135. Onplesierige tuiskoms.

[Johannes 1]

Dis altyd so goed uitgebeeld in die flieks. Dis net verstommend hoe die wrywing en spanning van ‘n ongemaklike verhouding ‘n knoop in my eie maag maak, net terwyl ek daarna kyk uit die veiligheid van ‘n teatersitplek. ‘n Lang verlore broer kom huis toe vir ‘n spesiale geleentheid; ‘n troue of ‘n begrafnis en almal is in hoogspanningsrat, bewus van die pyn van onsekerheid en vermorste jare.

Ons is kinders van God en Jesus is die seun van God. Hy is ons oudste broer deur wie ons wêreld bestaan. Johannes skryf oor die hartseer en teleurstelling in die man wat vir ons die rede en hart van ons Vader verpersoonlik het.

1:10,11: Hy wás in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.

As die mens net ingestel was om Hom te sien, sou hy nog altyd Logos in die heelal kon herken.

Van die skepping van die wêreld af kan ‘n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ‘n mens nie met die oog kan sien nie… (Romeine 1:20)

Die wêreld is so gemaak om mense na God te lei. Die skepping en omstandighede word so beskik dat ‘n mens die leemte in sy siel probeer vul. Dit is bedoel dat hy sal uitroep na God toe.

Die Teologie het nog altyd ‘n onderskeid tussen natuur-teologie en openbaringsteologie gemaak. Laasgenoemde is gebaseer op die waarheid wat direk van God deur die profete in Sy woord openbaar gemaak is. Natuur-teologie is die waarheid wat die mens op sy eie deur sy eie intellek en begrip van die wêreld om hom, ontdek. Hoe kan ons God in ons wêreld herken?

Openbaringskennis is die wonder van God se stem deur sy geskrewe Woord. Dit is die stem van oortuiging in ons gedagtes, wat ons besluite bepaal en ons gedagtes stuur.

Commit your works to the Lord, and your thoughts will be established. (Proverbs 16:3)

Dit is die grootste seën op aarde en vir dit hou ons aan bid en studeer.

Ons bid vir insig in die wêreld om ons. Ons kan net deur die oë van die Heilige Gees waarlik sien. Ons kyk na die heelal uitwaarts en dink soos die Grieke dat waar daar orde is, is daar intelligensie. Die wêreld het verstommende orde. Die planete hou hulle bane, die getye is konstant, die seisoene is soos klokslag en net so dag en nag (Genesis 11:22). Volmaan, sonsverduisterings ensovoorts kan noukeurig bereken word. Dit is ‘n superieure intelligensie aan die werk.

Ons kyk na die heelal opwaarts. Die astronome studeer die sterre wat soos die sand aan die see is in ‘n onbegryplike groot heelal. Die astronomie wys na God en Sy majestieuse skepping.

Ons kyk na die wêreld binnewaarts. Waar het ons die vermoë om te dink gekry, om te redeneer en te weet? Waar en hoe het ons gewete ontwikkel, ons verwyt, skuldgevoel? Hoekom kan ons nie in boosheid verval en vrede ervaar nie? Geen mens kan homself buite God verklaar nie.

Ons kyk na ons heelal terugwaarts. Ons ganse geskiedenis is God se morele waardes in werking. Ryke het ontwikkel en geval volgens ‘n paroon van morele substansie.

Israel was God se spesiale land en die Jode God se uitverkore volk. (Exodus 19:5; Psalms 135:4). In die lig hiervan moes die deur vir Jesus wawyd oop gewees het. In plaas daarvan, het die mense wat oor eeue vir ‘n taak voorberei is, die taak geweier.

Net soos vandag nog is daar baie mense wat die taak wat hulle opgelê is, weier en selfs onbewus daarvan leef. Dit is een van die redes vir innerlike dissonans.

