148. ‘n Vrou vir alle tye.

[Johannes 4]

Ek is so dikwels omgestamp deur die wonder van die Bybel. Dit is ‘n stokou geskrif, ‘n verstommende goed gepreserveerde antieke dokument wat stories oor meerdere eeue weergee en dan skielik fokus op een uur, een dag wat die God van hemel en aarde in die gewone roetine van oorlewing inskryf.

Kom ons kyk na so ‘n kamee ontmoeting in Johannes 4:1-21. [Lees asseblief die paar verse eers om die storie te ken, voordat ons in die besonderhede ingaan. Jesus vertrek na Galilea om ‘n dispuut oor die doop te vermy.]

Van Noord na Suid is Palestina maar amper 200 kilometer lank. Binne hierdie afstand was daar in die tyd van Jesus drie verdelings van oppervlakte. In die noorde was Galilea, in die suide Judea en in die middel Samaria.

Daar was ‘n eeu-oue vyandskap tussen die Jode en die Samaritane. Die rede hiervoor word bietjie later in hierdie stukkie bespreek. Die vinnigste roete na Galilea was deur Samaria. Met hierdie roete was die reis drie dae te voet. Die alternatief was om die Jordaan te kruis en aan die oostekant van die rivier op te loop en dan noord van Samaria weer die rivier oor te steek. Jesus en sy dissipels neem die kortpad deur Samaria.

Dit is ‘n wonderwerk dat Jesus se dissipels gewillig was om Hom te volg. Oppad het hulle by die dorp Sigar gekom. Daar by ‘n vurk in die pad was Jakob se put.

Hier area was vol herinneringe vir die Jode. Die grond is deur Jakob gekoop (Genesis 33:18-19), wat hy op sy sterfbed aan Josef bemaak het (Genesis 48:22). Toe die Israeliete Egipte verlaat, het hulle Josef se beendere saamgeneem en hier by die put van Jakob begrawe (Joshua 24:32).

Daar was absoluut geen kontak tussen die Jode en die Samaritane nie.

Die agtergrond vir hierdie vyandskap is te vinde in die tyd van Nehemia en Ezra toe die ballinge van Juda (die suidelike koninkryk) na Jerusalem teruggekeer het en die muur herbou het. Die noordelike koninkryk, Israel met hulle hoofstad Samaria, is deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer (2 Konings 17:6). Hulle het nooit uit ballingskap teruggekeer nie. Gewoonlik het die swakkes en siekes wat nie in slawerny weggevoer is nie, in die land agtergebly. Oor baie jare het meer van die ballinge ook begin terugkeer, maar hulle kon nie weer ‘n nasie bou nie, met die gevolg dat hulle met heidennasies ondertrou het. Volgens die wet van Moses was dit nie toegelaat nie

(2 Konings 17:24) en daarmee het hulle hulle reg om Jode genoem te word, verloor.

Toe Nehemia die muur begin bou, het hulle gevra om te help en te deel aan die opbou van die land. Nehemia het geweier as gevolg van hulle onsuiwerheid. In Nehemia 13:28 is die voorbeeld van ‘n Jood, wat die dogter van Sanballat, ‘n Goroniet, getrou het. Nehemia het hulle weggejaag. In 129vC het ‘n Joodse generaal die Tempel in Samaria vernietig. Die Samaritane het bitter geword en die haat aangevuur vir die volgende 450 jaar. Die Rabbi’s het gesorg dat die bitterheid verskerp en die stories oor die wetsoortreding oor en oor vertel.

Terug by die vrou by die put.

Middag in die Joodse dag wat van 6vm to 6nm geduur het, was 12nm. Die dissipels het in die stad ingegaan om kos te koop – ‘n wonderwerk opsigself, want gewoonlik sou geen Jood in Samaria kos koop of vra nie. Dit was duidelik dat hulle denke onder Jesus se invloed verander het.

Die put was meer as 30 meter diep. Dit was nie ‘n vloeiende fontein nie. Dit was sand waarin die water stadig gesyfer het. Die put was so diep dat dit nie moontlik was om sonder ‘n beker of houer water te kry nie.

Die put was ongeveer ‘n kilometer buite die dorp. Dit was nie die hoof waterbron van die dorp nie. Die vrou het alleen gekom. Sy was duidelik ‘n uitgeworpene. Gewoonlik het vroue saam na die waterbron toe geloop om bietjie te gesels. Dit was die enigste tyd vir sosialisering in ‘n lang dag van verpligtinge. Die feit dat hierdie vrou alleen na die ver put gekom het, was ‘n teken van die mate van verwerping wat sy van haar bure ervaar het. Sy het heel moontlik vermy om saam met die ander vroue water toe te loop.

Jesus vra haar vir water. Hy moes nie eers met haar gepraat het nie. Joodse mans het nooit ooit met ‘n vrou in die publiek gepraat nie, nie eers hulle eie familie nie en verseker nie ‘n Samaritaanse vrou nie. Daar was selfs ‘n groep wat die “gekneusde ” fariseërs genoem is omdat hulle in pale en ander hindernisse vasgeloop het omdat hulle hulle oë toemaak as hulle ‘n vrou sien.

Die storie soos vertel in Johannes is net ‘n kort gesprek. Miskien was daar meer? Hoekom het die vrou Jesus vertrou? Dit kon wees as gevolg van Sy woorde of net die vriendelikheid en aanvaarding in Sy houding teenoor haar wat vir haar heeltemal ongewoon was.

