[Johannes 3]
Die mens se kreatiwiteit verstom my. Het jy al vasgenael in ‘n konsert gesit, terwyl die perfeksie en passie van die optrede jou siel binnedring? ‘n Konsertpianis, ‘n sanger wat met musiek jou net so diep raak, soos kuns, argitektuur en ‘n mooi fliek.
Ek word maklik deur skoonheid oorweldig. Ek verlang partykeer om iets wonderlik te sien. Die afgelope weke se sonsondergange was so verstommend mooi dat dit moeilik is om te beskryf. Ek het soms so intens gekyk omdat ek nie ‘n minuut daarvan wou mis nie.
Vroeër hierdie jaar was ek op ‘n vrouekamp noord van waar ons woon. Die Vrydagaand was tyd vir warm sjokolade om ‘n kampvuur buite. Dit was al goed koud en ons het met dik jasse buite gesit. Iemand het met my gepraat en ek kon eers later uitgaan, so rondom 11nm. Ek het net ‘n rukkie gesit, toe wou die bittereinders ook gaan slaap. Toe ons omdraai om terug na die gebou te loop, toe dans die hele lug!
Ek kon my oë nie glo nie. Die trane het spontaan geloop. Die bewegende groen ligte was so majestieus en so verruklik mooi dat ek tjoepstil gestaan en staar het. Dit het werklik gevoel asof die Here voor my met die wonder van Sy skepping spog! Ek het gestaan totdat dit vervaag het. My vriendinne het my verwondering so geniet, dat dit vir hulle ook nuut was. Sommige sien die aurora aand na aand van hulle stoepe af.
Ek sal dit nooit vergeet nie. Dit is vir ewig in my gemoed ingrafeer.
Hoe kan iemand ‘n ontmoeting met die Lig van die wêreld vergeet? Ek kan my net voorstel hoe dit moes gevoel het om voor die mens Jesus te staan. Eintlik is dit gewaarborg om by jou te bly. Jy kan Hom verwerp, maar dit bring ‘n oordeel oor jou wat jy self bepaal. Dit is onmoontlik om neutraal te staan.
Hier in Johannes 3:17-21 sien ons die paradoks van liefde en oordeel. Die blote feit van God se liefde het oordeel ingebou. Enigiemand wat Sy liefde verwerp bring oordeel oor homself.
Dit is moontlik om liefde aan te bied wat in oordeel omskep word. ‘n Vreugdevolle ondervinding kan veroordeel word. Jy kan dalk dink dat jy ‘n vriend saamneem vir ‘n simfoniekonsert wat vir jou pragtig is en die ander persoon sit en vroetel van verveeldheid.
As die mens met groot kuns en kreatiwiteit konfronteer word, is sy reaksie noodwendig oordeel. Kuns, musiek, prediking, boeke en selfs die natuur word onmiddellik geoordeel. As iemand ‘n sekere skoonheid miskyk, dan is hy blind vir dit wat voor hom is. Dit is so met baie dinge in die lewe. Hoe dikwels kyk ons die mooi mis. Dit verg dalk bietjie tyd en geduld om dieper te kyk. Die skoonheid self staan nie in die hof van die lewe op aanklag nie. Die een wat kyk word verhoor. Sy blindheid vir skoonheid is bejammeringswaardig.
Net so met Jesus – die mens het Hom geoordeel. Sy missie van redding en saligheid, vryheid en oorwinning is nie raakgesien nie. Daarmee is die mens geoordeel. God het die mens lief. Die mens veroordeel homself.
In die lig van Jesus en ‘n ware ontmoeting met Hom, sien ons ons tekortkominge en swakhede. Dit is nie lekker nie. Die duisternis van sonde bedek ons slegte karakter, of so dink ons, totdat dit ons inhaal en vernietig. Die waarheid maak vry. Jesus het gesê: Ek is die waarheid.
Johannes 3:22-30 is die perfekte reaksie op Jesus van sy neef, Johannes die Doper. In sy woorde vind ons die verfrissende krag van nederigheid:
Die bruidegom is die een aan wie die bruid behoort; maar die vriend van die bruidegom staan en luister of hy kom en is baie bly wanneer hy die stem van die bruidegom hoor. Daarom is ek nou met blydskap vervul.