Weet jy wat jou roeping is? Is jy ongelukkig met jou omstandighede? Dink noukeurig na. God het ‘n baie spesiale plan vir jou. Dis nie noodwendig ‘n radikale lewensverandering nie, net groter fokus op Sy doelstelling presies daar waar jy in jou werk en huis met die mense om jou omgaan.

Hy berei ons voor in ons omstandighede, in die alledaagse van ons lewe.

1:12-13: Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.

Die mens is nie ‘n kind van God van nature nie. Hy moet een word. ‘n Mens kan in ‘n klaskamer sit, sonder om ‘n student te wees. Net soos een prediker gesê het: om in ‘n motorhuis te sit, maak nie van jou ‘n kar nie. Kerk toe gaan maak nie van jou ‘n Christen nie.

Die mens kan net tot God nader as God self die pad daarvoor oopmaak. Dit is so duidelik uit die antieke wêreld se desperate en intense soeke na God. Deur in Jesus te glo, kan ons die lewe wat God bied ontvang en leef.

Die lewe is moeilik en dikwels voel ons nie so gelowig en triomferend oor boosheid nie. Dit is juis in hierdie tye waar die krag en ondersteuning van Jesus ons dra. In ons swakheid is ons meer bewus van Sy voorsiening en leiding. Dit is die sleutel tot oorwinning.

Jesus belowe so veel in die wonder van Sy naam. Die Jode het ‘n naam gegee om die natuur van ‘n persoon te beskryf.

Daarom vertrou almal wat u Naam bely, op U, want U, Here, laat dié wat vra na u wil, nie in die steek nie. (Psalm 9:11)

Ons stel ons vertroue in die die Here wat ons weet hoe Hy is. Hy is soos Jesus. Dit is hoe ons die voorreg het, om kinders van God te word – eenvoudig – neem die besluit. Miskien is dit goed dat jy swak voel en nie op jou eie krag en insig steun nie…vra net.

133. Daar was ‘n man.

[Johannes 1]

Augustinus het gesê dat in alles wat hy ooit van die wêreld geleer het; in al sy studies en filosofiese denke het hy nog nooit gelees van ‘n woord wat ‘n liggaam gekry het en ‘n mens geword het nie. Dit is presies wat Johannes hier in die eerste hoofstuk van sy Evangelie verklaar. Die rede, die gedagte van God is in ‘n menslike vorm ingespreek.

Dit is Johannes se groot gedagte: Jesus is God se kreatiewe, lewe-gewende en liggende  woord. Jesus is die krag van God, waarmee Hy die wêreld gemaak het en die rede van God waarmee Hy die wêreld onderhou. Dit is God self wat na die aarde in menslike vorm kom. Johannes verduidelik die vooraf-bestaan van Jesus. (Johannes 1:1-2)

As die woord van God van die begin af bestaan het en deel van die ewige karakter van alles is, beteken dit dat God altyd soos Jesus was. Ons dink die God van die Ou Testament is anders as Jesus en eintlik ‘n kontras met Jesus se bediening op aarde. Dis selfs moontlik dat mens sou kon dink dat Jesus God se houding teenoor die mens “verander” het. Die Nuwe Testament is daarop gemik om te wys dat God altyd soos Jesus was.

Jesus het die venster van tyd oopgemaak sodat ons kan inkyk op die ewige en onveranderlike liefde van God.

 Wat dan van die wrede, geweldadige dele van die Ou Testament?

Dit is nie God wat verander het nie. Dit is die mens se kennis van God wat verander het. Die profete het die vernietigende gevolge van sonde gesien en dit toegeskryf aan die wraaksugtige, woede van God. Daar is geen seën moontlik waar sonde heers nie. Jesus het gekom om die wonderbare hart van God te wys, sodat ons nie in onkunde moet vergaan nie.

Daar word vertel dat ‘n klein dogtertjie van die wrede en bloeddorstige dele van die Ou Testament gehoor het en eenvoudig verklaar het: “Dit is voordat God ‘n Christen was.”

