van die waarheid van Jesus in ons innerlike wese.  Hoe is dit moontlik dat die kerk van Christus se fondament die dood van ‘n Joodse misdadiger so lank gelede is? Die geloof in die opstanding is die werk van die Heilige Gees.

3) Die Helige Gees stel ons in staat om met insig en begrip te oordeel [kriseos, krisis = onderskeiding om ‘n besluit te maak]. Ons omstandighede is kompliseerd en dinge is nie altyd duidelik nie. Ons het wysheid nodig om die regte besluite te neem.

By die kruis is boosheid vir alle tyd en ewigheid oorwin. Die onderskeiding om boosheid te herkenis ‘n werk van die Heilige Gees.

Alles saam is ons saligheid en vryheid in Jesus. Hy is ons Redder en die straf vir ons sonde was op Hom.

Wat is die waarheid? Die Heilige Gees is die gees van Waarheidwant Hy openbaar Jesus aan ons.

Openbaring is ‘n proses– dit is meer en dieper vir diegene wat die soek. Ons begin by basiese kennis en beweeg aan tot lewensveranderende openbaringskennis.

Alle openbaring het gevolge.

Geloof ondersoek openbaring.

Slegs in waarheid kan ons verstaan wie God is en die meer komplekse gedeeltes van die Ou Testament verstaan.  Die heidene en vals gode wat uitgewis moes word, is vir ons die simboliek van boosheid en valsheid wat ons bind en waarvan ons in Jesus bevry word.

Openbaring is dinamies. God praat, God werk, God red en seën sonder onderbreking. Jesus leef en is die lewende waarheid.

Waarheid is ‘n gawe van God. Dit is nie ‘n mens se ontdekking nie. Ons leer dit stadig, maar dit is daar en die bron daarvan is God.

Openbaring van waarheidis die betekenis en interpretasie van wie Jesus werklik is. Jesus is onuitputlik. Ons kan Hom nooit ten volle verstaan nie. Hoe meer ons soos Hy word, hoe meer verstaan ons Hom.

Hy is die enigste persoon wat ooit gesêhet: Ek is waarheid. Al die mense wat aanspraak gemaak het dat hulle die Messias is, of selfs God is, het nog nooit hierdie moedige, alles-omvattende stelling gemaak nie. Jesus is bekend daarvoor in die verwysingsraamwerk van soveel mense oor so ‘n geweldige lang tyd.

Kan ons vir ‘n oomblik stil word en ons harte oopmaak sodat die Heilige Gees ons op ‘n diep vlak van die waarheid van Jesus kan oortuig?

 

 

140. Mens ontmoet God – een gewone dag langs die meer…

Is daar iemand in jou lewe wie jy so bewonder dat jy die presiese dag en omstandighede van ontmoeting soos gister kan onthou? Mense vra dikwels hoe ‘n man en vrou ontmoet het. Die storie word dan met lag en luister en tussenwerpsels vertel. Die gehoor is gefasineerd en tevrede met die storie wat in lewenslange toewyding eindig.

Dink net aan die massiewe historiese impak van ‘n ontmoeting wat so beskryf word:

Andreas, die broer van Simon Petrus, was een van die twee wat dit van Johannes gehoor en Jesus gevolg het. Daarna het hy eers sy broer Simon gaan soek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” Messias beteken Christus. Hy het hom na Jesus toe gebring. Jesus het stip na hom gekyk en gesê: “Jy is Simon seun van Johannes; jy sal Sefas genoem word.” Sefas beteken dieselfde as Petrus. (Johannes 1:40-42)

Andreas is so ingenome met sy ontmoeting met Jesus dat hy onmiddellik sy broer betrek. Dit is ‘n geweldige oomblik – hierdie ontmoeting van Jesus en Petrus. Dink aan hulle verhouding met die luuksheid van terugblik. Dit het alles begin een gewone dag langs die meer van Galilea in die middel van die wêreld.

Hierdie verse gebruik die terme Messias en Christus wat onderskeidelik die Hebreeus en Grieks vir die gesalfde koning van God is. Dit was algemene praktyk in die antieke wêreld om konings te salf.

Andreas word aangedui as Simon Petrus se broer en speel dwarsdeur die Evangelies ‘n belangrike rol om mense bymekaar te bring. Hy het die seuntjie met die twee vissies en vyf brode na Jesus toe gebring vir die vermeerderingswonderwerk (Johannes 6:8-9). Hy is altyd bereid om die mindere plek in die groter storie in te neem. Hy het ook die soekende Grieke in Jesus se teenwoordigheid ingelei. Hy het die hart van ‘n sendeling.