Hy moet meer word en ek minder.
Nederigheid word gedefinieer as ‘n beskeie besef van morele onbelangrikheid, ‘n onselfsugtige, positiewe beheptheid met die welvaart van ander mense. Dit is die totale afwesigheid van arrogansie en trots.
Die woord was afwesig in klassieke Grieks buite die Bybel. Die krag van ‘n nederige mens is nie in die antieke wêreld erken nie. Die Grieke was duidelik nie geskool in die Hebreeuse wysheidsliteratuur van die Ou Testament nie.
Hoogmoed bring ‘n mens tot ‘n val; nederigheid bring eer. (Spreuke 29:23)
In nederigheid aanvaar ons die wil van God en so ‘n persoon geniet die Koninkryk van God hier op aarde waarin ons leef as ons Jesus aanvaar.
Daar is geen selfbejammering van Johannes die Doper nie. Hy het nooit meer verwag nie. Hy het geweet hy is die voorloper, die wegbereider.
Die lewe sal makliker wees as elke mens van sy Godgegewe rol in die wêreld bewus is en soms die ondergeskikte rol speel. Ons maatstaf is so anders as God s’n. Enige taak vir God het grootheid ingebou.
Geen mens is tot meer in staat as wat God hom gee nie.
In die woorde van Johannes die Doper:
“Niemand besit enige bevoegdheid om iets te doen as dit nie uit die hemel aan hom gegee is nie.
Hy het Jesus die bruidegom genoem en homself die vriend van die bruidegom.
Een van die dieper simbole van die Ou Testament is God as bruidegom en die volk Israel as Sy bruid. Die verhouding tussen God en Sy volk is so spesiaal soos ‘n huweliksverhouding. As Israel afgodery praktiseer is dit soos owerspel (Exodus 34:15; Deuteronomium 31:16; Psalms 73:27; Jesaja 54:5). Die Nuwe Testament het hierdie beeld verder uitgebou en praat van die kerk as die Bruid van Christus (2 Korintiërs 11:2 en Efesiërs 5:22-32).
Die bruidegom se vriend het ‘n belangrike taak in ‘n Joodse huwelik gehad. Hy was die kontakpersoon tussen die bruid en bruidegom, hy het die troue gereël, hy het die uitnodigings uitgehandig, hy was die seremoniemeester. Hy het die bruid en bruidegom bymekaargebring. Hy het een belangrike en spesiale verpligting gehad. Hy het toegesien dat daar nie sommer enige man by die bruid beland. Hy het die stem van die bruidegom geken en net hom by die deur van die huwelikskamer toegelaat, waar hy die bruid veilig bewaar het.
In die laaste verse van hierdie hoofstuk weet ons nie meer of die Johannes die Doper aan die woord is nie, of Johannes die skrywer van die boek self kommentaar lewer nie.
Die woorde verklaar die gesag van Jesus. Hy ken God omdat Hy van God af kom. Hy het die beste inligting oor die karakter van God. Ons leef in die Gees-dipensasie en kan hierdie kennis van God bekom deur die Heilige Gees.
In die antieke tyd is alle dokumente met ‘n seël bevestig. Jesus is die seël op die Testament wat ons van God kry.
God het niks van Jesus teruggehou nie. Hy het die Sy Gees in volle maat uitgestort. Die Gees het twee doelstellings: om aan die mens God se waarheid te openbaar en om die mens in staat te stel om dit te erken en te verstaan.
Om Jesus se woorde te hoor is om God te hoor. Dit is die keuse tussen lewe en dood. Die keuse word regdeur die Bybel beklemtoon. (Deuteronomium 30:15-20; Joshua 24:15)
Op die kruispad van elke lewe is daar altyd ‘n keuse. Wat sal jy met Jesus doen? Elke dag, elke uur is daar ‘n keuse. God se liefde konfronteer. Hy is waarheid en liefde.
Hy sê dit self. (Exodus 34:6, The Message)
God passed in front of him and called out, “God, God, a God of mercy and grace, endlessly patient—so much love, so deeply true—loyal in love for a thousand generations, forgiving iniquity, rebellion, and sin.