Jesus wys dat God altyd ‘n Christen was!

In die tyd waarin Johannes geskryf het, was daar ‘n dwaling onder die mense wat hulle Gnostisisme genoem het. Hulle het geglo dat daar van die begin af twee dinge bestaan het – God en materie. Materie was die rou materiaal waaruit die aarde gemaak is, gebrekkig en onrein.

God se gees is rein en perfek en kan nooit aan materie raak nie. Daarom is Jesus nie God nie, want God kan nooit in menslike vorm kom nie. Die aarde was boos en kon net uit ‘n bose god kom.

Dit was vir Johannes belangrik om die waarheid te verkondig. Twee basiese Christen waarhede is hier ter sprake. Die nou verband tussen Jesus en die skepping word weer en weer bevestig. In Kolossense 1:16 skryf Paulus: God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is… Alles is deur Hom en vir Hom geskep.

die Vader, uit wie alles is en vir wie ons lewe; en net een Here: Jesus Christus, deur wie alles bestaan en deur wie ons lewe

(1 Korintiërs 8:6). Net so in Hebreërs 1:2: … het Hy met ons gepraat deur die Seun. God het Hom deur wie Hy die wêreld geskep het

 Die grondbeginsels van die Christendom bepaal dat God die wêreld gemaak het en alles wat verkeerd is, is ‘n gevolg van sonde. Die wêreld behoort aan God. God is nie verwyderd van die wêreld nie, eerder intens bestrokke om Sy plan van liefde te laat geld volgens die keuse van die mens.

Hy het Jesus gestuur om Sy liefde en lewe aan die mense te illustreer (Johannes 1:4). Die tema van die hele Evangelie is lig, lewe en liefde. In Latyn: lux, vitas, caritas, wat mens dikwels op wapens en kerke sien.

Die vierde Evangelie begin en eindig met lewe. In die begin leer ons dat Jesus lewe is en aan die einde skryf Johannes dat sy doel met die skrywe is, dat die mens sal glo in Jesus, die Christus, die Seun van God, en daardeur in Sy naam die ware lewe kan hê (Johannes 20:31).

Dit is Jesus se verwyt dat mense kies om Hom te verwerp en so die ware lewe mis (Johannes 5:40). In Jesus is lewe in oorvloed (Johannes 10:10). Hy gee lewe en niemand sal een van ons uit Sy hand ruk nie (Johannes 10:28). Jesus is die Weg, die Waarheid en die Lewe (Johannes 14:6).

In die Evangelie van Johannes word die woord “lewe” (zoe) meer as 35 keer gebruik en “om te lewe” as werkwoord meer as 15 keer.

Lewe is die teenoorgestelde van vernietiging, vervloeking en dood.

Jesus bring lewe, God gee lewe.

Die woord wat die lewe van God beskryf is aionios – die ewige lewe.

Dit is nie eenvoudig lewe wat vir altyd aanhou nie – dit is inderdaad Goddellike lewe. Jesus bring ons God se lewe. Die ewige lewe is die lewe wat die krag van God self reflekteer. Jesus nooi ons om in God se lewe in te tree.

Die wyse waarop ons toegang kry is om in Jesus te glo (pisteuein), ‘n woord wat 70 maal in die Evangelie van Johannes gebruik word.

Wie in die Seun glo, het die ewige lewe… (Johannes 3:36).

“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe (Johannes 6:47).

“Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan (Johannes 5:24).

Hoe glo ek dit? Ek moet glo dat Jesus die Seun van God is, uit die dood opgestaan het en sy voorskrifte aanvaar as waar en juis oor my lewe. Dit is nie ‘n ondervinding nie – dit is ‘n besluit!

Dit is die sleutel tot die ware lewe. Sonder God en Jesus is dit onmoontlik om waarlik te leef.

Onderwerp aan Hom en Hy sal Sy vrede in jou gees laat heers. Hy is immers die hart van God in menslike vorm.