Andreas speel die hoofrol in die ontmoeting van Jesus en Petrus.

Jesus het stip na Petrus gekyk. Die woord wat vir kyk gebruik word, beteken eintlik ‘n kyk soos ‘n intense staar, ‘n kyk tot diep in Petrus se hart. Hy gee Petrus ‘n nuwe naam, net daar en dan. Jy sal Sefas genoem word, wat rots beteken.

Twee name was redelik algemeen in daardie dae. ‘n Mens het dikwels ‘n Aramese en ‘n Griekse naam gehad, soos Thomas en Didimus (Grieks vir tweeling). Thabita was Aramees en Dorkas Grieks vir gemsbok. Petrus en Sefas was dieselfde naam in verskillende tale.

In die Ou Testament het ‘n nuwe naam ‘n nuwe lewe aangedui, ‘n nuwe verhouding met die Here. Jakob het Israel geword in Genesis 33:28 en Abram het Abraham geword in Genesis 17:5. ‘n Nuwe mens kort ‘n nuwe naam.

Jesus sien met die visie van God in die lewe van ‘n mens. Hy sien die betekenis en potensiaal van ‘n mens in ‘n oogopslag. Hy is deel van God se skepping van en plan met elke mens. Hy het die hele kragtige toekoms van daardie Galilese visserman in ‘n oogopslag gesien.

Jesus sien dit in elke mens wie sy lewe oorgee aan God se plan. Hy het dit in Gideon en Dawid en talle ander geloofshelde gesien.

Dit is hoe ons na ander mense moet kyk. Dink aan die kragtige Jesus-woorde van visie en potensiaal oor ons kinders se lewens wanneer ons met Heilge Gees-gesalfde oë kyk.

In Matteus 16:13-20 is ‘n ander gesprek van Jesus met Sy dissipels opgeteken. Jesus vra ‘n maklike vraag: wie sê die mense is ek? Maklike antwoord gee die dissipels: sommige sê Elia, ander Moses, party Johannes die Doper of ander meen dat Jesus een of ander nuwe profeet is.

Skielik maak Jesus dit persoonlik.

Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

Wel, natuurlik sal die voortvarende Petrus dit uitbasuin.

“U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

Hierdie inpsirerende, Heilige Gees-woorde laat Jesus ‘n seën oor Petrus uitspreek wat oor eeue tot in ewigheid sal weergalm.

Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is. En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

Dit is openbarings-woorde van Petrus. Dit is wat ons begeer. Ons wil sien en praat soos wat die Vader in die hemel aan ons openbaar.

Jesus verklaar dat Petrus se insig wat in sy woorde uitkom die rots is waarop die kerk gebou word. Dit is nie Petrus self nie, maar sy insig wat die rotsfondament van die kerk is. Die kerk van Jesus is nie gebou op ‘n mens nie.

Die kerk is gebou op die openbaring van wie Jesus is.

Dit verklaar die diep verskille tussen Petrus en Judas. Kom ons kyk na hulle rolle in die donker ure van Jesus se verhoor, voor die kruisiging.

Judas het behoort aan ‘n politieke party wat die Romeine met geweld wou uitdryf en ‘n onafhanklike Joodse staat uitroep. Na drie jaar saam met Jesus, het hy male sonder tal gesien hoe Jesus woedende argumente en selfs potensiele steniging vermy. Hy het net weggeloop al het sekere mense al klippe opgetel. Judas het besef dis ‘n wonderwerk dat hulle Jesus nie doodmaak nie.

Dit het hom laat dink om Jesus se hand te dwing en hom in konfrontasie met die Romeinse owerhede te bring. Dit sou ‘n wonderwek forseer en so Judas se visie in werking bring. Sy eie ambisie en toekomsvisie het sy ore doof gemaak vir die waarskuwings van Jesus dat Hy wel in hegtenis geneem en doodgemaak gaan word (Matteus 16:21; Markus 9:31; 10:33). Judas het nie die tye onderskei nie. Hy wou Jesus “gebruik”.

