[Johannes 1]
Augustinus het gesê dat in alles wat hy ooit van die wêreld geleer het; in al sy studies en filosofiese denke het hy nog nooit gelees van ‘n woord wat ‘n liggaam gekry het en ‘n mens geword het nie. Dit is presies wat Johannes hier in die eerste hoofstuk van sy Evangelie verklaar. Die rede, die gedagte van God is in ‘n menslike vorm ingespreek.
Dit is Johannes se groot gedagte: Jesus is God se kreatiewe, lewe-gewende en liggende woord. Jesus is die krag van God, waarmee Hy die wêreld gemaak het en die rede van God waarmee Hy die wêreld onderhou. Dit is God self wat na die aarde in menslike vorm kom. Johannes verduidelik die vooraf-bestaan van Jesus. (Johannes 1:1-2)
As die woord van God van die begin af bestaan het en deel van die ewige karakter van alles is, beteken dit dat God altyd soos Jesus was. Ons dink die God van die Ou Testament is anders as Jesus en eintlik ‘n kontras met Jesus se bediening op aarde. Dis selfs moontlik dat mens sou kon dink dat Jesus God se houding teenoor die mens “verander” het. Die Nuwe Testament is daarop gemik om te wys dat God altyd soos Jesus was.
Jesus het die venster van tyd oopgemaak sodat ons kan inkyk op die ewige en onveranderlike liefde van God.
Wat dan van die wrede, geweldadige dele van die Ou Testament?
Dit is nie God wat verander het nie. Dit is die mens se kennis van God wat verander het. Die profete het die vernietigende gevolge van sonde gesien en dit toegeskryf aan die wraaksugtige, woede van God. Daar is geen seën moontlik waar sonde heers nie. Jesus het gekom om die wonderbare hart van God te wys, sodat ons nie in onkunde moet vergaan nie.
Daar word vertel dat ‘n klein dogtertjie van die wrede en bloeddorstige dele van die Ou Testament gehoor het en eenvoudig verklaar het: “Dit is voordat God ‘n Christen was.”
Jesus wys dat God altyd ‘n Christen was!
In die tyd waarin Johannes geskryf het, was daar ‘n dwaling onder die mense wat hulle Gnostisisme genoem het. Hulle het geglo dat daar van die begin af twee dinge bestaan het – God en materie. Materie was die rou materiaal waaruit die aarde gemaak is, gebrekkig en onrein.
God se gees is rein en perfek en kan nooit aan materie raak nie. Daarom is Jesus nie God nie, want God kan nooit in menslike vorm kom nie. Die aarde was boos en kon net uit ‘n bose god kom.
Dit was vir Johannes belangrik om die waarheid te verkondig. Twee basiese Christen waarhede is hier ter sprake. Die nou verband tussen Jesus en die skepping word weer en weer bevestig. In Kolossense 1:16 skryf Paulus: God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is… Alles is deur Hom en vir Hom geskep.
… die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe
(1 Korintiërs 8:6). Net so in Hebreërs 1:2: … het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het…
Die grondbeginsels van die Christendom bepaal dat God die wêreld gemaak het en alles wat verkeerd is, is ‘n gevolg van sonde. Die wêreld behoort aan God. God is nie verwyderd van die wêreld nie, eerder intens bestrokke om Sy plan van liefde te laat geld volgens die keuse van die mens.
Hy het Jesus gestuur om Sy liefde en lewe aan die mense te illustreer (Johannes 1:4). Die tema van die hele Evangelie is lig, lewe en liefde. In Latyn: lux, vitas, caritas, wat mens dikwels op wapens en kerke sien.
Die vierde Evangelie begin en eindig met lewe. In die begin leer ons dat Jesus lewe is en aan die einde skryf Johannes dat sy doel met die skrywe is, dat die mens sal glo in Jesus, die Christus, die Seun van God, en daardeur in Sy naam die ware lewe kan hê (Johannes 20:31).
Dit is Jesus se verwyt dat mense kies om Hom te verwerp en so die ware lewe mis (Johannes 5:40). In Jesus is lewe in oorvloed (Johannes 10:10). Hy gee lewe en niemand sal een van ons uit Sy hand ruk nie (Johannes 10:28). Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe (Johannes 14:6).
In die Evangelie van Johannes word die woord “lewe” (zoe) meer as 35 keer gebruik en “om te lewe” as werkwoord meer as 15 keer.
Lewe is die teenoorgestelde van vernietiging, vervloeking en dood.
Jesus bring lewe, God gee lewe.
Die woord wat die lewe van God beskryf is aionios – die ewige lewe.
Dit is nie eenvoudig lewe wat vir altyd aanhou nie – dit is inderdaad Goddellike lewe. Jesus bring ons God se lewe. Die ewige lewe is die lewe wat die krag van God self reflekteer. Jesus nooi ons om in God se lewe in te tree.
Die wyse waarop ons toegang kry is om in Jesus te glo (pisteuein), ‘n woord wat 70 maal in die Evangelie van Johannes gebruik word.
Wie in die Seun glo, het die ewige lewe… (Johannes 3:36).
“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe (Johannes 6:47).
“Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan (Johannes 5:24).
Hoe glo ek dit? Ek moet glo dat Jesus die Seun van God is, uit die dood opgestaan het en sy voorskrifte aanvaar as waar en juis oor my lewe. Dit is nie ‘n ondervinding nie – dit is ‘n besluit!
Dit is die sleutel tot die ware lewe. Sonder God en Jesus is dit onmoontlik om waarlik te leef.
Onderwerp aan Hom en Hy sal Sy vrede in jou gees laat heers. Hy is immers die hart van God in menslike vorm.
Sjoe Ans, dankie dit was ‘n awesome stukkie. Goed vir my!
Lief jou
Mx