Jesus het bedien uit die realiteit van sy menslikheid. Hy was moeg. Johannes beklemtoon Sy godheid, maar hier ook Sy menslikheid. Die lewe is vir Hom ook ‘n inspanning, net soos vir ons.

Die warmte van Sy simpatie was in sterk kontras met die gewone godsdiensleiers. Sy sou heel moontlik gevlug het as sy een van hulle raakgeloop het. Jesus het haar nie veroordeel nie en nogtans haar lewe oopgevlek. Sy het hom vertrou en ‘n vriend in Hom gevind.

Jesus breek deur al die hindernisse. Sy was ‘n Samaritaan en ‘n vrou. Boonop was sy ‘n vrou van twyfelagtige sedes. Geen ordentlike man sou eers naby haar gekom het nie.

Dit is ‘n wonder-verhaal van die Seun van God wat moeg en dors is. Die God van die hemel luister na haar storie van hartseer terwyl Hy deur al die struikelblokke van ras en haat breek. Die goeie nuus van vrede bereik die res van die wêreld.

God se liefde is prakties, nie net teoreties nie.

Die gesprek volg dieselfde patroon as die gesprek met Nikodemus. ‘n Stelling van Jesus word misverstaan. Dit word herhaal, maar bietjie anders om meer te omskryf. Dit word weer misverstaan. Dan lei Hy die persoon om tot sy eie gevolgtrekking te kom en die waarheid te erken. Dit is Jesus se onderrig-styl sodat jy self insig in die saak het.

Hy stel die letterlike teenoor die geestelike. Water was meestal lopende water. ‘n Vloeiende sroom was beter. Hierdie put was nie naby dit nie. Sy vra waar Hy die lewende water gaan kry om vir haar te gee. Gewoonlik het elke mens in daardie tyd ‘n skepding gedra. Die vrou het geweet Hy kan nie water uit die put kry nie en tog sê hy Hy kan vir haar water gee.

Water het deurgaans ‘n simbolies betekenis in die Skrif. Die sieledors na God en lewende water wat dit les is ‘n tema in die Ou en Nuwe Testamente (Openbaring 21:6 en 7:17).

Die fonteine van redding word in Jesaja 12:3 genoem. Psalm 42:1 praat van dors na die lewende God. Jesaja 44:3 belowe water op die droeë grond. Kom en neem die water van die lewe verniet is die uitnodiging in Jesaja 55:1. Jeremia kla oor die gebarste waterbakke wat nie water kan hou nie (2:13). Esegiël skryf oor die rivier van lewe (47:1-12). Sagaria skryf oor die fontein van reiniging (13:1) en die vars stroom water van Jerusalem in 14:8. Alles van water gaan oor lewe en die onderhoud van lewe, die essensie, die basiese behoefte om geestelik te oorleef. Water in al sy vorme word aan die mens belowe.

Wysheid is beskou as die lewende water van die Wet. Die rabbi’s het lewende water gesien as ‘n simbool van die Heilige Gees. Die sieledors kan deur die Heilige Gees geles word. Die vrou klou aan die letterlike betekenis van Jesus se woorde omdat sy nie kan glo dat sy die antwoord op ‘n diep sielsverlange gevind het nie.

Heilige Gees water wat die mense se dors les is ‘n Messiaanse belofte (Jesaja 49:10).

Die vrou spot oor ewige dinge in die fisiese sin. Elke mens het ‘n diep verlange na die water van die lewe en net God kan daardie verlange vul.

Dit is hartverskeurend hoe die vyand hierdie verlange gebruik om die mens in allerhande dinge vas te knoop in ‘n porging om die verlange na die lewende water van die Gees met iets anders as God te vul.

Skielik is die inleidende gepraat verby. Jesus dring deur tot die diepste seer in haar siel. Die gepraat oor die mand in haar lewe openbaar die verwonding van haar diepste wese. Sy sien haarself in die lig van Sy woorde.

Sy besef die mislukking van haar verhoudinge in die lig van die openbaring van die Christus. Alle Christelike lewe begin met ‘n besef van sonde sodat ons die noodsaaklikheid van die Kruis kan insien. Sy besef dadelik haar gebrek aan ware aanbidding.

Jesus is die profeet hier. Hy bring die mens na God en God na die mens. Hy openbaar haar sonde, maar gee dadelik die oplossing. Ons kan nie op ons eie met sonde klaarspeel nie.

In Samaria is die berg Gersom vereer as ‘n historiese belangrike plek. Dit was die plek waar Abraham Isak geoffer het, waar Melgisedek aan Abraham veskyn het en waar die altaar van Moses was. Daar is selfs met die historiese tekste gepeuter om die berg se belang te verhef. Die Samaritane wou deel in die heiligheid van Jerusalem.

Toe die vrou haar sonde besef het sy tersefdertyd bewus geword van haar diep verlange na God. Waar kon sy aanbid? Die uitroep van haar hart was: waar is God? Waar kan ek Hom vind?

Jesus antwoord: God is oral. Mensgemaakte mededinging oor ‘n plek van aanbidding sou binnekort verdwyn.

Ontsagwekkend is die Here bo almal. Hy laat al die gode op die aarde wegteer sonder offers, en al die kuslande van die nasies buig voor Hom, elkeen op sy eie plek. (Sefanje 2:11)

Dit was die droom van die ou profete wat waar geword het. (Maleagi 1:11)

Volgende keer gesels ons oor die wonderbare gevolge van hierdie gesprek met betrekking tot aanbidding.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s