Hy het sy 30 stukke silwer (die prys van ‘n slaaf op die mark) ontvang en die soldate na Getsemané gelei. Baie gou het Judas gesien dat dinge nie volgens sy plan verloop nie. Hy het Jesus se kalm oorgawe aan die soldate gesien en in verstomming aanskou hoe hulle hom na die hoë priester se huis neem. Later die nag na Hy heen en weer tussen Pontius Pilatus en Herodus gestuur is, was ‘n aaklikge doodsvonnis die gevolg van die sogenaamde verhoor.

Judas was in doodspaniek. Sy hele plan het verkeerd geloop. Hy strompel terug na die kerkleiers met die woorde:

“Ek het gesondig. Ek het ‘n onskuldige man verraai.”  (Matteus 27:4)

Na ‘n hele drie jaar in Jesus se teenwoordigheid het hy nog nie besef met wie hy te doen het nie, die Christus, die gesalfde van God, die Een op wie die hele wêreld gewag het nie. Hy sterf alleen en ontnugterd.

Petrus en Johannes was baie braaf om Jesus te volg tot in die binnehof van die hoë priester se huis. Dit was nie ‘n tyd om as vriend van die Nasarener gesien te word nie. Toe Petrus alle kennis van Jesus ontken en die haan kraai, het hy gevlug en bitterlik gehuil. Kan mens jou sy wroeging voorstel?

Petrus het egter tussen sy dissipel-broers gebly. Dit is waar jy hoort as dit met jou sleg gaan en jy geestelik stry.

Daar het hy gewag totdat hulle die goeie nuus oor die opstanding gekry het. Daar in die tuin het Jesus, Petrus spesiaal aan Maria genoem, omdat hy geweet het dat Petrus se hart vreeslik pyn.

Petrus se lewe het in groot oorwinning geëindig.

In Johannes 1:43-51, ontmoet nog mense hulle God van aangesig tot aangesig.

Jesus verlaat die suide en beweeg noord na Galilea. Hy roep Filippus en laasgenoemde vind sy broer Nathaniël om die goeie nuus mee te deel. Nathaniël is skepties. Hy het heel moontlik by daardie tyd al gehoor van die man oor wie daar in Galilea gepraat word. Die dorpies daar om die meer het al hulle nuus gedeel. Niks goed kom uit Nasaret nie, het hulle gesê. Buitendien, het die profete voorspel dat die Messias in Bethlehem gebore sou word, het Nathaniël geredeneer. Natuurlik is dit net met dieper navorsing dat Jesus se geboorteplek perfek by die profesië inpas. Net iemand wat moeite doen en ondersoek instel sou dit geweet het.

Nathaniël kom van Kana af. Hy stry met Filippus. Laasgenoemde is wys. Hy sê: kom kyk. Argumente is goed en wel, maar dit vergelyk nie met die impak van die teenwoordigheid van Jesus self nie. Dit is ons rol ook. Ons kan met groot liefde en wysheid die argument vir Jesus voer, maar ‘n uitnodiging tot ‘n ontmoeting met Jesus maak die verskil.

Die openbaring van wie Jesus is, verander ‘n mens, Dit gebeur dikwels meer deur getuienis as deur argumente.

Jesus komplimenteer Nathaniël met woorde wat elke Jood sou verstaan. Psalm 32:2 en Jesaja 53:9 sê dat geen onreg by sy mond sou uitkom nie.

Onder ‘n vyeboom was vir ‘n Jood die prentjie van rustigheid. Daar in die koelte kon mens mediteer en jou siel kalmeer. Jesus was bewus van die gemaal in Nathaniël se gedagtes. Hy was duidelik een van die oorblyfsel wat die verwagting op die Messias lewend gehou het.

Die belofte staan vir altyd, maak nie saak hoeveel jare ons wag nie. Moet nooit moeg word nie. God se tyd is perfek.

Jesus ken die uitroep van sy hart. Hy ken sy gebede. Hy kommunikeer met Nathaniël op ‘n dieper vlak, spreek profeties in sy lewe en roer die groter visie om in sy hart op te vlam.

Nathaniël word nie in die ander Evangelies genoem nie. Johannes beskryf dit as ‘n voorbeeld van ‘n ontmoeting wat talle mense met Jesus gehad het. Dit illustreer die karakter van Jesus in sy verhouding met mense.

‘n Ontmoeting met Jesus vervul al die onuitgesproke verlange en begeertes in ‘n mens.

Nathaniël is ‘n simbool van die mens wie se hart van alle vooroordeel en trots gereinig is en wie Jesus as die antwoord op die roep in sy binneste ervaar.